Jongmense vra . . .
Hoe kan ek die druk om te rook weerstaan?
“Dit laat my ontspan, maak my gelukkig en tevrede.”
“Dis ’n tydverdryf.”
“Dit gee jou meer selfvertroue.”
‘Dit hou my hande besig.’
DIT is die redes wat sommige tieners aangevoer het toe hulle gevra is waarom hulle rook (Teens Speak Out). Ja, ten spyte van al die waarskuwings oor longkanker, emfiseem en hartsiekte is rook steeds vir baie jongmense onweerstaanbaar. Miskien het jy al self in die versoeking gekom om dit op die proef te stel.
Die media bombardeer jou met beelde van aantreklike, goed geklede mans en vroue wat altyd ’n sigaret in die hand het. Nie een van hulle lyk na ’n kankerpasiënt nie. Of jy verkeer moontlik onder druk van portuurs om dit op die proef te stel. Jy word miskien by die skool lastig geval met uittartings soos: ‘Is jy ’n bangbroek?’ ‘Almal wat tel, rook.’ En as jy tussen jongmense is wat rook, voel jy dalk dat jy by hulle afsteek as jy nie ’n sigaret in jou hand het nie.
’n Mens kan ook by die huis druk ondervind om te rook. Dit kan uiters verwarrend wees wanneer die een ouer ’n nie-roker is, maar jou ander ouer wel rook. En as albei ouers rook, kan die druk selfs nog groter wees. ‘My ouers rook omtrent twee pakkies per dag; daar is dus altyd sigarette in die huis’, sê 14-jarige Rebecca. As sulke ouers vir jou sê dat jy nie moet rook nie, kan dit na die toppunt van skynheiligheid lyk! Jong Allison kla: “As ons vir ons ouers sê dat ons oor hulle gesondheid besorg is, luister hulle nie. Hoe kan hulle dan van ons verwag om na hulle te luister?”—The Private Life of the American Teenager.
Wat hulle redes ook al is, baie jongmense besluit om rook op die proef te stel en raak dikwels lewenslank daaraan verslaaf.a Jy wil hopelik iets beters vir jouself hê. Jy weet wat die slegte gevolge van rook is en jy sien geen rede om die gevolge persoonlik te dra nie. Jy wonder nietemin dalk hoe jy die geweldige druk om te rook kan weerstaan.
Sosiale onbeholpenheid
Laat ons eers kyk na sommige van die redes waarom jongmense sê hulle rook. Soos die jongmense wat aan die begin aangehaal is, redeneer baie dat dit hulle meer selfversekerd en “volwasse” laat lyk wanneer hulle ’n sigaret vashou. Jong Oren het vroeër ook so geredeneer. Hy vertel dat hy uiters ongemaklik was by sosiale geleenthede: “Ek het baie ontuis gevoel, veral by partytjies. Ek het nooit geweet hoe om op te tree of wat om te sê nie. Dit het gelyk of rook die oplossing vir my probleem is.”
Wanneer ’n mens giftige rook intrek en uitblaas, laat dit jou egter net belaglik, onseker en onbedagsaam lyk. Al hoe meer jongmense begin dit nou so beskou. ’n Opname wat deur Jane Rinzler gedoen is, het getoon dat 63 persent van die meisies en 73 persent van die seuns wat ondervra is rook afkeur. Een 16-jarige meisie het gesê: “Mense dink dat dit hulle gesofistikeerd laat lyk [as hulle rook] , maar einlik lyk dit of hulle te hard probeer.” Sê nou rook laat ’n mens wel ‘gesofistikeerd’ lyk. Sal dit die aanleer van ’n dodelike en verslawende gewoonte regverdig?
Dit is nietemin interessant wat Maurice Falk, ’n professor in kinderpsigiatrie, opmerk: “Jongmense wat weet hoe om in sosiale situasies op te tree, voel nie so onbeholpe nie. . . . [Hulle] sal minder geneig wees om te rook.” Dit is waar van baie jongmense onder Jehovah se Getuies. Hulle ontwikkel innerlike beheerstheid en vertroue deur met mense van alle ouderdomme in die openbare predikingswerk te praat. Deur die opvoedingsprogram te benut wat tydens die Christelike vergaderinge by die Koninkryksaal aangebied word, leer hulle ook om ’n gehoor op ’n bekwame maar beskeie wyse toe te spreek. Dit maak die behoefte aan ’n sosiale stut onnodig.
Indien jy ontevrede met jouself is of skaam of onbeholpe in ander se geselskap voel, moet jy probeer om intiem met ’n gemeente van ware Christene om te gaan. ’n Mens kan nie lank skaam bly as jy aktief met ander omgaan nie. Jy kan ook jou sorge met jou ouers bespreek. Maar onthou, jy verkry nie ander se respek deur ’n sigaret in jou mond te hê nie, maar, soos die Bybel sê, deur “’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid” te word. —1 Timotheüs 4:12, NAV.
“Dit laat my ontspan”
Wat van die bewering wat sommige maak dat rook ’n genoeglike ondervinding is? “Sommige rokers sê dat hulle nie sonder ’n sigaret kan ontspan nie”, sê die skrywer Alvin Rosenbaum, “dat rook spanning, kommer en woede verlig.” Maar “nikotien is [eerder] ’n stimulant” as ’n ontspanningsmiddel, sê Rosenbaum.
Wat veroorsaak dan die ontspanne gevoel wat ’n roker ondervind? Wat die roker in werklikheid ondervind, is die verligting wanneer ’n verslawing bevredig word! Ja, mense raak aan die nikotien in tabak verslaaf. Hierdie verslawing is baie soortgelyk aan heroïen- of kokaïenverslawing, en sommige sê dat dit selfs moeiliker is om te oorwin.
Wanneer die nikotien in ’n roker se liggaam opraak, begin sy liggaam daarna smag. Hy raak senuweeagtig, gespanne en prikkelbaar totdat hy nog ’n nikotien-“inspuiting” kry. Hy voel dan ’n ruk lank ontspanne—totdat sy liggaam weer na nikotien smag. Rook is dus ’n onverstandige manier om te ontspan. Dit is baie veiliger om na sagte musiek te luister, te lees of rustig te gaan stap.
Bied portuurdwang die hoof
Veertienjarige George vertel: “Soveel kinders bied vir my sigarette aan dat ek hulle net móét ignoreer.” Portuurdwang is blykbaar die hoofrede waarom die meeste jongmense begin rook. Een opname onder tieners het getoon dat ‘minder as 1 persent van hulle gerook het as nie een van hulle vriende rook nie, terwyl 73 persent gerook het as al hulle vriende rook’. As jou portuurs druk op jou uitoefen, kan jy miskien vra: ‘Wat is so verkeerd daarmee om ’n bietjie aan ’n sigaret te trek net sodat ander my sal uitlos?’
Sommige jongmense wat in Christenhuise grootgeword het, het geredeneer dat dit nie só verkeerd sou wees nie en het hulle geloof prysgegee.b ’n Paar het erken dat hulle ’n sigaret in hulle hand gehou of selfs in hulle mond gesit het—net sodat hulle ‘soos die ander’ kon wees. Die Bybel sê egter: “My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie” (Spreuke 1:10). En ons moet die meeste jongmense wat in Christenhuise grootword dit ter ere nagee dat hulle op hierdie woorde ag slaan. Veertienjarige Maribel se maats het haar byvoorbeeld ’n sigaret aangebied, en sy het geweier. “Hulle het hulle vriendskap met my begin verbreek”, sê sy, “en hulle het my bespot.” Sy het haarself egter daaraan herinner dat ‘dit beter is om God se goedkeuring weg te dra as die wêreld s’n’ en het nie voor druk geswig nie!
Watter soort vriende sal jou in elk geval aanspoor om ’n dodelike stof in te asem? “Hy wat hom met die dwase inlaat, sal sleg vaar”, waarsku Spreuke 13:20 (NW). Kry nuwe vriende as dit moet. Dit is ’n gesondheidsrisiko om selfs net in die teenwoordigheid van rokers te wees! Vyftienjarige Brenda sê: “Nie een van my vriende rook nie. Ek het dus geen probleme met portuurdwang nie.”
Dit is miskien nie vir jou moontlik om onchristelike jongmense geheel en al te vermy nie. Jy sal miskien jou geloofsoortuiging moet verdedig en ondubbelsinnig weier om te rook! Dit beteken nie noodwendig dat jy vir hulle oor die euwels van tabak moet preek nie. Die skrywer Sharon Scott sê dat ’n eenvoudige “nee dankie” dikwels voldoende is. As dit nie werk nie, stel sy voor dat jy jou weiering sterker stel: “Ek het gesê NEE!”
Ander maniere is om weg te stap, die aanbod te ignoreer of doodeenvoudig oor iets anders te praat. Jy kan selfs vooraf probeer oefen hoe jy die druk om te rook sal weerstaan. En as ’n breedvoerige verduideliking verlang word, moet jy voorbereid wees om een te gee. Soos die Bybel sê: “Wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis.”—1 Petrus 3:15.c
Die Bybelonderrig wat by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies aangebied word, het baie mense al gehelp om op te hou rook. Oren sê: “Die begeerte om met ander te praat oor die ewige lewe in volmaakte gesondheid op ’n gereinigde paradysaarde het my aangespoor om op te hou.” Die verstandige weg is om in die eerste plek nooit te begin nie!—Kolossense 4:5.
[Voetnote]
a Driekwart van die rokers in die Verenigde State het begin rook voor hulle 21 was. Een opname het getoon dat die helfte van ’n groep tienerrokers hulle eerste sigaret gerook het voor hulle hulle laerskoolloopbaan voltooi het.
b Indien jy in die geheim met tabak geëksperimenteer het, moet jy asseblief hulp soek deur jou ouers van die probleem te vertel (Spreuke 28:13). Hulle sal waarskynlik ontsteld wees om van jou probleem te wete te kom. Maar as hulle Christene is, sal hulle, wanneer hulle nie meer so ontsteld is nie, alles in hulle vermoë doen om jou te help om ’n herhaling van die misstap te vermy. Die opsieners van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies kan jou ook baie hulp en aanmoediging in hierdie verband gee.—Jakobus 5:14, 15.
c Sien die Ontwaak! van 8 Augustus 1991 vir inligting oor die gevare van rook.
[Prent op bladsy 17]
In plaas dat dit jou volwasse laat lyk, kan rook jou onsekerhede verraai