Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 3/11 bl. 26-28
  • Wat moet ek weet omtrent rook?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat moet ek weet omtrent rook?
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat weet jy werklik omtrent rook?
  • Antwoorde
  • Hoe om die versoeking te weerstaan
  • Hoe om op te hou rook
  • Moenie mislei word nie
  • Wat moet ek weet omtrent rook?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Hoe kan ek die druk om te rook weerstaan?
    Ontwaak!—1991
  • Waarom moet ek ophou rook?
    Ontwaak!—2000
  • Hoe jy kan ophou
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 3/11 bl. 26-28

Jongmense vra

Wat moet ek weet omtrent rook?

Kyk na die volgende opsies, en maak ’n ✔ in die blokkie langs elke beskrywing wat jy dink by jou pas.

□ Ek is nuuskierig

□ Ek ly aan stres

□ Ek wil inpas

□ Ek is bang ek sit gewig aan

AS JY enige van die blokkies hierbo gemerk het, het jy iets in gemeen met ander jongmense wat rook of dit al oorweeg het om te rook.a Byvoorbeeld:

Om nuuskierigheid te bevredig. “Ek het gewonder hoe dit voel om te rook, en daarom het ek ’n sigaret by ’n meisie by die skool geneem en toe uitgeglip om dit te rook.”—Tracy.

Om stres te hanteer en om in te pas. “Kinders by die skool sê gewoonlik: ‘Nou het ek ’n sigaret nodig’, en daarna: ‘Sjoe, nou kan ek weer aangaan!’ Wanneer ek gestres gevoel het, wou ek ook ’n sigaret gehad het.”—Nikki.

Om gewig te verloor. “Party meisies rook om maer te bly—dis soveel makliker as ’n dieet!”—Samantha.

Maar voordat jy jou eerste—of jou volgende—sigaret aansteek, moet jy stop en dink. Moenie soos ’n vis wees wat aan die aas byt nie. Die vis kry dalk wel ’n klein beloning, maar dink aan die prys wat hy betaal! Volg eerder die Bybel se raad en gebruik jou “helder denkvermoëns” (2 Petrus 3:1). Beantwoord die volgende vrae.

Wat weet jy werklik omtrent rook?

Merk elke stelling as waar of vals.

a. ․․․ Rook verminder stres.

b. ․․․ Ek sal byna al die rook uitblaas.

c. ․․․ Rook sal eers in latere jare my gesondheid benadeel.

d. ․․․ Rook sal my aantrekliker maak vir die teenoorgestelde geslag.

e. ․․․ Ek is die enigste een wat gaan ly as ek rook.

f. ․․․ God gee nie om of ek rook of nie rook nie.

Antwoorde

a. Rook verminder stres.—Vals. Rook verlig wel tydelik die stres van onttrekkingsimptome, maar wetenskaplikes het gevind dat nikotien in werklikheid jou streshormoonvlakke verhoog.

b. Ek sal byna al die rook uitblaas.—Vals. Party studies toon dat meer as 80 persent van die sigaretrookdeeltjies wat jy inasem, in jou liggaam agterbly.

c. Rook sal eers in latere jare my gesondheid benadeel.—Vals. Hoewel die gesondheidsrisiko’s toeneem met elke sigaret wat jy rook, is daar ’n paar onmiddellike gevolge. Party mense raak verslaaf ná net een sigaret. Jou longkapasiteit sal verminder, en jy sal waarskynlik ’n rokershoes ontwikkel. Jy sal op ’n jonger ouderdom meer plooie kry. Rook verhoog die risiko van seksuele disfunksie, angsaanvalle en depressie.

d. Rook sal my aantrekliker maak vir die teenoorgestelde geslag.—Vals. Die navorser Lloyd Johnston het gevind dat tieners wat rook, “vir die oorgrote meerderheid van die teenoorgestelde geslag minder aantreklik” is.

e. Ek is die enigste een wat gaan ly as ek rook.—Vals. Elke jaar sterf duisende mense weens tweedehandse rook; dit sal jou gesin, jou vriende en selfs jou troeteldiere benadeel.

f. God gee nie om of ek rook of nie rook nie.—Vals. Diegene wat God se goedkeuring wil geniet, moet hulle “van elke verontreiniging van die vlees” reinig (2 Korintiërs 7:1). Daar bestaan geen twyfel dat rook die liggaam verontreinig nie. As jy besluit om onrein te wees deur tabak te gebruik en jy jouself en ander sodoende benadeel, kan jy nie ’n vriend van God wees nie.—Matteus 22:39; Galasiërs 5:19-21.

Hoe om die versoeking te weerstaan

Wat sal jy doen as iemand vir jou ’n sigaret aanbied? ’n Eenvoudige maar ferm antwoord, soos: “Nee dankie, ek rook nie”, sal dikwels genoeg wees. As die persoon jou nie wil uitlos nie of jou selfs uittart, moet jy onthou dat dit jou keuse is. Jy kan sê:

● “Ek het uitgevind hoe skadelik sigarette is en het besluit dat ek nie wil rook nie.”

● “Ek het belangrike toekomsplanne waarvoor ek my longe gaan nodig hê.”

Maar soos die jongmense wat vroeër in hierdie artikel aangehaal is, vind jy dalk dat die grootste druk van jóú af kom. As dit die geval is, moet jy hierdie ‘innerlike stem’ antwoord deur te redeneer oor vrae soos die volgende:

● Sal ek regtig daarby baat vind om te rook? As ek byvoorbeeld rook net om deur ander aanvaar te word, sal ek werklik inpas al het ek baie min met hulle in gemeen? Wil ek werklik inpas by mense wat nie sal omgee as ek my gesondheid benadeel nie?

● Hoeveel sal rook my kos in terme van geld, my gesondheid en ander se respek?

● Sal ek bereid wees om my vriendskap met God te verruil vir ’n sigaret?

Maar sê nou jy is reeds verslaaf? Wat kan jy doen om op te hou rook?

Hoe om op te hou rook

1. Oortuig jouself. Skryf die redes neer waarom jy wil ophou rook, en hersien hierdie lys gereeld. ’n Begeerte om in God se oë rein te wees, kan ’n kragtige beweegrede wees.—Romeine 12:1; Efesiërs 4:17-19.

2. Kry hulp. As jy in die geheim gerook het, is dit nou die tyd om met die waarheid uit te kom. Sê vir diegene vir wie jy jou rookgewoonte weggesteek het, dat jy gaan ophou, en vra hulle om jou te ondersteun. As jy God wil dien, moet jy bid vir sy hulp.—1 Johannes 5:14.

3. Kies ’n opgeedatum. Kies ’n dag binne die volgende twee weke waarop jy graag wil ophou rook, en merk dit op jou kalender. Sê vir jou familie en vriende dat jy op daardie dag gaan ophou rook.

4. Soek en vernietig. Deursoek jou kamer, motor en klere vir sigarette voordat jou opgeedatum aanbreek. Vernietig dit. Raak ontslae van sigaretaanstekers, vuurhoutjies en asbakkies.

5. Bied onttrekkingsimptome die hoof. Drink genoeg vrugtesap of water, en kry meer slaap. Hou in gedagte dat die ongerief tydelik is, maar dat die voordele permanent is!

6. Vermy versoekings. Bly weg van plekke en situasies wat jou in die versoeking kan bring om te rook. Jy sal dalk ook sosiale kontak moet verbreek met vriende wat rokers is.—Spreuke 13:20.

7. Moenie rasionaliseer nie. Moenie jouself flous deur te sê: “Ek sal net een trek vat” nie. Sulke redenasies lei dikwels tot ’n algehele terugslag.—Jeremia 17:9.

Moenie mislei word nie

Elke jaar bestee tabakmaatskappye miljarde dollars aan advertensies. Hulle weet dat baie jongmense aan die lokaas sal byt en selfs môre se verslaafde volwassenes sal word.

Moenie toelaat dat tabakmaatskappye jou geld vat nie. Waarom sal jy aan hulle aas wil byt? Nie hulle of jou maats wat rook, dra jou belange op die hart nie. Moenie na hulle luister nie; luister eerder na die raad in die Bybel en leer “om jouself te bevoordeel”.—Jesaja 48:17.

Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype

[Voetnoot]

a Hoewel hierdie artikel handel oor diegene wat sigarette rook, is die probleme en gevare wat hierin bespreek word, ook van toepassing op diegene wat tabak kou.

[Venster/Prente op bladsy 27]

WAT JOU PORTUURS SÊ

“As iemand my vra waarom ek nie rook nie, sal ek sê: ‘Omdat ek nie swart longe wil hê en gou wil doodgaan nie.’”

“As iemand my ’n sigaret wil gee, sal ek sê: ‘Nee.’ As hulle my nie wil uitlos nie, sal ek sê: ‘Wil jy vir my sê dat ek nie die reg het om self te besluit nie? Dis nogal skokkend in vandag se wêreld!’”

[Prente]

Benjamin

Heather

[Venster op bladsy 28]

● HET JY GEWEET?

Rooklose tabak—soos pruimtabak—kan meer nikotien vrystel as sigarette en bevat meer as 25 kankerverwekkende stowwe wat die gebruiker se risiko vergroot om keel- of mondkanker te ontwikkel.

[Venster op bladsy 28]

VRA JOU OUERS

Dit is makliker om portuurdruk die hoof te bied wanneer jy daarop voorbereid is. Vra dus jou ouers om oefensessies met jou te hou sodat jy sal weet wat om te sê as iemand vir jou ’n sigaret aanbied. Laat ’n ouer die rol speel van ’n opdringerige skoolmaat. Wenk: Gebruik die “Portuurdrukplan” op bladsy 132 en 133 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, vir ’n paar goeie idees oor wat om te sê.

[Prent op bladsy 28]

Soos ’n vis wat aan aas byt, verkry ’n roker ’n beloning, maar hy betaal ’n verskriklike prys

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel