“Moet nooit sê dis onmoontlik nie!”
PREDIKER 9:11 sê ‘tyd en lotgeval tref ons almal’. Dit het teen die einde van November 1986 met ons gesin gebeur. Tiarah, een van ons drie kinders, was drie en ’n half jaar oud toe sy iets opgedoen het wat ons gedink het ’n verkoue was wat met ’n aanhoudende gehoes gepaard gegaan het. Ons het haar na die kinderarts geneem wat ons na ’n algemene praktisyn verwys het. Hy het ook gedink dat Tiarah ’n verkoue met ’n bietjie borskongestie het, maar hy het nie gedink dat dit iets was waaroor ons bekommerd hoef te wees nie. Hy het ’n ander hoesstroop sowel as antibiotika voorgeskryf.
Tiarah se toestand het versleg. Sy het ’n koors van 41°C gehad wat gepaard gegaan het met braking, ’n omgekrapte maag en borspyne. Daar is x-strale van haar bors geneem en die antibiotika is vermeerder. Die verpleegster het ons gebel toe Tiarah se x-strale teruggekom het. Die dokters het gedink dat sy akute longontsteking het. Sy het toe al ’n koors van 42°C tot 43°C gehad. Dit het veroorsaak dat haar bloedtelling geweldig laag gedaal het, tot 2,0. Op 16 Desember is Tiarah in die hospitaal opgeneem.
Ons is Jehovah se Getuies en is gehoorsaam aan die raad wat in Handelinge 15:29 aan Christene gegee is, om hulle te ‘onthou van bloed’. Maar ons was nie vreeslik bekommerd oor die bloedkwessie nie. Tiarah se kinderarts is ’n bloedspesialis, en hy was alte bewus daarvan dat ons nie bloedoortappings aanvaar nie. Toe Tiarah in die hospitaal opgeneem moes word, het ons die kinderarts onmiddellik aan ons standpunt oor bloed herinner. Sy antwoord was: “Ja, ja, ek verstaan julle opvattings, maar ek dink nie julle hoef oor die bloedkwessie bekommerd te wees nie.”
Nadat die hospitaal hulle eie x-strale geneem het en ’n EKG en bloedtoetse gedoen het, is Tiarah na ’n kamer geneem. Ons het daar gebly totdat sy aan die slaap geraak het. Daar is die volgende oggend vir my gesê dat Tiarah wel longontsteking het, dat dit ’n baie ernstige geval is, en dat sy ongetwyfeld ongeveer 10 tot 15 dae lank in die hospitaal sou bly. Haar temperatuur het om en by 43°C gebly, wat die dokters baie bekommerd gemaak het. Hulle het die x-strale, die EKG en die bloedtoetse weer ondersoek en besluit om nog toetse te doen. Hierdie toetse het getoon dat sy nie longontsteking gehad het nie, maar dat sy waarskynlik die een of ander gewas op haar long het.
Bloed word ’n kwessie
Ek hoef natuurlik nie te sê dat dit Tiarah se situasie in ’n ander lig gestel het nie. Hulle het eindelose toetse gedoen, waaronder een vir TB, wat negatief teruggekom het. Hulle het sonogramme, RAT-aftastings en geweldig baie x-strale geneem. Die laaste x-strale het gewys dat die regterlong erg ontsteek was. Die linkerlong het gelyk asof dit gaan platval—en daardie long was lewensbelangrik aangesien dit die meeste van die asemhaling verrig het. Die kwessie van bloedoortapping is weer geopper. Ons het met Tiarah se opname in die hospitaal beëdigde verklarings onderteken wat die hospitaal onthef het van aanspreeklikheid vir ons besluit om nie bloed te aanvaar nie. Hulle het gedink dat ons nou van gedagte sou verander omdat ons kind se lewe in gevaar was.
Toe ons by ons besluit gebly het, het alles verander. Die hospitaaladministrasie het vir ons gesê dat ons onbevoegde ouers is, dat hulle ’n hofbevel sou kry wat hulle sou toelaat om vir Tiarah bloed te gee en dat hulle sou sorg dat ons ander twee kinders van ons af weggeneem word. Hulle sou vir die hofbevel wag en wanneer dit kom, sou hulle die besmette long verwyder. Ons het weer wat vir ons soos die 50ste keer gevoel het, vir hulle verduidelik dat ons nie mediese behandeling teenstaan nie, en hoewel ons nie bloed aanvaar nie, aanvaar ons wel bloedplaasvervangers.
Alles was tevergeefs. Die dokters het geweier om te luister. Hulle het druk op ons uitgeoefen om ons van gedagte te laat verander. Hulle het begin om vir almal op die personeel en diegene wat in daardie deel van die hospitaal gewerk het—van dokters tot verpleegsters tot skoonmaakpersoneel—te vertel wat ons aan ons kind doen. Hierdie mense het dan na ons toe gekom en ons gevra waarom ons ons kind laat doodgaan. Ek en my man het vir die dokters gesê dat ons na ’n dokter en ’n hospitaal sou soek wat Tiarah sou opneem en haar die nodige behandeling sonder bloed sou gee. Hulle het vir ons gesê dat geen hospitaal haar in haar toestand sou oorplaas nie. Ek het vir hulle gesê: “Moet nooit sê dis onmoontlik nie!”
Selfs al sou sy sterf, wou sy nie bloed hê nie
Ek het die situasie aan Tiarah verduidelik, haar vertel wat die dokters gesê het, wat Jehovah se beskouing van die saak is en wat ons besluit het om te doen, naamlik om ’n doker en ’n hospitaal te vind wat haar sou help sonder om vir haar bloed te gee. Tiarah het, so jonk soos wat sy was, baie goed verstaan. Sy wou aan Jehovah gehoorsaam wees. Selfs al sou sy sterf, wou sy nie bloed hê nie. Om te hoor hoe my eie dogter, so siek soos sy was, haar eie standpunt inneem, het trane in my oë laat opkom. Ek het toe meer as ooit besef hoe belangrik dit is om ’n kind van kleins af in die Bybel te onderrig, aangesien Tiarah op drie en half al op haar eenvoudige manier vir ons kon sê dat sy aan Jehovah getrou wil bly, ongeag die risiko’s.—Efesiërs 6:4; 2 Timotheüs 3:15.
In ons pogings om Tiarah uit die hospitaal uit te kry voordat die hofbevel uitgereik word om haar bloed te gee, het my man met een van die gemeentelike ouere manne gepraat. Hy het met ’n dokter gepraat wat gesê het hy sal sien wat hy kan doen. Dit het ons ’n bietjie hoop gegee.
Ek het by die hospitaal gebly sedert die aand wat Tiarah opgeneem is. Ek was verstandelik, fisies en emosioneel uitgeput. My dierbare man, wat dit besef het, het daarop aangedring dat ek huis toe gaan en dat hy daardie aand by Tiarah bly. Ek het huis toe gegaan, maar ek kon nie slaap nie. Ek het die huis skoongemaak, my ouers gebel en met ander vriende gepraat wat Getuies is. Uiteindelik het ek aan die slaap geraak—ek weet nie hoe lank nie—en toe het die telefoon gelui. Ek was bang om dit op te tel omdat ek gevrees het dat dit my man was wat bel om te sê dat Tiarah dood is.
Ek het uiteindelik die telefoon geantwoord. Dit was die dokter met wie die ouere man in aanraking gekom het en hy het vir my gesê dat hulle ’n dokter gevind het wat bereid was om ons standpunt oor bloed te respekteer en wat Tiarah selfs in haar verswakte toestand as pasiënt sou aanvaar. Hy het reeds met ons hospitaal reëlings getref vir Tiarah se ontslag! Ek het hom tranerig bedank. Ek het die telefoon neergesit en op my knieë geval en Jehovah gedank.
Nadat Tiarah tien dae lank in daardie eerste hospitaal was, is sy in ’n hospitaal in ’n ander stedelike kiesdistrik van New York-stad opgeneem. Daardie hospitaal het gespesialiseer in longprobleme onder kinders. Toe Tiarah daar aankom, het hulle vir haar gewag. Hulle het ’n reeks RAT-aftastings, x-strale, sonogramme, EKG’s en bloedtoetse vir hulle verslae gedoen, en hulle het die verslae van die ander hospitaal wat ons hulle gegee het, bestudeer. Nadat hulle al hierdie dinge nagegaan het, was die dokter wat ons nou gehad het, ’n longspesialis, van mening dat ’n oortapping ’n fout sou wees en dat haar liggaam dit sou verwerp.
Volkome herstel sonder bloed
Terwyl Tiarah in die hospitaal was, is sy baie goed versorg deur diegene wat daarin spesialiseer om met jong kinders wat longprobleme het te werk. Hulle het ons oor mediese probleme geraadpleeg en ons ingelig oor watter prosedures hulle sou volg. Hulle het haar nie heeltemal aan die slaap gemaak nie, maar hulle het ’n plaaslike verdowing gebruik. Hulle het toe ’n bietjie vloeistof uit die longholte getrek en dit na die laboratorium gestuur om dit met verskeie antibiotika te toets. Hulle het ’n eenvoudige antibiotikum, wat vir verkoues gebruik word, gevind wat die kiem sou teëwerk. Tiarah het veelvuldige dosisse van hierdie antibiotikum ontvang, en sy is tien dae lank in ’n suurstoftent gesit. Haar toestand het geleidelik verbeter.
Die dokters het uit hulle studie van haar RAT-aftasting en x-strale gevind dat sy ’n abses op die onderste deel van haar regterlong het. Hoewel die antibiotikum die vloeistof rondom die long verminder het, het dit nie die abses teëgewerk nie. Trouens, die abses het meer vloeistof veroorsaak, en die dokters het gemeen dat dit dalk deur ’n operasie verwyder sou moes word. Maar vir eers het hulle aangehou met die antibiotiese behandeling en ’n ander antibiotikum daarby gevoeg. Hulle het haar ook groot dosisse yster gegee en haar drie dae lank op binneaarse voeding gesit wat gevolg is deur ’n ligte dieet van vaste kos. Haar bloedtelling het tot 5,0 en toe tot 7,0 gestyg. Die bloedspesialis en die longspesialis was verbaas oor sulke vinnige en aanhoudende verbetering—in so ’n mate dat die longdokter gesê het: “Julle God help julle beslis.”
Aangesien die groot dosisse antibiotika niks aan die abses gedoen het nie, is die vloeistof in die abses self getoets. Hulle het uitgevind dat ’n ander soort antibiotikum hierdie spesifieke kiem sou teëwerk. Aangesien dit ’n verkouekiem was wat gewoonlik in die mond aangetref word, het die dokter gedink dat Tiarah dit saam met kos moes ingesluk het en dat dit by die verkeerde pyp afgegaan het tot in haar long. Die antibiotika het hierdie kiem probeer teëwerk, en dit het veroorsaak dat ’n wand rondom dit gevorm is en dat dit toe ’n abses geword het. Volgens die dokter was dit baie ongewoon, en hy het dit dus nodig geag om al sy bevindinge en prosedures op te teken en sy verslag aan ’n mediese joernaal voor te lê.
Nadat Tiarah ’n maand lank in daardie hospitaal was, is sy as ’n buitepasiënt ontslaan. Sy moes die spesialis nog drie maande lank een keer per week sien en moes groot dosisse antibiotika en yster inneem. Maar sy het nooit ’n operasie gehad nie. Sy het volkome herstel, sonder ’n kolletjie op haar longe.
Tiarah is nou ’n verkondiger in die Christengemeente van Jehovah se Getuies. Op 14 Februarie 1991 het sy haar eerste toespraak in die gemeente se Teokratiese Bedieningskool gehou. Ek en my man dank Jehovah dat hy ons sterk standpunt geseën het om ons te onthou van bloed weens gehoorsaamheid aan Sy wette. Mag ons almal aanhou om Jehovah te loof want hy is lofwaardig. En onthou, as ’n dokter vir jou sê dat dit onmoontlik is om sonder ’n bloedoortapping te leef, kan jy vir hom sê: “Moet nooit sê dis onmoontlik nie!”—Bygedra deur Nina Hooks, Brooklyn, New York.