Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 5/8 bl. 12-14
  • Nie towenaars óf gode nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Nie towenaars óf gode nie
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Sy is nog ’n maagd!”
  • ‘Jy sal bloed neem’
  • ‘Jehovah is vir my’
  • ‘Ons is nie towenaars nie’
  • ‘Hou aan om jou God te dien’
  • Ek kom voor ’n mediese noodgeval te staan
    Ontwaak!—1996
  • Dokters het geleer uit my noue ontkoming
    Ontwaak!—1995
  • Jehovah het hulle onversetlike standpunt vir Sy wet geseën
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • “Moet nooit sê dis onmoontlik nie!”
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 5/8 bl. 12-14

Nie towenaars óf gode nie

SOOS VERTEL DEUR MERCY UWASI, NIGERIË

EEN sonnige middag in Maart 1992 in Wes-Afrika het ek die pyn in my maag begin voel. Ek het saam met my gesin na ons plasie gegaan om kassawe te oes. Terwyl ek daar was, het die pyn in my maag begin brand. Teen die tyd dat ons terug by die huis was, was die pyn ’n verterende vuur. Ek het opgegooi; ek het moeilik asemgehaal. Hoewel die pyn dit vir my moeilik gemaak het om te staan of te loop, het my ma daarin geslaag om my in ’n taxi te kry, wat toe na die algemene hospitaal daar naby gejaag het.

Die dokter aan diens by die hospitaal was toevallig ’n man vir wie ek een keer van die Bybel se hoop getuig het. Die dokter het aan my maag gevat; dit was opgeswel. Hy het gevra of ek bloei, en my ma het ja geantwoord en gesê dat ek my menstruasie gehad het.

“Jou dogter is vyf maande swanger”, het die dokter gesê. “Die rede waarom sy bloei, is omdat sy ’n aborsie probeer doen het.”

My ma het geantwoord: “Nee, Dokter! Sy’s nie daardie soort meisie nie.”

“Moenie so sê nie. Deesdae bedrieg meisies hulle ouers. Sy is swanger.”

Toe het ek begin praat. Ek het gesê dat ek een van Jehovah se Getuies is en in ’n Christenhuishouding grootgemaak is en dat my Bybelopgeleide gewete my nie sou toelaat om onsedelik te wees nie.

In antwoord hierop het die dokter vir my ma gesê: “Mevrou, kom ons vergeet nou maar eers van godsdiens en wees realisties. Ek sê vir jou hierdie meisie is vyf maande swanger.”

“Staan op”, het my ma vir my gesê. “Ons gaan na ’n ander hospitaal toe.” Toe ons buite die gebou was, het ek op die gras gaan sit en huil omdat die pyn so erg was. My ma het my vinnig huis toe geneem en my pa vertel wat die dokter gesê het.

Hulle het besluit om my na ’n groter en moderner hospitaal, ’n opleidingshospitaal, te neem. Op pad daarheen het ek tot Jehovah gebid om my te red sodat mense nie sy heilige naam sou smaad deur te sê dat ek as gevolg van ’n ongewenste swangerskap gesterf het nie. Ek het gesê as ek sou sterf, sou daardie dokter vir Jehovah se Getuies wat vir hom kom getuig, sê: ‘Was dit nie een van julle mense wat ’n ruk gelede swanger hierheen gekom het nie?’ Ek het ook gebid dat ek na daardie dokter sou kon teruggaan en nog ’n keer vir hom kon getuig.

“Sy is nog ’n maagd!”

By die groter hospitaal het hulle dieselfde argument as die een in die eerste hospitaal aangevoer; die dokters het gedink dat ek swanger was. Die pyn was verskriklik. Ek het gehuil. Een dokter het my hard aangespreek en gesê: “Dis wat julle meisies altyd doen. Julle raak swanger, en dan begin julle huil.”

Hulle het sekere toetse gedoen. Intussen het hulle my met vrae bestook. “Is jy getroud?”

“Nee”, het ek geantwoord.

“Hoe oud is jy?”

“Agttien.”

“Hoeveel kêrels het jy?”

“Ek het nie ’n kêrel nie.”

Toe het die senior dokter begin skreeu: “Wat bedoel jy? Wil jy vir my sê dat jy 18 is en nie ’n kêrel het nie?” Ek het weer eens, soos by die eerste hospitaal, my Christelike standpunt verduidelik. Toe het hy gevra of ek een van Jehovah se Getuies is. Ek het ja geantwoord. Daarna het hy geen verdere vrae gevra nie.

Die toetse het bewys dat ek nie swanger was nie. My ma het gehoor hoe een van die dokters vir die ander dokters sê: “Sy is nog ’n maagd!” Die dokters het verskoning gevra en gesê: “Julle kan ons nie blameer vir wat ons gedink het nie. Ons ondervind elke dag daardie soort ding met meisies.” Maar daardie voorval was net die begin van my beproewinge.

‘Jy sal bloed neem’

’n Ultrasoniese toets het getoon dat daar ’n groot gewas op een van my Fallopiusbuise was. Dit was so groot soos ’n klein pomelo. Hulle moes opereer.

Ek het sonder aarseling vir die dokters gesê dat ek nie ’n bloedoortapping sou neem nie, hoewel ek tot ander bloedlose middels sou inwillig. Hulle het volgehou dat bloed ’n moet was.

Een van die studentedokters het met my geraas en gesê: “Jy sê presies wat een van julle lidmate ’n ruk gelede gesê het. Maar toe sy toestand versleg het, het hy ’n bloedoortapping aanvaar.”

“My geval is anders”, het ek geantwoord, “want my ja is ja en my nee is nee. Ek sal nooit my onkreukbaarheid prysgee nie.”

Later het drie dokters na my hospitaalbed toe gekom en my oor my standpunt ten opsigte van bloed uitgevra. Ek het verduidelik dat Christene hulle volgens die Bybel moet “onthou . . . van bloed”.—Handelinge 15:20.

“Maar jy gaan nie bloed deur jou mond inneem nie”, het hulle gepleit. “Jy sal dit deur ’n aar inneem.”

Ek het geantwoord dat dit nie saak maak of jy dit deur jou mond of deur ’n aar inneem nie, dit is nog presies dieselfde.

Daardie Saterdag, 14 Maart, ’n week ná die pyn begin het, het die hoofchirurg my ondersoek. Hy sou my operasie doen. Teen daardie tyd was die swelsel tot bo by my bors.

Hy het gevra: “Het hulle vir jou gesê jy sal bloed moet neem?”

“Hulle het so gesê, Dokter, maar ek sal nie bloed neem nie”, het ek geantwoord.

“Laat ek jou iets vertel”, het hy verder gesê. “Jy sal dit neem. As jy dit nie neem nie, sal jy sterf. As ek Maandag kom en daar is nie bloed vir jou gereed nie, sal ek nie opereer nie. Geen bloed, geen operasie nie.”

Toe het hy ’n boek langs my bed gesien en gevra: “Is dit jou Bybel?” Ek het nee geantwoord; dit was my eksemplaar van Die grootste mens wat nog geleef het.a Hy het gesê dat ek die boek moes gebruik om te bid dat ek nie sterf nie. Ek het verduidelik dat ons nie ons gebede uit boeke lees nie. Wanneer ons ook al ’n probleem het, bid ons uit ons hart tot Jehovah.

Gedurende die volgende twee dae het dokters en verpleegsters aanhoudend druk op my uitgeoefen om tot ’n bloedoortapping toe te stem. Hulle het vir my gesê dat ek te jonk was om te sterf. “Neem bloed en lewe!” het hulle gesê.

‘Jehovah is vir my’

Gedurende daardie tye van benoudheid het ek Psalm 118 gelees, wat gedeeltelik sê: ‘Uit die benoudheid het ek Jehovah aangeroep; Jehovah het my verhoor in die ruimte. Jehovah is vir my; wat kan ’n mens my doen?’—Psalm 118:5, 6.

Nadat ek oor hierdie verse gepeins het, is my geloof in Jehovah versterk. Daardie oggend het my ouers hospitaal toe gekom. Ek het hulle daardie psalm gewys, en hulle geloof is ook versterk.

Intussen het my ma en pa nie net my besluit gesteun om nie bloed te neem nie, maar hulle het ook vir my gebid. Van die broers in ons gemeente het voortdurend vir my gebid en my uit die Skrif bemoedig.

‘Ons is nie towenaars nie’

Maandag, 16 Maart, die oggend waarop die operasie moes plaasvind, het een van die dokters in my hospitaalkamer gekom en gesien dat ek my mediese dokument, wat my standpunt oor bloedoortappings verduidelik, in my hand gehou het. Hy het gesê: “Wat is dit? Bedoel jy regtig wat jy gesê het?”

“Ja, ek gaan nie bloed neem nie.”

“Wel”, het hy gesê, “dit beteken dat ons die operasie gaan kanselleer. Geen operasie nie.”

Die dokter het my ma van my kamer af geskakel. Sy het gesê: “Sy is groot genoeg om self te besluit. Ek kan nie vir haar besluit nie. Sy sê dat haar Bybelopgeleide gewete haar nie sal toelaat om bloed te neem nie.”

Toe het hy my lêer op die tafel neergegooi en by die hospitaalkamer uitgestorm. Vyf uur lank het ons niks verder gehoor nie. Ek het baie pyn verduur en kon nie eet nie. En daar was geen ander hospitaal in die omgewing nie.

Toe, tot my verbasing, is ’n draagbaar ingebring om my na die operasiesaal te dra. Ek het my bloedkaartjie styf vasgehou. Op pad na die operasiesaal het ek instrumente vir die operasie sowel as sakkies bloed gesien. Ek het bitterlik begin huil en gesê dat ek nie bloed sal neem nie. Een van die verpleegsters het gesê dat ek die kaartjie op die vloer moet laat val. Sy het gesê dat ek dit nie in die operasiesaal kan neem nie. Ek het geantwoord dat ek nie sonder die kaartjie sal ingaan nie en dat ek dit vir die hoofchirurg wil wys. Die verpleegster het die kaartjie toe uit my hand gegryp en dit in die operasiesaal geneem en vir die chirurg gewys. Die hoofchirurg en vyf ander dokters het onmiddellik met hulle steriele oorjasse uitgekom na waar ek was.

Die hoofchirurg was woedend. Hy het my ma laat roep, na my maag gewys en vir haar gesê: “Kyk, Mevrou. Ons weet nie wat ons in haar gaan kry nie. As ons baie moet sny, sal dit tot swaar bloeding lei. Wil jy hê sy moet haar doodbloei?”

My ma het in antwoord vir hom gesê: “Dokter, ek weet dat Jehovah met my dogter sal wees. En hy sal met u ook wees. Doen u net u bes en laat die res aan Jehovah oor.”

Die dokter het toe gesê: “Ons is nie towenaars of kruiedokters nie. Ons doen dinge op die manier wat ons geleer is. Ek kan nie hierdie operasie sonder bloed doen nie.”

My ma het hom weer gesmeek om net sy bes te doen. Uiteindelik het hy ingestem om sonder bloed te opereer. Hy het my gevra of ek bang is. In antwoord het ek gesê: “Ek is nie bang vir die dood nie. Ek weet Jehovah is met my.”

‘Hou aan om jou God te dien’

Die operasie is binne ’n uur gedoen. Hulle het my oopgesny en die gewas maklik verwyder, tot die hospitaalpersoneel se verbasing.

Later het een van die dokters vir my ma vertel dat die studentedokters saans in hulle kamers oor my geval gesels het. Wanneer ek en my ma deesdae na daardie hospitaal toe gaan, behandel hulle ons baie goed.

Twee dae ná my operasie het die chirurg na my hospitaalkamer toe gekom, gevra hoe dit met my gaan en toe gesê: “Jy moet aanhou om jou God te dien. Hy het jou waarlik gehelp.”

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel