Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 10/8 bl. 12-13
  • Waarom moet jy die Bybel bestudeer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom moet jy die Bybel bestudeer?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dit open vergesigte van begrip
  • Die bron van egte waardes en profesieë
  • “Hy het . . . uit die Skrif met hulle geredeneer”
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Lees God se Woord en dien hom in waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Vind baat by daaglikse Bybellees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Die Bybel—’n Boek wat gelees moet word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 10/8 bl. 12-13

Die Bybelse beskouing

Waarom moet jy die Bybel bestudeer?

OM DIE Bybel deur te lees, is alles behalwe ’n geringe prestasie. Het jy dit al een keer of miskien verskeie kere gedoen? Baie mense is met reg trots daarop dat hulle dit gedoen het. Die inruiming van tyd om die Bybel te lees behoort amper heel bo—indien nie heel bo nie—op ons lys van lewensprioriteite te wees. Waarom? Sodat ons die basiese inhoud kan ken van die boek wat die grootste verspreiding in die hele geskiedenis geniet, die enigste boek wat tereg sê dat dit deur God geïnspireer is.—2 Timotheüs 3:16.

Maar ’n mens kan meer doen as om net die Bybel te lees en dit in breë trekke te ken. Is dit jou begeerte om God te behaag en al die voordele te geniet van die dinge wat daardie heilige boek leer? Dan moet jy die raad volg wat die apostel Paulus aan die jong man Timotheüs gegee het: “[Jy moet] aanhou met voorlesing, vermaning en lering. Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees. Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.”—1 Timotheüs 4:13, 15, 16.

As ’n mens Bybelleringe só wil bepeins en jou só daarin wil verdiep, behels dit meer as om die Skrif net te lees. As ’n mens die Bybel lees, waarborg dit nie op sigself dat jy die kennis wat jy verkry het reg kan gebruik nie, net soos jy nie as breinchirurg kwalifiseer deur ’n boek oor die mens se brein te lees nie. Luister dus na Paulus se verdere raad aan Timotheüs: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”—2 Timotheüs 2:15.

Dit open vergesigte van begrip

Dit vereis studie as ons wil leer om God se Woord doeltreffend te gebruik. Wanneer ’n mens die Bybel noukeurig bestudeer, dink oor wat dit sê, dit verstaan, die Skrifgedeeltes in konteks lees en sy geskiedenis verstaan, kan onverwagte vergesigte van insig vir jou oopgaan. Jy begin nou persoonlik by God se Woord baat vind.

Kom ons kyk na ’n voorbeeld wat toon dat wanneer ons ’n gedeelte van die Skrif net lees ons dalk nie die betekenis van dit wat gesê word, sal begryp tensy ons die konteks lees nie. In Handelinge 17:11 lees ons aangaande die mense van die Griekse stad Berea, wat nie ver van Thessalonika geleë was nie: “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”

As ons dit net vlugtig lees, sal ons miskien tot die gevolgtrekking kom dat die Christene in Berea leergieriger as dié in Thessalonika was. Maar let op in vers 10 van Handelinge hoofstuk 17 dat Paulus en Silas met hulle aankoms in Berea na “die sinagoge van die Jode” gegaan het om God se Woord te verkondig. En vers 12 sê “baie van hulle [die Jode] het dan ook gelowig geword”. Daardie vers help ons om tot ’n ander gevolgtrekking te kom. Die heilige verslag sê vir ons dat dit nie die Christene in daardie twee stede was wat met mekaar vergelyk is nie, maar dat dit die Jode in daardie plekke was.

Het jy daarbenewens opgemerk wat die Bereane edelmoediger gemaak het? Hulle het die Skrif ywerig ondersoek. Professor Archibald Thomas Robertson, wat in Word Pictures in the New Testament oor daardie woorde kommentaar gelewer het, het geskryf: “Paulus het, soos in Thessalonika, die Skrif daagliks uitgelê, maar die Bereane het, in plaas van sy nuwe vertolking af te keur, die Skrif self ondersoek (anakrinō beteken om op en af te sif, om noukeurige en juiste navorsing soos in regsprosesse te doen . . . ).” Hulle ondersoek was nie oppervlakkig nie. Daardie Bereaanse Jode het noukeurig na bevestiging gesoek dat dít wat Paulus en Silas aangaande Jesus as die langverwagte Messias uit die Skrif geleer het waar was.

Dit is dus belangrik dat ons die voorbeeld van die eertydse Bereane moet volg en nie net God se Woord lees nie, maar dit ook bestudeer—“die Skrifte ondersoek”—sodat ons die dinge wat gesê word, kan verstaan. Ons kan só ons waardering vir die Bybel verinnig, en dan word ons ook, soos Timotheüs, mense wat ‘onsself red sowel as dié wat ons hoor’. Waarom? Want benewens die feit dat ons die Skrif gelees het, het ons dit ook bestudeer sodat ons gehoorsaam kan handel volgens wat ons geleer het.—Spreuke 3:1-6.

Die bron van egte waardes en profesieë

Kom ons beskou twee ander redes waarom ons die Bybel moet bestudeer. Die Bybel oortref alle ander boeke wat die voorsiening van morele en etiese waardes betref. ’n Amerikaanse opvoedkundige het baie jare gelede hierdie opmerking gemaak: “Ek dink dat kennis van die Bybel sonder ’n universiteitskursus waardevoller is as ’n universiteitskursus sonder die Bybel.” As jy wil hê dat Bybelkennis jou skat moet word, moet jou beweegrede vir Bybelstudie wees om sy rigsnoere en leringe in jou daaglikse lewe toe te pas sodat dit van jou ’n beter mens kan maak, ‘iemand wat die woord van die waarheid reg sny’.—2 Timotheüs 2:15; Spreuke 2:1-22.

Daarbenewens bevat die Bybel se bladsye goddelik geïnspireerde profesieë wat reeds in die geskiedenis vervul is en ander profesieë wat in ons eeu vervul word. ’n Studie van Bybelprofesieë help ’n mens om die betekenis van huidige wêreldtoestande te verstaan—oorloë, hongersnode, gesinsverbrokkeling, misdaad—en hoe om dit te vermy dat ons as gevolg van hierdie wêreldtoestande deur angs verstrik raak (Lukas 21:10, 11, 25-28). Ons word dus ingelig deur God se oplossings vir hedendaagse probleme, oplossings wat toon waar ons in die tydstroom is en hoe ons met welslae op die toekoms kan voorberei. Daardie oplossings word aan ons gegee deur middel van ‘die getroue en verstandige gesalfde dienskneg’-klas, wat die Wagtoringgenootskap as sy uitgewersagentskap gebruik.—Mattheüs 24:45-47; 2 Petrus 1:19.

Psalm 119:105 sê: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.” Mense wat die woorde van wysheid wat in die Bybel aangetref word gereeld bestudeer, en wat dit toepas, sal dus onder diegene wees wat God se wil en voorneme verstaan en in werklikheid ’n verligte pad het wat ’n rigsnoer vir hulle daaglikse lewe in vandag se haglike morele toestand is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel