Lees God se Woord en dien hom in waarheid
“Onderrig my‚ o Jehovah‚ aangaande u weg. Ek sal in u waarheid wandel.”—PSALM 86:11, NW.
1. Wat het die eerste nommer van hierdie tydskrif in wese aangaande waarheid gesê?
JEHOVAH stuur lig en waarheid uit (Psalm 43:3). Hy gee ons ook die vermoë om sy Woord, die Bybel, te lees en die waarheid te leer. Hierdie tydskrif se eerste nommer—Julie 1879—het gesê: “Waarheid is, soos ’n beskeie blommetjie in die wildernis van die lewe, omring en amper verstik deur die welige onkruid van valsheid. As jy dit wil vind, moet jy altyd op die uitkyk wees. As jy die skoonheid daarvan wil sien, moet jy die onkruid van valsheid en die braambos van dweepsug opsy stoot. As jy dit wil hê, moet jy afbuk om dit te kry. Moenie met een blommetjie van waarheid tevrede wees nie. As een genoeg was, sou daar nie meer gewees het nie. Hou aan om bymekaar te maak, soek meer.” As ons God se Woord lees en bestudeer, stel dit ons in staat om juiste kennis te verkry en in sy waarheid te wandel.—Psalm 86:11, NW.
2. Wat was die gevolg toe Esra en ander God se Wet aan die Jode in eertydse Jerusalem voorgelees het?
2 Nadat Jerusalem se mure in 455 v.G.J. herbou is, het die priester Esra en ander God se Wet aan die Jode voorgelees. Dit is gevolg deur ’n vreugdevolle Huttefees, belydenis van sonde en die sluiting van “’n vaste verbond” (Nehemia 8:1–9:38). Ons lees: “Hulle het voortgegaan om hardop voor te lees uit die boek, uit die wet van die ware God, en dit is verduidelik en betekenis is daaraan gegee; en hulle het voortgegaan om die voorlesing verstaanbaar te maak” (Nehemia 8:8, NW). Party beweer dat die Jode Hebreeus nie so goed verstaan het nie en dat dit in Aramees geparafraseer is. Maar die vers toon nie dat dit bloot ’n verduideliking van taalkundige terme was nie. Esra en die ander het die Wet verduidelik sodat die mense die beginsels daarin kon begryp en toepas. Christelike publikasies en vergaderinge help ook om aan God se Woord ‘betekenis te gee’. Aangestelde ouer manne, wat ‘bekwaam is om te onderrig’, doen dit ook.—1 Timoteus 3:1, 2; 2 Timoteus 2:24.
Blywende voordele
3. Wat is party voordele wat uit Bybellees verkry word?
3 Wanneer Christengesinne die Bybel saam lees, bestaan daar ’n sterk moontlikheid dat hulle blywende voordele geniet. Hulle raak vertroud met God se wette en leer die waarheid aangaande leerstellings, profetiese aangeleenthede en ander onderwerpe. Nadat ’n deel van die Bybel gelees is, kan die hoof van die huis vra: Hoe behoort dit ons te raak? In watter opsig hou dit met ander Bybelleringe verband? Hoe kan ons hierdie gedagtes gebruik wanneer ons die goeie nuus verkondig? ’n Gesin verkry groter insig uit hulle Bybellees as hulle navorsing doen deur die Watch Tower Publications Index of ander indekse te gebruik. Die twee bundels van Insight on the Scriptures kan met vrug geraadpleeg word.
4. Hoe moes Josua die opdrag in Josua 1:8 nakom?
4 Beginsels wat ons in die Skrif leer, kan ons in die lewe lei. As ons bowendien “die heilige geskrifte” lees en bestudeer, ‘kan dit ons wys maak tot redding’ (2 Timoteus 3:15). As ons toelaat dat God se Woord ons lei, sal ons in die waarheid bly wandel en ons opregte begeertes sal verwesenlik word (Psalm 26:3; 119:130). Maar ons moet begrip probeer verkry, soos Moses se opvolger Josua gedoen het. Die “wetboek” mag uit sy mond nie gewyk het nie, en hy moes dag en nag daarin lees (Josua 1:8). Om die “wetboek” nie uit sy mond te laat wyk nie, het beteken dat Josua nie moes ophou om ander te vertel van die insiggewende dinge wat daarin staan nie. Om dag en nag in die Wet te lees, het beteken dat Josua daaroor moes peins, dit moes bestudeer. Die apostel Paulus het Timoteus insgelyks vermaan om oor sy gedrag, bediening en onderrigting te ‘peins’. As ’n Christen- ouer man moes Timoteus veral daarop let dat hy ’n voorbeeldige lewe lei en skriftuurlike waarhede aan ander leer.—1 Timoteus 4:15.
5. Wat is nodig as ons God se waarheid wil vind?
5 God se waarheid is ’n kosbare skat. As ons dit wil vind, moet ons daarna delf, aanhoudend die Skrif ondersoek. Slegs as ons soos jong kinders deur die Grootse Onderrigter geleer word, verkry ons wysheid en verstaan ons die eerbiedige vrees van Jehovah (Spreuke 1:7; Jesaja 30:20, 21). Ons moet dinge natuurlik skriftuurlik bewys (1 Petrus 2:1, 2). Jode in Berea “was edelmoediger as dié in Tessalonika, want hulle het die woord met die grootste gretigheid van verstand ontvang en die Skrif daagliks sorgvuldig ondersoek of hierdie dinge [wat Paulus gesê het] so was”. Die Bereane is geprys en nie tereggewys omdat hulle dit gedoen het nie.—Handelinge 17:10, 11.
6. Waarom kon Jesus sê dat dit sekere Jode nie gebaat het om die Skrif te ondersoek nie?
6 Jesus het vir sekere Jode gesê: “Julle ondersoek die Skrif, want julle dink dat julle die ewige lewe deur middel daarvan sal hê; en juis dié getuig aangaande my. En tog wil julle nie na my toe kom sodat julle die lewe kan hê nie” (Johannes 5:39, 40). Hulle het die Skrif om die regte beweegrede ondersoek—dat dit hulle tot die lewe kon lei. Trouens, die Skrif bevat Messiaanse profesieë wat gewys het na Jesus as die middel tot die lewe. Maar die Jode het hom verwerp. Dit het hulle dus nie gebaat om die Skrif te ondersoek nie.
7. Wat het ons nodig om ons begrip van die Bybel te vergroot, en waarom?
7 Om ons begrip van die Bybel te vergroot, het ons die leiding van God se gees, of werkende krag, nodig. “Die gees ondersoek alle dinge, selfs die diep dinge van God” om die betekenis daarvan duidelik te maak (1 Korintiërs 2:10). Christene in Tessalonika moes ‘van alle dinge seker maak’ in enige profesie wat hulle gehoor het (1 Tessalonisense 5:20, 21). Toe Paulus (omstreeks 50 G.J.) aan die Tessalonisense geskryf het, was Matteus se Evangelie die enigste deel van die Griekse Geskrifte wat reeds geskryf was. Die Tessalonisense en die Bereane kon dus van alle dinge seker maak moontlik deur dit met die Griekse Septuagint-vertaling van die Hebreeuse Geskrifte te vergelyk. Hulle moes die Skrif lees en bestudeer, en ons moet dit ook doen.
Noodsaaklik vir almal
8. Waarom moet aangestelde ouer manne in Bybelkennis uitmunt?
8 Aangestelde ouer manne moet in Bybelkennis uitmunt. Hulle moet ‘bekwaam wees om te onderrig’ en moet “stewig aan die betroubare woord vashou”. Die opsiener Timoteus moes “die woord van die waarheid reg hanteer” (1 Timoteus 3:2; Titus 1:9; 2 Timoteus 2:15). Sy moeder, Eunice, en sy grootmoeder Loïs het hom die heilige geskrifte van kleintyd af geleer en ‘geloof wat sonder enige huigelary is’ by hom ingeboesem, al was sy vader ’n ongelowige (2 Timoteus 1:5; 3:15). Gelowige vaders moet hulle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” opvoed, en veral ouer manne wat vaders is, moet ‘gelowige kinders hê wat nie van losbandigheid aangekla kan word of weerbarstig is nie’ (Efesiërs 6:4; Titus 1:6). Ons moet dus besef dat dit baie belangrik is om God se Woord te lees, te bestudeer en toe te pas, ongeag wat ons omstandighede is.
9. Waarom moet ons die Bybel saam met mede-Christene bestudeer?
9 Ons moet ook die Bybel saam met medegelowiges bestudeer. Paulus wou hê dat die Christene in Tessalonika sy raad met mekaar bespreek (1 Tessalonisense 4:18). Daar is geen beter manier om ons begrip van die waarheid uit te brei as om die Skrif saam met ander toegewyde studente te ondersoek nie. Die spreekwoord is waar: “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander” (Spreuke 27:17). Ystergereedskap kan roes as dit nie gebruik of geslyp word nie. Ons moet insgelyks gereeld vergader en mekaar slyp deur met mekaar die kennis te bespreek wat ons verkry het deur God se Woord van waarheid te lees, te bestudeer en daaroor te peins (Hebreërs 10:24, 25). Dit is bowendien een manier om seker te maak dat ons uit flitse van geestelike lig voordeel trek.—Psalm 97:11; Spreuke 4:18.
10. Wat beteken dit om in die waarheid te wandel?
10 Wanneer ons die Skrif bestudeer, kan ons gepas tot God bid, soos die psalmis gedoen het: “Stuur u lig en u waarheid; laat dié my lei” (Psalm 43:3). As ons graag God se goedkeuring wil wegdra, moet ons in sy waarheid wandel (3 Johannes 3, 4). Dit sluit in dat ons sy vereistes nakom en hom in getrouheid en opregtheid dien (Psalm 25:4, 5; Johannes 4:23, 24). Ons moet Jehovah in waarheid dien, soos dit in sy Woord geopenbaar is en duidelik in die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” uiteengesit word (Matteus 24:45-47). Dit vereis juiste kennis van die Skrif. Hoe moet ons dus God se Woord lees en bestudeer? Moet ons by Genesis hoofstuk 1, vers 1, begin en deur al 66 boeke lees? Ja, elke Christen wat die hele Bybel in sy taal het, moet dit van Genesis tot Openbaring deurlees. En die doel waarmee ons die Bybel en Christelike publikasies lees, moet wees om ons insig te verruim van die baie skriftuurlike waarhede wat God deur middel van die ‘getroue slaaf’ beskikbaar gestel het.
Lees God se Woord hardop
11, 12. Waarom is dit voordelig om die Bybel tydens vergaderinge hardop te lees?
11 Ons kan stil lees wanneer ons alleen is. In die ou tyd het mense egter hardop gelees wanneer hulle vir hulleself gelees het. Terwyl die Etiopiese eunug in sy wa gery het, het die evangeliedienaar Filippus hom die profesie van Jesaja hoor lees (Handelinge 8:27-30). Die Hebreeuse woord wat met “lees” vertaal word, beteken hoofsaaklik om te “roep”. Diegene wat aan die begin nie kan stil lees en die betekenis van die leesgedeelte begryp nie, moet dus nie afgeraai word om elke woord hardop uit te spreek nie. Die belangrike ding is om die waarheid te leer deur God se geskrewe Woord te lees.
12 Dit hou voordele in as die Bybel tydens Christelike vergaderinge hardop gelees word. Die apostel Paulus het sy medewerker Timoteus aangespoor: “Jy [moet] voortgaan om jou toe te lê op openbare voorlesing, op vermaning, op onderrigting” (1 Timoteus 4:13). Paulus het vir die Kolossense gesê: “Wanneer hierdie brief by julle gelees is, reël dan dat dit ook in die gemeente van die Laodisense gelees word en dat julle ook die een uit Laodisea lees” (Kolossense 4:16). En Openbaring 1:3 sê: “Gelukkig is hy wat hardop lees en dié wat die woorde van hierdie profesie hoor en wat die dinge onderhou wat daarin geskrywe staan; want die vasgestelde tyd is naby.” ’n Openbare spreker moet derhalwe tekste uit die Bybel lees om te staaf wat hy vir ’n gemeente sê.
Onderwerpstudie
13. Wat is die progressiefste metode om Bybelwaarhede te leer, en wat kan ons help om tekste te vind?
13 ’n Studie volgens onderwerpe is die progressiefste metode om skriftuurlike waarhede te leer. Konkordansies, wat Bybelwoorde alfabeties in hulle konteks volgens boek, hoofstuk en vers aangee, maak dit maklik om tekste te vind wat met ’n sekere onderwerp verband hou. En sulke tekste kan met mekaar in ooreenstemming gebring word omdat die Bybel se Outeur homself nie weerspreek nie. Deur middel van heilige gees het hy ongeveer 40 manne geïnspireer om die Bybel oor ’n tydperk van 16 eeue te skryf, en ’n studie volgens onderwerpe is ’n beproefde manier om die waarheid te leer.
14. Waarom moet ’n mens die Hebreeuse en Christelike Griekse Geskrifte saam bestudeer?
14 Ons waardering vir Bybelwaarheid moet ons beweeg om die Christelike Griekse Geskrifte tesame met die Hebreeuse Geskrifte te lees en te bestudeer. Dit sal toon hoe die Griekse Geskrifte met God se voorneme verband hou en sal lig op profesieë in die Hebreeuse Geskrifte werp (Romeine 16:25-27; Efesiërs 3:4-6; Kolossense 1:26). Die New World Translation of the Holy Scriptures is baie nuttig in hierdie verband. Dit is voorberei deur toegewyde knegte van God, wat gebruik gemaak het van die uitgebreide kennis wat beskikbaar is aangaande die oorspronklike Bybelteks asook die agtergrond en idiomatiese uitdrukkings daarin. Die Bybelstudiehulpe wat Jehovah deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” voorsien het, is ook noodsaaklik.
15. Hoe sal jy bewys dat dit gepas is om hier en daar uit die Bybel aan te haal?
15 Party sê dalk: ‘Julle publikasies het duisende aanhalings uit die Bybel, maar waarom kies julle dit hier en daar?’ Deur hier en daar uit die Bybel se 66 boeke aan te haal, maak die publikasies gebruik van verskeie geïnspireerde getuies om te bewys dat ’n lering waar is. Jesus self het hierdie manier van onderrigting gebruik. Toe hy sy Bergpredikasie gelewer het, het hy 21 keer uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal. Daardie preek bevat drie aanhalings uit Exodus, twee uit Levitikus, een uit Numeri, ses uit Deuteronomium, een uit Tweede Konings, vier uit Psalms, drie uit Jesaja en een uit Jeremia. Het Jesus ‘sommer enigiets probeer bewys’ deur dit te doen? Nee, want “hy het hulle geleer soos iemand wat gesag het, en nie soos hulle skrifgeleerdes nie”. Dit was die geval omdat Jesus sy leer gestaaf het met die gesag van God se geskrewe Woord (Matteus 7:29). Die apostel Paulus het dit ook gedoen.
16. Uit watter dele in die Skrif het Paulus in Romeine 15:7-13 aangehaal?
16 In die Skrifgedeelte in Romeine 15:7-13 het Paulus uit drie Hebreeuse Skrifgedeeltes aangehaal—die Wet, die Profete en die Psalms. Hy het getoon dat Jode en nie-Jode God sou verheerlik en dat Christene derhalwe mense van alle nasies moet verwelkom. Paulus het gesê: “Verwelkom mekaar . . . , net soos die Christus ons ook verwelkom het, tot heerlikheid van God. Want ek sê dat Christus in werklikheid ter wille van God se waaragtigheid ’n dienaar van die besnedenes geword het, om die beloftes te bevestig wat Hy aan hulle voorvaders gedoen het en sodat die nasies God weens sy barmhartigheid sou verheerlik. Net soos daar geskrywe staan [in Psalm 18:50]: ‘Dit is waarom ek u openlik onder die nasies sal erken, en tot u naam sal ek melodieë sing.’ En weer sê hy [in Deuteronomium 32:43]: ‘Wees bly, o nasies, saam met sy volk.’ En weer [in Psalm 117:1]: ‘Loof Jehovah, alle nasies, en laat al die volke hom loof.’ En weer sê Jesaja [11:1, 10]: ‘Daar sal die wortel van Isai wees, en daar sal iemand wees wat opstaan om oor nasies te heers; op hom sal nasies hulle hoop vestig.’ Mag die God wat hoop gee julle met alle vreugde en vrede vervul deurdat julle glo, sodat julle oorvloedig kan wees in hoop met krag van die heilige gees.” Deur hierdie onderwerpstudiemetode het Paulus getoon hoe om tekste aan te haal om Bybelwaarhede te staaf.
17. In ooreenstemming met watter voorbeeld haal Christene hier en daar uit die hele Bybel aan?
17 Die apostel Petrus se eerste geïnspireerde brief bevat 34 aanhalings uit tien boeke in die Wet, die Profete en die Psalms. In sy tweede brief haal Petrus ses keer uit drie boeke aan. Matteus se Evangelie het 122 aanhalings uit Genesis tot Maleagi. In die 27 boeke van die Griekse Geskrifte is daar 320 direkte aanhalings uit Genesis tot Maleagi asook honderde ander verwysings na die Hebreeuse Geskrifte. In ooreenstemming met die voorbeeld wat Jesus gestel het en wat sy apostels gevolg het, haal hedendaagse Christene hier en daar uit die hele Bybel aan wanneer hulle ’n studie van ’n skriftuurlike onderwerp maak. Dit is veral gepas in hierdie “laaste dae” wanneer die grootste deel van die Hebreeuse en Griekse Geskrifte in vervulling gaan (2 Timoteus 3:1). Die ‘getroue slaaf’ gebruik die Bybel op hierdie manier in hulle publikasies, maar hulle voeg nooit iets by God se Woord nie of neem nooit iets daaruit weg nie.—Spreuke 30:5, 6; Openbaring 22:18, 19.
Wandel altyd in die waarheid
18. Waarom moet ons “in die waarheid wandel”?
18 Ons moet niks uit die Bybel verwyder nie, want die hele Christelike leer in God se Woord is “die waarheid” of “die waarheid van die goeie nuus”. Om aan hierdie waarheid vas te hou—om daarin te “wandel”—is noodsaaklik vir redding (Galasiërs 2:5; 2 Johannes 4; 1 Timoteus 2:3, 4). Aangesien die ware Christelike geloof “die weg van die waarheid” is, word ons “medewerkers in die waarheid” deur ander te help om die belange daarvan te bevorder.—2 Petrus 2:2; 3 Johannes 8.
19. Hoe kan ons “voortgaan om in die waarheid te wandel”?
19 As ons wil “voortgaan om in die waarheid te wandel”, moet ons die Bybel lees en die geestelike hulp benut wat God deur die ‘getroue slaaf’ voorsien (3 Johannes 4). Mag ons dit tot ons eie voordeel doen en ook sodat ons ander kan leer aangaande Jehovah God, Jesus Christus en die Goddelike voorneme. En laat ons dankbaar wees dat Jehovah se gees ons help om sy Woord te verstaan en om hom met welslae in waarheid te dien.
Wat is jou antwoorde?
◻ Wat is party blywende voordele van Bybellees?
◻ Waarom moet ’n mens die Bybel saam met medegelowiges bestudeer?
◻ Waarom is dit gepas om uit verskeie plekke in die hele Bybel aan te haal?
◻ Wat beteken dit om ‘in die waarheid te wandel’, en hoe kan ons dit doen?
[Prent op bladsy 17]
Ouers, leer julle kinders die Skrif
[Prent op bladsy 18]
In sy Bergpredikasie het Jesus uit verskeie dele van die Hebreeuse Geskrifte aangehaal