‘Kinders is kosbaar, maar seuns is noodsaaklik’
In Indië, wat ’n bevolking van meer as 850 miljoen en ’n geboortesyfer van 31 vir elke 1 000 het, word daar jaarliks sowat 26 miljoen nuwe babas gebore, wat net soveel is as die bevolking van Kanada. Dit is nie verbasend dat die beperking van sy vinnige bevolkingsaanwas een van die dringendste regeringsprojekte is nie. Hoe suksesvol is dit? Wat is sommige van die struikelblokke waarmee hulle te kampe het?
“VOOR 20, nee! Na 30, beslis nie! Net twee kinders—uitstekend!” is die raad wat gegee word op een van die kleurryke plakkate wat in die gang na die gesinsbeplanningshoofkwartier in Bombaai, Indië, hang. Op ’n ander plakkaat is ’n bekommerde moeder met vyf kinders om haar. Dit waarsku: “Moenie later spyt hê nie!” Die boodskap is baie duidelik: Twee kinders per gesin is genoeg. Maar dit is nie maklik om mense sover te kry om die regering se aanbeveling van twee kinders per gesin te aanvaar en te volg nie.
“Die Hindoes meen dat ’n man se geluk afhang van hoeveel kinders hy het. Onder die Hindoes word kinders werklik as die seën van ’n huis beskou. ’n Man hou nooit op bid vir sy gesin om te groei nie, al is sy gesin ook hoe groot”, sê die boek Hindu Manners, Customs and Ceremonies. Maar uit ’n godsdienstige gesigspunt is dit die seun wat vir die patriarg van die huis die waardevolste is. “Daar is geen erger ramp as dié wanneer iemand nie ’n seun of ’n kleinseun kan nalaat om die laaste pligte in verband met sy begrafnis na te kom nie”, verduidelik die boek verder. “Dit word beskou as iets wat ’n nadoodse toegang tot ’n Plek van Saligheid kan verhinder.”
Seuns is ook nodig om die ritus van vooroueraanbidding, of sraddha, voort te sit. “Dit was feitlik noodsaaklik dat daar ten minste een seun moes wees”, skryf A. L. Basham in The Wonder That Was India. “Indië is grotendeels Hindoe, met die gevolg dat die groot klem wat op kinders geplaas word die begeerte na seuns, waarsonder die geslagslyn sou verdwyn, versterk.”
Indië se tradisionele gemeenskaplike, of aanvullende, gesinsreëling, waarvolgens getroude seuns by hulle ouers bly, is ’n kulturele faktor wat tesame met godsdiensoortuiging die begeerte na seuns beïnvloed. “Dogters trou en gaan woon in hulle skoonouers se huis, maar seuns bly tuis by hulle ouers; en die ouers verwag dat wanneer hulle oud is hulle seuns na hulle sal omsien”, verduidelik dr. Lalita S. Chopra van die Bombaaise Stadsraad se Afdeling vir Gesondheid en Gesinswelsyn. “Dit is hulle voorsorg. Ouers voel gerus wanneer hulle twee seuns het. Dit is dus logies dat ’n egpaar na alle waarskynlikheid sal aanhou probeer om ’n seun te hê as hulle die aanbevole beperking van twee kinders bereik het en albei kinders meisies is.”
Hoewel alle kinders in teorie as ’n gawe van God beskou word, is die werklikheid anders. “Dit is duidelik dat meisies medies verwaarloos word”, berig die Indian Express. “Hulle voortbestaan word nie as werklik belangrik vir die voortbestaan van die familie beskou nie.” Die berig meld ’n opname in Bombaai wat toon dat 7 999 uit 8 000 fetusse wat ná geslagsbepalingstoetse afgedryf is vroulik was.
’n Baie moeilike stryd
“Dit is gewoonlik die man in ’n gesin wat besluit hoeveel kinders hulle wil hê en hoe groot die gesin sal wees”, verduidelik dr. S. S. Sabnis, uitvoerende gesondheidsbeampte van die Bombaaise Stadsraad, in ’n onderhoud. Al wil ’n vrou haar kinders spasieer of haar gesin beperk, is sy onder druk van haar man wat moontlik daarteen gekant is. “Dit is waarom ons spanne wat uit mans en vroue bestaan na elke huis in die agterbuurtes stuur in die hoop dat die manlike gesondheidsbeampte met die vader van die huis sal kan praat en hom kan aanspoor om die grootte van die gesin te beperk en hom kan help om te sien dat hy beter vir minder kinders sal kan sorg.” Maar daar is baie hindernisse, soos ons reeds gesien het.
“Die kindersterftesyfer onder die armer mense is hoog weens swak lewensomstandighede”, sê dr. Sabnis. “Mense wil dus beslis baie kinders hê, omdat hulle weet dat sommige sal sterf.” Maar daar word nie veel gedoen om vir die kinders te sorg nie. Hulle dwaal alleen rond en bedel of krap miskien in die vullis rond vir kos. En die ouers? “Hulle weet nie waar hulle kinders is nie”, sê dr. Sabnis.
Advertensies in Indië beeld dikwels ’n gelukkige egpaar af wat welvarend lyk en die lewe geniet saam met hulle twee kinders, gewoonlik ’n seun en ’n dogter, wat duidelik goed versorg is. Dit is in hierdie deel van die gemeenskap—die middelklas—dat die konsep van twee kinders gewoonlik geredelik aanvaar word. Maar hierdie konsep word nie eers deur die arm mense oorweeg nie, want hulle redeneer: ‘As ons ouers of grootouers 10 of 12 kinders gehad het, waarom kan ons nie? Waarom moet ons net twee hê?’ Dit is hier onder Indië se verarmde meerderheid dat die stryd ten opsigte van bevolkingsbeheer baie moeilik is. “Die bevolking is nou jonk en op ’n vrugbare ouderdom”, sê dr. Chopra. “Dit lyk of dit ’n vergeefse stryd is. Ons het ’n ontsaglike taak wat voor ons lê.”