Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 11/8 bl. 8-9
  • Die lewe in ’n stad in Afrika

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die lewe in ’n stad in Afrika
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die skoollewe
  • Wasdag en water aandra
  • Kinders as voorsorgmaatreël
  • Die sleutels tot ’n goeie skoolopleiding
    Ontwaak!—1995
  • ’n Suksesvolle wêreldwye skool
    Ontwaak!—1995
  • Moet ek skool verlaat?
    Ontwaak!—2010
  • Moet jou kind na ’n kosskool gaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 11/8 bl. 8-9

Die lewe in ’n stad in Afrika

Die bevolkingsgroeikoerse in Afrikalande suid van die Sahara is van die hoogste in die wêreld. Daar gee elke vrou aan gemiddeld meer as ses kinders geboorte. Armoede, omgewingsagteruitgang en ’n gebrek aan hulpbronne dra net tot die ontbering by. Hier is ’n eerstehandse beskrywing van hoe die lewe in daardie deel van die wêreld is.

EK HET hier, in ’n groot stad in Wes-Afrika, grootgeword. Ons was sewe kinders in die gesin, maar twee het jonk gesterf. Ons huis was ’n gehuurde slaapkamer en sitkamer. Ma en Pa het in die slaapkamer geslaap, en ons het op matte op die sitkamervloer geslaap, seuns aan die een kant van die kamer en meisies aan die ander kant.

Soos die meeste mense in ons omgewing het ons nie baie geld gehad nie, en ons het nie altyd alles gehad wat ons nodig gehad het nie. Partykeer was daar nie eers genoeg kos nie. Ons het dikwels in die oggend niks gehad om te eet nie behalwe opgewarmde rys wat van die vorige dag oorgebly het. Selfs dít was somtyds skaars. Anders as sommige wat meen dat die man, omdat hy die broodwinner is, die grootste porsie moet kry en na hom die vrou, terwyl die kinders kry wat oorbly, het ons ouers dikwels sonder kos gebly en ons die bietjie wat daar was, laat deel. Ek het hulle opoffering waardeer.

Die skoollewe

Party mense in Afrika dink dat net seuns skool toe moet gaan. Hulle meen dat dit onnodig is vir meisies om te gaan omdat hulle trou en hulle mans vir hulle sorg. My ouers het nie daardie sienswyse gehuldig nie. Al vyf van ons is skool toe gestuur. Maar dit het finansiële druk op my ouers geplaas. Dinge soos potlode en papier was nie ’n groot probleem nie, maar handboeke, asook die verpligte skooldrag, was duur.

Toe ek begin skoolgaan het, het ek nie skoene gehad nie. My ouers kon eers in my tweede jaar op hoërskool, toe ek 14 was, vir my skoene koop. Maar dit beteken nie dat ek glad nie skoene gehad het nie. Die enigste paar wat ek gehad het, was om mee kerk toe te gaan, en ek is nie toegelaat om hulle skool toe of na enige ander plek toe te dra nie. Ek moes kaalvoet loop. My pa kon soms buskaartjies bekostig, maar wanneer hy nie kon nie, moes ons skool toe en terug stap. Dit was ongeveer drie kilometer van ons huis af.

Wasdag en water aandra

Ons het ons klere in ’n stroom gewas. Ek onthou hoe ek daarheen gegaan het saam met my ma, wat ’n emmer, ’n stuk seep en die klere gedra het. By die stroom het sy die emmer vol water gemaak, die klere daarin gesit en hulle ingeseep. Dan het sy die klere teen die gladde rotse geslaan en hulle in die stroom uitgespoel. Daarna het sy hulle op ander rotse uitgesprei om droog te word omdat hulle te swaar was om nat huis toe te dra. Aangesien ek toe nog jonk was, moes ek die klere oppas terwyl hulle droog geword het sodat niemand hulle sou steel nie. Ma het die meeste van die werk gedoen.

Min mense het waterpypleidings na hulle huise toe gehad; dit was dus een van my take om water met ’n emmer by ’n buitekraan, wat ’n staanpyp genoem word, te gaan haal. Die probleem was dat baie van die staanpype gedurende die droë seisoen gesluit was om water te bespaar. Ons het eenkeer ’n hele dag geen water gehad om te drink nie. Nie ’n druppel nie! Partykeer moes ek kilometers ver loop op soek na net een emmervol water. Omdat ek die water sulke ver ente op my kop gedra het, is my hare weggeskaaf op die plek waar die emmer gerus het. Ek het ’n bles gehad toe ek maar tien was! Ek is bly om te sê dat die hare weer daar gegroei het.

Kinders as voorsorgmaatreël

As ek terugdink, sou ek sê dat ons lewensomstandighede gemiddeld was, miskien selfs bo gemiddeld, vir die deel van Afrika waar ons gewoon het. Ek ken baie ander gesinne wie se lewensomstandighede baie erger as ons s’n was. Baie van my skoolmaats moes voor en ná skool by die mark werk om geld vir hulle gesinne in te bring. Ander was te arm om in die oggend voor skool iets te eet, en hulle het honger by die huis weggegaan en was die hele dag sonder kos by die skool. Ek kan baie geleenthede onthou wanneer een van hierdie kinders by die skool na my toe gekom het en by my gepleit het terwyl ek my brood geëet het. Dan het ek ’n stukkie afgebreek om met hom te deel.

Ten spyte van sulke ontberinge en probleme hou die meeste mense steeds daarvan om groot gesinne te hê. “Een kind is nie ’n kind nie”, sê baie mense hier. “Twee kinders is een, vier kinders is twee.” Dit is omdat die kindersterftesyfer van die hoogste ter wêreld is. Ouers weet dat al sou sommige van hulle kinders sterf, sal sommige bly lewe, grootword, werk kry en geld huis toe bring. Hulle sal dan na hulle bejaarde ouers kan omsien. Dit is baie belangrik in ’n land wat geen bestaansbeveiligingsvoordele het nie.—Soos vertel deur Donald Vincent.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel