Wanneer ou wonde genees
JONG Adeline Nako, van wie daar aan die begin van hierdie reeks artikels melding gemaak is, het ’n sterk vyandigheid teen haar voorouers se vaderland, Japan, ontwikkel. Wanneer ander kinders Japannees-Hawaiërs “Jappe” genoem het, het sy gesê: “Ons is Amerikaners.” Sy het plakkate geteken wat sê: “Roei daardie spilmoondhede uit” en was in die voorste geledere van die kampanje om oorlogseëls te koop. Adeline het gesê: “Ek was so trots op die 100ste en 442ste bataljonne wat uit nisei, of Japannees-Amerikaners van die tweede geslag, bestaan het en moedig vir Amerika geveg het.”
Maar toe sy ouer word, het sy begin wonder: ‘Waarom moet mense mekaar doodmaak?’ Dit het verkeerd gelyk. ‘Boeddhiste het aan oorlog deelgeneem. Christene het aan oorlog deelgeneem. Hulle is almal huigelaars’, het sy gedink. Aangesien sy die Bybel met die hulp van Jehovah se Getuies begin studeer het, het sy haar Getuie-onderrigter met die vraag uitgedaag: “Neem julle Jehovah se Getuies aan oorlog deel?”
Daar is vir haar gesê dat hulle nie die wapen opneem om enige mens dood te maak nie. Destyds het die oorlog nog in Europa en Asië gewoed. Adeline het uitgevind dat die Getuies in Duitsland na konsentrasiekampe gestuur is en diegene in die Verenigde State in die tronk gestop is omdat hulle nie die wapen in die oorlog opgeneem het nie. ‘Dit moet die ware geloof wees’, het sy gedink.
Vreedsame sending
Terwyl haar Bybelkennis toegeneem het, is sy beweeg om haar lewe aan Jehovah, die God van die Bybel, toe te wy. Haar toegewydheid aan “die God van vrede” het haar beweeg om in haar liefde te verruim deur in die voetstappe te volg van die vyf Japannees-Hawaiërs wat aangebied het om kort na die Tweede Wêreldoorlog na Japan te gaan (Filippense 4:9). Hulle was gretig om die mense, hulle vorige vyande, in die land van hulle voorvaders te help deur as sendelinge die vertroostende goeie nuus van die Koninkryk in die Bybel te verkondig.—Mattheüs 24:14.
Sjinitsji Tohara, een van dié wat aangebied het om in die oorloggeteisterde land Japan te gaan help, vertel hoe hy oor sy sending gevoel het. “Ek het gedink aan die getrouheid van die Japannese wanneer dit by die dien van menseheersers en die keiser kom”, sê hy. “Ek het gedink aan die kamikasevlieëniers, wat hulle lewe gegee het vir die keiser deur opsetlik met hulle vliegtuig in vyandelike oorlogskepe in te vlieg. Ek het gedink: as die Japannese so getrou aan mense is, wat sal hulle doen as hulle die ware Here, Jehovah, vind?”
Met sulke positiewe sienings het hierdie vrywilligers in 1949 in Tokio aangekom, wat nie lank tevore nie deur lugaanvalle met B-29-bomwerpers in puin gelê is. Wat het hulle in die hutte tussen die bouvalle gevind? ’n Taamlik skugter nasie van pligsgetroue werkers. Daar was natuurlik nog mense wat ’n wrok gekoester het en bevooroordeeld was. Maar baie het gunstig op die Bybel se boodskap van vrede gereageer.
Adeline het haar in 1953 by daardie eerste sendelinge aangesluit. Sy het diegene wat honger en dors was vir die vertroostende boodskap in die Bybel ywerig gehelp. Sy het wel vyandige mense in haar predikingswerk ontmoet. Hulle het vir haar gesê: “Julle mense het atoombomme op Hirosjima en Nagasaki gegooi!”
“Wel”, het sy geantwoord, “jy weet dat ek van Hawaii kom. En dit was Japan wat Pearl Harbor eerste aangeval het en baie mense daar doodgemaak het. Maar dit het my nie gekeer om na Japan te kom om hierdie goeie nuus aan die mense hier te vertel nie.” Dit het hulle gewoonlik laat bedaar, en hulle het lektuur aanvaar wat die Bybel verduidelik.
Danksy die goeie grondslag wat daardie eerste sendelinge van Hawaii en ander lande gelê het, is daar nou meer as 150 000 Japannese wat deel uitmaak van ’n broederskap van mense wat nie “meer leer om oorlog te voer nie”.—Jesaja 2:4; 1 Petrus 2:17.
Hoe alle oorloë eindig
Dit is waar dat om mekaar te ken en onselfsugtige liefde teenoor mekaar aan te kweek onontbeerlik vir wêreldvrede is. Maar dit is nie genoeg nie. Mense wat vrede liefgehad het en vriende aan die ander kant gehad het, is ook betrek in die oorlog in die Stille Oseaan omdat hulle verplig gevoel het om vir ’n “geregverdigde” saak te veg. Nasionalistiese propaganda het die oorhand gekry oor hulle natuurlike neigings. Hoewel party geweier het om in die oorlog te tree en selfs die risiko geloop het om na konsentrasiekampe of tronke gestuur te word, het hulle optrede, hoewel dit prysenswaardig was, ’n klein, indien enige, uitwerking gehad om die geesdrif vir oorlog te demp.
Wanneer ’n hele nasie in oorlog ingelei word, is dit meer as net menslike hande wat die leiding neem. Gewoonlik hou almal wat daarby betrokke is vol dat hulle oorlog wil verhoed. Tog is daar ’n baie kragtige mag wat hulle teen hulle wense beïnvloed. Die Bybel identifiseer daardie kragtige mag as “die god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4). Trouens, “die hele wêreld [lê] in die mag van die bose”, Satan die Duiwel.—1 Johannes 5:19; sien ook Johannes 12:31; 14:30.
Maar die Bybel belowe dat ‘die God van vrede Satan sal verbrysel’ (Romeine 16:20). ’n Voorspel tot hierdie verbryseling het 77 jaar gelede in die hemel plaasgevind. Luister na die beskrywing van wat die apostel Johannes in ’n aangrypende visioen gesien het 18 eeue voor die vervulling daarvan in 1914: “Daar het oorlog in die hemel gekom . . . Die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.”—Openbaring 12:7-9.
Satan die Duiwel se bedrywighede is sedertdien tot die aarde beperk. Deur politici en militariste soos marionette te beheer, het hy eindelose lyding in die oorloë van hierdie eeu veroorsaak. Maar sy ongeduld weerspieël net sy groot woede, “omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12). Deur die magtige hande van die “Vredevors”, Jesus Christus, sal God Satan onskadelik maak na “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by “Armageddon”.—Jesaja 9:5; Openbaring 16:14, 16.
In teenstelling met al die oorloë wat deur mense gevoer is, is die standaard van geregtigheid wat in daardie komende oorlog van God sal heers absoluut. Dit is die standaard van die Skepper van die mensdom, wat die belange van mense op die hart dra. In teenstelling met politieke leiers wat druk op hulle mense uitoefen om oorlog te voer, sal Jehovah, ons Skepper, vir sy volk sê wat hy vir sy nasie Israel in die dae van Josafat van Juda in die tiende eeu v.G.J. gesê het: “Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle.”—2 Kronieke 20:17.
Wanneer die donker wolke van Satan se invloed weggewaai is, sal mense van alle nasies wêreldwyd ware vrede en veiligheid geniet. Dan sal die volgende toestande wat deur Jesaja voorspel is ’n werklikheid word. “Want kyk, ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde. Die vorige dinge sal nie meer onthou word en hulle sal in die gedagte nie opkom nie.”—Jesaja 65:17, The New English Bible.
Wat dus by Pearl Harbor gebeur het, sal nie meer op ’n pynlike manier onthou word nie; die slagoffers van die atoombomaanvalle op Hirosjima en Nagasaki sal ook nie meer uitroep: “Geen Hirosjimas meer nie!”. Waarom nie? Omdat die volgende woorde van Jesaja se profesie vir elke persoon op aarde sal geld: “Hy [God] sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:4.
Die vervulling van hierdie profesieë is reeds ’n werklikheid onder Jehovah se Getuies, wat nou ’n wêreldwye broederskap van miljoene mense vorm. Dit is veral duidelik by internasionale byeenkomste van Jehovah se Getuies wat in verskeie dele van die wêreld gehou word. Jy kan ook daardie internasionale eenheid en vrede geniet. Kom leer hoe jy een van die mense kan word wat reeds ‘van hul swaarde pikke gesmee het en van hul spiese snoeimesse’, wat nie “meer leer om oorlog te voer nie” en wat uitsien na ’n paradys wat binnekort op die aarde gaan wees, waar oorlog nooit weer gevoer sal word nie.—Psalm 46:9, 10.
[Prent op bladsy 9]
Jerry en Josji Toma, Sjinitsji en Masako Tohara en Elsie Tanigawa het aangebied om hulle vorige vyande te help
[Prent op bladsy 10]
’n Internasionale broederskap aanbid God vandag in eenheid en vrede