Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 12/8 bl. 6-8
  • “Geen Hirosjimas meer nie!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Geen Hirosjimas meer nie!”
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom die wapen van massavernietiging gebruik is
  • Het hulle werklik redes gehad om dood te maak?
  • “Onthou Pearl Harbor!”
    Ontwaak!—1991
  • Wanneer ou wonde genees
    Ontwaak!—1991
  • “Ek was vasbeslote om vir die keiser te sterf”
    Ontwaak!—1992
  • ’n Verrassing vir Japan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 12/8 bl. 6-8

“Geen Hirosjimas meer nie!”

HOEWEL die Japannese hulle verheug het oor die oorwinning by Pearl Harbor en dit onthou het terwyl hulle gewen het, was die datum vergete in Japan nadat hulle die oorlog verloor het. Toe die Japannese regering onlangs gevra is waarom hulle nie verskoning gevra het vir die aanval nie, het die hoofminister van die kabinet geantwoord: “Ek dink dat die aanval op Pearl Harbor strategies en in die algemeen alles behalwe prysenswaardig was. Maar sake wat met die oorlog tussen die Verenigde State en Japan te doen het, is deur die Vredesverdrag van San Francisco afgehandel.”

Sy woorde verteenwoordig die gevoelens van party Japannese teenoor die verrassingsaanval wat die oorlog in die Stille Oseaan begin het. Hoewel meer as ’n miljoen Japannese Hawaii elke jaar besoek, besoek net ’n paar die U.S.S.-gedenkteken in Arizona, wat gebou is om die aanval op Pearl Harbor te gedenk, berig die koerant Mainitsji Sjimboen.

Terwyl die slagspreuk “Onthou Pearl Harbor!” bitter herinneringe vir party Amerikaners ophaal, onthou die Japannese hulle lyding met die uitroep “Geen Hirosjimas meer nie”. Atoombomme wat in Augustus 1945 oor die stede Hirosjima en Nagasaki ontplof het, het ’n traumatiese uitwerking gehad op nie net die onmiddellike slagoffers nie, maar ook op die nasie as ’n geheel.

Wanneer ons na die persoonlike ondervindinge van oorlewendes luister, help dit ons om hulle gevoelens te verstaan. Beskou as voorbeeld Itoko, wat toe net die skool verlaat het en ’n sekretaresse by die Vloot-instituut in Hirosjima geword het. Hoewel sy binne die gebou was waar sy gewerk het, het sy die blits van die atoombom gevoel, asof sy deur die lig self geslinger is. “Ek het saam met soldate gewerk om lyke uit die stad te verwyder”, verduidelik Itoko. “Die soldate het in ’n rivier met ’n visnet van ’n boot af na lyke gesoek en elke keer wat hulle die net opgetrek het, het hulle meer as 50 liggame gekry. Ons het die liggame aan wal geneem en in groepe van vyf opgestapel en hulle verbrand. Die meeste van hulle was kaal. Ek kon nie sê wie mans en wie vroue was nie, en hulle lippe was so geswel dat dit soos ’n eend se bek gelyk het.” Die Japannese kan nie die gruwels vergeet wat deur twee atoombomme veroorsaak is nie.

Waarom die wapen van massavernietiging gebruik is

Professor Sjigetosji Iwamatsoe van die Universiteit van Nagasaki, wat self ’n A-bomslagoffer is, het meer as 20 jaar gelede aan Westerse koerante geskryf om hulle oor die slagoffers se toestand in te lig. “Hy was verstom deur die reaksie”, berig Asahi Evening News. “Die helfte van die antwoorde was dat dit die atoombomme was wat die Japannese aggressie stopgesit het en dat dit vreemd was dat die bomslagoffers om vrede vra.”

The Encyclopedia Americana sê ter verduideliking van die rede waarom die wapen van massavernietiging gebruik is: “Hy [Harry S. Truman] het besluit dat atoombomme teen Japan gebruik moes word, omdat hy geglo het dat hulle die oorlog vinnig sou beëindig en dat dit lewens sou red.” Hoewel hy nie ongevoelig is vir die gevoelens van die A-bomslagoffers nie, erken Kenkitsji Tomioka, ’n Japannese joernalis wat verslag gedoen het oor die chaotiese toestande na die oorlog: “As ek terugdink aan die tydperk tussen Maart/April en Augustus 1945 toe operasies om die oorlog te beëindig ’n klimaks bereik het wat die voortbestaan van die nasie in gevaar gestel het, kan ons nie die rol ignoreer van twee dosisse korrektiewe medisyne [atoombomme] nie, wat spesifiek bedoel was om heethoofde af te koel en aan militariste toegedien is wat aangedring het op ’n konfrontasie om die vaderland te beskerm. ’n Konfrontasie sou die gjokoesai (om liewers dood te gaan deur aan te val pleks van oor te gee) van die bevolking van 100 miljoen beteken het.”

Diegene wat geliefdes verloor het in die atoombomontploffings en diegene wat siek is as gevolg van bestraling vind nietemin dat hulle pyn nie genees kan word deur woorde wat die gooi van die pikadon, of “blits-en-ontploffing”, soos die oorlewendes die A-bomme genoem het, regverdig nie. Hoewel hulle hulself al lank as onskuldige slagoffers beskou, besef party A-bomoorlewendes nou dat hulle as Japannese, soos professor Iwamatsoe gesê het, die “misdade wat hulle in hulle aggressie teen ander lande in die Stille Suidsee-gebied gepleeg het”, moet erken. ’n Bomslagoffer het in 1990 by die jaarlikse antibombetogings in Hirosjima voor buitelandse afgevaardigdes verskoning gevra vir Japan se oorlogsmisdade.

Het hulle werklik redes gehad om dood te maak?

Baie oorlewendes en ooggetuies van Pearl Harbor, Hirosjima en Nagasaki se harte is gevul met ’n sterk weersin in oorlog. Wanneer party terugdink, bevraagteken hulle dit of hulle lande grondige redes gehad het om te eis dat hulle geliefdes opgeoffer word.

Beide kante het ook met woorde aangeval om geesdrif vir die oorlog op te wek en die slagting te regverdig. Die Amerikaners het die Japannese “agterbakse Jappe” genoem en gevind dat dit maklik was om die vlamme van haat en wraak aan te blaas met die woorde “Onthou Pearl Harbor!”. Mense in Japan is geleer dat die Anglo-Amerikaners kitsjikoe was, wat “duiwelse monsters” beteken. Baie mense in Okinawa is selfs aangespoor om eerder selfmoord te pleeg as om in die hande van die “monsters” te val. Jong Itoko, van wie daar vroeër melding gemaak is, se bevelvoerder het haar eweneens twee dosisse giftige kaliumsianied gegee nadat die Japannese oorgegee het toe Amerikaanse invalsmagte by ’n nabygeleë hawe geland het. “Moenie ’n speelding vir die vreemde soldate wees nie”, het hy beveel.

Maar Itoko het gaandeweg met die hulp van haar Japannees-Hawaise vriende haar sienswyse uitgebrei en besef dat beide die Amerikaners en die Britte vriendelik, beskaaf en goed kan wees. Sy het George ontmoet, ’n Ier wat in Singapoer gebore is, wie se vader deur die Japannese doodgemaak is. Hulle het mekaar leer ken en getrou. Hulle is maar een van die baie voorbeelde van mense wat besef het dat hulle vorige vyande vriendelike mense is. As almal die “vyande” nie deur brille wat deur oorlog gekleur is nie, maar deur hulle eie onbevooroordeelde oë gesien het, kon hulle hulle met liefde pleks van bomme bestook het.

Ja, vrede tussen mense wat op wedersydse begrip gegrond is, is noodsaaklik vir wêreldvrede. Maar as ons kyk na die tientalle oorloë wat sedert 1945 gevoer is, is dit duidelik dat mense nie hierdie basiese les van Pearl Harbor en Hirosjima geleer het nie. Maar selfs vrede tussen mense is nie genoeg om wêreldvrede te bring nie. Wat sal dit verg? Die volgende artikel sal dit verduidelik.

[Lokteks op bladsy 7]

Terwyl die slagspreuk “Onthou Pearl Harbor!” bitter herinneringe vir party Amerikaners ophaal, onthou die Japannese hulle lyding met die uitroep “Geen Hirosjimas meer nie!”

[Lokteks op bladsy 8]

Vrede tussen mense wat op wedersydse begrip gegrond is, is noodsaaklik vir wêreldvrede

[Prent op bladsy 7]

Lloyd Barry en Adrian Thompson, sendelinge van die Wagtoringgenootskap, voor Hirosjima se Vredesgedenkteken in 1950

[Prent op bladsy 8]

Verwoeste Hirosjima na die atoombomontploffing

[Erkenning]

U.S. Army/Courtesy of The Japan Peace Museum

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel