’n Kykie in die heelal
Deur Ontwaak!-medewerker in Hawaii
SÊ NOU jy wou in die tyd terugkyk. Kan jy dit doen? Die antwoord is ja!
Trouens, elke keer wanneer ons na ’n sterbesaaide hemel opkyk, kyk ons in die verlede in. Maar waarheen kan ons gaan om so ’n fassinerende kykie in vervloeë tye te kry? Wel, soos die Polinesiërs van ouds wat die sterre gevolg en Hawaii ontdek het, kom baie mense wat probeer om die sterre te volg of waar te neem vandag na hierdie eilandstaat toe. Maar hulle ontdek die hoogste vorm van sterrekundige tegnologie—’n tegnologie wat dit vir die mens moontlik maak om baie verder in die verlede in te kyk.
Kom ons reis na die eiland Hawaii, of die Groot Eiland. Daar sal ons tot bo-op die kruin van ’n uitgewerkte vulkaan genaamd Mauna Kea klim. Op ’n hoogte van 4 205 meter sal ons van die wêreld se beste sterrewagte besoek om in die heelal in te kyk.
Ons bestyg Mauna Kea
Ons begin die lang en kronkelende rit na die kruin van Mauna Kea vroeg in die oggend. Ons beweeg uit die tropiese klimaat van die laerliggende gebiede, waar daar jaarliks meer as 5 000 millimeter reën val, en klim teen die onvrugbare hellings van hierdie uitgewerkte vulkaan op, waar sneeu etlike maande van die jaar kan voorkom. Wanneer ons verby die boomgrens beweeg, bevind ons ons op ’n steil en gevaarlike grondpad. Ons verstaan nou waarom ’n vierwielaangedrewe voertuig nodig is.
Ons bereik uiteindelik die kruin waar ons ’n hele paar sterrewagte aantref. Die atmosfeer hier is fris, helder en feitlik deursigtig. Ons parkeer die voertuig en klim uit. Skerp, ysige winde koel ons onmiddellik af. Maar terwyl ons rondkyk, bruis ’n opgewondenheid deur ons. Ons staan op ’n onvrugbare vulkaan, hoog bo die omliggende wolkkombers, en van hier af kan ons glad nie die land of die see sien nie!
Waarom hier?
Vroeg in die sestigerjare het sterrekundiges begin om hulle eerste sterrewag op die Groot Eiland te bou om in die buitenste ruimte en in die verlede in te kyk. Maar waarom hier, bo-op ’n vulkaan op ’n eiland diep in die Stille Oseaan?
Daar is vier redes waarom hierdie spesiale ligging so goed is om die sterrehemel te ondersoek: (1) die hoë persentasie helder nagte in ’n jaar; (2) die helderheid en stabiliteit van die lug wat verwringing verminder; (3) die uiters lae vlak van lig snags wat deur stadsverligtingswetgewing op die Groot Eiland beskerm word en (4) die baie lae humiditeit. Waarom is daardie laaste faktor belangrik? Omdat humiditeit sommige soorte instrumente belemmer.
Selfs met die blote oog kan ons maklik die buitengewone atmosferiese eienskappe sien wat hierdie so ’n uitstekende ligging maak om in die buitenste ruimte in te kyk. Dit is geen wonder dat Mauna Kea as ’n byna volmaakte plek beskou word om die sterre waar te neem nie.
In die sterrewagte
Ons ontmoet ons gids en gaan verder saam met haar na die W. M. Keck-sterrewag. Dit bevat die grootste en verreweg die kragtigste teleskoop wat tot op hede gebou is.
Toe ons ingaan, besef ons gou dat sterrekundiges nie meer met die blote oog deur hierdie teleskope kyk nie. Nee, daardie dae is verby! Wetenskaplikes werk vandag met die teleskoop deur kragtige rekenaars en ander gesofistikeerde instrumente te gebruik. Hierdie rekenaargesteunde toerusting kan miljarde keer meer as die blote oog sien.
Is dit nie verstommend nie? Deur hierdie tegnologie kan sterrekundiges in net ’n paar dae van besigtiging inligting bymekaar maak wat hulle maande sal kos om te evalueer.
Ons gids vestig nou ons aandag op dit wat die W. M. Keck-sterrewag aan die spits van sterrekundige tegnologie plaas—die unieke ontwerp van sy teleskoop. Ons sien die 36 seshoekige spieëlsegmente waarvan elkeen 1,8 meter in deursnee is. Hierdie is die ekwivalent van een spieël 10 meter in deursnee.
’n Persvrystelling deur die Kaliforniese Vereniging vir Sterrekundige Navorsing het beskryf hoe hierdie teleskoop werk, en gesê: “Hulle posisies word elektronies beheer tot op ’n akkuraatheid van ’n miljoenste van ’n duim—’n duisend keer minder as die wydte van ’n mensehaar”, en met slegs ’n kwart van die spieëls in posisie “is dit reeds so sterk soos die Hale-teleskoop van [vyf meter] by die Palomar-sterrewag” in Kalifornië.
Dit is nie al nie. Ons gids lig ons in dat hulle so pas fondse ontvang het vir ’n tweede teleskoop wat langs hierdie een sal kom, wat nog in aanbou is. Hierdie twee teleskope sal soos ’n reuseruimteverkyker werk en verder in die buitenste ruimte in kyk as wat ooit moontlik geag is. Dit is waarlik opwindend om hier te wees!
Maar op hierdie hoogte wil ons nie te opgewonde raak nie, omdat ons kan sien dat hipoksie, ’n suurstoftekort in die weefsels van die liggaam, hier ’n gevaar is. Ons kom agter dat ons verstand nie so helder is nie omdat ons sukkel om te konsentreer en ons spraak te formuleer. Trouens, as ons op hierdie hoogte te vinnig beweeg of te veel energie gebruik, kan dit hoofpyn, naarheid en floute veroorsaak. Dit is beslis geen plek vir iemand met swak gesondheid nie.
Nadat ons vyf ure op die kruin deurgebring het, is dit dus tyd dat ons tot by die 2800 metervlak met die berg af ry. Tot dusver was dit ’n opwindende oggend.
Wat vertel die sterre ons?
By die 2 800 metervlak is daar verblyf en fasiliteite vir ongeveer 50 sterrekundiges en steunpersoneel. Daar is ook ’n besoekersentrum waar jy na lesings oor die Mauna Kea-sterrewagte kan luister.
Verder sal daar vir dié wat wil agterbly ’n nagtelike besigtiging van die sterre wees deur ’n 28 sentimeterteleskoop met kommentaar deur een van die gekwalifiseerde wetenskaplikes aan die Universiteit van Hawaii. As jy bly, soos ons gedoen het, sal jy nie teleurgestel wees nie. Dit is, om die minste te sê, ’n uitstekende manier om te leer watter getuienis die sterre kan gee en ’n baie besondere dag af te sluit.
Jy wonder dalk waarom ons vroeër gesê het dat ons in die tyd kan terugkyk. Miskien sal ’n voorbeeld jou help om hierdie idee te verstaan. Neem byvoorbeeld die Andromeda-galaksie. Op ’n helder nag kan sy lig vir die blote oog sigbaar wees. Omdat hulle nou weet hoe ver daardie eilandheelal van sterre van die aarde af is en dat lig teen 299 792 kilometer per sekonde beweeg, het wetenskaplikes bepaal dat die lig wat ons van die Andromeda-galaksie sien 1,5 miljoen jaar oud is! Ja, as ons sterlig besigtig, kyk ons in werklikheid terug in die tyd.
Met hierdie nuwe gevorderde teleskope op Mauna Kea kan die mens nou selfs verder terug in die tyd en dieper in die buitenste ruimte inkyk. Dit is omdat moderne teleskope soveel kragtiger as die blote oog is. Daar word geraam dat met huidige tegnologie sterrekundiges in werklikheid sterlig sien wat agtmiljard jaar oud is! Deur sulke inligting in te samel, hoop hulle om ’n beter begrip te kry van hoe sterre ontstaan en hoe die heelal ontwikkel het.
Vir ons as besoekers was hierdie beslis ’n unieke dag. Ons sal lank outhou wat ons gesien het. Wat sterrekundiges sien en nog sal sien, laat ons verstom oor die wonders van die skepping. Ons sal nie meer bloot na die sterrehemel opkyk en dan omdraai nie. Voortaan sal ons hierdie geleentheid en die prag van hierdie bergsterrewag onthou.
Mag sulke ondervindinge ons beweeg om die Een te waardeer wat die heelal gemaak het wat vir ons so ’n bron van verwondering is.—Jesaja 40:26; 42:5.
[Foto-erkenning op bladsy 25]
California Association for Research in Astronomy