Kersfeeswaarhede of -mites?
“AS JY getroue Katolieke vra waarom Kersfees op die 25ste Desember gevier word, sal ten minste nege uit tien, óf verbaas óf geamuseerd, antwoord: ‘Maar dit is mos die dag waarop Jesus gebore is!’ Maar as jy een van Jehovah se Getuies vra waarom hy nie hierdie herdenking vier nie, sal hy altyd antwoord: ‘Omdat die Evangelies nie daarvan melding maak nie.’”
Dit is hoe ’n artikel oor Kersfees in Il Mattino, ’n dagblad in Napels, Italië, begin het. Maar watter siening is reg? “Al wat jy moet doen”, het die koerant bygevoeg, “is om deur Mattheüs en Lukas te blaai (die enigste twee evangeliste wat die geboorte van Christus verhaal) om te besef dat die tweede antwoord reg is.”
Sulke artikels is nie meer buitengewoon nie. Nuuskanale onthul dikwels dat die algemeen aanvaarde opvattings oor Kersfees mites is. The Press, van Christchurch, Nieu-Seeland, het byvoorbeeld in Desember 1990 ’n artikel gehad oor “Die ses mites oor Kersfees”. Dit het gesê:
“MITE 1. Sinterklaas, wat by die Noordpool woon, ry op Kersaand snel op sy vaste roete om die aarde om geskenke aan soet dogtertjies en seuntjies af te lewer. Wel, niemand hou daarvan om die pret te bederf nie, maar dit is net nie waar nie, is dit? Om so baie huise op een aand te besoek en so baie vrugtekoek en port te eet en te drink? En wat gebeur as daar nie ’n skoorsteen is nie? Nee, hierdie storie is eenvoudig nie waar nie. . . .
“MITE 2. 25 Desember is Christus se geboortedag. Beslis nie. Lukas se evangelie sê dat, toe Jesus in Betlehem gebore is, skaapwagters in die oop veld gebly het en in die nag hulle skape opgepas het. Die temperatuur in daardie deel van Palestina is gedurende Desember gemiddeld 7°C in die dag en baie koeler in die aand. Daar is dikwels koue reëns, en dit sneeu soms in die hooglande. Die skaapwagters sou op die plek wees waar hulle skape altyd daardie tyd van die jaar was—in ’n beskutte skuilplek. . . .
“MITE 3. Die eerste Kersfees was in Betlehem, toe Christus gebore is. Dit lyk om die waarheid te sê asof dit in Rome begin het, en die vroegste verslag van die viering daarvan is uit 336. Dit het deur die Ooste en die Weste versprei totdat dit teen die middel van die vyfde eeu deur die Kerk van Jerusalem aangeneem is.
“Kersfees het eintlik in sekere sin stapsgewys ontstaan, en dit was net ’n geval van die naam van die viering wat verander het: identiese heidense brasserye en feesvieringe het al eeue voor Christus in laat Desember plaasgevind as deel van die wintersonstilstandvieringe in die noordelike halfrond . . .
“Die insluiting van Christus se geboorte in hierdie brasserye met ’n heidense oorsprong het klaarblyklik geen teenkanting van die kerkleiers gekry nie, wat blykbaar meer in die vermeerdering van hulle kudde en sodoende ook hulle eie mag belanggestel het as in die waarheid of teologiese suiwerheid. . . .
“Dit is dus geen wonder dat die Puriteine in Skotland, Engeland en Nieu-Engeland gedurende die 17de eeu probeer het om Kersfees af te skaf nie, en dit veroordeel het as ’n voortsetting van ‘die ydelhede en onmatighede waaraan die heidene hulle oorgee’.
“Daardie jaarlikse uitroepe om ‘Christus in Kersfees terug te sit’, klink inderdaad baie hol: die waarheid is dat hy nooit gewillig deel daarvan was nie.
“MITE 4. Die tradisie om met Kersfees geskenke te gee, volg die gebruik wat ingestel is toe die geskenke van goud, wierook en mirre aan Jesus gegee is. Mense het om die waarheid te sê al eeue voor Christus op 25 en 26 Desember vir mekaar geskenke gegee as deel van daardie sonstilstandvieringe. Die antieke Romeine het vir mekaar geskenke gegee as deel van hulle sonaanbiddingsfees, Saturnalieë.
“Die Wyse manne het in elk geval vir Jesus, nie vir mekaar nie, geskenke gegee in ooreenstemming met wat toe die gebruik was wanneer vername mense besoek is. Mattheüs se evangelie wys op stuk van sake dat hulle in Jesus as die toekomstige koning van die Jode belanggestel het.
“MITE 5. Die ‘drie wyse manne’ en die skaapwagters het almal hulde aan Jesus gebring terwyl hy in sy krip gelê het. Wie ook al daardie oulike geboortetonele teken wat die skaapwagters en die wyse manne saam in die stal uitbeeld, lees hulle Bybel nie so goed nie.
“Mattheüs se evangelie sê duidelik dat Jesus in ’n huis was toe die ‘wyse manne’ hom gevind het—en dit is ook maar goed, aangesien dit waarskynlik omtrent twee jaar na sy geboorte was.
“Daarbenewens praat Mattheüs van Jesus as ’n kindjie, en nie as ’n baba nie, wanneer hy die besoek van die Wyse manne beskryf. Hy was al lank nie meer ’n klein babatjie nie, en die skaapwagters het toe lankal na hulle kuddes teruggekeer.
“Onthou ook dat Herodes, toe hy die Messias wou laat vermoor het, die datum gebruik het wat deur die Wyse manne verstrek is en beveel het dat al die seuntjies van twee jaar en onder doodgemaak word.
“Sou hy so [’n] verskriklike—en ook baie ongewilde—bevel gegee het as hy geweet het dat sy slagoffer net ’n paar weke oud was? . . .
“Die Bybel sê in werklikheid nêrens hoeveel Wyse manne daar was nie. Die Griekse woord in die evangelie is magoi, waarvan die woord ‘magie’, [oftewel, towerkuns] afgelei is . . .
“MITE 6. Kersfees is ’n tyd van vrede op aarde en welwillendheid aan alle mense. Dit is inderdaad ’n edele gedagte, maar dit is nie wat die Bybel sê nie. . . .
“Interliniêre vertalings van Lukas se evangelie in die oorspronklike Grieks toon dat ’n menigte engele wat aan die skaapwagters verskyn het eintlik gesê het: ‘en op aarde vrede onder mense van welwillendheid’.
“En dit is die verskil. Een dag per jaar waarop daar te veel gedrink en geëet word en waar die klem op kommersialisme geplaas word, maak nie van jou ’n Christen nie; die Bybel sê dat diegene wat Jesus se leringe die hele jaar deur elke dag volg vrede sal hê, en nie diegene wat ’n valse verjaarsdag van Jesus vier nie.”