Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 12/22 bl. 16-19
  • Wat het geword van die tradisionele Kersfees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat het geword van die tradisionele Kersfees?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die werklikhede van die 19de eeu
  • Dickens en Kersfees
  • Kersfees word gekommersialiseer
  • Die oorsprong van Kersfees
  • Wat van Kersgebruike?
  • Ernstige bedenkinge
  • Wat daaromtrent gedoen moet word
  • Moet jy Kersfees vier?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Kersfees—Waarom so gewild in Japan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Kersfees—Baie sien dit as ’n genieting, nie ’n gevaar nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Wat beteken Kersfees vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 12/22 bl. 16-19

Wat het geword van die tradisionele Kersfees?

“Kersfees was vir ons as kinders ’n genotvolle tyd”, sê Rita in ’n terugblik op die dertigerjare. “Almal het kerk toe gegaan, waar ons ons gunstelinggesange gesing het. Wanneer ons huis toe gekom het, het Ma ’n kalkoen gaargemaak, en ons het Kerspoeding en room geëet. Ons het opreg geglo dis Jesus se geboortedag, sý dag. Maar dinge het verander. Dit lyk asof baie kinders deesdae net aan Kersvader dink wat geskenke gaan bring.”

Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje

DIE viering van Kersfees het deur die jare heen—en nie net in onlangse tye nie—baie verander. Reeds in 1836 het die Engelse skrywer Charles Dickens gesê: “Daar is mense wat vir jou sal sê dat Kersfees nie meer vir hulle dieselfde is nie.”

Dit verbaas sommige moontlik dat Kersfees nie altyd ’n gewilde geleentheid was nie. In die 19de eeu, toe Dickens geskryf het, was Kersfees nie meer so gewild nie. Die meeste Britse koerante het gedurende die vroeë jare van daardie eeu glad nie eers daarvan melding gemaak nie.

Dickens en sy ouer Amerikaanse eweknie, Washington Irving, het probeer om Kersfees te idealiseer. Waarom? Dit was nie net om ou tradisies te laat herleef nie, maar ook om, ten minste wat Dickens betref het, lesers van die uiters moeilike lewensomstandighede van die minderbevoorregtes bewus te maak en hulle situasie sodoende te verbeter.

Die werklikhede van die 19de eeu

Hoewel die Industriële Revolusie vir party welvaart meegebring het, het dit ook krotbuurtes, ellende en slawearbeid tot gevolg gehad. “Elke groot dorp het een of meer krotbuurtes”, het Friedrich Engels in 1844 geskryf, “waar die arbeidersklas saamgebondel word . . . en die welvarender klasse hulle nie kan sien nie.”

Brittanje se Fabriekswet van 1825, wat net op katoenfabrieke van toepassing was, het bepaal dat niemand op ’n weeksdag meer as 12 uur of op ’n Saterdag meer as 9 uur in ’n katoenfabriek moet werk nie. In 1846 het die geskiedskrywer Thomas Macaulay gesê dat sulke veeleisende arbeid “verstandelike ontwikkeling belemmer en geen tyd laat vir die heilsame gebruik van die verstand of vir intellektuele ontwikkeling nie”.

Te midde van hierdie 19de-eeuse maatskaplike en sedelike probleme het Kersfees herlewe.

Dickens en Kersfees

Charles Dickens het die voortou geneem om die samelewing te laat besef met watter probleme die armes te kampe het. In Dickens se klassieke roman A Christmas Carol, wat in 1843 gepubliseer is, het hy sy kennis van Kersfeestradisies vernuftig gebruik om sy doel te bereik.

A Christmas Carol was onmiddellik ’n treffer, en duisende eksemplare is verkoop. Die daaropvolgende jaar is die roman in nege Londense teaters as ’n drama opgevoer. Op Kersaand 1867 het Dickens ’n voorlesing daarvan in Boston, Massachusetts, in die Verenigde State, gehou. In die gehoor was daar ’n mnr. Fairbanks, ’n fabriekseienaar van Vermont, wat vir sy vrou gesê het: “Nadat ek vanaand na mnr. Dickens se voorlesing van A Christmas Carol geluister het, dink ek ons moet die fabriek van nou af op Kersdag sluit.” Hy het sy belofte gehou. Die daaropvolgende jaar het hy ’n verdere tradisie begin deur gedurende Kerstyd vir sy werknemers ’n kalkoen te gee.

Kersfees word gekommersialiseer

Dit het iets alledaags geword om gedurende Kerstyd liefdadigheid te bewys, en dit het dinge ingesluit soos dat liefdadigheidsorganisasies arm weduwees van steenkool voorsien het en dat landhere geld en kos as geskenke gegee het. Kersfees het kort voor lank, in teorie, die geleentheid geword waartydens alle klasse op dieselfde sosiale vlak met mekaar verkeer het. Deur toe te laat dat die verskille tussen die rykes en die armes gedurende hierdie tyd van die jaar doelbewus verbloem word, is baie se gewete gesus.

’n Aantal feestradisies is weer ingestel of geskep. Die eerste Kerskaartjies het byvoorbeeld in 1843 verskyn, en namate drukwerk goedkoper geword het, het dié bedryf gefloreer. Kersbome, wat ’n veel ouer tradisie is, het ook baie gewilder geword nadat prins Albert, die eggenoot van koningin Victoria, die Duitse manier van versiering begin gebruik het deur die bome met blink versiersels en kerse te versier.

Die kommersialisering van Kersfees het begin toeneem. Vandag, net meer as ’n eeu later, is Kersfees so gekommersialiseerd dat die publiek heftig daarteen protesteer. Dit laat die vraag ontstaan: Hoe is Kersfees oorspronklik gevier?

Die oorsprong van Kersfees

The Chicago Tribune het verlede Desember nog in ’n voorbladartikel die geskiedkundige agtergrond voorsien en gesê: “Dit is ironies dat die oorsprong van die feesdag wat volgens Christene nou te gekommersialiseerd geraak het, teruggevoer kan word na ’n heidense fees wat deur die Christelike godsdiens oorgeneem is.

“Die eerste viering van Kersfees as die geboorte van Jesus Christus het volgens verslae eers meer as 300 jaar ná die gebeurtenis plaasgevind. Die Christelike godsdiens het in die 4de Eeu die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk geword, en geleerdes is van mening dat Christene 25 Des. as Jesus se geboortedag gekies het sodat dit met die feeste sou saamval wat nie-Christene toe gevier het.

“‘Hulle het nie die heidense feesdae teëgestaan nie, maar het besluit om daaraan deel te neem en dit te probeer vervang’, het Russell Belk, professor aan die Universiteit van Utah, gesê . . . ‘Die heidense feesdae wat deur die Christelike godsdiens vervang is, was die Romeinse vieringe van die Saturnalieë—wat karnavalagtige vieringe was waartydens geskenke gegee is—en later die Joelfeeste in Engeland en Duitsland waartydens die wintersonstilstand gevier is’, het professor Belk gesê.

“Die gewildheid van Kersfees het deur die eeue heen toegeneem én afgeneem. Dit is ’n ruk lank in Engeland en Amerika verbied deur Puriteine wat beswaar gemaak het teen die ligsinnigheid wat daarmee gepaardgegaan het. Maar teen die middel van die negentiende eeu, het professor Belk gesê, ‘het Kersfees probleme ondervind en het die gewildheid daarvan afgeneem’. Hy het gesê dat godsdiensleiers kommersialisering verwelkom het, wat deur die gee van geskenke en Sinterklaas ingebring is en nuwe lewe in die feesdag sou blaas.

“Daardie herlewing, het professor Belk gesê, was grootliks te danke aan die Engelse skrywer Charles Dickens, wie se ‘A Christmas Carol’ van 1843 getoon het hoe die suinige Scrooge hom bekeer het en ’n gulhartige gewer geword het.”

Wat van Kersgebruike?

Dickens het glo “meegedoen aan al die gebruike en dinge wat met Kersfees gepaardgaan”. Maar waar het hierdie gebruike ontstaan?

In ’n interessante artikel oor dié saak het die New York Newsday van 22 Desember 1992 John Mosley aangehaal, wat die boek The Christmas Star geskryf het: “‘Die vroeë kerkleiers het nie Kersfees in Desember gevier met die spesifieke doel om die geboorte van Christus te vier nie’, het [John Mosley] gesê. ‘Dit was hulle antwoord op die wintersonstilstand’, wat die keerpunt van die winter is wanneer die son nie meer suidwaarts beweeg nie, maar weer noordwaarts begin beweeg en nuwe lig bring.

“John Mosley het gesê dat die simbole van Kersfees ’n bewys hiervan is. Dit blyk duidelik uit die gebruik van groen plante, wat lewe simboliseer in ’n tydperk van duisternis en koue. ‘Die ooglopendste groen plant is die Kersboom’, het hy gesê. ‘En die Noord-Europeërs het die sonstilstand in die woud gevier; hulle het bome aanbid. Die Kersboom kan dus teruggevoer word na die boomaanbidding van voorhistoriese tye.’

“John Mosley het ook gevra: ‘Wat hang julle aan die bome? Liggies. Lig laat ’n mens aan die Son dink en simboliseer die Son. Dit dui op die hergeboorte van die Son en die terugkeer van lig ná die sonstilstand. Die vernaamste dinge wat oral in sonstilstandvieringe gebruik word, is lig en groen plante.

“Hy het bygevoeg dat 25 Des. ‘ook oorspronklik die datum van die wintersonstilstand was en dat baie van die dinge wat ons nou doen, en wat ons as relatief moderne Kersgebruike beskou, in werklikheid na die sonstilstandvieringe teruggevoer kan word.”

Musiek is ook ’n kenmerk van Kersvieringe. Daarom is dit nie verbasend nie dat die Romeinse fees van Saturnalieë bekend was vir sy fuifpartye en joligheid, wat danse en sang ingesluit het. Geleerdes betwis nie meer die feit dat die hedendaagse Kersfees talle van sy gebruike van die eertydse Saturnalieë oorgeneem het nie.

Ernstige bedenkinge

Engeland se Aartsbiskop van Kantelberg, dr. George Carey, het sy kommer uitgespreek oor die “Victoriaanse Kersfees van Charles Dickens”. Die rede? “Ek is bekommerd dat ons kinders deur die kommersialisme beïnvloed sal word”, het hy gesê.

Volgens die koerant The Scotsman meen die Anglikaanse biskop David Jenkins dat die kommersialisme van Kersfees mense tot ’n senu-ineenstorting kan dryf. “Ons aanbid hebsug, en Kersfees word die fees van hebsug en dwaasheid”, het hy gesê en bygevoeg: “Gewone mense verkeer in ellende weens hulle kredietkaartskuld. . . . Daar is toenemende bewys dat mense ná Kersfees in wanhoop verval en dat gesinsonenigheid ontstaan. Die viering van Kersfees is nie die probleme wat dit veroorsaak werd nie.”

The Church Times van Engeland het die probleem ten opsigte van Kersfees raak opgesom: “Ons moet wegbreek van die groot bacchanaliese orgie waarin ons dit laat ontaard het!”

Wat daaromtrent gedoen moet word

’n Mens moet besef wat Kersfees werklik is—’n heidense viering wat valslik as die geboortedag van Jesus gevier word—en niks daarmee te doen hê nie. Dit is wat Rita, die vrou wat aan die begin gemeld is, gedoen het. Sy het een van Jehovah se Getuies geword, en sy is nou met meer as 4500 000 mede-Getuies verenig wat Kersfees heeltemal verwerp.

Tog is dit nie altyd maklik om ’n weg in te slaan wat verskil van dié wat die meeste volg nie. (Vergelyk Mattheüs 7:13, 14.) The Church Times het erken: “Dit is ’n dapper man, vrou of gesin wat besluit om nie meer deel te neem aan ’n fees wat op so ’n aggressiewe manier deur ons portuurs aan ons opgedring word nie.”

Baie wat besluit het om ‘nie meer daaraan deel te neem nie’, stem saam. Maar hulle weet ook dat ’n innige liefde vir die waarheid hulle die aansporing sowel as die krag gegee het om daardie standpunt in te neem en te handhaaf. Dit kan ook met jou die geval wees—as dit jou begeerte is.

[Venster op bladsy 17]

Het jy geweet?

* Jesus is nie op 25 Desember gebore nie.

* Skaapwagters in Israel het hulle skape in die middel van die winter snags onder dak gehou en hulle nie in die veld laat bly nie.

* Die ‘wyse manne’ was in werklikheid magiërs, sterrewiggelaars, en het Jesus besoek toe hy ’n kindjie was en nie toe hy ’n baba was nie.

* Die Bybel sê nêrens dat Christene Jesus se geboorte moet vier nie. Maar dit sê uitdruklik dat sy dood herdenk moet word.

[Venster op bladsy 18]

Waarom Getuies nie verjaarsdae vier nie

The Witness, die amptelike koerant van die Rooms-Katolieke aartsbisdom van Dubuque, Iowa, VSA, het die volgende vraag in sy rubriek “Vraehoekie” bespreek.

“My vrou het my 10 kinders gevra om met die viering van my 80ste verjaarsdag te help.

“Maar twee van die kinders is Jehovah se Getuies en het gesê dat hulle nie verjaarsdae vier nie omdat hulle streng volgens die voorbeeld wat Jesus vir ons nagelaat het en volgens die Bybel lewe.

“Hulle sê dat nóg Jesus nóg enige van die vroeë Christene verjaarsdae gevier het. Dit was ’n heidense tradisie, en Christene het niks daarmee te doen gehad nie. In die tyd van Christus is dit as ’n heidense tradisie beskou, en dit moet vandag ook so beskou word.”

Die priester John Dietzen het die vraag só beantwoord: “Ek weet dit moet vir jou pynlik wees, maar die inligting wat jy verstrek, is korrek. Dit is een van die talle verskille tussen die geloof en gebruike van Jehovah se Getuies en dié van ander Christelike denominasies.

“In ooreenstemming met hierdie opvatting vier hulle lede nie eens Kersfees nie, deels omdat dit die geboortedag van Jesus vier en ook omdat die datum van Kersfees waarskynlik in die vierde eeu vasgestel is om op die dag van die wintersonstilstand (volgens die ou Juliaanse tydrekening) te val, wat voorheen ’n groot heidense fees was.”

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Santa Claus: Thomas Nast/Dover Publications, Inc. 1978

Tree and stockings: Old-Fashioned Christmas Illustrations/Dover Publications, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel