Die droom van Europese eenheid
“OP DIE drempel van ’n droom.” Dit was die opskrif van ’n artikel in die koerant The European oor die “snelle pas van Europese integrasie”. Hoe het die droom ontstaan? Is die hoë verwagtinge wat dit wek, geregverdig?
Winston Churchill het kort na die einde van die Tweede Wêreldoorlog die stigting van ’n “Verenigde State van Europa” voorgestel. Sedertdien het dit gelyk asof dinge daardie rigting inslaan. Nou word die jaar 1992 as ’n mylpaal bekou om hierdie droom te verwesenlik. Maar waarom 1992?
Dit is eenvoudig omdat die 12 lede van die EG (Europese Gemeenskap) beoog om teen die einde van volgende jaar volkome ekonomiese eenheid te bereik. Dit sal ’n einde maak aan alle tariefmure. Dit sal burgers binne die Gemeenskap toelaat om sonder beperkings van een land na ’n ander te verhuis en dieselfde werksmoontlikhede en regte as plaaslike burgers te hê. ’n Gemeenskaplike geldstelsel sal mettertyd aangeneem word, burgers sal Europese paspoorte en rybewyse ontvang en ’n Europese sentrale bank sal gestig word. Gemeenskaplike beleide ten opsigte van omgewingsprobleme en die gebruik van kernenergie sal nagestreef word. Verkeersreëls en ander wette sal gekoördineer word.
Die EG sal dus die derde grootste binnelandse mark in die wêreld word. ’n Lidstaat van die EG sal by een vyfde van alle wêreldhandel—beide invoere en uitvoere—betrokke wees. Sy ekonomiese beleide sal dus logieserwys die hele wêreldekonomie, waaronder die ekonomieë van die ontwikkelende nasies, beïnvloed.
’n Onlangse meningsopname toon dat feitlik 70 persent van alle Europeërs ten gunste van die beplande veranderinge is. Om die waarheid te sê, baie burgers van die EG wil dit nog verder voer. Ongeveer drie kwart van hulle ondersteun die gesamentlike uitvoering van wetenskaplike navorsing en die aanneming van gelyke bestaansbeveiligingsvoordele. Meer as die helfte is selfs ten gunste van ’n gemeenskaplike buitelandse beleid.
Die tendens het dus wegbeweeg van net ekonomiese eenwording tot die moontlikheid van politieke eenheid. Nou het onvoorsiene gebeurtenisse, met onverwagte skielikheid, ’n nuwe stoot aan hierdie doel gegee.
“Ons word daartoe gedryf”
Op 9 November 1989 het die Berlynse Muur geval. Die gedagte van Duitse hereniging, wat dikwels bespreek is maar as onrealisties beskou is, het weer eens ’n omstrede onderwerp geword. Dit het gelyk asof hereniging nou onvermydelik was, maar daar was baie min wat dit gewaag het om te voorspel hoe gou dit sou gebeur. Toe Duitse kanselier Helmut Kohl daarvan beskuldig is dat hy eenwordingsplanne te vinnig aanjaag, het hy gesê: “Ek is nie die een wat dinge probeer verhaas nie. Ons word daartoe gedryf.” Op 3 Oktober 1990—minder as 11 maande nadat die Muur geval het—het die Duitsers feesgevier. Duitsland was weer eens verenig.
Die wêreld was daaroor verheug dat die Koue Oorlog verby was, soos deur ’n verenigde Duitsland bewys is. Terselfdertyd het ’n ander onvoorsiene gebeurtenis reeds in die nuus gekom. Hoe sou Irak se inval in Koeweit planne vir 1992 raak? Joernalis John Palmer het gesê: “Pleks van die Europese Gemeenskap se ekonomiese en politieke integrasie te vertraag, versnel die Golfkrisis dit—en dit kan die dag wanneer die EG ’n gemeenskaplike buitelandse en verdedigingsbeleid het, verhaas.”
Maar gedurende hierdie krisis en die skrikwekkende dae van die oorlog wat daarna gevolg het, kon die Europese Gemeenskap nie ’n gemeenskaplike beleid vorm nie. Dit het daartoe gelei dat The European in ’n hoofartikel gesê het: “Die Gemeenskap se onvermoë om tydens ’n groot internasionale krisis op te tree, het getoon hoe belangrik dit vir Europa is om ’n gemeenskaplike verdedigings- en buitelandse beleid op te stel wat hulle in staat sal stel om eensgesind en met selfvertroue op te tree.” Dit het op ’n positiewe noot geëindig met die volgende woorde: “Die Golfkrisis kan Europa ’n geleentheid gee om te vergoed vir sy treurige vertoning en ’n belangrike stap vooruit te doen om te toon dat politieke eenheid ’n werklikheid kan wees.”
Verwagtinge styg selfs hoër
Al hoe meer nasies wil nou by die EG aansluit. Ciprus, Malta, Oostenryk en Turkye het om lidmaatskap aansoek gedoen. Ander waarskynlike kandidate is Finland, Noorweë, Swede, Switserland en Ysland. Selfs vorige Oosbloklande, waaronder Hongarye, Pole en Tsjeggo-Slowakye, het aangedui dat hulle daarin belangstel. Maar die aansoeke van sulke nasies sal eers na 1992 oorweeg word, wanneer volkome ekonomiese eenwording van die 12 lede van die EG ’n werklikheid sal word.
Daar is weliswaar groot vooruitgang ten opsigte van Europese eenheid gemaak—en dít teen ’n tempo wat eers as onwaarskynlik beskou is en op groter skaal as wat mense oorspronklik kon droom. “Ons voorsien ’n nuwe Europese orde waar grense nie meer verdelende versperrings sal wees nie, waar nasies sonder vrees vir mekaar kan lewe en waar mense vry is om hulle eie politieke en sosiale stelsels te kies.” So het Hans-Dietrich Genscher, Duitsland se minister van buitelandse sake, op die drempel van die negentigerjare geskryf. Hy het bygevoeg: “Hierdie visioen is nie meer ’n droom nie. Dit kan bereik word.”
Maar is dit realisties om sulke eenheid te verwag? Indien wel, sal dit die hoop bied dat Europese eenheid maar net ’n inleidende stap tot iets groters is—tot wêreldeenheid?
Niemand sal ontken dat die wêreld eenheid nodig het nie, want eenheid sal baie daartoe bydra om party van die mensdom se ernstigste probleme op te los. Stel jou voor wat bereik kan word as tyd en energie wat op meningsverskille vermors word, gebruik kan word in verenigde pogings om die gemeenskaplike probleme tot voordeel van almal op te los!
Deur hulle ekonomiese en monetêre stelsels te integreer, lyk dit asof al hoe meer nasies nou vasbeslote is om mekaar se bereidwilligheid om saam te werk te toets. In hulle strewe na ’n gemeenskaplike ekonomiese Asiatiese mark, het Australië, Broenei, die Filippyne, Indonesië, Japan, Kanada, Maleisië, Nieu-Seeland, Republiek van Korea, Singapoer, Thailand en die Verenigde State byvoorbeeld die ekonomiese akkoord genaamd Asia Pacific Economic Cooperation in 1989 gesluit.
Die scenario is dus: ’n nuwe verenigde Duitsland, wat deel uitmaak van ’n Europa wat binnekort verenig sal wees, wat sal lei tot ’n wêreld wat binnekort verenig sal wees. Die idee klink goed, maar is dit realisties om te glo dat dit verwesenlik kan word?
Die hereniging van Duitsland—moeilik!
Hoewel Duitsland al meer as ’n jaar lank op politieke en ekonomiese gebied verenig is, sukkel die land. Belangrike verskille bestaan nog tussen die vyf nuwe state (voorheen Oos-Duitsland) en die res van die land. Die euforie van hereniging het plek gemaak vir die besef dat eenheid sy prys het. Elkeen, politikus en burger, word op die een of ander manier gedwing om die prys te betaal.
The European het vroeër vanjaar gepraat van “die emosionele krisis” wat in eertydse Oos-Duitsland bestaan. Dokters rapporteer dat daar ’n duidelike vermeerdering in geestesiektes en spanningverwante siektes is as gevolg van die naakte ekonomiese werklikhede van hereniging en die ineenstorting van Kommunistiese sosiale strukture.
Dr. Gisela Ehle, ’n psigiater, sê dat “die gevoel van hulpeloosheid soos ’n epidemie is” en dat “almal met wie jy praat terneergedruk is”. Trouens, elke groot verandering wat depressie veroorsaak, word deur die mense beleef: “werkloosheid, huweliksprobleme, onsekerheid oor die toekoms, finansiële moeilikhede, identiteitskrisis, dikwels ’n groot verlies van status in die gemeenskap en ’n algemene doelloosheid in die lewe.”—The European.
Die vereniging van Europa—Makliker?
As die hereniging van die Duitsers, mense met ’n gemeenskaplike historiese agtergrond wat dieselfde taal praat, moeilik is, wat van die skepping van die “Europa sonder grense” wat die pous van Rome voorstaan? Dit sal moeilik genoeg wees om in 1992 die eenheid te bereik waarna die EG streef—die vereniging van 12 ekonomieë op verskillende stadiums van ontwikkeling en krag, 12 lande met verskillende syfers vir werkloosheid en inflasie.
Dit is duidelik dat 1992 wenners sowel as verloorders sal oplewer. In die uitgebreide EG-mark van ongeveer 320 miljoen voornemende verbruikers sal party ondernemings beter as ander kan meeding. Maar party sakemanne sê dat twee uit elke drie EG-maatskappye negatief geraak sal word. En hoewel reisigers dalk die uitskakeling van doeanekontroles sal verwelkom, sal ongeveer 80 000 doeanebeamptes dwarsdeur Europa nuwe betrekkings moet kry.
Paul Wilkinson, ’n professor in internasionale studies, herinner ons daaraan dat, hoewel ons 1992 betree, “dit nog ’n Europa met aparte soewereine entiteite is”, wat elkeen “sy eie tradisies oor wetstoepassing” en “sy eie regstelsel” het. Hy waarsku: “Samewerking sal stadig en pynlik ontwikkel.”
Buiten die probleme met taal, verskillende sosiale agtergronde en botsende sakemetodes, is nasionale vooroordele wat stadig sterf waarskynlik die grootste probleem wat oorbrug moet word. Soos voormalige Duitse kanselier Willy Brandt eenkeer gesê het: “Mure in die verstand staan dikwels langer as dié wat van beton gebou is.”
Daar is nogtans ’n optimistiese stemming en die verwagtinge loop hoog. “Niemand dink dat 1992 maklik sal wees nie”, skryf een sakejoernalis, “maar die vooruitsig is rooskleurig.”
Hoe realisties?
Sê nou ekonomiese en politieke eenheid word wel bereik. Sal dit die grondslag lê vir ware vrede en blywende sekuriteit? Wel, beskou die volgende: Hoewel die Verenigde State van Amerika uit 50 state bestaan met individuele wette en regerings wat ekonomies onder ’n nasionale regering verenig is, is daar nog miljoene in die land wat werkloos is; sy ekonomiese bestendigheid word nog deur periodieke resessies en depressies, sowel as deur herhaalde inflasieperiodes, bedreig. En die mate waarin die land polities verenig is, het nie gekeer dat die land weens verskriklike besoedeling, misdaad, dwelmmisbruik, armoede en rassediskriminasie ly nie.
Sowjetgeskiedskrywer Joeri Afanasijef het oor die onrus in sy land gesê: “Die grootste moeilikheid in ons land het uit die plek gekom waar dit die minste verwag is: ons groot verskeidenheid van nasionaliteite. . . . Ons het geglo dat ons ryk teen sulke moeilikhede beskerm is; het ons nie per slot van rekening ’n mate van immuniteit weens ons ‘ewige broederskap van volke’ geniet nie?”
Dit is duidelik dat ekonomiese en politieke eenheid nie genoeg is om ware eenheid te skep nie. Om ’n “ewige broederskap van volke” te skep, is nog iets nodig. Wat?
Gegronde verwagtinge
Waar ware eenheid bestaan, is oorlog onbekend. Maar ’n onweerlegbare bewys dat mense hopeloos verdeeld is, is die feit dat hulle mekaar al millenniums lank in oorloë doodmaak. Sal hierdie sinlose vermorsing van menselewe ooit ophou?
Ja, dit sal. God se verklaarde voorneme is om ’n vreedsame wêreld tot stand te bring. Hoe? Deur totale ontwapening. Die Bybelpsalmis het onder inspirasie geskryf: “Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde.”—Psalm 46:9, 10.
Die Duiwel staan hierdie goddelike beleid om wêreldeenheid te bereik driftig teë. Die woorde van die Bybel is sedert die Eerste Wêreldoorlog van toepassing: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”—Openbaring 12:12.
Wêreldeenheid, en die gepaardgaande ware vrede en veiligheid, is gegrond op die verenigde aanbidding van die God wat “oorloë laat ophou”; dit is nie gegrond op die verdelende aanbidding van sy teenstander nie, wat beskryf word as een “met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het”. As ons ons verwagtinge vir wêreldvrede wil verwesenlik, moet hulle gegrond wees op ’n aanvaarding van die feit dat God se Koninkryk ’n werklikheid is, dat dit ’n werklike regering is wat in die hemel regeer. Hierdie wêreldregering wat deur Jehovah God self daargestel is, is die enigste manier waarop wêreldeenheid bereik sal word.
God se Koninkryk maak reeds die kern van ’n verenigde aardse gemeenskap uit waardeur die verdeelde, oorlogvoerende wêreld wat ons nou ken, vervang sal word. Die Bybelprofesie sê: “Aan die einde van die dae sal . . . baie volke [uit alle nasies] . . . heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. . . . en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:2-4.
Hierdie Bybelprofesie beskryf nie ’n nuwe wêreldstelsel wat deur mense ontwerp is nie, hoewel hierdie pragtige woorde op ’n muur van die plaza van die Verenigde Nasies in die stad New York gegraveer is. Hierdie profesie aangaande vrede en eenheid tussen baie volke word eerder vandag vervul onder Jehovah se Getuies, wat uit meer as 200 nasies van die wêreld kom. Daar kan onder hulle onmiskenbare bewys gevind word dat ’n nuwe wêreldgemeenskap werklik gevorm word.
Jehovah se Getuies is gewillig om deur God se Woord onderrig te word. Hulle pas die dinge toe wat hulle leer, waaronder die vermaning om in vrede te lewe deur oorlogswapens neer te lê. Hulle geniet sodoende ’n internasionale eenheid wat nie deur enige ander organisasie op aarde geniet word nie, of dit nou godsdienstig, ekonomies of polities is. Dit is beslis bewys deur die byeenkomste van Jehovah se Getuies gedurende die afgelope noordelike somer, toe daar in Oos-Europa alleen meer as 370 000 in vrede en eenheid vergader het!
Dit is waar dat nie een van ons seker kan wees in watter mate ekonomiese of politieke verwagtinge vir 1992 verwesenlik sal word nie. Maar ons kan seker wees van party ander verwagtinge. Ons sal in 1992 byvoorbeeld volgens plan ’n voortsetting sien van die goddelike aftelling wat tot die voltrekking van God se oordeel aan Satan se wêreld lei (Jesaja 55:11; Habakuk 2:3). Getroue Christene sal dus in 1992 ’n jaar nader wees aan God se beloofde nuwe wêreld, waarin geregtigheid sal woon.
Jehovah se Getuies nooi liefhebbers van wêreldeenheid om hierdie Bybelse verwagtinge vir die toekoms noukeurig te ondersoek. Dit is hoë verwagtinge wat nie onvervuld sal bly nie!
[Venster op bladsy 21]
Op pad na Europese eenheid
1948: België, Nederland en Luxemburg (Benelux) skep doeane-eenheid, wat die basis vorm vir ekonomiese eenheid in 1960 en die afskaffing van grenskontroles in 1970
1951: Europese Steenkool-en-Staalgemeenskapsverdrag word in Parys onderteken
1957: Die verdrag van Rome stig die Europese Ekonomiese Gemeenskap, met BELGIË, die BONDSREPUBLIEK DUITSLAND, FRANKRYK, ITALIË, LUXEMBURG en NEDERLAND as stigtingslede
1959: Brittanje, Denemarke, Noorweë, Oostenryk, Portugal, Swede en Switserland stig die Europese Vryhandelsvereniging
1973: BRITTANJE, DENEMARKE en IERLAND sluit by die EG aan
1979: Die Europese Monetêre Stelsel word opgerig; eerste direkte verkiesings tot die Europese Parlement word gehou
1981: GRIEKELAND word aanvaar as lid van die EG
1986: PORTUGAL en SPANJE sluit by die EG aan
Let wel: Die 12 EG-lidstate word in hoofletters aangedui.
[Prent op bladsy 23]
Wanneer doeanekontroles tot ’n einde kom, sal 80 000 mense nuwe betrekkings moet kry