Word die situasie werklik beter?
“Die [Berlynse] muur sal dalk meer poreus word namate bande tussen die Ooste en die Weste vermeerder. Maar dit sal jare, selfs geslagte, duur voordat dit val. Die twee Duitslande sal nooit weer een wees nie.” Dit was die woorde van ’n gerespekteerde Amerikaanse nuustydskrif in Maart 1989.
Minder as 250 dae—nie jaar nie, wat nog te sê geslagte—later het die muur begin verbrokkel. Binne weke het duisende van sy stukke, wat nou blote aandenkings was, ornamente op lessenaars oor die hele wêreld geword.
’NERG verroeste Ystergordyn het eindelik oopgegaan en die hoop laat opvlam dat wêreldwye vrede en veiligheid oplaas naby is. Selfs die Golfoorlog in die Midde-Ooste het nie die hoop laat verflou dat die jarelange wedywer tussen die Ooste en die Weste verby is en dat ’n nuwe wêreldorde ophande is nie.
’n Nuwe dimensie word bygevoeg
Sedert die Tweede Wêreldoorlog het dit duidelik geword dat daar gestreef word na eenheid in Europa. In 1951 het Wes-Europese lande die Europese Steenkool- en Staalgemeenskap gestig. Dit is in 1957 deur die Europese Gemeenskapsmark gevolg. In 1987 het die 12 lidlande van hierdie internasionale gemeenskap (wat tans 342 miljoen individuele lede het) hulle dit ten doel gestel om teen 1992 volkome ekonomiese eenheid te bereik. Dit lyk selfs of algehele politieke eenheid nou ’n groot moontlikheid is. Wat ’n verkwikkende verandering is dit tog vergeleke met die bloedbevlekte geskiedenis van Europa van vroeër!
Met die oog op die onlangse politieke omwentelinge het 1992 egter van besondere belang geword. Daar word al hoe meer gewonder of die gewese Kommunistiese lande van Oos-Europa nie ook dalk uiteindelik by ’n verenigde Europa ingesluit sal word nie.
Goddelike steun?
Sommige godsdiensgroepe het die beginsel van Christelike neutraliteit veronagsaam en toegelaat dat die onderdrukking van godsdiens in Oos-Europa, wat al dekades duur, hulle aktief by die politiek betrokke laat raak. In sy kommentaar hierop sê die Duitse dagblad Frankfurter Allgemeine Zeitung dat “die bydrae van Christene om die veranderinge in die Ooste teweeg te bring nie betwis kan word nie”, en voeg by dat “hulle aandeel beslis nie onderskat moet word nie”. Dit sê verder: “In Pole het godsdiens ’n bondgenoot van die volk geword, en die kerk het ’n hardnekkige teenstander van die heersende party geword; in die DDR [die gewese Oos-Duitsland] het die kerk andersdenkendes van gratis blyplek voorsien en hulle toegelaat om kerkgeboue vir organisatoriese doeleindes te gebruik; in Tsjeggo-Slowakye het Christene en demokrate mekaar in gevangenisse ontmoet, geleer om mekaar beter te verstaan en eindelik begin saamwerk.” Selfs in Roemenië, waar “die kerke getroue lakeie van die Ceauşescu-regime was”, was dit die dreigende arrestasie van geestelike Laszlo Tökes wat die revolusie aan die gang gesit het.
Die Vatikaan het ook ’n aandeel gehad. Die tydskrif Time het in Desember 1989 opgemerk: “Hoewel Gorbatsjof se beleid van nie-inmenging die regstreekse oorsaak was van die kettingreaksie van bevryding wat gedurende die laaste paar maande deur Oos-Europa getrek het, verdien Johannes Paulus op lang termyn baie van die eer. . . . Deur die tagtigerjare heen het sy toesprake voortdurend die idee beklemtoon van ’n Europa wat van die Atlantiese Oseaan tot by die Oeralgebergte herenig is en wat deur die Christelike geloof geïnspireer word.” Toe die pous Tsjeggo-Slowakye dus in April 1990 besoek het, het hy die hoop uitgespreek dat sy besoek nuwe deure tussen die Ooste en die Weste sou open. Hy het aangekondig dat ’n sinode van Europese biskoppe gehou sou word om ’n plan uit te werk om sy visioen te verwesenlik van “’n Europa wat op grond van sy Christelike oorsprong verenig is”.
Sal ’n verenigde Duitsland binne die raamwerk van ’n verenigde Europa nie dalk ’n voorloper wees van ’n volkome verenigde Europa, en dan selfs van ’n verenigde wêreld nie? Dui die betrokkenheid van godsdienste nie aan dat dít is wat die Bybel beloof nie? Kan ons nie beslis verwag dat dit binnekort ’n werklikheid gaan word nie, aangesien geestelikes in die Ooste sowel as die Weste hulle nou binne ’n politieke raamwerk vir vrede en veiligheid beywer? Kom ons kyk.
[Kaart/Prent op bladsy 4]
Die Protestantse Nikolai-kerk in Leipzig—’n simbool van die politieke omwenteling in Duitsland
Lidlande van die Europese Gemeenskapsmark