Die bron van onvervalste waardes
Die toepassing daarvan sal die sedelike verval beëindig
DIE mens kyk op na ’n sterbesaaide naghemel en hy word met ontsag en verwondering vervul. Terwyl hy na hierdie gewelf vol sterre so ver bokant hom staar, voel hy klein en nietig. Dalk dink hy selfs aan die woorde wat die psalmis lank gelede gespreek het: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het—wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” (Psalm 8:4, 5). Die psalmis het ’n paar duisend sterre gesien en klein gevoel; die mens weet nou dat daar miljarde sterrestelsels is wat elk miljarde sterre bevat en hy voel soveel kleiner. Daar kom dalk baie vrae by hom op: ‘Watter verskil kan ek maak? Waarom is ek hier? Wie is ek in elk geval?’
Maar geen dier het sulke gedagtes nie.
Die mens kyk na die verskeidenheid van lewe om hom en merk die verbasende ontwerp op wat praktiese doeleindes bereik. Hy sien voëls wat duisende kilometers ver trek, soogdiere wat deur die koue van die winter slaap en baie ander lewensvorme wat sonar, lugversorging, straalaandrywing, ontsouting, vrieswering, duiktoerusting, broeimasjiene, termometers, papier, glas, tydmeganismes, kompasse, elektrisiteit, draaimotore en baie ander wonderlike dinge gebruik het lank voor die mens eers daarvan gedroom het. Denkers wonder: ‘Hoe het al hierdie verbasende, ingewikkelde, doeltreffende ontwerpe ooit in aansyn gekom? Watter ontsaglike intelligensie skuil daaragter?’
Weer eens, geen dier dink hieraan nie.
Maar die mens dink hieraan. Waarom is die mens, van al die skepsele op aarde, die enigste een wat hom in ontsag verwonder oor die hemele daarbo en die geheimenisse van lewe hieronder? Waarom? Omdat die mens anders is.
Waarom is die mens so anders?
Omdat hy alleen na die beeld en gelykenis van God geskep is: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Genesis 1:26). Dit verklaar die onoorbrugbare kloof tussen mens en dier. Dit verklaar waarom geen ander skepsel op aarde naastenby soos die mens is nie. Dit verklaar waarom die mens ’n skepsel is wat kan dink, vrae oor die wêreld om hom kan vra en hom oor sedelike waardes kan bekommer.
In watter sin is die mens na God se beeld en gelykenis geskep? In die sin dat hy van God se eienskappe en kenmerke besit, soos liefde, barmhartigheid, geregtigheid, wysheid, krag, goedhartigheid, goedheid, geduld, eerlikheid, waarheidliewendheid, lojaliteit, ywer en vindingrykheid. Hierdie was goeie kenmerke wat oorspronklik in die mens geprogrammeer is, maar met die eerste mensepaar se misbruik van keusevryheid, wat tot hulle opstand gelei het, is hierdie eienskappe verdraai en dus nie volmaak aan hulle nageslag oorgedra nie. Die ewewig van hierdie eienskappe is versteur en party het deur onbruik uit die bewussyn vervaag. Maar Kolossense 3:9, 10 toon dat ons ons met ’n nuwe persoonlikheid kan beklee en ‘die beeld en gelykenis van God’ weer in sekere mate kan weerspieël as ons juiste kennis van God opdoen en dit toepas.
Toe Jehovah God die Mosaïese Wet aan die Israeliete gegee het, het dit die onvervalste waardes bevat, onder andere die Tien Gebooie en die vermaning om ‘hulle naaste lief te hê soos hulleself’ (Levitikus 19:18; Exodus 20:3-17). Hierdie waardes moes as ’n erfenis aan toekomstige geslagte oorgedra word. Moses het Israel beveel om hierdie Wet te gehoorsaam, en hy het verder gesê: “[Beveel] jul kinders . . . om al die woorde van hierdie wet sorgvuldig te hou. Want dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe” (Deuteronomium 32:46, 47). Eeue later het Spreuke 8:18 daarna verwys as “erflike waardes”.—NW.
Waardes om die sedelike verval om te keer
Maar baie mense opper die beswaar dat daar nou so ’n groot verskeidenheid in die samelewing is dat geen enkele stel waardes in almal se behoeftes kan voorsien nie. Hulle voer aan dat die verskillende agtergronde en kulture ’n wye verskeidenheid waardes vereis. Maar watter hedendaagse probleem sal nie opgelos kan word deur gehoor te gee aan Jesus se bevel om jou naaste lief te hê soos jouself nie? Of om aan ander te doen wat jy wil hê hulle aan jou moet doen? Of om volgens die beginsels te leef wat in die Tien Gebooie vervat word? Of om daarna te streef om die vrugte van die gees voort te bring wat in Galasiërs 5:22, 23 uiteengesit word: “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie.” Nie een van hierdie dinge vra iets onmoontliks nie; enigeen van hulle sal ’n groot persentasie van die samelewing se huidige ellendes uitskakel.
‘Maar mense sal nie daarvolgens lewe nie!’ roep jy uit. As jy egter dink dat sulke oplossings te moeilik is, moet jy nie verwag dat die probleme deur maklike plaasvervangers opgelos sal word nie. Dit is binne die samelewing se mag om hierdie raad toe te pas, maar dit lyk nie of hulle dit wil doen nie. Hierdie geslag duld geen beperkings op sy vryhede nie, wat sy vryheid om verkeerd te doen en die gevolge daarvan te dra insluit.
Die koerant Bottom Line/Personal vra: “Wat het van selfbeheersing geword?” Nadat dit noem dat “die gevolge van ons seksueel permissiewe era die meeste mense met afgryse vervul”, sê dit: “Tog gaan mense voort om die volle bevrediging van hulle seksuele drange as iets van die allergrootste belang te beskou. . . . Daar word van mense verwag om ter wille van hulle gesondheid diëte te volg, oefening te doen, op te hou rook en selfgedissiplineerd te wees in hul lewenswyse. Dit lyk asof daar slegs aan seksuele bevrediging ’n onskendbare status verleen is sodat mense sonder perke kan aanhou om hulle daaraan oor te gee.” Dit is nie omdat hulle nie die waardes kan toepas nie; dit is omdat hulle nie wil nie. Daarom maai die samelewing steeds wat hy saai.
Hierdie waardes het vandag in oneer verval. Baie mense noem sleg goed en goed sleg soos voorspel is: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter” (Jesaja 5:20). Maar ander raak al hoe meer bekommerd. Hulle sien die wrange vrugte van die doen-wat-jy-wil-filosofie en hulle wil ’n omkeer in die huidige sedelike verval sien.
Kan godsdiens en die gesin help?
Baie programme word aangebied om waardes te herstel. Een van hulle is godsdiens. Dit is veronderstel om geestelike krag te bied. Maar daardie krag is nie in die ortodokse godsdienste van die Christendom te vinde nie. Party het in die heidendom teruggeval deur sulke godslasterlike leerstellings soos die Drie-eenheid, ewige foltering en die onsterflike siel te laat herleef. Ander het die losprys en die skepping verwerp deur die knie te buig voor die wetenskaplike godsdiens van evolusie. Hulle hang die hoër kritiek aan wat die geloofwaardigheid van God se Woord, die Bybel, aanval. Hulle bied ’n “Christelike godsdiens” aan wat so verwater en besoedel is dat niks wat waarde het, oorbly nie, en die jonger geslag sien net skynheiligheid en ’n leë bespotting. Nee, ons moet ons nie tot sulke geestelike siek godsdienste wend vir geestelike krag nie, ons moet ons alleenlik wend tot die een ware Bybelgebaseerde vorm van aanbidding wat Jehovah se Koninkryk as die enigste hoop vir die wêreld aankondig.
Daar bly egter ’n ander bron van hulp vir bekommerde mense oor, en dit is die gesin, die omgewing waarin ouers waardes by hulle kinders kan inskerp. Die gehegtheid wat by geboorte begin het, moet voortduur. Kinders wat hulle ouers liefhet en vertrou, wil soos hulle wees, wil soos hulle praat en optree, hulle gedrag naboots en hulle sedes aanvaar, en naderhand word die ouerlike waardes in die kinders se stelsel van waardes opgeneem. Eenvoudige verduidelikings, nie ellelange preke nie; tweerigtingkommunikasie, nie dogmatiese stellings nie, is die doeltreffendste benaderings.
Ouers wat onvervalste waardes in hulle lewe toepas en nie net daarvan praat nie, sal kinders hê wat hierdie waardes hul eie gemaak het. Vir sulke kinders sal die negatiewe rolmodelle van portuurs by die skool en elders nie ’n gevaar wees nie. Soos Spreuke 22:6 sê: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.” Onderrig hulle deur waardevolle raad. Nog belangriker, onderrig hulle deur ’n waardevolle voorbeeld te stel.
Die potensiaal vir waardes is in ons gene opgesluit
Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Mattheüs 5:3, NW). Party psigiaters het al gesê dat dit ’n instinktiewe behoefte is wat in ons geprogrammeer is. Dit is ook waar dat ons die valse waardes wat vandag voorgestaan word slegs deur geestelike krag kan weerstaan.
In ooreenstemming met die feit dat ons na die beeld en gelykenis van God geskep is en dat die potensiaal vir waardes inherent in ons is, sê Thomas Lickona, ’n professor in die opvoedkunde: “Ek dink die vermoë om goed te wees, is van die begin af daar.” Maar hy voeg by dat “ouers daardie instinkte in hul kinders moet kweek net soos hulle hul kinders help om goeie lesers of atlete of musikante te word”.
TV-regisseur Norman Lear was ’n gasspreker by die nasionale byeenkoms van die Nasionale Opvoedkundige Vereniging. Nadat hy “die probleem [erken het] van dié onder ons wat meer gesofistikeerd en beter opgelei is—dié wat die soeke na ’n hoër doel in die lewe as sinloos of irrelevant verwerp het”, het hy gesê: “Dit is vir my maklik om, as gevolg van die mens se geskiedenis, tot die gevolgtrekking te kom dat die reaksie op die lewe, op ons bestaan, die drang om in iets groters as onsself te glo, so sterk en onweerstaanbaar is dat dit ’n deel van die manier is waarop ons geneties gekodeer is.”
Lear beskuldig groot ondernemings en vier dekades van televisie daarvan dat hulle ’n “nuwe stelsel van waardes” oorgedra het wat so ’n groot invloed op openbare sedelikheid en persoonlike waardes gehad het dat dit baie sosiale euwels veroorsaak het: skole en universiteite wat mense laat gradueer wat nie kan lees en skryf nie; die toenemende gebruik van dwelms; ongetroude tienermeisies wat babas kry en gesinne sonder enige spaargeld wat al hoe dieper in die skuld raak. Lear voeg dan by: “Ek dink as ons van ’n honderd sosiale euwels praat, praat ons moontlik van ’n stelsel van waardes waarin maatskaplike euwels van geslag tot geslag oorgedra is en wat met behulp van televisie die hele beskawing omvergewerp het.” En hy het ook gesê hy “glo dat daar in ons gene die geloof ingesluit is dat daar ’n groter krag en geheimenis in ons lewe is waaraan daar aandag geskenk moet word”.
Die vooraanstaande psigiater C. G. Jung het gesê dat godsdiens “’n instinktiewe gesindheid eie aan die mens is, en dat vorme daarvan deur die mens se hele geskiedenis heen nagespeur kan word”. Ons is ook geskep met ’n gewete wat reg en verkeerd aanvoel: “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ’n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig” (Romeine 2:14, 15). “Gewete” is “’n kennis binne-in jouself” soos ’n interne geregshof wat binne-in ons byeengeroep is om besluite te neem oor ons gedrag en wat ons beskuldig of verontskuldig. Maar as ons “minagting van die hof” vir ons gewete toon, sal ons gewete verhard en sal dit ophou om te funksioneer.
Wetenskaplikes sien geheime wat slegs God kan verduidelik
Interessant genoeg, namate die wetenskap meer van die aarde en die heelal te wete kom, neig party wetenskaplikes al hoe meer tot die oortuiging dat ’n opperste intelligensie agter dit alles moet wees. Maar hulle skop daarteen om die God van die Bybel te aanvaar.
In sy boek The Symbiotic Universe begin astrofisikus George Greenstein met “’n beskrywing van wat blykbaar ’n verbasende opeenvolging van verstommende en onwaarskynlike ongelukke was wat die weg vir die verskyning van lewe gebaan het. Daar is ’n lys toevallighede, wat almal ’n voorvereiste vir ons bestaan is.” Greenstein het gesê dat die lys al langer geword het, die toevallighede nie toeval kon gewees het nie, en dat die gedagte dat ’n bonatuurlike mag aan die werk was, sterker geword het. Hy het gewonder: “Het ons dalk onverwags, sonder dat ons wou, op wetenskaplike bewys van die bestaan van ’n Opperwese afgekom? Was dit God wat tussenbeide getree het en sodoende die kosmos toevallig ter wille van ons ontwerp het?” Dié gedagte het hom met “’n sterk weersin” gevul, en hy het sonder motivering gesê: “God is nie ’n verklaring nie.” Tog het die groeiende lys “toevallighede” hom gedwing om die vrae te stel.
Nog ’n astrofisikus, Nobelpryswenner Fred Hoyle, het daardie selfde geheimsinnige toevallighede wat Greenstein gekwel het in sy boek The Intelligent Universe bespreek: “Dit lyk asof sulke eienskappe soos ’n draad toevallige ongelukke deur die struktuur van die sigbare wêreld geweef is. Maar daar is soveel van hierdie vreemde toevallighede wat ’n voorvereiste vir lewe is dat ’n verduideliking blykbaar nodig is om dit te verklaar.” Hoyle stem ook met Greenstein saam dat hulle nie toevallig kon gebeur het nie. Hoyle sê gevolglik dat ‘die oorsprong van die heelal ’n intelligensie verg’, ‘’n intelligensie op ’n hoër vlak’, ‘’n intelligensie wat ons voorafgegaan het en gelei het tot ’n doelbewuste skeppingsdaad waardeur strukture tot stand gebring is wat geskik is vir lewe’.
Einstein het van God gepraat, maar nie in die sin van ortodokse godsdiens nie. Sy begrip van God het verband gehou met “die oneindig verhewe gees” wat hy in die natuur gesien het. In sy artikel “The Other Einstein” het Timothy Ferris Einstein soos volg aangehaal: “Wat ek in die natuur sien, is ’n pragtige struktuur wat ons maar net op ’n baie onvolmaakte manier kan begryp en wat ’n denker met ’n gevoel van ‘nederigheid’ moet vul. Dit is ’n waarlik godsdienstige gevoel wat niks met mistisisme te doen het nie. . . . My godsdienstigheid bestaan uit ’n nederige bewondering vir die oneindig verhewe gees wat homself openbaar in die bietjie wat ons, met ons swak en kortstondige begrip, van die werklikheid kan verstaan. . . . Ek wil weet hoe God hierdie wêreld geskep het. Ek wil weet wat sy gedagtes is; die res is bysaak.”
Guy Murchie het, nadat hy sommige van die onverstaanbare geheime van die heelal bespreek het, in sy boek The Seven Mysteries of Life gesê: “Dit is maklik om te sien waarom hedendaagse fisici, wat die grens van kennis waarskynlik dieper in die onbekende ingestoot het as enige ander wetenskaplikes in onlangse eeue, die meeste van hulle gelykes voor is in die aanvaarding van daardie allesomvattende geheim van die heelal waarvan algemeen as God gepraat word.”
Soek God, vind baat daarby, lewe vir ewig
Die mens is soekend. Hy soek na God. Party het dit in Paulus se dag gedoen. Hy het gesê: “Sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie” (Handelinge 17:27). Geen dier soek na God nie. Nie eers een het enige begrip van God nie. Die mens het, en hy is na God se gelykenis gemaak met ’n onoorbrugbare kloof wat hom van selfs die gevorderdste dier skei. En soos die teks vir ons sê, is God “nie ver van elkeen van ons nie”.
Soos Romeine 1:20 sê, sien ons oral om ons bewyse van hom wat in sy skepping weerspieël word: “Sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.” Miskien sal al hoe meer wetenskaplikes, namate hulle al hoe meer van die onverklaarbare toevallighede en ingewikkeldhede sien en oor die ontsaglike wonders van die heelal peins, die Opperintelligensie sien wat agter hierdie verskynsels aan die werk is, en sal hulle hulle Skepper, Jehovah God, erken.
Die aarde en sy volheid behoort aan Jehovah. Hy bepaal die standaarde vir dié wat daarop sal lewe. Hy het onvervalste waardes as riglyne tot geluk en die lewe verskaf. Hy het ook aan mense keusevryheid gegee. Hulle hoef hom nie te gehoorsaam nie. Hulle kan saai wat hulle wil, maar hulle sal die een of ander tyd ook maai wat hulle gesaai het. God laat hom nie bespot nie. Hy het nie die onvervalste waardes ter wille van homself gegee nie, maar hy het dit gegee sodat sy onderdane op aarde daarby kan baat vind. Dit is wat Jesaja 48:17, 18 sê: “Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan. Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ’n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see.”
As alle mense ag slaan op Jehovah se ernstige pleidooi, sal hulle dan die regte weg bewandel en gehoor gee aan hulle Skepper se gebooie. Almal sal baat vind by vrede soos ’n rivier en geregtigheid soos die golwe van die see. Almal sal die erflike waardes toepas en hulle sal nooit weer ’n sedelike verval beleef nie. En wanneer sal al hierdie dinge gebeur? Binnekort, wanneer die gebed verhoor word: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Mattheüs 6:10.
[Prente op bladsy 7]
Straalaandrywing
Ontsouting
Papiervervaardiging
Sonar