Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 1/22 bl. 11-15
  • Bedrog in die wetenskap—Die allergrootste bedrog

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bedrog in die wetenskap—Die allergrootste bedrog
  • Ontwaak!—1990
  • Soortgelyke materiaal
  • Die bron van onvervalste waardes
    Ontwaak!—1992
  • Is daar enige grondslag vir evolusie?
    Ontwaak!—1997
  • Kan lewe per toeval ontstaan?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • ‘Iets ontbreek’—Wat is dit?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 1/22 bl. 11-15

Bedrog in die wetenskap—Die allergrootste bedrog

Evolusioniste sê: ‘Evolusie is ’n feit; God is ’n mite.’ Hulle kan geeneen van die stellings bewys nie, maar vooroordeel het geen bewys nodig nie.

PRIVATE EIENDOM. Bly buite. Dit beteken jy, God! Evolusioniste baken die biologie as verbode terrein af en sê vir God om hom nie daarmee te bemoei nie. ‘Alle bekwame wetenskaplikes glo in evolusie’, sê hulle. Wat ook in werklikheid beteken: ‘Wetenskaplikes wat nie daarin glo nie is onbekwaam; hulle het nie ons kundigheid nie.’ Volgens evolusioniste is daar geen plek vir God in wetenskaplike denke nie. Boonop kan selfs sy bestaan nie bewys word nie.

Hierdie ongeërgde verwerping van God is die allergrootste bedrog.

The New Biology, deur Robert Augros en George Stanciu, haal op bladsy 188 sommige vooraanstaande wetenskaplikes aan wat God veronagsaam: “Die algemene beskouing is dat Darwin die biologie eens en vir altyd bevry het van die idee dat daar ’n God moet wees. Eldredge sê dat Darwin ‘ons geleer het dat ons die ontstaan van lewe geheel en al volgens die naturalisme kan verstaan, sonder om ons toevlug tot die bomenslike of geestelike te neem’. Julian Huxley het gesê: ‘Darwinisme het die hele begrip van God as ’n skepper van organismes uit die sfeer van rasionele bespreking verwyder.’ Jacob skryf: ‘Darwin het die idee dat elke spesie afsonderlik deur ’n Skepper ontwerp is ’n nekslag gegee.’ En Simpson skryf oor die oorsprong van die eerste organisme: ‘Daar is in elk geval geen rede om ’n wonderwerk te veronderstel nie. Dit is ook nie nodig om aan te neem dat die oorsprong van die nuwe voortplantings- en mutasieprosesse enigiets anders as materialisties was nie.’”

‘Maar laat dit lewe op aarde nie sonder ’n Skepper-Ontwerper nie?’ vra jy. ‘Daar is nie een nodig nie’, antwoord evolusioniste. ‘Dit is in die skoot van die toeval. Blinde toeval is die ontwerper. Ons noem dit Natuurlike Teeltkeuse.’

Maar hoe meer ons leer, hoe duideliker is dit dat dinge ontwerp is. Die intelligensie en wysheid waarvan dit getuig, is verstommend. Is dit nie te ingewikkeld vir blinde, gedagtelose, breinlose toeval nie? Beskou net ’n paar van die honderde uitvindings in die natuur wat skeppingswysheid weerspieël—en wat dikwels deur menslike uitvinders nageboots is.

Die aërodinamika van die voëlvlerk het die swakker ontwerpte vliegtuigvlerk duisende jare voorafgegaan. Die nautilus en die inkvis gebruik floteertenks om hulle dryfvermoë te behou, ongeag die diepte waarop hulle swem, en hulle doen dit baie doeltreffender as moderne duikbote. Die seekat en die pylinkvis is meesters op die gebied van straalaandrywing. Vlermuise en dolfyne se sonar kan nie oortref word nie. Verskeie reptiele en seevoëls het hulle eie ingeboude “ontsoutingsfabrieke” wat hulle in staat stel om seewater te drink. Sommige mikroskopiese bakterieë het draaimotore sodat hulle vorentoe en agtertoe kan beweeg.

Weens vernuftig ontwerpte neste en hulle gebruik van water het termiete lugversorging in hul blyplek. Insekte, mikroskopiese plante, visse en bome gebruik hulle eie “vrieswering”. ’n Temperatuurverandering van slegs ’n klein breukdeeltjie van ’n graad word deur die ingeboude termometers van sommige slange, muskiete, malleehoenders en boskalkoene waargeneem. Perdebye en wespe maak papier. Sponse, swamme, bakterieë, glimwurms, insekte, visse—almal gee koue lig af, en dikwels boonop in kleur. Baie trekvoëls het blykbaar kompasse, kaarte en biologiese tydmeganismes in hulle koppe. Waterkewers en spinnekoppe gebruik duiklonge en duikerklokke.a—Sien illustrasies op bladsy 15.

Al hierdie ontwerpe en instinktiewe wysheid het ’n intelligensie vereis wat ver bo dié van die mens verhewe is (Spreuke 30:24, vgl. NW). Maar party van die verbasendste voorbeelde word in die wêreld van die oneindig klein dingetjies gevind—waar evolusioniste gehoop het om die eenvoudige begin van lewe te sien waarmee evolusie begin en tot die klaarblyklik ingewikkelde ontwerpe oral om ons—ons inkluis—gelei het. ’n Eenvoudige begin? Daar is nie so iets nie! Beskou die ingewikkelde prosesse wat intelligente ontwerp in die kleinste selletjies weerspieël.

The New Biology sê op bladsy 30: “Die gemiddelde sel laat elke sekonde honderde chemiese reaksies plaasvind en kan elke twintig minute of wat reproduseer. Tog gebeur dit alles op so ’n klein skaal: meer as 500 bakterieë kan op die punt aan die einde van hierdie sin pas. [Bioloog François] Jacob verwonder hom oor die bakteriële sel se klein laboratorium, wat ‘ongeveer tweeduisend afsonderlike reaksies met onvergelyklike doeltreffendheid in die kleinste spasie denkbaar laat plaasvind. Hierdie tweeduisend reaksies konvergeer en divergeer in volle vaart sonder om mekaar ooit te belemmer.’”

The Center of Life—A Natural History of the Cell, deur L. L. Larison Cudmore, sê op bladsy 13, 14: “’n Enkele sel kan wapens maak, kos vang, dit verteer, afvalstowwe uitskei, rondbeweeg, blyplekke bou, aan eenvoudige of buitengewone geslagsaktiwiteite deelneem. Hierdie wesens bestaan nog. Die protiste—volledige en volkome organismes wat bestaan uit slegs een sel met baie talente maar sonder enige weefsel, orgaan, hart en verstand—het eintlik alles wat ons het.”

The Blind Watchmaker, deur Richard Dawkins, bespreek op bladsy 116 die hoeveelheid informasie wat ’n enkele sel bevat: “Daar is genoeg bergingskapasiteit in die DNS van ’n enkele leliesaad of ’n enkele koggelmandersperm vir 60 keer meer informasie as dié in die Encyclopædia Britannica. Sommige amoebaspesies wat ten onregte ‘primitief’ genoem word, het soveel informasie in hulle DNS soos 1000 Encyclopædia Britannicas.”

Molekulêre bioloog Michael Denton skryf op bladsy 250 van Evolution: A Theory in Crisis: “Molekulêre biologie het getoon dat selfs die eenvoudigste van alle lewende sisteme op aarde vandag, bakteriële selle, uiters kompleks is. Hoewel die kleinste bakteriële selle ongelooflik klein is, hulle weeg minder as [een triljoenste van ’n gram], is elkeen in werklikheid ’n ware mikrominiatuur-fabriek wat duisende voortreflik ontwerpte stukke ingewikkelde molekulêre masjinerie bevat wat uit altesaam honderdduisendmiljoen atome saamgestel en baie ingewikkelder as enige mensgemaakte masjien en absoluut sonder gelyke in die nie-lewende wêreld is.

“Molekulêre biologie het ook getoon dat die basiese ontwerp van die selsisteem wesenlik dieselfde is in alle lewende sisteme op aarde, van bakterieë tot soogdiere. In alle organismes is die funksie van DNS, bRNS en proteïene identies. Die betekenis van die genetiese kode is ook feitlik identies in alle selle. Die grootte, struktuur en ontwerp van die proteïensintese-masjinerie se dele is so te sê dieselfde in alle selle. Wat hulle basiese biochemiese ontwerp betref, kan geen lewende sisteem dus as primitief of voorouerlik met betrekking tot enige ander sisteem beskou word nie. Ook is daar nie die geringste empiriese aanduiding van ’n evolusionêre opeenvolging onder al die ongelooflik uiteenlopende selle op aarde nie.”

George Greenstein erken al hierdie intelligensie wat by die aarde se struktuur betrokke is. In sy boek The Symbiotic Universe praat hy van die raaiselagtige en ongelooflike reeks toevallighede wat te ingewikkeld is om te verklaar, toevallighede waarsonder lewe op aarde nie moontlik sou wees nie. Die volgende aanhalings, wat op bladsye 21-8 verskyn, weerspieël sy innerlike stryd oor toestande wat van die onontbeerlikheid van ’n intelligente en doelgerigte God getuig:

“Ek glo dat ons met ’n verborgenheid te doen het—’n groot en diepgaande verborgenheid, en boonop van besondere betekenis: die verborgenheid van die bewoonbaarheid van die kosmos, van die geskiktheid van die omgewing.” Hy begin dan met “’n beskrywing van wat blykbaar ’n verbasende opeenvolging van oorweldigende en onwaarskynlike ongelukke was wat die weg vir die verskyning van lewe gebaan het.b Daar is ’n lys toevallighede, wat almal ’n voorvereiste vir ons bestaan was.” Maar “die lys het aanhoudend langer geword . . . So baie toevallighede! Hoe meer ek gelees het, hoe meer was ek oortuig dat sulke ‘toevallighede’ nouliks per toeval kon gebeur het.” Wat ’n verpletterende feit vir ’n evolusionis om onder die oë te sien, soos hy vervolgens erken:

“Maar namate hierdie oortuiging sterker geword het, het iets anders ook sterker geword. Dit is selfs nou nog moeilik om hierdie ‘iets’ in woorde uit te druk. Dit was ’n heftige afkeer, en soms was dit byna fisies van aard. Ek het letterlik van ongemak gekriewel. Net die gedagte dat die kosmos se geskiktheid vir lewe dalk ’n verborgenheid is wat ’n oplossing vereis, het my as ’n belaglike, dwase idee getref. Ek het dit moeilik gevind om aan die idee te dink sonder dat my gesig van afkeer vertrek het . . . Ook het die intensiteit van hierdie reaksie nie met die verloop van die jare afgeneem nie: ek moes alewig daarmee geworstel het terwyl ek hierdie boek geskryf het. Ek is seker dat alle ander wetenskaplikes hierdie reaksie ervaar en dat dít verantwoordelik is vir die algemene onverskilligheid waarmee die idee tans bejeën word. En dit gaan selfs verder: ek glo nou dat dit wat na onverskilligheid lyk eintlik ’n intense antagonisme vermom.”

Watter antagonisme? Antagonisme teen die gedagte dat die verklaring dalk ’n doelgerigte Skepper is. Greenstein druk dit soos volg uit: “Terwyl ons al die getuienis ondersoek, kom die gedagte voortdurend op dat ’n bonatuurlike mag—of liewer, Mag—hierby betrokke moet wees. Het ons dalk onverwags, sonder dat ons wou, op wetenskaplike bewys van die bestaan van ’n Opperwese afgekom? Was dit God wat tussenbeide getree het en sodoende die kosmos toevallig ter wille van ons ontwerp het?” Maar Greenstein bekeer hom van sulke kettery en verklaar weer sy ortodoksie aan die evolusiegodsdiens deur een van hulle oortuigingsdogmas te herhaal: “God is nie ’n verklaring nie.”

Astrofisikus Fred Hoyle praat op bladsy 9 van sy boek The Intelligent Universe oor diegene, soos Greenstein, wat vrees dat God in die gedrang sal kom: “Ortodokse wetenskaplikes beywer hulle meer om ’n terugkeer na die godsdiensbuitensporighede van die verlede te vermy as wat hulle daarna uitsien om vas te stel wat die waarheid is, [en hierdie besorgdheid] het wetenskaplike denke gedurende die afgelope eeu oorheers.”

In sy boek bespreek hy dan hierdie selfde geheimsinnige kenmerke wat Greenstein kwel. “Dit lyk asof sulke eienskappe”, sê hy, “soos ’n draad toevallige ongelukke deur die struktuur van die sigbare wêreld geweef is. Maar daar is soveel van hierdie vreemde toevallighede wat ’n voorvereiste vir lewe was dat ’n verduideliking blykbaar nodig is om dit te verklaar.” Hoyle sowel as Greenstein sê dat toeval nie al hierdie “toevallighede” kan verklaar nie. Hoyle sê verder dat die verklaring daarvoor vereis dat ‘die oorsprong van die heelal ’n intelligensie verg’, ’n ‘intelligensie op ’n hoër vlak’, ‘’n intelligensie wat ons voorafgegaan het en gelei het tot ’n doelbewuste skeppingsdaad van strukture wat geskik is vir lewe’.

Die voorgaande moet nie beskou word as ’n aanduiding dat Hoyle aan die God van die Bybel dink nie, maar hy besef wel dat daar ’n ontsaglike bonatuurlike intelligensie agter die heelal en die aarde en die lewe daarop moet wees. Hoewel hy sê dat “‘God’ ’n verbode woord in die wetenskap is”, erken hy tog dat ons “’n intelligensie hoër as ons eie as ’n godheid [kan] definieer”. Hy spekuleer dat daar “deur middel van ons eie verstand se vooraf geprogrammeerde toestand” dalk “’n verbindingskakel van intelligensie [is] wat afwaarts strek . . . na mense op die aarde”.

“Daar is baie aanduidings”, sê hy, “dat dit die geval kan wees. Die rusteloosheid in ons is een aanduiding daarvan. Dit is asof ons ’n instinktiewe aanvoeling het dat daar iets belangriks is wat ons moet doen. Die rusteloosheid ontstaan omdat ons tot op hede nog nie uitgevind het presies wat die aard daarvan is nie.” Elders sê hy: “Dit lyk of die godsdiensdrang eie aan die mens alleen is . . . As die talle sonderlinge versierings verwyder word waarmee godsdiens tradisioneel omring is, kom dit dan nie neer op ’n instruksie binne-in ons wat, eenvoudig uitgedruk, dalk as volg sal lui nie: Jy het ontstaan uit iets ‘daarbuite’ in die ruimte. Soek dit, en jy sal baie meer vind as wat jy verwag.”

Die mens tas rond. Sonder dat hy dit besef, is dit waarna hy rondtas die Bybelwaarheid dat ons na die beeld en gelykenis van God geskep is, wat beteken dat ons ’n mate van God se hoedanighede soos wysheid, liefde, krag, geregtigheid, doelgerigtheid en ander eienskappe het wat die groot kloof tussen mense en diere verklaar. Ons verstande is vooraf geprogrammeer vir sulke goddelike hoedanighede en vir die ware aanbidding van God. Die rusteloosheid sal voortduur totdat hierdie verskillende hoedanighede in behoorlike ewewig is en kontak met God bewerkstellig is deur middel van gebed en sy ware aanbidding. Wanneer daar voorsien word in hierdie geestelike behoeftes waarmee ons geskep is, sal die rusteloosheid deur “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”, vervang word.—Filippense 4:7; Genesis 1:26-28.

Hierdie soeke na God word in Handelinge 17:27, 28 (NAV) aanbeveel, naamlik: “God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.” Dit is deur hom, die Skepper van die heelal, met inbegrip van die aarde en ons daarop, dat ons lewe en beweeg en bestaan. Deur die versierings en valse leerstellings van ortodokse godsdienste—wat miljoene, met inbegrip van baie wetenskaplikes, van God afvallig gemaak het—te verwerp en deur die ware aanbidding van Jehovah God te beoefen, sal ons die ewige lewe in ’n paradysaarde verkry, wat Jehovah se oorspronklike voorneme was toe hy die aarde geskep het.—Genesis 2:15; Jesaja 45:18; Lukas 23:43; Johannes 17:3.

Dit vereis buitengewone liggelowigheid om te dink dat intelligensie van hierdie omvang deur blinde, breinlose toeval teweeggebring is. Dit is ’n geloof wat met dié van die heidense godsdiensyweraars van die profeet Jesaja se tyd vergelyk kan word: “[Dit is] julle wat die HERE verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat ’n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot” (Jesaja 65:11). Evolusioniste maak staat op miljoene “gelukkige” kanse om die mens uit klip te voorskyn te bring, maar hulle het nog nie eers die eerste sport van hulle evolusieleer bereik nie. Hulle “geluksgod” is ’n geknakte riet.

Al hierdie dinge gee Fred Hoyle ’n onheilspellende voorgevoel: “Nog iets wat my pla, is ’n oortuiging dat die deur van geleentheid vir die mensegeslag mettertyd dalk baie nou sal wees. Hipertegnologie is nodig om die deur oop te maak, maar hipertegnologie alleen, wat nie ’n band tussen ons spesie en die buiteaardse wêreld bewerkstellig nie, kan heel moontlik tot selfvernietiging lei. As dit soms lyk asof my verset teen die Darwinistiese teorie heftig is in hierdie boek, is dit weens my siening dat ’n gemeenskap wat deur daardie teorie georiënteer word heel waarskynlik op selfvernietiging afstuur.”

In die sprokie Through the Looking-Glass kon Alice wat skepties was oor die vreemde logika van die Wit Koningin, slegs lag. “Dit help nie om te probeer nie”, het sy gesê. “’n Mens kan nie onmoontlike dinge glo nie.” Die koningin het geantwoord: “Ek veronderstel jy het nie baie oefening gehad nie. Toe ek so oud soos jy was, het ek dit ’n halfuur per dag gedoen. Dan het ek soms tot ses onmoontlike dinge voor ontbyt geglo.”

Evolusioniste is vandag se Wit Koninginne. Hulle het oneindig baie oefening gehad om onmoontlike dinge te glo.

[Voetnote]

a Sien hoofstuk 12 van Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., gepubliseer word.

b Die afstand tussen sterre; die resonansie van subatoomdeeltjies en atome om koolstof te vorm; die gelyke en ongelyke ladings van elektrone en protone; die unieke en anomale eienskappe van water; die frekwensies van sonlig en absorberingsfrekwensies wat vir fotosintese nodig is; die skeiding tussen die son en die aarde; die drie dimensies van ruimte, nie meer nie, nie minder nie; en ander.

[Lokteks op bladsy 12]

Al hierdie ontwerp en instinktiewe wysheid vereis ’n intelligensie

[Lokteks op bladsy 13]

’n Bakteriële sel het honderdduisendmiljoen atome

[Lokteks op bladsy 14]

‘Die oorsprong van die heelal vereis ’n intelligensie’

[Prente op bladsy 15]

Straalaandrywing

Ontsouting

Papiervervaardiging

Sonar

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel