Kolmanskop—Waar sand en roes verniel
Op die skroeiende sand van die Namib-woestyn, naby die winderige kus van Suid-Namibië, lê die verlate ruïnes van ’n dorp—Kolmanskop—wat skaars 50 jaar lank bewoon was.
Toe diamante in 1908 hier ontdek is, het prospekteerders, mynmagnate en allerhande verdagte karakters spoedig soos aasvoëls op die dorp toegesak. Kolmanskop was kort voor lank ’n florerende dorp, met statige huise wat in die styl van die Duitse koloniste gebou is, ’n poskantoor en sy eie hotel. Kolmanskop het selfs ’n dubbelverdieping-casino met ’n teater en ’n kegelbaan gehad—luukshede wat die lewe in die afgeleë Namib-woestyn aangenamer gemaak het.
Maar dit was juis die rede vir Kolmanskop se bestaan wat tot sy einde gelei het. Daar was spoedig nie meer edelgesteentes van winsgewende grootte en gehalte in die myne oor nie. Prospekteerders is weldra weggelok namate groter en beter diamante elders ontdek is. Boonop was daar aan die begin van die twintigste eeu ’n skielike prysdaling op die diamantmark. Die dorp het geleidelik gekwyn totdat Kolmanskop uiteindelik teen 1956 verlate was.
Vandag lê ongebruikte masjinerie onder die felle Afrika-son en roes—’n nalatenskap van die mens se kortstondige pogings om rykdom uit die aarde uit te haal. Kolmanskop dien dus as ’n treffende herinnering aan die vrugteloosheid daarvan om aardse rykdom na te jaag. Jesus het gesê: “Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie.”—Mattheüs 6:20.