Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 3/8 bl. 14-15
  • Met die knip van ’n oog

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Met die knip van ’n oog
  • Ontwaak!—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Sien die onsigbare—die wetenskap van die optika
    Ontwaak!—1991
  • Waarom al die trane?
    Ontwaak!—1992
  • Is jou oog “reg”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Wat beteken “oog vir oog”?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 3/8 bl. 14-15

Met die knip van ’n oog

JY HET dit so pas weer gedoen. Gister het jy dit ongeveer 15 000 keer gedoen. Jy was heel moontlik nie eers bewus daarvan dat jy dit doen nie, maar jy het daarmee aangehou en sodoende twee van jou kosbaarste besittings beskerm. In die proses het jy moontlik ook onwetend ’n paar aanduidings gegee van hoe jou brein werk. Hoe het jy dit alles reggekry? Jy het jou oë geknip.

As jou oë reg funksioneer, is hulle die delikaatste en sensitiefste sintuiglike toerusting wat jy het. Die mens se oog, wat algemeen as ’n wonderlike ontwerp beskou word, is al met ’n voloutomatiese, driedimensionele, selfstellende rolprentkamera vergelyk wat aanhoudend en in volle kleur verfilm. Wanneer ’n kamera se delikate lens nie gebruik word nie, word dit met ’n lensdop bedek. Maar die oog funksioneer nog beter.

Die grootste gedeelte van die oogbol word binne-in die oogkas beskerm. Maar die oorblywende 10 persent van die oog se oppervlak is blootgestel aan die atmosfeer met al sy warrelende stof en skadelike afvalstowwe. Om die oog teen die voortdurende gevaar van hierdie aanslag te beskerm, is die liggaam ontwerp met ’n ingewikkelde “lensdop” wat kan terugtrek—die ooglid. Die ooglid, wat uit die liggaam se dunste vel bestaan en met klein veseldraadjies versterk is, gly glad op en af oor die oog. Die knipbeweging duur omtrent ’n tiende van ’n sekonde en vind sowat 15 keer per minuut plaas.

Maar daardie klein, skaars merkbare aksie verrig baie. Wanneer die ooglid toemaak en weer oopmaak, versprei dit ’n dun lagie vog oor die oppervlak van die oog en spoel dit sodoende af. Dit poleer ook die oog se buitenste oppervlak. Die oog kan dus vergelyk word met ’n kombinasie van ’n lensdop, ’n lensskoonmaker en ’n lenspoleerder. ’n Wonderlike ontwerp, nie waar nie?

Maar wetenskaplikes probeer al lank om iets eienaardigs te verstaan: Teen die tempo waarteen trane op die oog se oppervlak verdwyn, behoort een of twee knipbewegings per minuut genoeg te wees om jou oë te spoel en te poleer. Waarom dan al die ekstra knipbewegings? Die antwoord lê skynbaar in die verstand opgesluit.

Navorsers meen dat daar ’n verband tussen ons oë se knipbewegings en ons gedagtes is. Angs veroorsaak dat jy jou oë byvoorbeeld meer knip. Jy sal jou oë waarskynlik meer as gewoonlik knip as jy ’n helikopter probeer vlieg of deur ’n vyandige prokureur onder kruisverhoor geneem word of as jy aan ’n angsverwante siekte ly. As jy ’n nuusleser op televisie is, is daar moontlik vir jou gesê om nie jou oë te knip nie sodat die kykers nie dink dat die nuus jou paniekbevange maak nie.

As jy daarenteen met jou oë op iets konsentreer, soos om ’n ononderbroke lyn deur ’n getekende doolhof te trek, deur die stad se strate te bestuur of ’n roman te lees, knip jy jou oë minder. Vlieëniers moet byvoorbeeld meer as medevlieëniers konsentreer, en derhalwe knip hulle hulle oë baie minder. Knipbewegings van die oë word veral beperk wanneer ’n mens in werklike gevaar verkeer en die oë vinnig van die hoofgesigsveld na die periferie en terug moet beweeg.

Daar is nog ’n verband tussen die brein en die oog se knipbewegings. Volgens The Medical Post van Kanada dui navorsing daarop dat “elke knipbeweging op die spesifieke oomblik plaasvind wanneer ons ophou sien en begin dink”. Iemand wat byvoorbeeld iets memoriseer, sal waarskynlik sy oë knip direk nadat hy die inligting wat hy wil onthou, gelees het. Of wat besluite betref, dui toetse daarop dat “die brein die oë ’n knipbeweging laat uitvoer wanneer dit genoeg inligting het om ’n goeie besluit te neem”, sê die Post, en dit lui verder: “Eksperimente toon dat die oog se knipbewegings as ’n soort verstandelike punktuasie dien.”

’n Wyse man is amper drieduisend jaar gelede geïnspireer om te skryf: “U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep” (Psalm 139:14, NAV). Die vooruitgang van die mediese wetenskap in ons tyd het daardie beskouing net bekragtig. Stel jou net voor: ’n ingewikkelde lens word gepoleer en gesmeer, die graad van die brein se konsentrasie of angs word aangedui en die inname van visuele inligting word gepunktueer—dit alles met die knip van ’n oog!

[Prent op bladsy 14]

Die oogbol met slegs 10 persent wat ontbloot is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel