Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 4/22 bl. 8-11
  • Die ware doel van die lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die ware doel van die lewe
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God se oorspronklike doel
  • Wat die lewe kon gewees het
  • Die verwesenliking van God se doel
  • Hoe om persoonlik daarby baat te vind
  • Die verskil wat dit maak
  • Die lewe het ’n wonderlike doel
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • Wat het God in gedagte vir ons?
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Waarom ons hier is
    Ontwaak!—2008
  • Streef ’n sinvolle doel in die lewe na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 4/22 bl. 8-11

Die ware doel van die lewe

STEL jou voor dat jy ’n vriend se werkswinkel besoek. Hy het so pas ’n projek voltooi, en dit fassineer jou. Die voorwerp is pragtig gemaak en het ’n baie interessante vorm. Maar jy kan net nie dink waarvoor dit is nie. Hoe vind jy uit? Wel, jy vra net jou vriend, en hy sal jou waarskynlik met graagte sê.

Hoe kan ons dus uitvind wat die doel van die lewe is? Wel, ons kan gerus vir God, “die fontein van die lewe”, vra (Psalm 36:10). Hoe kan jy dit doen? Gelukkig praat hy deur die Bybel met ons. Hy het geloofsmanne sy gedagtes só laat neerskryf dat ons dit kan verstaan. Die doel van die lewe kan in werklikheid in net ’n paar woorde uitgedruk word: Ons is hier om van God te leer en om sy wil te doen. Die Bybel sê: “Die slotsom van die saak, noudat alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”—Prediker 12:13, NW.

Klink dit te eenvoudig? Wel, dit is nie. Die feit dat ons hier is om van God te leer en om sy wil te doen is wonderlik en het diepgaande implikasies.

God se oorspronklike doel

As jy weet wat God oorspronklik vir die mens in gedagte gehad het, sal dit jou help om die doel van die lewe beter te verstaan. Dit sal ook verduidelik waarom party dinge wat in die vorige artikel gemeld is die lewe van baie vandag sinvoller en meer doelgerig maak.

Die Bybelverslag oor die mens se skepping sê: “God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Genesis 1:26). Mense is dus gemaak met die vermoë om soos God te wees, om sy voortreflike eienskappe te besit, waaronder wysheid, krag, regverdigheid en liefde. Verbaas dit jou dan dat party dit bevredigend vind om nuwe kennis te soek of om aan bedrywighede deel te neem wat ’n uitdaging is vir hulle verstandelike of liggaamlike krag? En is dit vreemd dat die verlening van hulp aan ander vir baie ’n bevredigende doel in die lewe is? Glad nie. Dit is een van die redes waarom ons geskep is.

Die Bybelverslag sê voorts dat mense toesig moes hou oor al die ander lewe op die aarde—“die visse van die see en die voëls van die hemel . . . [en] al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:26). Dit is dus geen wonder nie dat baie selfs vandag bevrediging daaruit put om diere aan te hou en met hulle te speel. Party se verantwoordelikheidsgevoel teenoor diere is so groot dat hulle hulle beywer vir die bewaring van bedreigde spesies of betoog teen die blootstelling van diere aan onnodige lyding.

Mense is ook beveel om ‘die aarde te onderwerp’ (Genesis 1:28). Wat het dit beteken? Beslis nie dat mense die aarde op ’n selfsugtige en onverantwoordelike wyse moet uitbuit totdat sy rykdomme uitgeput, sy atmosfeer besoedel en sy seë en landoppervlak met vullis besaai is nie. God het eerder die voorbeeld gestel waarvolgens die aarde onderwerp moes word toe hy “’n tuin geplant [het] in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ’n plek gegee” het (Genesis 2:8). Hierdie tuin van Eden was die model wat getoon het hoe die aarde uiteindelik moes lyk. Dit het God se doel vir ons planeet weerspieël.

Die Bybelverslag verduidelik: “En God het [die eerste man en vrou] geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit” (Genesis 1:28). God wou hê dat mense kinders voortbring en die aarde vul. Hy het die eerste man en vrou byeengebring en in werklikheid die eerste huwelik voltrek (Genesis 2:22-24). Dit is geen wonder nie dat die huwelik en ’n gesin die lewe van so baie mense sinvol en doelgerig maak!

Wat die lewe kon gewees het

Uit ons studie van die Bybel is dit duidelik dat God wou hê dat Adam se gesin moes groei en dat hy en sy kinders die grense van die tuin van Eden moes uitbrei totdat die hele aarde vol mense was. En die onderworpe aarde sou ’n paradys wees. Die mens sou weliswaar die rykdomme van die aarde tot sy eie nut gebruik het. Maar dit sou op ’n verantwoordelike wyse geskied het. Die mens sou ’n opsigter van die aarde gewees het, nie ’n plunderaar daarvan nie. Die verwoesting van die aarde wat ons vandag sien, is teen God se wil en diegene wat daaraan deel het, werk teen die doel van die lewe.—Openbaring 11:18.

Ons leer ook uit die vroeë Bybelverslag dat dit nie God se doel was dat mense sterf nie. Ons eerste ouers het net gesterf omdat hulle ongehoorsaam aan God was (Genesis 2:16, 17). Toe hulle ongehoorsaam was, het hulle nie meer aan die doel van die lewe beantwoord nie—hulle het nie meer God se wil gedoen nie. Hulle het derhalwe nie net gesterf nie, maar al hulle nakomelinge is ook aan die dood onderwerp omdat hulle onvolmaaktheid van hulle eerste ouers geërf het (Romeine 5:12). Maar mense is oorspronklik geskep om vir ewig te lewe, nie om te sterf nie. Dit is heel waarskynlik waarom baie die gedagte dat die dood hulle lewenstaak gaan kortknip so frustrerend vind.

Die verwesenliking van God se doel

God se oorspronklike doel vir die mens en hierdie aarde het nie verander nie. Hy wil steeds ’n paradysaarde hê waarop ’n volmaakte menseras woon. Maar hy moes reëlings tref om die treurige gevolge van die mislukking van ons eerste ouers te oorkom. As ’n mens God se wil vandag wil doen, beteken dit jy moet in harmonie met al hierdie reëlings van God optree. Gelukkig verskaf die Bybel ’n beskrywing van die progressiewe verwesenliking van God se doel.

Ons lees in die eerste boek van die Bybel dat God gepraat het van ’n “saad” wat sou kom om al die leed ongedaan te maak wat veroorsaak is deur Adam en Eva se versuim om Sy wil te doen (Genesis 3:15). In die Christelike Griekse Geskrifte (“Nuwe Testament”) lees ons van die verskyning van Jesus Christus as daardie “saad”, van sy sondelose lewe en van sy dood deur toedoen van sy vyande. Jesus se dood was eintlik ’n offer ten behoewe van ons, wat dit vir ons moontlik maak om die ewige lewe terug te kry wat Adam en Eva verloor het (Hebreërs 7:26; 9:28). Ja, die Bybel sê: ‘Elkeen wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar sal die ewige lewe hê.’—Johannes 3:16.

Maar dit eindig nie daar nie. Na sy dood is Jesus as ’n onsterflike geesskepsel opgewek, en hy heers nou as Koning van God se hemelse Koninkryk. Daardie Koninkryk sal binnekort optree om die teenswoordige aardse regerings te vervang met ’n nuwewêreld-gemeenskap wat die bestuur van mense-aangeleenthede sal oorneem. ’n Bybelprofesie belowe: “Die heerskappy [van die koninkryk] sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.

Daarna sal hierdie Koninkryk toesig hou oor die genotvolle taak om die aarde weer in ’n Paradys te omskep en die mens tot volmaaktheid te verhef. Die Bybel praat selfs van ’n opstanding van die dode sodat hulle ook ’n aandeel kan hê in die verwesenliking van God se grootse doel vir die mens (Handelinge 24:15). Dan sal die pragtige belofte vervul wees: “Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede. Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:11, 29.

Hoe om persoonlik daarby baat te vind

Om persoonlik baat te vind by die verwesenliking van God se grootse doel vir die aarde moet ons God eers leer ken. Jesus Christus het gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Hoe kan ons dit doen? Ons leer ’n paar dinge van God deur die wêreld om ons, die skepping, waaronder die sterrehemel, waar te neem (Psalm 19:2). Maar ons leer veral van God—sowel as van sy Seun, Jesus Christus—deur die Bybel. Ons leer sy naam en sy eienskappe, en ons vind in besonderhede uit wat God vir die mens gedoen het. Sulke kennis lei daartoe dat ons hom liefhet en bring ons baie nader aan hom en aan sy Seun.

Wanneer ons God leer ken, wil ons sy wil doen. Miskien het ons al gebid soos Jesus ons geleer het: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:10). Die ware doel van die lewe—die een wat ware bevrediging verskaf—is om in ooreenstemming met daardie wil van God te lewe.

Maar wat behels dit om God se wil te doen? Vir Adam en Eva het dit beteken dat hulle toesig moes hou oor die diereryk en dat hulle die aarde moes onderwerp en dit met volmaakte nakomelinge moes vul. As ons God se wil vandag wil doen, moet ons van Jesus se losprysoffer leer en geloof daarin beoefen. En ons moet Jesus se voorbeeld volg deur ander te vertel van ‘die evangelie van God se koninkryk’.—Mattheüs 24:14.

Om God se wil te doen, sluit ook in dat ons ’n goddelike persoonlikheid ontwikkel. Ons identifiseer dus die dinge wat God haat—soos leuens, diefstal, skadelike skinderpraatjies, onbeheerste woede—en ons verwerp hulle. Ons bestudeer ook die eienskappe wat God liefhet—soos liefde, blydskap, vrede, vriendelikheid en goedheid—en ons kweek hulle aan met die hulp van God se heilige gees (Galasiërs 5:19-24). As ons die ewige lewe wil hê, moet ons die soort mense wees wat God vir ewig op die aarde wil hê. Daar is dus niks wat ons lewe meer doelgerig en sinvoller maak as om van God te leer en sy wil te doen nie!

Die verskil wat dit maak

Die lewe van miljoene mense oor die hele wêreld bewys dat dit werklik ’n verskil maak wanneer ’n mens die ware doel van die lewe vind. Neem die voorbeeld van Wayne wat verpletter was deur die dood van sy eerste vrou. Sy plaaslike predikant kon hom nie vertroos nie, en Wayne het hom dus met vrywillige werk besig gehou. Hy het as ’n kommandeur in die Amerikaanse Oudstrydersbond gedien en was aktief betrokke by politieke groepe. Toe is hy weer getroud, maar die huwelik was stormagtig. Hy en sy vrou het geen doel in hulle lewe gehad nie.

Maar eendag het Wayne ’n Bybel geneem en begin lees. Hy het dit binne drie maande deurgelees en hy sê: “Ek het toe geweet waarom ons hier is en dat daar hoop op ’n lewe na die dood is.” Hy het vir sy vrou gesê: “Ons moet mense vind wat na die Bybel luister met wie ons kan assosieer.” Spoedig het hulle Getuies van Jehovah ontmoet, en hulle daaropvolgende besprekings het hulle begeerte verskerp om God se wil te doen. Wayne sowel as sy vrou het hulle lewe aan God toegewy, en hulle gesinslewe het baie daarby baat gevind.

Susan, ’n dogter van Presbiteriaanse sendelinge, wou iets met haar lewe doen wat die wêreld werklik sou help. ’n Lesing oor die gevare van kernkrag het haar oortuig dat dít ’n uiters belangrike kwessie is. Sy het dus die universiteit verlaat sodat sy al haar tyd kon gebruik om mense meer oor die probleem te leer. Toe sy 21 was, het sy as koördineerder vir ’n groot antikernkrag-byeenkoms gedien. Jehovah se Getuies het haar later besoek en vir haar getoon wat die Bybel sê. Sy het mettertyd die ware doel van die lewe gevind. Hoewel sy ongetwyfeld nog besorg is oor die mens se verwoesting van die aarde besef sy dat God hierdie probleme deur sy Koninkryk gaan oplos. Daarom help sy mense om hulle geloof daarin te stel.

Marielle se doel in die lewe was om die dinge te geniet wat die wêreld bied. Sy het ’n loopbaan nagestrewe. Sy het al die ‘in-dinge’ van Los Angeles, Kalifornië, VSA, geniet, waaronder partytjies en dwelmmiddels. Maar toe sy begin het om die Bybel te bestudeer en God te leer ken en te dien, het sy besef hoe sinloos al daardie dinge is. Sy sê dat haar lewe nou baie sinvoller is sedert dit in ooreenstemming met God se voornemens is.

Die aantal mense wie se lewe verryk is deur te leer wat die ware doel van die lewe is, neem elke dag met honderde toe. Wanneer jy in ooreenstemming met daardie ware doel van die lewe leef deur die wil van ons liefdevolle, hemelse Vader te doen, maak dit werklik ’n verskil. Dit is iets wat jou hele lewe ten goede kan verander. Ons nooi jou om self ondersoek hierna in te stel. Jou lewe sal meer bevredigend wees as jy dit doen.

[Prent op bladsy 9]

Die Lewegewer het ’n doel gehad toe hy die mens geskep het

[Prent op bladsy 10]

God het nie sy doel laat vaar om ’n paradysaarde gevul met ’n volmaakte menseras te hê nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel