Was Moses ’n waterwyser?
“MOSES, wat water voortgebring het deur met ’n stok op ’n rots te slaan (Numeri 20:9-11), is al die eerste waterwyser genoem” (The Encyclopedia Americana). Dit is ’n opvatting wat dikwels voorkom wanneer die onderwerp van wiggelary bespreek word. Die tydskrif National Wildlife het Moses se staf onlangs sonder meer “’n wiggelstok” genoem. En sommige wiggelaars glo dat hulle mag van Moses af kom.
Die teendeel is egter waar. Dit was Moses wat die gebod téén wiggelary, oftewel waarsêery, neergeskryf het! (Deuteronomium 18:10). En die wonderwerk wat by Meriba plaasgevind het, was alles behalwe ’n daad van waterwysing. Baie wiggelaars maak staat op ’n stok wanneer hulle verskuilde water soek; hulle loop heen en weer daarmee en wag dat dit op en af beweeg of rondruk. Maar Moses het nooit met sy staf heen en weer geloop en gewag dat dit op en af moet beweeg nie; trouens, hy het in werklikheid nooit water gesoek nie. Jehovah, die Skepper van die aarde en sy verskuilde waterfonteine, het vir Moses gesê presies waar en hoe om die water te kry: “Spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee”, het God beveel.—Numeri 20:8.
Buitendien sê wiggelaars gewoonlik net vir mense waar om te grawe. Toe Moses met sy staf op die rots geslaan het, het ’n sterk stroom water daaruit gevloei—genoeg om die dors van ’n hele nasie te les. Moses het hom God se toorn op die hals gehaal toe hy van die eer vir hierdie wonderwerk aan homself toegeëien het. Wat nog te sê om sy staf—’n dooie stuk hout—die eer te gee!