Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 4/22 bl. 12-16
  • Wiggelary—Wetenskaplik of bonatuurlik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wiggelary—Wetenskaplik of bonatuurlik?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is dit wetenskaplik?
  • Is dit ’n bedrogspul?
  • ’n Onthullende geskiedenis
  • Die verband met die okkulte
  • Behoort ’n Christen by wiggelary betrokke te raak?
  • Was Moses ’n waterwyser?
    Ontwaak!—1992
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1992
  • Eenheid verseker deur Christus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • “Die tugroede”—Is dit ouderwets?
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 4/22 bl. 12-16

Wiggelary—Wetenskaplik of bonatuurlik?

“DIS ongelooflik!” het ’n melkboer in die Midde-Weste van die Verenigde State uitgeroep. ’n Dun persketak het wild in sy hande rondgeruk. Hy het met sy naels in die bas ingegrawe om die tak stil te hou, maar die afwaartse krag was te sterk. “Daar het selfs stukkies bas in my hande agtergebly,” het hy verbluf uitgeroep. Hy was later nog meer verstom toe hy water gevind het deur op die presiese plek te grawe wat deur die tak uitgewys is. Wat was hier aan die gang?

Die boer was besig om wiggelary, of waterwysing, te beoefen. Die wiggelaar hou dikwels ’n mikstok in sy hande en loop heen en weer, terwyl hy op sy soektog na water konsentreer. Sy wiggelstok sal moontlik eensklaps eienaardig reageer. Sommige stokke ruk afwaarts, ander skiet opwaarts en tref selfs die wiggelaar se gesig of bors, terwyl ander stokke skaars beweeg. In enige van hierdie gevalle meen die wiggelaar dat daar water onder die grond is. Wiggelary word wêreldwyd beoefen. Volgens een skatting is daar in die Verenigde State alleen sowat 25 000 wiggelaars wat hulle bedryf beoefen.

Is dit wetenskaplik?

Is daar die een of ander wetenskaplike beginsel wat wiggelary laat werk? Dit is al lank ’n omstrede vraag. The Watchtower het meer as 70 jaar gelede só daaroor geredeneer: “Ons wil nie enige natuurwette ignoreer nie, maar dit klink darem baie vreemd dat ’n klein straaltjie water wat vyf of ses meter onder die aarde se oppervlak vloei genoeg magnetiese krag het om ’n wilgertak te laat buig, terwyl ’n hele spruit water geen uitwerking op daardie selfde stok het nie. . . . Daar moet dus iets anders as natuurwette aan die werk wees.”

Talle wiggelaars hou nogtans vol dat wiggelary ’n wetenskap is. Trouens, die Amerikaanse wiggelaarsvereniging noem hulleself “’n opvoedkundige en wetenskaplike vereniging sonder winsbejag”. Deur die jare heen het talle wetenskaplikes na vore gekom om hulle op die een of ander nuwe vertakking van die wetenskap te beroep om te verduidelik hoe wiggelary werk. In die 18de eeu was dit “uitstralings” van atoomdeeltjies wat wiggelary laat werk het. In die 19de eeu was dit elektrisiteit. In ons eeu was dit al alles van radioaktiwiteit tot elektromagnetisme tot menslike sielkunde.

Meer onlangs, in 1979, het die hoogaangeskrewe tydskrif New Scientist teorieë oor wiggelary gepubliseer wat oënskynlik aanvaarbaar was. ’n Kenner op die gebied van energiebehoud, asook ’n geoloog, het bespiegel dat die mens se liggaam self dalk baie gevoelig is vir geringe veranderinge in elektriese, magnetiese of elektromagnetiese velde wat deur ondergrondse water of erts veroorsaak word.a

Maar sulke teorieë word nie algemeen onder wetenskaplikes aanvaar nie. Trouens, in The Encyclopedia Americana verwerp wetenskaplikes E. Z. Vogt en L. K. Barrett, wat aan die Harvard-universiteit verbonde is, wiggelary deur te sê: “Beheerde veldproewe en laboratoriumtoetse kon nie die geldigheid van wiggelary bevestig nie, en volgens wetenskaplike vereistes is dit nie werklik op feite gebaseer nie.” In November 1990 het wiggelaars aan 720 eksperimente in Kassel, Duitsland, deelgeneem. Hoewel hulle tevrede was met die voorwaardes van die toetse en vol vertroue was dat hulle sou slaag, het die wiggelaars misluk; hulle het net toevallige suksesse met die opsporing van ondergrondse water en metale behaal. Die maandblad Naturwissenschaftliche Rundschau het tot die gevolgtrekking gekom dat wiggelary, wanneer dit op ’n wetenskaplike grondslag beoordeel word, “so betroubaar [is] as om ’n muntstuk op te skiet”. Ander soortgelyke eksperimente het dieselfde uitslag gehad.

Wiggelaars verklaar sulke mislukkings met eienaardige verduidelikings. Sommige kla byvoorbeeld dat die toetse hulle aan hulle vermoëns laat twyfel of veroorsaak dat hulle water soek om redes wat nie reg of ernstig genoeg is nie. Hulle beweer dat sulke faktore veroorsaak dat hulle hulle vermoëns tydelik verloor. Trouens, etlike wiggelaars het, ná ’n leeftyd van suksesvolle wiggelary, gevind dat dit juis die keer is wanneer hulle werklik hulle saak moet bewys dat hulle vermoëns skielik verdwyn—of dat dit hulle mislei. Sommige kom dus tot die gevolgtrekking dat die mag wat wiggelary beheer ’n sonderlinge sin vir humor het.

Klink dit vir jou wetenskaplik? Natuurkragte (dié wat deur wetenskaplike metodes gemeet kan word) het per slot van rekening nie ’n sin vir humor nie, of dit nou sonderling is of nie; en hulle is ook nie wispelturig nie. Hulle is bestendig. Hulle verander nie volgens die gemoedstemming, denkwyse of motiewe van diegene wat hulle toets of meet nie. Vir die meeste wetenskaplikes is wiggelary dus niks anders as ’n bygeloof nie. Om die waarheid te sê, selfs vooraanstaande wiggelaars het al erken dat geen krag wat aan die wetenskap bekend is vir wiggelary verantwoordelik kan wees nie.

Is dit ’n bedrogspul?

Maar beteken die feit dat daar geen wetenskaplike verduidelik daarvoor is nie dat alle opgetekende gevalle van suksesvolle wiggelary óf ’n merkwaardige toeval, óf ’n volkome bedrogspul is? Wat van die boer se ervaring wat vroeër gemeld is? Was dit blote toeval, ’n uitsonderlike geval?

Die gebied van wiggelary het al inderdaad tallose verhale ter stawing van wiggelary opgelewer. ’n Vrou in Vermont het byvoorbeeld ’n wiggelaar laat kom toe die watervoorsiening na haar huis afgesny is. Blykbaar het ’n lang pyp wat van ’n verafgeleë fontein na die huis loop, begin lek. Die vrou het nie eens geweet waar die pyp lê nie—dit is 30 jaar tevore onder die grond gelê—wat nog te sê waar die gekraakte deel kon wees. Maar die wiggelaar het sy wiggelstok in sy gedagtes geraadpleeg, en dit het oor ’n sekere plek op en af beweeg. Die lekkende stuk pyp is 15 sentimeter daarvandaan gevind.

Die bekendste storie is waarskynlik die een oor die bekende Amerikaanse wiggelaar Henry Gross. Geoloë was daarvan oortuig dat daar geen ondergrondse vars water in Bermuda is nie. The Saturday Evening Post het berig: “Gross het ’n kaart van Bermuda by [die romanskrywer Kenneth] Roberts se huis in Kennebunkport, Maine, oopgesprei en, nadat hy sy wiggelstok daaroor beweeg het, drie plekke aangedui waar daar vars water is . . . Om sy bevindings te bevestig, het Gross en Roberts na Bermuda gevlieg, die regering oorreed om boortoerusting aan hulle te voorsien en aan die werk gespring. Soos Gross voorspel het, het al drie boorgate ’n paar maande later, in April 1950, water gelewer.”

Wiggelaars beweer dat hulle al water vir duisende boorgate opgespoor het. Verslaggewers wat wiggelaars al vergesel het, het gesien hoe die stokke so wild rondruk dat die wiggelaar se hande vol blase was en het gehoor hoe wiggelaars selfs voorspel hoe diep onder die grond die water is. Hulle het al gesien hoe die boorgate gesink word en hoe die voorspellings bewaarheid word. Hoewel die wetenskap nie grondige redes kan voorsien oor waarom hierdie verskynsel werk nie, werk dit beslis—altans soms, vir sommige mense. Waarom?

’n Onthullende geskiedenis

Die geskiedenis van wiggelary onthul in hierdie opsig nogal baie. Die gebruik bestaan heel moontlik al duisende jare lank. Maar toe die 16de-eeuse geneesheer Georgius Agricola sy betekenisvolle werk oor mynbou, De Re Metallica, geskryf het, dat die eerste gedetailleerde beskrywing van wiggelary opgeteken is. Duitse myners het dié metode gebruik om ertsare op te spoor. Maar daar was selfs toe al onenigheid oor die vraag of wiggelary ’n natuurlike of ’n okkulte verskynsel is. Agricola het gesê dat sommige teen die gebruik beswaar maak, aangesien “die takke [wiggelstokke] nie vir almal beweeg nie, maar net vir diegene wat towerspreuke of slimstreke gebruik”. Namate die gebruik van wiggelary deur Europa versprei het, het die onenigheid daarmee saam versprei. Martin Luther het dit veroordeel, en ander kerkleiers het later dieselfde gedoen. Om sulke geestelikes te paai, het sommige wiggelaars hulle stokke laat doop, en hulle het hulle Drie-enige God aangeroep wanneer hulle wiggelary beoefen het.

Vir baie wiggelaars was dit nie genoeg om na water of minerale te soek nie. Hulle het al hoe meer gebruike vir die wiggelstok gevind. In die 17de-eeuse Frankryk het Jacques Aymar wiggelary begin gebruik om misdadigers op te spoor! Blykbaar was hy eendag besig om water te soek toe sy wiggelstok by die graf van ’n vermoorde vrou skielik wild begin rondruk het. Die stok het skielik in die rigting van die vrou se man gewys, wat hom toe vinnig uit die voete gemaak het. Aymar—en baie navolgers—het die wiggelstok gebruik om misdadigers deur die hele Europa op te spoor. Katolieke selote het selfs Aymar en sy wiggelstok se hulp ingeroep om Protestante op te spoor wat volgens hulle vermoor moes word.

Die verband met die okkulte

Dit is glad nie vreemd nie dat daar selfs in Aymar se dag “kenners” was wat gedink het dat hulle sulke verskynsels wetenskaplik kon verklaar. Hulle het bespiegel dat Aymar se wiggelstok geheimsinnige “uitstralings” eie aan moordenaars opgevang het, iets wat hulle “moordmaterie” genoem het. Maar Aymar se wiggelary het ongetwyfeld weinig met die wetenskap te doen gehad. Die mag wat Aymar se wiggelary beheer het, was intelligent. Dit kon misdadigers uitken, ’n Protestant van ’n Katoliek onderskei, asook water en minerale opspoor.

Die vraag ontstaan ook hoe enigiets anders as ’n intelligente mag beheer oor wiggelary op ’n kaart kan hê, waar die stok waterbronne bloot op ’n kaart van ’n verafgeleë plek aanwys. Sommige wiggelaars het al verlore beursies, paspoorte, juweliersware en selfs mense gevind deur wiggelary met ’n swaaiende slinger oor ’n kaart te beoefen. Sommige mense hou die wiggelinstrument dop om te sien of dit ja of nee op vrae antwoord. In die sestigerjare het sommige Amerikaanse seesoldate wiggelstokke in Viëtnam gebruik om tonnels, landmyne en fopmyne op te spoor. Vandag is die wiggelstok ’n baie gewilde instrument van die paranormale. Dit word gebruik om die toekoms te voorspel, om ‘spoke’ te soek en om mense se ‘vorige lewe’ te ondersoek.

Skrywer Ben G. Hester was oorspronklik van mening dat wiggelary bloot ’n “fisiese verskynsel [is] wat nog net nie deur mense verstaan is nie”. Maar nadat hy die onderwerp agt jaar lank ondersoek het, het hy die boek Dowsing—an Exposé of Hidden Occult Forces geskryf. Daarin vereenselwig hy die wiggelstok met sulke dinge soos Ouijaborde. Hy het gevind dat sommige wiggelaars beweer dat hulle die vermoë het om mense met ’n wiggelstok gesond te maak—of om hulle siek te maak! Wiggelaar Robert H. Leftwich het eweneens in sy boek Dowsing—The Ancient Art of Rhabdomancy geskryf: “Die krag waaruit ons put is waarskynlik dié van magte wat . . . in noue verband staan met dié wat in die towerkuns gebruik word. Onverantwoordelike eksperimentering kan dus gevaarlik wees.”

Vir Christene klink die voorafgaande feite maar baie verdag. Wiggelary in gevalle soos dié wat vroeër bespreek is, of dit nou eg of ’n bedrogspul is, is ongetwyfeld nie wetenskaplik nie; dit hou blykbaar met die okkulte verband. Wetenskaplikes Evon Z. Vogt en Ray Hyman het dit in Water Witching U.S.A. soos volg opgesom: “Ons kom derhalwe tot die slotsom dat waterwysing onteenseglik ’n geval van magiese wiggelary is.”

Behoort ’n Christen by wiggelary betrokke te raak?

Dit spreek vanself dat ’n ware Christen niks met waterwysing te doen sal wil hê as dit werklik ’n daad van wiggelary is nie. Soos ons in die Bybel in Deuteronomium 18:10 lees, is God se volk beveel: “Daar mag niemand by jou gevind word . . . wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie.” Die profeet Hosea het die feit betreur dat die Israeliete nie hierdie bevel gehoorsaam het nie deur te skryf: “My volk raadpleeg hulle houtblok, ’n stok beantwoord hulle vrae.”—Hosea 4:12, The Jerusalem Bible.

Maar sommige maak miskien beswaar dat hulle slegs die eenvoudigste vorm van wiggelary beoefen: om water op te spoor. Maar kan ’n mens sê dat waterwysing geen verband met die okkulte het nie? Dit is interessant dat wiggelaryinstrukteurs studente gewoonlik leer om die stok regstreeks te sê waarvoor hulle soek, asof dit ’n intelligente entiteit is. Een wiggelaryinstrukteur sê selfs vir sy studente om die stok ’n naam te gee en dit op daardie naam aan te spreek! Wiggelaars vra hulle wiggelstokke dikwels hoe diep onder die grond die waterbron lê. Die stok begin op en af beweeg en die wiggelaar tel hoeveel keer die stok dit doen. Die uiteindelike syfer is gelykstaande aan hoeveel meter die waterbron onder die grond is! Spreek dit nie van ’n verskuilde intelligensie wat aan die werk is nie?

Waterwysing word boonop geassosieer met ’n ander gebruik—BSW (buitesintuiglike waarneming)—wat al lank deur Jehovah se Getuies vermy word. Die Wagtoring het daardie verbintenis reeds in 1963 uitgewys. Kort daarna het die Amerikaanse wiggelaarsvereniging in ’n brief daarop gereageer: “Ons stem saam met die teorie dat wiggelary ’n vorm van BSW is en dat die beoefening van enige vorm van BSW tot ‘besetenheid’ of betrokkenheid by ‘bose geesmagte’ kan lei, tensy ’n mens goeie voorsorg tref. Ons moet egter beswaar maak teen julle dogmatiese raad om geheel en al daarvan weg te bly.”b

Wat dink jy? Sal ’n Christen nie van so ’n gebruik wil wegbly as selfs die vurigste ondersteuners van waterwysing erken dat die risiko bestaan om met bose geesmagte deurmekaar te raak of selfs besete te raak nie?

‘Maar is wiggelary nie baie nuttig nie?’ vra sommige dalk. ‘Bewys dit nie dat die mag agter wiggelary welwillend is nie?’ Ongelukkig nie. Onthou: “Satan self verander hom in ’n engel van die lig” (2 Korinthiërs 11:14). Selfs in Bybelse tye het demone soms probeer om guns of invloed te verkry deur waarhede te uiter.—Handelinge 16:16-18.

Ons moet toegee dat ons nie dogmaties kan aanvoer dat elke geval van wiggelary (asook BSW) wetenskaplik onverklaarbaar is en beslis deur demone veroorsaak word nie. Daar is ongetwyfeld baie dinge oor die mens se verstand en oor die natuurkragte wat die wetenskap nog nie verstaan nie. En daar is beslis ’n groot aantal gevalle van wiggelary en BSW wat bloot as bedrieëry weggeredeneer kan word. Maar aangesien die geskiedenis en die huidige gebruik van wiggelary so onafskeidbaar met die okkulte, BSW en spiritisme verstrengel is, is dit duidelik dat dit te gevaarlik is om dit as ’n onskuldige toertjie te beskou.

Nee, met betrekking tot wiggelary lyk dit asof die raad om ‘nie aan te raak wat onrein is nie’ steeds gepas is.—2 Korinthiërs 6:17.

[Voetnote]

a Een van hierdie teorieë is in die Ontwaak! van 22 Oktober 1979 bespreek.

b In 1989 het ’n omvattende verslag oor wiggelary in die tydskrif The New Yorker gesê dat selfs die konserwatiewer Amerikaanse wiggelaars vandag—stilswyend—saamstem dat BSW die mag agter wiggelary is.

[Venster op bladsy 15]

Is dit ’n wiggelstok?

BUITEN die mikstok is daar vandag baie soorte wiggelstokke. Sommige wiggelaars gebruik twee metaalstawe wat ’n kruis vorm wanneer dit die verlangde materiaal “opspoor”. Ander gebruik ’n stok wat hulle in die vorm van ’n boog in hulle hande vashou. Ander gebruik draadhangers. En sommige gebruik geen instrument nie; hulle wag eenvoudig op ’n naar gevoel of op ’n prikkelende gevoel in hulle hande. Daar is ook talle hipertegnologiese wiggelstokke op die mark wat handvatsels en ’n kompartement het waarin jy ’n monster kan sit van die materiaal waarvoor jy soek. Daar is natuurlik ook wetenskaplik erkende metaalverklikkers. Hulle het ’n kragbron, soos batterye, nodig en kan dus maklik van wiggelstokke onderskei word.

[Foto-erkenning op bladsy 12]

Woodcut of dowser from Georgius Agricola’s De Re Metallica

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel