Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 6/22 bl. 20-21
  • Die veeldoelige oliepalm

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die veeldoelige oliepalm
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die oliepalm-oes
  • Alles van seep tot wyn
  • Hedendaagse verbeteringe
  • Die oliepalm—’n meerdoelige boom
    Ontwaak!—1999
  • ’n Besoek aan ’n eksotiese tuin
    Ontwaak!—1999
  • “Die mens se nuttigste boom”
    Ontwaak!—1993
  • Floreer geestelik op jou oudag
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2016
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 6/22 bl. 20-21

Die veeldoelige oliepalm

Deur Ontwaak!-medewerker in Nigerië

DIE geluid van die ekwe-tom-tom se maatslag het al hoe harder geword. Hierdie teken het die dorp se gemaklike, traak-my-nieagtige pas verander in die gewoel en gewerskaf van ’n volk wat vreeslik haastig is. Dit was die jaar 1937, en die oliepalm-oes het in Igboland, Oos-Nigerië, begin.

Die dorp se opperhoof het die mense twee dae tevore aangesê om vir die oes te begin voorberei, omdat hy gehoor het dat die ryp vrugte in die wildepalmbosse van die bome begin afval het. Werkers is georganiseer, kapmesse is geslyp en klimtoue is herstel. Hierdie klimtoue—eenvoudige houthoepels wat met toue uitgevoer is—het die gewig van die klimmers gedra terwyl hulle met lang hale teen die boomstamme opgeklim het.

Die oliepalm-oes

Matthew, wat 12 jaar oud was, was gretig om te begin. Hy het reeds met die klimtou geoefen. Die vorige jare het hy die vroue gehelp om die takke wat afgesny is te versamel, maar nou sou sy pa hom toelaat om die kleiner bome te klim. Hy sou betaal word vir elke tros vrugte wat hy afsny. Maar waarin hy die meeste belanggestel het, was die opwinding daarvan om ’n klimmer te wees, iets waarna elke jong seun in die dorp met blydskap uitgesien het.

Toe hy die tom-tom hoor, het Matthew saam met sy pa en die ander klimmers uit die dorp gehardloop. Dit was nie net ’n vrugte-oes nie, maar dit was ’n kompetisie onder die ervare klimmers. Hulle kon met hulle klimvernuf spog deur teen die nege meter hoë stamme op te klouter en dan tot in die kroon—groot, geveerde palmblare wat nog vyf meter by die boom se hoogte gevoeg het—te klim.

Alles van seep tot wyn

‘Waarom’, wonder jy dalk, ‘veroorsaak palmbome al hierdie opwinding?’ Omdat hierdie veeldoelige plant vir die mens so waardevol is. Die palmvrugte wat so groot soos olywe is, is die volgende oggend van die trosse se stingels geskei. Hierdie stingels, wat ryk aan kalium is, is dan verwerk om seep te maak. Hoewel die meeste van die vrugte vir uitvoer verkoop is, is die res daar op die dorp verwerk.

Matthew het dikwels gesien hoe sy ma die vrugte kook om die veselrige, buitenste vrugtevleis, wat die harde neute bedek, sag te maak. Dit het haar in staat gestel om die olie met haar hande uit die sagte vesels te pers. Daarna het sy die neute met klippe gekraak om die pitte in die hande te kry. Sy het die palmpitolie uit hierdie pitte gekry. Die olie is vir kookdoeleindes, as ’n salf en as brandstof vir haar lampe gebruik. En die harde doppe is gebruik om vuur mee te maak.

Matthew kon ook aan ’n nuttige gebruik vir die palmblare dink—dekgras. Hy kon sy vingers oor die mat waarop hy gelê het, trek en wys dat dit ook van palmblare gemaak is. Die blaarstele se vesels is tot toue gevleg en tot mandjies of visfuike geweef. Daarbenewens het palmblaarheinings die groentetuine teen diere beskerm. Jamranke het teen eenvoudige raamwerke gegroei wat van palmblaarstele gemaak is. En besems om die huis mee te vee, is van die nerwe van palmblare gemaak.

Dit is geen wonder dat die oudstes van die dorp die afsny van palmblare streng beheer het nie! As hulle willekeurig afgesny is, sou die bome se vrugbaarheid vernietig word en sou die bome selfs die gevaar loop om dood te gaan. Dit is waarom die wewervoëls so onwelkom was. Hulle het baie bome laat doodgaan omdat hulle die palmblare afgestroop het vir materiaal om hulle neste mee te bou.

Maar selfs palmbome wat omgeval het, het hulle doel gedien. Sampioene het uit die verrottende boomstompe gegroei. Die stompe het ook skuilplek verleen aan die groot larwes van kewers—’n smaaklike en voedsame maal wanneer hulle in palmolie gebraai is. Die sap wat van die manlike blomstingel getap is, kon liters palmwyn lewer. Die sap was ’n verfrissende drankie wanneer dit uit bome wat omgeval het of uit lewende bome getap is. Dit is dikwels gebruik om asyn van te maak, asook kai-kai (ogogoro), ’n sterk alkoholiese drank wat soos jenewer smaak.

Hedendaagse verbeteringe

Sedert 1937 het daar baie veranderinge plaasgevind. Mense wat met verdienstes uit die palmoliebedryf vir hulle onderwys betaal het, het in groter dorpe gaan woon. En die eens vreugdevolle palm-oes behoort tot die verlede.

Uitgebreide plase gebruik nou wetenskaplike metodes om verbeterde variëteite van die palmboom te kweek. Hierdie nuwe soorte palms is meer bestand teen siektes, raak gouer volwasse, lewer ’n hoër opbrengs en dra byna op grondhoogte vrugte. Dit maak die oeswerk baie makliker. Spesiale lang messe en hake word gebruik om die hoër bome af te oes sodat min of geen klimmery nodig is nie. Hoewel die nuwer metodes doeltreffend is, hou hulle maar net nie die bekoring en opwinding van die ou oestyd in nie!

Verwerkingsmetodes het ook verbeter. In die groot verwerkingsplekke kraak swaar masjiene die neute maklik. Die pitafval word dan tot palmpitkoek gemaak—’n belangrike bestanddeel van veevoer. Die verskillende grade van die olies word gebruik in die vervaardiging van eetgoed (soos margarien, lekkergoed en roomys) en oneetbare artikels (soos skoonmaakmiddels, kerse, parfuum, skoonheidsmiddels en selfs masjiensmeermiddels). Die asynsuur van die verouderde palmwyn het boonop as stremmiddel ’n plek in die rubberbedryf gevind.

Matthew het al hierdie verbeteringe verwelkom wat plaasgevind het sedert hy dekades gelede ’n jong seun in Igboland was. Hy het intussen nog iets omtrent die palmboom te wete gekom. Hy het uit sy Bybelstudie met Jehovah se Getuies geleer dat God lank gelede gesê het: “Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra” (Genesis 1:11). Omdat Matthew weet hoe die palmboom ontstaan het, kan hy nou meer doen as om hierdie aantreklike boom te bewonder en te waardeer. Hy kan die Skepper van die veeldoelige oliepalm, Jehovah God, loof.

[Prent op bladsy 20]

Een van die bome word geoes

[Erkenning]

Peter Buckley/Photo Researchers

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel