Vroue—Word hulle vandag gerespekteer?
IS SO ’n vraag dan werklik nodig?, vra sommige verbaasde mans dalk. Maar wanneer ons ondersoek instel na hoe vroue deur die geskiedenis heen behandel is, asook hoe hulle deesdae wêreldwyd behandel word, gee ’n paar eenvoudige vrae ons ’n aanduiding van wat die antwoord is.
Wie is, met betrekking tot menseverhoudings, hoofsaaklik die slagoffers en wie die onderdrukkers? Watter een van die huweliksmaats word veral mishandel? Mans of vrouens? Wie word in tye van vrede en in tye van oorlog verkrag? Wie is tydens hulle kinderjare die vernaamste slagoffers van seksuele misbruik? Seuns of meisies? Wie is al dikwels deur mensgemaakte verordeninge as tweederangse burgers geklassifiseer? Wie is al stemreg geweier? Wie het al beperkte geleenthede met betrekking tot geleerdheid gehad? Mans of vroue?
Daar is baie vrae wat ’n mens nog kan vra, maar die feite spreek vanself. Elisabeth Bumiller skryf die volgende in haar boek May You Be the Mother of a Hundred Sons wat op haar ervarings in Indië gebaseer is: “Die ‘tipiese’ Indiese vrou, wat ongeveer 75 persent van die vierhonderdmiljoen vroue en meisies in Indië verteenwoordig, woon in ’n plattelandse dorpie. . . . Sy kan nie lees of skryf nie, hoewel sy graag sal wil, en was nog selde verder as [30 kilometer] van haar geboorteplek af.” Hierdie ongelykheid met betrekking tot geleerdheid is ’n probleem wat nie net in Indië nie, maar wêreldwyd aangetref word.
In Japan, soos in baie ander lande, bestaan daar steeds ongelykheid. Volgens The Asahi Yearbook vir 1991 is daar 1460 000 manlike studente teenoor net 600 000 vroulike studente wat die universiteitskursusse van vier jaar volg. Vroue deur die hele wêreld heen kan ongetwyfeld getuig van hulle beperkte geleenthede wat geleerdheid betref. ‘Geleerdheid is vir seuns’, is die gesindheid waarmee hulle te kampe het.
Susan Faludi vra in haar onlangse boek Backlash—The Undeclared War Against American Women ’n paar pertinente vrae oor die status van vroue in die Verenigde State. “Waarom verteenwoordig Amerikaanse vroue twee derdes van alle arm volwassenes as hulle dan veronderstel is om gelykheid te hê? . . . Waarom is hulle kanse steeds groter as dié van mans om swak behuising te hê en geen siekteversekering te ontvang nie, en waarom is hulle kanse twee keer so groot om nie pensioen te kry nie?”
Dit is oorwegend vroue wat nog die meeste gely het. Dit is hoofsaaklik hulle wat deur mans verneder, beledig, seksueel geteister en sonder respek behandel is. Hierdie mishandeling vind hoegenaamd nie net in die sogenoemde ontwikkelende lande plaas nie. Die Geregtelike Komitee van die Amerikaanse Senaat het onlangs ’n verslag oor geweld teen vroue saamgestel. Dit het ’n paar skokkende feite aan die lig gebring. “Elke 6 minute word ’n vrou verkrag; elke 15 sekondes word ’n vrou geslaan. . . . Geen vrou in hierdie land is veilig teen gewelddadige misdaad nie. Drie uit vier Amerikaanse vroue wat vandag lewe sal die slagoffer van ten minste een gewelddadige misdaad word.” In een jaar is tussen drie- en viermiljoen vrouens deur hulle mans mishandel. Dit was hierdie betreurenswaardige situasie wat gelei het tot die instelling van die Wet op Geweld Teen Vroue van 1990.—Senaatsverslag: The Violence Against Women Act of 1990.
Kom ons ondersoek sommige van die situasies waarin vroue wêreldwyd ’n gebrek aan respek van mans verduur. Dan sal ons in die laaste twee artikels in hierdie reeks bespreek hoe wedersydse respek deur mans en vroue op alle lewensterreine betoon kan word.