Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 7/8 bl. 4-9
  • Vroue—Word hulle tuis gerespekteer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vroue—Word hulle tuis gerespekteer?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer die keuse seuns of dogters is
  • ’n Vrou se werk is nooit gedaan nie
  • ’n Gebrek aan respek —’n wêreldwye probleem
  • Vroue—Word hulle vandag gerespekteer?
    Ontwaak!—1992
  • Respek vir vroue in die daaglikse lewe
    Ontwaak!—1992
  • Geweld teen vroue—’n wêreldwye probleem
    Ontwaak!—2008
  • Waarom slaan mans aan vroue?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 7/8 bl. 4-9

Vroue—Word hulle tuis gerespekteer?

“Die vroue het die een na die ander grusaam gesterf. . . . En hoewel hulle op verskillende maniere gesterf het, was die onderliggende omstandighede dieselfde: Die polisie in Quebec [Kanada] sê dat al die vroue deur ’n gewese of ’n huidige eggenoot of kêrel vermoor is. Altesaam 21 vroue is hierdie jaar [1990] reeds in Quebec vermoor, slagoffers van ’n golf van huweliksgeweld.”—Maclean’s, 22 Oktober 1990.

GEWELD in die huis, wat deur sommige “die skadusy van gesinslewe” genoem word, lei tot ontwrigte gesinne en veroorsaak dat kinders ’n verwronge beskouing het van wat huweliksverhoudinge behoort te wees. Kinders se lojaliteit teenoor hulle ouers word verdeel wanneer hulle probeer verstaan waarom pa vir ma slaan. (Minder dikwels vra hulle waarom ma so wreed teenoor pa optree.) Die gevolge van geweld in die huis is dikwels dat die seuns uiteindelik ook hulle vrou slaan. Die indruk wat hulle vader op hulle gemaak het, laat hulle met ernstige sielkundige sowel as persoonlikheidsprobleme.

Die VN se publikasie The World’s Women—1970-1990 sê: “Daar word gemeen dat die aanvalle van mans op vroue tuis die misdaad is wat die minste gerapporteer word—deels omdat sulke geweld as ’n maatskaplike euwel beskou word en nie as ’n misdaad nie.”

Hoe erg is die mishandeling van huweliksmaats in die Verenigde State? Die Senaatsverslag waaruit daar in die vorige artikel aangehaal is, sê: “Die term ‘geweld in die huis’ klink dalk nie so erg nie, maar die gedrag wat daarmee gepaardgaan, is alles behalwe vriendelik. Statistieke skilder ’n ontstellende prentjie van presies hoe ernstig—trouens, selfs dodelik—die mishandeling van huweliksmaats kan wees. Tussen 2000 en 4000 vroue sterf jaarliks weens mishandeling. . . . Die mishandeling van huweliksmaats is, in teenstelling met ander misdade, ‘chroniese’ geweld. Dit is voortdurende intimidasie en herhaaldelike fisiese besering.”

Die tydskrif World Health sê: “Geweld teen vroue kom in elke land en in elke sosiale en ekonomiese klas voor. In baie kulture word dit as ’n man se reg beskou om sy vrou te slaan. Die herhaaldelike slanery en verkragting van vroue en meisies word alte dikwels as ‘private sake’ beskou wat ander—hetsy dit die regsowerheid of gesondheidswerkers is—nie aangaan nie.” Hierdie geweld tuis kan maklik na die skoolomgewing toe versprei.

Dit word toegelig deur wat in Julie 1991 by ’n gemengde kosskool vir seuns en meisies in Kenia plaasgevind het. The New York Times het berig dat “71 tienderjarige skoolmeisies deur skoolseuns verkrag is en dat 19 ander gesterf het gedurende ’n nag van slaapsaalgeweld, wat volgens berigte . . . voortgeduur het sonder dat die plaaslike polisie of onderwysers dit probeer keer het”. Watter verduideliking was daar vir hierdie waansinnige seksuele geweld? “Hierdie tragedie het die verfoeilike manlike chauvinisme beklemtoon wat in die gemeenskapslewe in Kenia aan die orde van die dag is”, het Hilary Ng’Weno, die hoofredakteur van The Weekly Review, die gewildste tydskrif in Kenia, geskryf. “Die lot van ons vroue en meisies is betreurenswaardig. . . . Ons maak ons seuns groot met min of geen respek vir meisies nie.”

Daarin lê die kern van die probleem wêreldwyd—seuns word dikwels grootgemaak met die beskouing dat meisies en vroue minderwaardige skepsele is wat uitgebuit kan word. Die beskouing is dat vroue swak is en maklik gedomineer kan word. Van daar af is dit net ’n kort treetjie na oneerbiedigheid teenoor die vrou en volslae manlike chauvinisme en net so ’n kort treetjie na verkragting deur ’n bekende of verkragting tydens ’n afspraak. En wat verkragting betref, moet ’n mens onthou dat “’n aanval binne oomblikke verby kan wees, maar dat die uitwerking daarvan ’n leeftyd kan duur”.—Senaatsverslag.

Hoewel baie mans nie noodwendig fisies gewelddadig teenoor vroue is nie, kan hulle beskryf word as subliminale misoginiste, of vrouehaters. In plaas van fisiese geweld gebruik hulle sielkundige mishandeling of geweld. Dr. Susan Forward sê in haar boek Men Who Hate Women & the Women Who Love Them: “Soos hulle huweliksmaats hulle beskryf het, was [hierdie mans] dikwels sjarmant en selfs liefdevol, maar hulle kon in ’n oogwink wreed, krities en beledigend raak. Hulle gedrag het ’n wye spektrum gedek, van openlike intimidasie en dreigemente tot subtieler, bedekte aanvalle in die vorm van voortdurende afjakke of vernietigende kritiek. Watter vorm dit ook al aangeneem het, die gevolge was dieselfde. Die man het beheer verkry deur die vrou sielkundig te vertrap. Hierdie mans het ook geweier om enige verantwoordelikheid te aanvaar vir hoe hulle aanvalle hulle huweliksmaat laat voel het.”

Jasoeko,a ’n fyn Japannese vroutjie wat 15 jaar getroud is, het Ontwaak! van haar gesin se ervaring vertel: “My pa het my ma gereeld geslaan en mishandel. Hy het haar geskop en met die vuis geslaan, haar aan haar hare rondgesleep en haar selfs met klippe bestook. En weet jy waarom? Omdat sy dit gewaag het om beswaar te maak teen sy ontrouheid met ’n ander vrou. Jy sien, in die Japannese kultuur is dit as heeltemal normaal beskou vir sommige mans om ’n minnares te hê. My ma was haar tyd vooruit en het geweier om dit te aanvaar. Sy het ná 16 jaar se getroude lewe en vier kinders ’n egskeiding verkry. My pa het haar geen onderhoudstoelae vir die kinders gegee nie.”

Maar selfs wanneer vroueslanery al aan die owerheid gerapporteer is, het dit dikwels nie ’n wraaksugtige man daarvan weerhou om sy vrou te vermoor nie. In baie gevalle kon die wet, in lande soos die Verenigde State, nie ’n bedreigde en geterroriseerde huweliksmaat beskerm nie. “Een studie het getoon dat die polisie in meer as die helfte van al die gevalle waar mans hulle vrou vermoor het vyf keer gedurende die vorige jaar na die huis ontbied is om ondersoek in te stel na ’n klag van geweld in die huis” (Senaatsverslag). In sommige uiterste gevalle het die vrou haar man vermoor sodat sy nie verder mishandel sou word nie.

Geweld in die huis, waarin die vrou gewoonlik die slagoffer is, word op baie verskillende maniere gepleeg. In Indië het die gerapporteerde getal sogenoemde bruidskatsterftes (mans wat hulle vrou vermoor omdat hulle nie tevrede is met die bruidskat wat deur die vrou se gesin betaal word nie) van 2209 in 1988 tot 4835 in 1990 gestyg. Maar aangesien hulle baie van hierdie sterftes soos huishoudelike ongelukke laat lyk—gewoonlik deur opsetlik ’n brand te stig met paraffien wat vir kookdoeleindes gebruik word—kan hierdie syfers nie as volledig of akkuraat beskou word nie. Hierby moet ’n mens nog die selfmoord van vrouens voeg wat nie meer met die ellende tuis kan saamleef nie.

Wanneer die keuse seuns of dogters is

Daar word van geboorte af en selfs voor geboorte teen vroue gediskrimineer. Hoe so? Ontwaak! het ’n onderhoud gevoer met Madhu van Bombaai, Indië, vir een van die antwoorde: “Dit is ’n vreugdevolle geleentheid wanneer ’n seun in ’n Indiese gesin gebore word. Die moeder se probleme is verby. Nou het die ouers ’n seun wat na hulle kan omsien wanneer hulle oud word. Hulle ‘bestaansbeveiliging’ is gewaarborg. Maar as sy aan ’n dogter geboorte gee, word sy as ’n mislukkeling beskou. Dit is asof sy maar net nog ’n las in die wêreld ingebring het. Die ouers sal ’n aansienlike bruidskat moet voorsien sodat iemand met haar sal wil trou. En as ’n moeder net aan dogters geboorte gee, dan is sy nutteloos.”b

Die tydskrif Indian Express het oor meisies in Indië berig: “Hulle voortbestaan word nie as werklik belangrik vir die voortbestaan van die gesin beskou nie.” Dieselfde bron maak melding van ’n opname in Bombaai wat “getoon het dat 7999 uit 8000 fetusse wat ná geslagsbepalingstoetse afgedryf is vroulik was”.

Elisabeth Bumiller skryf: “Die toestand waarin sommige Indiese vroue hulle bevind, is so ellendig dat menseregtegroepe iets omtrent hulle saak sou gedoen het as hulle situasie die aandag gekry het wat aan etniese en rasseminderheidsgroepe in ander wêrelddele gegee word.”—May You Be the Mother of a Hundred Sons.

’n Vrou se werk is nooit gedaan nie

Daar word dikwels gesê dat ’n vrou se werk nooit gedaan is nie. Maar dit is ’n waarheid wat mans dikwels oor die hoof sien. ’n Vrou met kinders het nie die luukse van ’n vasgestelde werkrooster, van nege tot vyf, wat mans dikwels het nie. Wie is die een wat heel waarskynlik sal opstaan as ’n baba snags huil? Wie maak huis skoon, was en stryk? Wie berei en bedien die maaltye wanneer die man tuiskom van die werk af? Wie was ná die maaltye op en maak dan die kinders gereed om te gaan slaap? En van wie word daar in baie lande verwag om, benewens al hierdie dinge, water aan te dra en selfs in die landerye te werk met ’n baba op haar rug? Gewoonlik die moeder. Haar rooster bestaan nie net uit 8 of 9 uur per dag nie; dit is dikwels 12 tot 14 of meer. Maar sy word nie vir oortyd betaal nie—en word alte dikwels ook glad nie bedank nie!

Volgens die tydskrif World Health word daar in Ethiopië van baie “vroue verwag om 16 tot 18 uur per dag te werk, [en] hulle inkomste is so laag dat hulle hulleself en hulle gesinne nie kan onderhou nie. . . . Honger is ’n alledaagse verskynsel; in die meeste gevalle kry hulle [die vroue wat hout moet soek en aandra] net een onvoldoende maaltyd per dag en verlaat gewoonlik hulle huis sonder ontbyt.”

Sioe, wat oorspronklik van Hongkong af kom en nou reeds 20 jaar getroud is, het gesê: “In die Chinese samelewing was mans nog altyd geneig om vroue te verkleineer en hulle aan die een kant net as goed genoeg te beskou om bediendes te wees en kinders voort te bring of hulle aan die ander kant te verafgod of as speelpoppe of seksvoorwerpe te beskou. Maar wat ons as vroue in werklikheid wil hê, is om as intelligente skepsele behandel te word. Ons wil hê mans moet na ons luister wanneer ons praat en nie net maak asof ons domkoppe is nie!”

Dit is geen wonder nie dat die boek Men and Women sê: “Mans se bedrywighede word oral, selfs wanneer vroue ’n hoë aansien het, van groter waarde as dié van vroue beskou. Dit maak geensins saak watter rol of werk ’n man of ’n vrou in ’n gemeenskap het nie; die mans s’n word uiteraard in die oë van die hele gemeenskap as belangriker beskou.”

Die waarheid is dat die vrou se rol in die huis gewoonlik as vanselfsprekend aanvaar word. Daarom sê die voorwoord van The World’s Women—1970-1990: “Vrouens se lewensomstandighede—en hulle bydraes tot die gesin, die ekonomie en die huishouding—word oor die algemeen nie raakgesien nie. Baie statistieke word só omskryf dat dit mans se omstandighede en bydraes, en nie vrouens s’n nie, uitbeeld of geslag eenvoudig ignoreer. . . . Daar word steeds geen ekonomiese waarde geheg aan baie van die werk wat vroue doen nie—en die waarde daarvan word nie eers bepaal nie.”

In 1934 het die Noord-Amerikaanse skrywer Gerald W. Johnson menings oor vroue in die werkplek uitgespreek: “’n Vrou kry dikwels ’n man se werk, maar selde ’n man se salaris. Dit is omdat dit ondenkbaar is dat daar enige vorm van daaglikse werk is wat nie beter deur ’n man as deur enige vrou gedoen kan word nie. Die beste kleremakers en hoedemakers is mans . . . Die beste kokke is sonder uitsondering mans. . . . Dit is tans ’n feit dat enige werkgewer gewillig is om ’n man vir dieselfde werk meer te betaal as ’n vrou omdat hy rede het om te glo dat ’n man die werk beter sal doen.” Daardie kommentaar, hoewel dit moontlik grappenderwys gesê is, het die partydigheid van daardie tyd weerspieël, en dit is hoe baie mans steeds voel.

’n Gebrek aan respek —’n wêreldwye probleem

Elke kultuur het sy gesindhede, vooroordele en partydighede met betrekking tot die rol van vroue in die gemeenskap ontwikkel. Maar die vraag wat beantwoord moet word, is: Toon hierdie gesindhede die nodige respek vir die waardigheid van vroue? Of weerspieël hulle eerder die man se oorheersing deur die eeue heen vanweë die feit dat hy gewoonlik fisies sterker is? Waar is die respek vir vroue se waardigheid dan as hulle behandel word soos slawe of voorwerpe wat uitgebuit kan word? Die meeste kulture het die vrou se rol, asook haar eiewaarde, in meerdere of mindere mate ondermyn.

Een van baie voorbeelde wêreldwyd kom uit Afrika: “Joroeba-vrouens [Nigerië] moet in die teenwoordigheid van hulle mans maak asof hulle onkundig en bedees is, en wanneer hulle maaltye bedien, moet hulle by hulle mans se voete kniel” (Men and Women). In ander wêrelddele kan hierdie onderdanigheid op verskillende maniere getoon word—’n vrou wat ’n sekere afstand agter haar man moet loop of moet loop terwyl hy op ’n perd of ’n muil ry of swaar vragte moet dra terwyl die man niks dra nie of apart moet eet, ensovoorts.

Edwin Reischauer, wat in Japan gebore is en daar grootgeword het, het in sy boek The Japanese geskryf: “Gesindhede van manlike chauvinisme is baie duidelik in Japan te sien. . . . ’n Dubbele standaard met betrekking tot geslagsomgang, waarvolgens die man vry en die vrou beperk is, is nog algemeen. . . . Daar word bowendien nie soveel van mans verwag om getrou te wees as van getroude vrouens nie.”

In Japan, soos in baie lande, is seksuele teistering ook ’n probleem, veral gedurende die spitsuur op die stampvol moltreine. Jasoeko, van Hino-stad, ’n voorstad van Tokio, het aan Ontwaak! gesê: “Toe ek jonk was, het ek daagliks per trein na Tokio gereis. Ek het so verleë gevoel omdat sommige mans die situasie uitgebuit het en jou geknyp en bevoel het net waar hulle kon. Wat kon ons as vroue daaromtrent doen? Ons moes dit eenvoudig verduur. Maar dit was vernederend. In die oggendspitsuur was daar ’n aparte wa vir vroue, en sommige het dus nie nodig gehad om die vernederende behandeling te verduur nie.”

Sue, wat voorheen in Japan gewoon het, het haar eie manier gehad om hierdie attensies stop te sit. Sy het hard gesê: “Fuzakenai de kudasai!”, wat beteken: “Hou op met jou stuitigheid!” Sy sê: “Dit het onmiddellike aandag en reaksie uitgelok. Niemand wou voor al die ander verneder word nie. Skielik het nie ’n enkele man aan my geraak nie!”

’n Gebrek aan respek vir vrouens in die huishouding is klaarblyklik ’n wêreldwye probleem. Maar wat van die rol van vroue in die werkplek? Kry hulle meer respek en erkenning daar?

[Voetnote]

a Diegene met wie onderhoude gevoer is, het gevra dat hulle anoniem bly. Die name in al hierdie artikels is verander.

b Mans neem feitlik altyd aan dat dit die vrou se skuld is dat hulle dogters het. Hulle dink nie eers aan die wet van genetika nie. (Sien venster, hierdie bladsy.)

[Venster op bladsy 6]

Hoe word ’n kind se geslag bepaal?

“Die geslag van die ongebore baba word bepaal die oomblik wanneer bevrugting plaasvind, en dit is die vader se saadsel wat die bepalende faktor is. Elke ovum, of eiersel, wat deur ’n vrou voortgebring word, is vroulik in die opsig dat dit ’n X-, of ’n vroulike, geslagschromosoom bevat. In die geval van ’n man bevat slegs die helfte van die saadselle ’n X-chromosoom, terwyl die ander helfte ’n Y-chromosoom bevat, wat die manlike geslagschromosoom is.” As twee X-chromosome dus saamsmelt, sal die baba ’n dogtertjie wees; as ’n manlike Y-chromosoom met ’n vroulike X-chromosoom saamsmelt, sal die baba ’n seuntjie wees. Die chromosoomfaktor in die man se sperma bepaal dus of ’n vrou seuns of dogters gaan hê (ABC’s of the Human Body, ’n publikasie van Reader’s Digest). Dit is onlogies dat ’n man sy vrou blameer omdat sy net dogters baar. Niemand moet geblameer word nie. Dit is bloot die lotery van voortplanting.

[Venster op bladsy 8]

’n Geweldige tragedie

Elizabeth Fox-Genovese het in haar boek Feminism Without Illusions geskryf: “Daar is goeie rede om te glo dat baie mans . . . al hoe meer in die versoeking kom om [hulle] krag in die één situasie te gebruik waarin dit hulle nog duidelik die oorhand gee—hulle persoonlike verhouding met vroue. As my vermoede reg is, dan het ons met ’n geweldige tragedie te doen.” En daardie geweldige tragedie sluit die miljoene vroue in wat daagliks ly onder ’n eggenoot, ’n vader of enige ander man wat hulle mishandel—’n man wat nie “aan die vereistes van billikheid en regverdigheid voldoen” nie.

“Dit is in dertig state [van die Verenigde State] steeds oor die algemeen wettig vir mans om hulle vrou te verkrag; en slegs tien state het wette wat inhegtenisneming vir geweld in die huis magtig . . . Vrouens wat geen ander keuse het as om te vlug nie, vind dat dit ook nie juis ’n alternatief is nie. . . . Een derde van die 1 miljoen geslane vrouens wat elke jaar noodgedwonge ’n toevlug soek, vind nie een nie.”—Inleiding tot Backlash—The Undeclared War Against American Women, deur Susan Faludi.

[Prent]

Geweld in die huis is vir miljoene die skadusy van gesinslewe

[Prent op bladsy 7]

Honderdmiljoene leef sonder lopende water, rioolverwydering of elektrisiteit in hulle woonplekke—ás hulle ’n woonplek het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel