Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 7/22 bl. 10-13
  • Radioaktiwiteit—Hoe word jy daardeur bedreig?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Radioaktiwiteit—Hoe word jy daardeur bedreig?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Kragtige verskynsel
  • Hoe straling skade aanrig
  • Hoe ons dit kry
  • Gevaar—radon!
  • Hoe groot is die gevaar?
  • Voorsorgmaatreëls wat jy kan tref
  • Radon—’n Gevaar in jou huis?
    Ontwaak!—1991
  • Radioaktiewe neerslag wek kommer
    Ontwaak!—2001
  • ’n Eksperimentele fisikus verduidelik waarom hy aan God glo
    Ontwaak!—2014
  • Kernafval—die dodelike vullis
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 7/22 bl. 10-13

Radioaktiwiteit—Hoe word jy daardeur bedreig?

Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje

“RADIOAKTIEF!” Waaraan dink jy wanneer jy daardie woord hoor? Die omgewingskomitee van die Britse Laerhuis sê dat straling vir die meeste mense “onverklaarbaar, onsigbaar, onaantasbaar en byna ’n geheimsinnige euwel” is. Beskou jy dit ook so?

Slegs ’n eeu gelede was radioaktiwiteit iets onbekends. Vandag word radioaktiewe stowwe op so ’n groot skaal gebruik dat ’n mens dikwels die kenmerkende waarskuwingsimbool in hospitale, op vragmotors wat radioaktiewe stowwe vervoer, in fabrieke sowel as by kernaanlegte sien. Radioaktiewe stowwe speel ’n belangrike rol in die hedendaagse samelewing.

Daarenteen het die kernbomontploffings aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog by Hirosjima en Nagasaki reusedosisse kernstraling vrygestel en ongeëwenaarde verwoesting gesaai. Meer onlangs het die ongelukke by die kernkragstasies by Three Mile Island (VSA), Tsjernobil (die Oekraïne) en die een naby St. Petersburg (Rusland) mense se vrees vir radioaktiwiteit laat toeneem.

Maar wat is radioaktiwiteit? Hoe word jy daardeur bedreig?

’n Kragtige verskynsel

Alle stoflike dinge bestaan uit atome, en die meeste atome is stabiel. Die uitsonderings, wat onstabiele kerne bevat, word “radioaktief” genoem. Uraan is die bekendste onder hulle. Om stabiel te kan word, verander die onstabiele kern en word daar gevolglik straling in die vorm van klein deeltjies en strale vrygestel. Uraan verander dan op hierdie manier in ’n reeks ander elemente en verander uiteindelik in die stabiele element lood.

Alle straling kan deur stowwe dring, maar in verskillende grade. Die swaarste deeltjies (alfastrale) beweeg gewoonlik minder as vyf sentimeter deur die lug. ’n Mens se klere of die bolaag van jou vel keer hulle. Die klein elektrone waaruit betastrale bestaan, beweeg ’n paar meter deur die lug, maar ’n dun aluminium- of glasplaat keer dat hulle verder beweeg. ’n Derde soort, gammastrale, is baie deurdringender. Dik lood- of betonversperrings kan ons teen hierdie soort straling beskerm. As ons nie beskerming het nie, verkeer ons in gevaar. Hoe?

Hoe straling skade aanrig

Wanneer die voorgemelde soorte straling die menseliggaam binnedring, veroorsaak dit veranderinge in sommige van die atome in die selle waardeur dit beweeg. Dit kan chemiese veranderinge veroorsaak wat die selle kan beskadig of selfs kan vernietig. Die algehele uitwerking op die liggaam hang af van hoe groot die skade is en hoeveel selle vernietig is. As die skade in die DNS-molekules in die chromosome plaasvind, kan die gevolge veral ernstig wees omdat die chromosome die normale ontwikkeling en funksie van die selle beheer. Wetenskaplikes glo dat hierdie skade met kanker verband hou.

As ’n mens oor ’n kort tydperk aan groot hoeveelhede straling blootgestel word, kan dit beenweefsel en bloedselle beskadig, wat stralingsiekte en die dood tot gevolg het. In September 1987 het die Brasiliaanse dorp Goiânia ’n tragedie aanskou wat dr. Gerald Hansen van die Wêreldgesondheidsorganisasie volgens berig beskryf het as “die ergste [kern]ongeluk in die westelike halfrond, wat net deur Tsjernobil oortref word”. ’n Handelaar in afvalmetaal het hoogs radioaktiewe sesiumpoeier van ’n ou radioterapiemasjien gehanteer. Hy en ander in die onmiddellike omgewing het ’n massiewe dosis straling geabsorbeer. Mense het die ergste gevrees toe die liggame van die eerste slagoffers wat gesterf het in loodkiste geplaas en in grafte begrawe is wat met beton uitgevoer is. Volgens The Times van Londen sou die oorlewendes wat groot dosisse straling geabsorbeer het “heel waarskynlik kanker kry of steriel wees”.

Kleiner stralingsdosisse wat oor ’n tydperk versprei is, lei ook tot ’n effens groter risiko om kanker op te doen. Die menseliggaam kan soms met welslae die selle herstel wat deur straling beskadig is. Maar wanneer die herstel nie heeltemal suksesvol is nie, kan kanker ontwikkel. In teenstelling hiermee word radioaktiwiteit in radioterapie gebruik om kankeragtige selle op te spoor en te vernietig.

Hoe ons dit kry

Ná die Tsjernobil-ramp in 1986 het verskeie regerings ’n verbod op sekere voedselsoorte ingestel wat hulle as erg besmet beskou het. In Swede is daar byvoorbeeld ’n verbod ingestel op die eet van rendiervleis wat ’n hoë vlak van radioaktiewe sesium bevat het. Toe straling bo die voorgeskrewe veiligheidsperk ontdek is in skaapkuddes wat in 1987 geteel is, is verbooie eweneens weer ingestel op die bemarking van lammers wat van baie plase in Wallis en Skotland afkomstig was.

Hoewel die publiek begryplikerwys kommer uitspreek oor die bedreiging wat besmette voedsel en radioaktiewe afvalstowwe inhou, is hulle selde, indien ooit, bekommerd oor radioaktiewe geneesmiddels en x-strale. Tog kom 12 persent van ons totale jaarlikse stralingsdosis daarvandaan. Verreweg die grootste hoeveelheid van die straling waaraan ons blootgestel word, kom van natuurlike bronne af. Kosmiese strale uit die ruimte verskaf 14 persent daarvan.a Terwyl ons eet en drink, neem ons nog 17 persent in. Selfs die aarde se natuurlike radioaktiewe rotse en grond dra ’n aansienlike hoeveelheid by, naamlik 19 persent. Waar kom die res dan vandaan?

Gevaar—radon!

‘Op die grens van Dartmoor in die suidweste van Engeland lê die dorpie Chagford. In een van sy geboue, wat as ’n gesondheidsentrum gebruik word, is daar ’n vertrek wat al die wêreld se radioaktiefste waskamer genoem is. As jy hierdie kamer vier maal per dag 15 minute lank sou besoek, sou jy blootgestel word aan meer as die aanbevole jaarlikse nasionale vlak van ’n radioaktiewe gas radon, wat naas rokery waarskynlik die grootste enkele oorsaak van kanker in Brittanje is.’—New Scientist, 5 Februarie 1987.

Hoewel daardie verslag dalk opspraakwekkend is, kom gemiddeld ongeveer ’n derde tot die helfte van ons jaarlikse stralingsdosis van radon en sy verwante radioaktiewe gas radon-220 af. As ’n gas is radon ietwat van ’n uitsondering in die radioaktiewe vervalproses wat met uraan begin. Radon wel op deur splete in die rotsbodem, sypel deur die fondament tot in die huis en besmet die lug met radioaktiwiteit.

Studies wat deur Brittanje se Nasionale Raad vir Radiologiese Beskerming gedoen is, het op gebiede afgekom waar die lug met soveel radon besmet is dat dit “nie binne-in ’n kernkragstasie toegelaat sal word nie”, berig die tydskrif New Scientist. Trouens, die raad skat dat daar 20 000 huise in Brittanje is waarin die radioaktiwiteitsvlak tien keer hoër as die normale jaarlikse stralingsdosis is. Aangesien talle moderne huise lugdig is, word die radioaktiewe gasse binne-in die huise vasgevang, en dit veroorsaak ’n toename in die voorkomssyfer van longkanker.

Hoewel die risiko’s dalk gering is, is hulle nie niksbeduidend nie. Volgens huidige skattings doen ongeveer 2500 mense in Brittanje jaarliks longkanker op as gevolg van die radioaktiwiteit van radon. In die Verenigde State, waar ’n opname in tien state aan die lig gebring het dat ’n vyfde van alle huise ’n onveilige radonvlak het, word daar geskat dat tussen 2000 en 20 000 sterftes per jaar toegeskryf kan word aan longkanker wat deur die gas veroorsaak word. Navorsers in Swede berig dat die radioaktiwiteitsvlak in sommige huise daar volgens skatting vier keer hoër as dié in Brittanje is omdat radongas in gruis vasgevang word.

Hoe groot is die gevaar?

“Sover enigiemand weet”, sê The Economist, “kan ’n enkele [gamma]straal kanker veroorsaak, en hoe meer strale deur jou liggaam gaan, hoe groter is die kanse dat een van hulle skade sal aanrig.” Maar dit voeg ’n gerusstellende gedagte by: “Die kanse is baie gering dat één dit sal doen.”

Volgens die IKRB (Internasionale Kommissie vir Radiologiese Beskerming) is die kanse een uit 80 000 dat iemand ’n dodelike kanker sal ontwikkel as gevolg van blootstelling aan een millisievert (benewens die dosisse uit natuurlike bronne).b Die IKRB raai dus aan dat “geen gebruik waartydens mense aan radioaktiwiteit blootgestel word, aangeneem moet word tensy dit op die duur voordelig sal wees nie”. Hulle doen ook aan die hand dat “alle blootstellings so laag gehou moet word as wat redelikerwys moontlik is terwyl ekonomiese en sosiale faktore in ag geneem word”.

Die United Kingdom Atomic Energy Authority meen dat die kanse om kanker wat deur straling veroorsaak word van so ’n dosis op te doen selfs kleiner kan wees. Aan die ander kant meen omgewingsdrukgroepe wat deur ’n aantal navorsers gesteun word dat aanbevole veiligheidsvlakke verlaag moet word. Een groep stel voor dat die IKRB se riglyn verander moet word sodat dit lui dat alle blootstellings “so laag as wat tegnies moontlik is”, gehou moet word.

Is daar intussen enigiets wat jy kan doen om jou teen die stralingsbedreiging te beskerm? Ja, daar is beslis.

Voorsorgmaatreëls wat jy kan tref

Net soos jy voorsorgmaatreëls kan tref om jou teen te veel blootstelling aan die son te beskerm en sodoende velkanker te vermy, kan jy voorsorgmaatreëls tref om jou teen die gevare van radioaktiwiteit te beskerm. Let dus op na die waarskuwings en slaan daarop ag.

As jy in ’n gebied woon waar daar rotse is wat radon afgee, kan jy moontlik ventilasie vir die fondament van jou huis laat aanbring wat sal help keer dat ’n gevaarlike hoeveelheid gas in die huis opbou. Wanneer mediese ondersoeke voorgeskryf word waarin radioaktiewe stowwe of x-strale gebruik word, vra jou dokter hoe nodig dit is. Miskien kan hy ’n alternatief voorstel wat minder gevaar inhou. En wanneer jy die waarskuwingsimbool vir radioaktiwiteit sien, moet jy genoegsame voorsorgmaatreëls tref om die veiligheidsprosedures te volg wat vir die gebied uiteengesit is.

Radioaktiwiteit is nou wel onsigbaar en onaantasbaar. Maar wanneer radioaktiwiteit beheer word, is die gevaar minder. Onder volmaakte toestande sal dit nie meer ’n bedreiging wees nie.

[Voetnote]

a Kosmiese straling verskil van die kernstraling wat deur radioaktiewe stowwe uitgestraal word.

b Die sievert is ’n maateenheid vir die hoeveelheid energie wat straling aan die liggaamsweefsels oordra. Een millisievert (mSv) is ’n duisendste van ’n sievert. Die gemiddelde jaarlikse dosis in Brittanje is ongeveer 2 mSv, en ’n x-straal van die bors dra ongeveer 0,1 mSv oor.

[Diagram/Prent op bladsy 13]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

A

B

C

D

E

F

A—Voedsel en drank

B—Radon en radon-220

C—Rotse en grond

D—Kosmies

E—Medies

F—Kernneerslag

[Erkenning]

Picture D: Holiday Films

[Foto-erkennings op bladsy 11]

Photos: Top left and bottom right, U.S. National Archives photo; bottom left, USAF photo; bottom second from left, Holiday Films

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel