Radon—’n Gevaar in jou huis?
’NINGENIEUR wat by die Limerick-kernkragsentrale in die ooste van die Verenigde State gewerk het, het gevind dat hy die alarm wat straling monitor, aktiveer selfs sonder dat hy in die aanleg se kragopwekkingsgebied ingegaan het. Toe dit duidelik word dat hy nie by die kernaanleg aan die straling blootgestel word nie, is sy huis getoets, en daar is gevind dat dít die bron van kontaminasie is.
’n 68-jarige sendeling wat ná ’n dubbele hartomleidingsoperasie aangesterk het, het gesukkel met bloedarmoede ondanks medikasie om sy bloed op te bou. Een van die dokter se vrae was: “Was jy al ooit aan straling blootgestel?”
“Ja”, het hy geantwoord. “In my vroeë twintigerjare het ek twee jaar lank as ’n tegnikus gewerk by ’n aanleg waar ek aan radon blootgestel was.”
“Dit kan jou probleem wees”, was die dokter se gevolgtrekking.
Die ingenieur by die kernkragsentrale sowel as die man wat aan bloedarmoede gely het, was blootgestel aan ’n onsigbare gevaar, radon.
‘Radon? Wat is dit? En kan dit ’n gevaar in my huis wees?’ vra jy dalk.
Wat is dit?
Radon, ’n reuklose, kleurlose gas, is een van die ses chemiese elemente wat as edelgasse, of trae gasse, bekend staan. Radon verskil egter van die ander vyf edelgasse omdat dit radioaktief is. Dit is ’n produk van die verval van die radioaktiewe element radium.
Radioaktiewe elemente straal sekere strale, of partikels, uit en in die vervalproses verander hierdie elemente in ander stowwe. Die radioaktiewe metaal uraan word dus uiteindelik radium. Wanneer ’n atoom van die metaal radium straling uitgee, verander dit in ’n radonatoom. Radon weer, verval tot radioaktiewe produkte wat bekend staan as sy dogters.
Die tyd waarin ’n radioaktiewe stof verval, word sy halfleeftyd genoem. Radon se halfleeftyd is ’n bietjie minder as vier dae, wat beteken dat die helfte van die oorspronklike radon in ongeveer vier dae tot ander stowwe sou verval het. Daarenteen is die halfleeftyd van radium 1 660 jaar en dié van uraan 4 500 000 000 jaar! In sy natuurlike toestand kom uraan dus algemener voor as radium omdat uraan ’n baie langer halfleeftyd het.
Die oorsaak van die probleem
Daar sal altyd ’n sekere hoeveelheid radium, sowel as klein hoeveelhede radon in enige uraanerts wees. Hierdie radioaktiewe gas, wat ’n mens se huis kan binnedring, is die oorsaak van die probleem.
Die hoeveelheid uraan wat in klip en grond gevind word, verskil grootliks van plek tot plek. Dit beteken dat daar in sekere gebiede ’n aansienlike hoeveelheid radon stadig uit die grond kan sypel. As die radon in die lug in ontsnap, sal dit gou verdwyn. Maar as die gas onder ’n huis is, kan dit daar vasgekeer wees en geleidelik in die kelder van die huis insypel deur krake in die vloer of mure of deur sinkputte en afvoerpype.
Radon kom ook in grondwater voor en kan huise derhalwe ook deur die waterstelsel binnedring. Die gevaar is nie soseer wanneer die water gedrink word nie, maar wanneer die gas uit die water ingeasem word wanneer ’n mens was, stort of kook.
Die ondervinding van die ingenieur by die Limerick-kernaanleg wat in die inleiding genoem is, lig die potensiële gevaar toe. Daar is ontdek dat die huis se fondament oor ’n uraanhoudende rotslaag gegooi is. Die radioaktiwiteit in die woonkamer het 3200 pikocurie gemeet, terwyl die AOB (Agentskap vir Omgewingsbeskerming) aanraai dat maatreëls getref word om radonvlakke in huise te verminder waarin meer as 4 pikocurie per liter lug gemeet word.a
Volgens een skatting het die gesin, in die jaar wat hulle in die huis gebly het, dieselfde hoeveelheid straling ontvang as wat hulle van 260 000 x-strale van die bors sou ontvang het! Hulle kanse om longkanker te kry is dus aansienlik vergroot. Die gesin was verstandig en het verhuis totdat die situasie reggestel is. “Ek rook nie en toe ek swanger was, het ek nie naby drank gekom nie”, het die vrou gekla. “Maar dan laat ek my kinders in ’n radioaktiewe wolk woon.”
Hoë stralingsvlakke is ook op plekke in Denemarke, Duitsland, Frankryk, Griekeland, Italië, Nederland, Swede en die Verenigde Koninkryk gevind. Baie uraanmynwerkers wat aan radon blootgestel is, is aan longkanker dood. Trouens, ’n skrywer vir The New York Times beweer: “Niemand betwyfel [radon se] vermoë om longkanker te veroorsaak nie, ’n siekte wat vroeër verantwoordelik was vir die dood van die helfte van uraanmynwerkers, wat elke werksdag baie radonafbouprodukte ingeasem het.”
Hoe groot is die gevaar?
Aangesien die meeste van die radon wat in die longe ingeasem word, weer uitgeasem word voor dit verval, veroorsaak dit nie op sigself ’n noemenswaardige probleem vir die gesondheid nie. Die “dogters”—die radioaktiewe produkte waartoe radon verval—kan egter gevaarlik wees. Hierdie produkte is chemies aktief en klou aan klein stofdeeltjies vas wat dalk in die longe agterbly. Longweefsel kan dus deur die straling aangetas word. Soos dr. Anthony Nero jr., senior wetenskaplike by die Lawrence Berkeley-laboratorium van die Universiteit van Kalifornië, verduidelik: “Omdat hulle [die radioaktiewe produkte waartoe radon verval] kort halfleeftye het, is dit baie waarskynlik dat hulle in die long sal verval as hulle eers [daar] versamel het.”
Die gevaar van radonblootstelling in huise is eers in onlangse jare ondersoek, en niemand weet werklik wat ’n veilige blootstellingsvlak is nie. Die AOB het vroeër vanjaar hulle skatting van die gevaar verminder. “Ons het vroeër geskat dat tot 21 000 kankersterftes per jaar aan radon toegeskryf kan word, en daardie syfer is nou miskien 16 000”, sê dr. Richard J. Guimond, ’n AOB-beampte. Hy beweer nietemin: “Radon is steeds een van die grootste gesondheidsgevare waarvoor mense te staan kom.” Tog kan niemand met sekerheid na enige kankergevalle as gevolg van radonblootstelling in die huis wys nie.
Trouens, party mense dink dat die besorgdheid oor radon grootliks oordryf word. William Mills, ’n voormalige hoof van die AOB, sê dat te veel kankersterftes aan radon toegeskryf word, omdat rook eintlik die oorsaak van baie van hierdie sterfgevalle is. “Na my mening”, sê hy, “is die ware gevaar van radon tussen nul en ’n syfer naby nul.” Roger Eaton, hoof van ’n radongroep in die Kanadese regering se Departement van Gesondheid en Welsyn, is van dieselfde mening. “Ons ondervinding”, sê hy, “is dat longkanker ’n seldsame siekte is wanneer rook nie daarby betrokke is nie.”
Rook vergroot klaarblyklik die gevaar wat radon inhou aansienlik vir dié wat daaraan blootgestel word. Die tydskrif Science sê dat blootstelling aan radon die gevaar van longkanker by rokers ten minste tien maal vergroot. Dit is nie bekend waarom radon rokers meer as nie-rokers aantas nie, maar party kenners meen dat rookbeskadigde longe geneig kan wees om radioaktiewe produkte van radonverval vas te vang.
Party gebiede is bekende radongevaarpunte. In Clinton, New Jersey, in die Verenigde State, is daar gevind dat al die huise wat in een gemeenskap getoets is, hoë vlakke van radonstraling gehad het. In vyf huise was dit so hoog dat, as die inwoners lewenslank daar sou bly, hulle dieselfde gevaar sou loop om longkanker op te doen as wanneer hulle 20 pakkies sigarette per dag sou rook!
Dr. Nero verduidelik: “In hierdie gebiede woon baie mense in huise met radonvlakke hoër as 20 pikocurie, vlakke hoër as die toelaatbare vlak vir mynwerkers.” Dr. Nero sê: “Daar is ongeveer 100 000 sulke huishoudings, en hierdie mense het werklik hulp nodig.”
Die AOB het gewaarsku dat daar in agtmiljoen Amerikaanse huise ’n radonvlak is wat waarskynlik die federale riglyn van vier pikocurie per liter lug oorskry. Tog glo party kenners dat die AOB se skatting van huise wat in gevaar verkeer, oordrewe is. Hulle betwyfel ook die mate van gevaar wat lae radonvlakke inhou. Dr. Bernard L. Cohen, professor in fisika en stralingsgesondheid aan die Universiteit van Pittsburgh, het gesê: “My vertolking van die gegewens is dat laevlak-blootstelling in wese onskadelik is; by baie lae vlakke, soos in die meeste huise gevind word, is daar geen uitwerking nie.”
Wat van jou huis?
Die gevaar wat radon vir jou inhou, hang grootliks af van die uraankonsentrasie in die grond waar jy woon. ’n Ander belangrike faktor is die tipe grond onder jou huis; meer deurlaatbare grondsoorte laat groter hoeveelhede radon deur al is die radiuminhoud van die grond laag.
Nog ’n risikofaktor is die manier waarop jou huis gebou is. Heelwat moderne huise word byvoorbeeld gebou om feitlik lugdig te wees om energie te bespaar. Radon wat dus by hulle insypel, kan nie maklik ontsnap nie. Soos ’n AOB-beampte verduidelik het: “Hoe digter jy ’n huis probeer maak, hoe hoër word die vlak van besoedelstowwe.” Daarom is trekkerige, ouer huise waarskynlik veiliger teen die moontlike gevaar van radon.
’n Bekende uraangevaarpunt in die Verenigde State is ’n gebied wat strek van die ooste van Pennsilvanië deur die noorde van New Jersey en tot in New York. ’n Ander gebied is die Red River-vallei tussen Minnesota en Noord-Dakota. As jy in so ’n bekende gevaarpunt woon, is dit miskien verstandig om die lug in jou huis te laat toets om die radonvlak te bepaal.
Maar die uitslae van die toets is onvoorspelbaar, ongeag die ligging van jou huis. In Pennsilvanië het een huis ’n radonvlak van 2694 pikocurie gehad, maar die een langsaan het ’n lesing van slegs 3,6 gehad! Daarenteen kan hoë binnenshuise radonvlakke voorkom in gebiede wat nie bekende uraangevaarpunte is nie. Vanweë hierdie onvoorspelbaarheid sê ’n direkteur van die AOB: “Al wat ons van mense vra, is om [R29] tot [R57] te spandeer om uit te vind of hulle ’n probleem het.”
As jy besluit om jou huis te laat toets, is daar verskeie maniere om dit te doen. Jy kan dalk inligting oor omgewingsbeheer by plaaslike agentskappe kry. “Die riglyn is vir die gemiddelde blootstelling in die kamers waarin jy woon”, merk dr. Nero op. “Maar die meeste van die AOB se toetse”, sê hy, “word gedoen met verklikkers wat in kelders geplaas word.” Hy het ook beklemtoon: “Toetse behoort maande lank, en verkieslik ’n jaar lank, gedoen te word.”
Dit sal goed wees om die firma wat die toetse moet doen versigtig te kies, want party het ’n beter naam as ander. Radonverklikkers kan ook gekoop word. Maar verslae toon dat die modelle nie ewe akkuraat is nie.
As toetse toon dat jou huis ’n hoë stralingsvlak het, kan daar werk gemaak word van die probleem. Dit sal miskien voldoende wees om die krake in die kelder se mure en vloer te verseël en die ventilasie deur middel van waaiers te verbeter. In Clinton, New Jersey, die gemeenskap wat vroeër genoem is en waar al die huise hoë stralingsvlakke gehad het, is die vlakke in die eerste tien huise waaraan gewerk is binne ses maande tot veilige vlakke verminder. Die werk om die probleem reg te stel kos selde meer as R4275—en is gewoonlik baie minder.
In uiters ongewone situasies, soos dié van die ingenieur by die kernaanleg, kan uitgebreide werk nodig wees. Die betonvloer van die kelder en baie van die grond daaronder moes verwyder word. Die huis se fondament is met ’n spesiale radonversperring van plastiek bedek, en al die krake in die beton is met silikoon gevul. Laastens is ’n spesiale ventilasiestelsel geïnstalleer. Die pogings om die radon tot ’n veilige vlak te verminder, was suksesvol, maar dit het R92910 gekos.
Gelukkig wil dit uit die getuienis voorkom asof die radongevaar in huise nie so omvangryk is soos gevrees is nie. Maar as jy oor jou huis twyfel, kan jy dit gerus ter wille van jou eie gemoedsrus laat toets.
[Voetnoot]
a Die kankergevaar van 4 pikocurie per liter lug word beskou as gelykstaande aan die gevaar wat dit inhou as ’n halwe pakkie sigarette per dag gerook word.
[Prente op bladsy 13]
Hoe radon ’n huis kan binnedring
Dampe van bronwater
Krake in vloere en mure
Los afvoerpype
Graniet
Bronwater
Krake in die vloer
Poreuse blokke