Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 9/8 bl. 3-4
  • Die nuwe era van ontdekking

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die nuwe era van ontdekking
  • Ontwaak!—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Ruimteverkenning—Hoe ver het die mens al gegaan?
    Ontwaak!—1992
  • Die Internasionale Ruimtestasie—’n laboratorium in ’n wentelbaan
    Ontwaak!—1999
  • Ruimteverkenning—Wat hou die toekoms in?
    Ontwaak!—1992
  • Beïnvloed die maan jou lewe?
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 9/8 bl. 3-4

Die nuwe era van ontdekking

Deur Ontwaak!-medewerker

HET jy al ooit op TV gesien hoe ’n pendeltuig gelanseer word? Het jy gewonder hoe groot daardie vuurpyle presies is? En hoeveel plek die ruimtevaarders in die pendeltuig self het? Ek het ’n geleentheid gehad om self te gaan kyk toe ek die Ruimtebasis VSA in Kaap Canaveral, wat ook as die Kennedy-ruimtesentrum bekend staan, in Florida, VSA, besoek het.

Ek het altyd op TV na die lanserings van verskillende ruimtetuie gekyk en was baie opgewonde oor die eerste Apollo-vlug na die maan in 1969. Jy kan dus verstaan waarom dit vir my so ’n opwindende ervaring was om in die hartjie van al hierdie bedrywigheid te wees, net ’n uur se ry oos van Orlando. Toe ons by die parkeerterrein inry, het ek in die verte ’n uitstalling van vuurpyle gesien wat in die verlede gebruik is om mense en instrumente die ruimte in te stuur. En daar, op die teerblad langs die Vuurpyl-tuin, het ’n presiese replika gestaan van die pendeltuie wat vir wentelsendings om die aarde gebruik word. Dit word die Ambassador genoem, en al is dit net ’n replika, was dit indrukwekkend toe ek dit eers gesien, van naderby beskou en afgeneem het. Dit is 17 meter hoog by die stert en 37 meter lank, en het ’n vlerkspan van 24 meter.

Dit was Vrydag, 22 November, verlede jaar, en ek wou baie graag naby ’n lanseerplatform kom, veral die een waar die pendeltuig Atlantis gereed gestaan het om op Sondag, 24 November, gelanseer te word. Daar is verskeie platforms, maar hulle is ’n paar kilometers van die uitstallingsterrein af. Ek het dus by die toergroep aangesluit om die hoofvuurpylgebou en die lanseerfasiliteite per bus te besigtig.

Ons het heel eerste die Lugbemanningsopleidingsentrum besoek, waar ons identiese replikas van die diens- en maanlandingstuie gesien het wat in 1969 tydens daardie historiese vlug na die maan gebruik is. Die maanlandingstuig was regtig lelik—dit was nie vaartbelyn soos die gewone ruimtetuig nie. By die eerste oogopslag het dit meer soos ’n klomp kubusse en piramides gelyk wat op spinnekopagtige bene staan. Maar sy replika het twee mans op die maan laat land.

In Julie 1971 het Apollo 15 op die maan geland, en ruimtevaarders Scott en Irwin het die maanswerwersvoertuig, of maanbakkie, ontkoppel. Dit het R41 miljoen gekos en is seker die duurste jeep wat ooit gebou is. En as jy dit graag wil bestuur, hoef jy maar net maan toe te gaan—dit is saam met die maanlandingstuig se landingsonderstel daar agtergelaat! Maar moenie vergeet om nuwe batterye saam te neem nie. Die jeep s’n is lankal pap.

Daarna het ons die VAB (Vehicle Assembly Building) besoek. By die ruimtesentrum moet jy aan akronieme gewoond raak—hulle word vir alles gebruik. Ek het later vir Chris, ’n ingenieur wat vroeër aan die Apollo-projek gewerk het, ontmoet. Hy het my vertel: “Ek is na ’n ander afdeling oorgeplaas en kon maande lank baie dinge wat gesê is, nie verstaan nie omdat hulle akronieme anders was as dié wat ek vroeër gebruik het!” Waarom is die VAB so ’n buitengewone gebou? Dit is 160 meter hoog (so hoog soos ’n wolkekrabber van 52 verdiepings), 158 meter breed en 218 meter lank en is seker die gebou met die grootste kubieke inhoud in die wêreld. Dit beslaan ’n oppervlak van drie hektaar. Dit moet so groot wees omdat die lanseertuie hier aanmekaargesit word voordat die stadige, tydrowende tog na die lanseerplatform aangepak word. Maar ons sal later meer hieroor uitvind.

Daar is aan ons gesê dat die VAB só groot is dat vier Saturnus 5-vuurpyle tegelykertyd daar aanmekaargesit kon word. En hulle was 111 meter lank—ontwerp om die Apollo-ruimtetuig te vervoer. Die boek The Illustrated History of NASA verduidelik: “Die totale opstygingsgewig was ’n ongelooflike 3200 ton (2900 metrieke ton). Maar die Saturnus 5 se enjins het ’n stukrag van byna 3800 ton (3500 metrieke ton) ontwikkel, wat die ontsaglike vrag maklik kon oplig.”

Toe ek teen hierdie reusegebou opkyk, het ek kalkoenaasvoëls in die stygstrome bo die dak sien sirkel. Dit het my ook daaraan herinner dat die ruimtesentrum in die middel van ’n groot nasionale wildbeskermingsgebied geleë is waar tientalle soorte voëls, diere en reptiele voorkom. Ons toerbus het verby ’n reusagtige arendsnes gery, wat twee meter diep was en hoog in ’n boom gesit het. Dit het net gepas gelyk dat arende vlieg waar die mens van sy grootste prestasies in die ruimtevaart behaal het.

Ons volgende stilhouplek was ’n uitkykterrein waarvandaan ons twee lanseerplatforms ’n ent daarvandaan kon sien. Maar daar was nog iets waaroor ek gewonder het. Hoe vervoer hulle daardie ontsaglike vuurpyle na die lanseerplatforms toe wat vyf en ’n half kilometer daarvandaan is? Hulle gebruik die grootste trekkers wat ek nog ooit gesien het! Hulle is ruspervoertuie wat 6,6 miljoen kilogram kan dra. Elkeen van hierdie voertuie is so groot soos ’n halwe sokkerveld en weeg 2,7 miljoen kilogram. Maar moenie verwag dat hierdie gevaartes enige snelheidsrekords gaan opstel nie. Wanneer hulle gelaai is, is hulle topsnelheid 1,6 kilometer per uur; sonder ’n vrag is dit 3,2 kilometer per uur! Vier ontsaglike dubbelrusperbandtrekkers, een op elke hoek, dra die platform. Elke rusperband het 57 dwarsstawe; elke dwarsstaaf weeg ’n ton.

Dink nou net aan die spesiale pad wat na elke lanseerplatform toe aangelê moes word sodat dit die mobiele platform, die vuurpyl en die ruimtetuig se ontsaglike gewig kan dra.

Wat van die pendeltuig se terugreis aarde toe? Die pendeltuig moet êrens land—en hier in Kaap Canaveral is daardie “êrens” nie net ’n gewone landingstrook soos dié by ’n lughawe nie, maar ’n landingstrook wat twee keer langer en wyer as ’n gewone aanloopbaan by ’n lughawe is. Dit is 4600 meter lank en het ’n verbyskietstrook van 300 meter aan albei punte. As landingstoestande ongunstig is, word die pendeltuig na die Edwards-lugmagbasis in die Kaliforniese woestyn, meer as 3200 kilometer na die Weste, gestuur.

Die ontsaglikheid van die hele projek het my geweldig beïndruk. En dit het vrae laat ontstaan. Wat het die mens tot stand gebring in ruimteverkenning? Watter voordele het dit ingehou? En wat is die vooruitsigte vir interplanetêre verkeer? Sal die mens ooit op Mars land?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel