Ruimteverkenning—Wat hou die toekoms in?
MET die ineenstorting van die Kommunistiese Sowjetunie is die ruimtewedloop nie meer so mededingend nie. Party wetenskaplikes sit nou sonder hulle oorspronklike motivering—iemand om uit te stof. In plaas van mededinging dink Russiese en Amerikaanse ruimtewetenskaplikes nou aan samewerking, om hulle kennis en vaardighede te kombineer. Maar daar is steeds doelwitte wat bereik moet word en vrae wat beantwoord moet word. Een vraag waaroor baie wonder, is: Watter voordele hou al hierdie geweldige inspanning en uitgawes om die buitenste ruimte te verken vir die mens in?
’n NASA-publikasie sê dat daar gedurende die afgelope drie dekades “meer as 300 lanserings [van onbemande ruimtetuie] vir programme was wat gewissel het van die verkenning van die sonnestelsel tot verbeterde weervoorspelling, wêreldwye kommunikasie en ’n studie van die aarde se hulpbronne”. Het die resultate die ontsaglike bedrae geregverdig wat in hierdie programme gestort is? NASA beweer dat hulle “deur en deur vir die nasie se tyd, geld en tegniese talente vergoed het”. NASA regverdig die uitgawe verder deur te sê: “Weens die ruimteprogram is werk aan ongeveer 130 000 Amerikaners verskaf wat navorsing doen oor die verbetering van vuurvaste materiale en verf, kleiner en duursamer radio’s en televisiestelle, sterker plastiek en kleefstowwe, elektroniese monitors vir hospitaalpasiënte, verbeterde rekenaartegnologie asook ander navorsing.”
Nog ’n byvoordeel van die ruimteprogram is die meer gedetailleerde kartering van die aarde se oppervlak en selfs van wat onder die aarde se oppervlak is. Tydens die tweede pendeltuigvlug is “’n betreklik primitiewe optiese opnametoestel” in een eksperiment gebruik. Dit “was veronderstel om eenvoudige geologiese opnames met behulp van radar te wees wat gegewens oor die aarde se oppervlak sou weergee” (Prescription for Disaster deur J. J. Trento). Maar daar was ’n onverwagse resultaat. “Toe die ruimtetuig teruggekeer het en die foto’s . . . ontwikkel is, is die paaie en strate van ’n antieke stad wat deur die Saharasand begrawe is, blootgelê. ’n Verlore beskawing is ontdek.” Daarbenewens is daar ’n ander voordeel wat ons almal raak.
Wat gaan die weer maak?
Die daaglikse weervoorspelling met behulp van kaarte en foto’s is iets wat die meeste mense met ’n TV nou as vanselfsprekend beskou. Maar wat ’n verskil maak dit tog wanneer dit by die beplanning van elke dag kom! As daar ’n storm gaan wees of as dit gaan reën of sneeu, sal jy gewoonlik ure voor die tyd weet—danksy die weersatelliete wat om die aarde wentel.
Weersatelliete sein al die afgelope 30 jaar inligting oor die aarde se weer terug. ’n NASA-publikasie sê: “Hierdie satelliete help ons nie net om ons omgewing beter te verstaan nie, maar ook om ons teen sy gevare te beskerm.” Dit sê verder dat ’n orkaan die Golfkus van Mississippi in 1969 getref het en skade van R3,9 miljard aangerig het. “Maar danksy satellietweervoorspelling het slegs 256 mense hulle lewe verloor, en die meeste hiervan kon gespaar gewees het as hulle ag geslaan het op vroegtydige waarskuwings om die gebied te ontruim.” Hierdie voordele geld ook ongetwyfeld vir ander plekke wat gereeld deur moesons en storms getref word.
Ruimtewetenskaplikes is nie net tevrede met byvoordele vir die aarde se bewoners nie. Hulle doelwitte strek baie verder as dit. Wat hou die toekoms dus vir ruimteverkenning in?
Die uitdaging van ’n ruimtestasie
Baie ruimtewetenskaplikes meen dat ’n doeltreffende ruimtestasie ’n noodsaaklikheid is. NASA reken dat hulle tot en met die jaar 2000 R83 miljard nodig sal hê vir die Freedom-ruimtestasie wat hulle tans bou. Volgens ’n NASA-bron word die stasie reeds jare lank beplan en is R25 miljard reeds daaraan bestee. Maar hoe gaan die deskundiges hulle ruimtestasie in die ruimte kry? Daar word gereken dat die Amerikaanse pendeltuig minstens 17 bemande vlugte sal moet onderneem om die Freedom stuk vir stuk daar te kry. Dit sal baie geld en tyd beteken. Wat kan ’n moontlike oplossing wees?
Party het voorgestel dat die Russe en die Amerikaners saamwerk en die kragtige Russiese Energia-vuurpyle moet gebruik om die Freedom daar te kry. Die Energia, wat Serge Schmemann, ’n skrywer vir die New York Times, as “’n vlieënde wolkekrabber van 20 verdiepings” beskryf het, kan help om die Amerikaanse ruimtestasieprojek te bespoedig. Die Russe het Amerikaanse dollars nodig, en as hulle hulle kaarte reg speel, kan dit hulle kans wees om kapitaal in die hande te kry. U.S.News & World Report het gesê: “Ses onbemande Energias kan die hele ruimtestasie goedkoop oprig, en dít sonder om menselewens in gevaar te stel.”
Die Verenigde State en die Russiese Statebond is natuurlik nie die enigste nasies wat by ruimteverkenning betrokke is nie. Ander wat ook hierdie gebied betree het, is die Europese Ruimteagentskap wat deur middel van die Franse Ariane-ruimtemaatskappy vuurpyle vir kommersiële satellietlanserings vervaardig. Japan reik ook na die sterre, en volgens onlangse inligting wat in Asiaweek gepubliseer is, “beplan Japan om teen die einde van hierdie eeu die eerste Asiatiese nasie te wees wat ’n permanente bydrae in die ruimte sal lewer”. Die eerste amptelike Japannese ruimtevaarder, Mamoroe Mohri, sal volgens plan in 1992 van Kaap Canaveral, Florida, af op ’n sending van sewe dae vertrek. Dieselfde verslag sê dat “die sending ’n belangrike voorspel is van Japan se planne om ’n bydrae tot die [Amerikaanse] Freedom-ruimtestasie te lewer”. Hierdie projek sal ook die samewerking van Europese en Kanadese ruimtewetenskaplikes geniet.
Die bevolking van planete
Nog ’n ideaal prikkel baie se verbeelding—die begeerte om ander planete te bevolk en te benut. George Henry Elias skryf in sy boek Breakout Into Space—Mission for a Generation: “Die vestiging van ’n interplanetêre beskawing is noodsaaklik vir die oorlewing van ons spesie. . . . Die mens bewoon nou ’n hele planeet, en dit is tyd dat ons na ’n groter woongebied verhuis. ’n Leë sonnestelsel wag op ons.” Hy meen dat die mens eerste Mars toe moet gaan.
Michael Collins, ’n voormalige ruimtevaarder en loods van die Gemini 10 in 1966 asook die moedertuig Apollo 11 wat die mens maan toe geneem het, meen dat die mens beslis Mars toe moet gaan. In sy boek Mission to Mars sê hy: “Dit lyk asof Mars vriendelik, toeganklik, selfs bewoonbaar is.”
Bruce Murray, wat al lank die bestuurder van die Jet Propulsion-laboratorium in Pasadena is, is ’n groot voorstander van ’n gesamentlike Amerikaans-Russiese sending na Mars. As ’n medestigter van die Planetêre Vereniging het hy onlangs die onderneming wat “Saam . . . na Mars” genoem word, aangemoedig. Hy sê: “Mars is die planeet van die toekoms. Dit sal ’n speelveld verskaf aan avontuurlustige mense van die toekoms.”
Marshall Brement, voormalige Amerikaanse ambassadeur in Ysland, skryf: “Die twee lande kan mekaar baie op hierdie gebied [die ruimte] leer. Die Russiese bemande ruimteprogram staan vir niks agteruit nie; Russiese ruimtevaarders hou ál die rekords vir die duur van ruimtevlugte. . . . Dit kan van groot wetenskaplike waarde wees as albei nasies hulle daartoe verbind om saam ’n stasie op die maan op te rig, ’n reis om Venus te onderneem en op Mars te land.”
Die Planetêre Vereniging, waarvan sterrekundige Carl Sagan van die Cornell-universiteit ’n stigter is, het “The Mars Declaration” gepubliseer, wat gelui het: “Mars is die wêreld langsaan, die naaste planeet waarop menseverkenners veilig kan land. . . . Mars is ’n skatkamer van wetenskaplike inligting—op sigself belangrik, maar ook vanweë die lig wat dit op die oorsprong van lewe en omgewingsbewaring kan werp.” Die raaisel oor die oorsprong van lewe prikkel wetenskaplikes se nuuskierigheid. Hulle is nie tevrede met die Bybel se eenvoudige antwoord nie: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”—Openbaring 4:11; Romeine 3:3, 4, NW.
Probleme wat opgelos moet word
Bruce Murray, sowel as ander wetenskaplikes, besef egter dat interplanetêre vlugte oor sulke groot afstande probleme kan inhou. Dit sal ruimtevaarders byvoorbeeld ongeveer ’n jaar van interplanetêre vlug neem om by Mars te kom. ’n Reis na Mars en terug, sal dus minstens twee jaar neem, en dit sal nie eers die tyd insluit wat op Mars deurgebring word nie. Die gevolge van gewigloosheid word nog nie heeltemal verstaan nie. ’n NASA-publikasie sê: “Van hierdie gevolge is onder andere bene wat sekere minerale verloor; spiere wat atrofieer wanneer hulle nie geoefen word nie en ruimteaanpassingsindroom, ’n soort reissiekte wat net tydens ruimtevlugte voorkom.”
Tot dusver het nog geen mens so ’n lang tydperk van gewigloosheid ondervind nie. Maar Russiese ruimtevaarders het al daarin geslaag. Op 25 Maart 1992 het 33-jarige Sergei Krikalef na die aarde teruggekeer nadat hy tien maande in die ruimte in die Russiese ruimtestasie MIR deurgebring het. Hy was ’n bietjie bewerig toe hulle hom by sy terugkoms uit die kapsule gelig het, maar hy het bewys dat die mens gewigloosheid oor lang tydperke kan oorleef. Die Russe het uitgevind dat gewigloosheid nie die enigste probleem is wat ruimtevaarders moet oplos nie.
Wanneer jy ’n groep mense ’n tyd lank in ’n beperkte ruimte plaas, sal jy uiteindelik persoonlikheids- en sielkundige probleme hê. Die Time-Life boek Outbound sê in die reeks Voyage Through the Universe: “Tydens ’n sending raak ruimtevaarders by die week meer geïrriteerd. Tydens die [Russiese] Saljoet-sendings het die grondpersoneel agtergekom dat die ruimtevaarders hulle al hoe meer vererg het oor vrae wat hulle as onnosel beskou het. . . . Tydens Gretsjko en Romanenko se lang sending in 1977 het die grondpersoneel ook ’n ‘sielkundige steungroep’ gestig om die ruimtevaarders se geestesgesondheid dop te hou.” Gretsjko het gesê: “Mededinging tussen die bemanningslede is een van die nadeligste dinge, veral as elkeen begin om te probeer bewys dat hy die beste is.” Hy het bygevoeg dat jy in die buitenste ruimte “geen sielkundige uitlaatklep het nie. Dit is baie gevaarliker daar.”
Daar sal dus tydens enige langdurige interplanetêre reis ’n fyn balans gehandhaaf moet word deur rekening te hou met al die wetenskaplike, meganiese en sielkundige faktore. Dit is nie vir mense maklik om mekaar hier op die aarde te verdra nie; hoe moeilik sal dit dan nie in ’n beknopte ruimtetuig wees nie.—Vergelyk Kolossense 3:12-14.
Sal die mens ooit die planete bereik?
Die beroemde Amerikaanse Star Trek-rolprente het miljoene se nuuskierigheid oor ruimtevaart geprikkel. Wat is die toekomstige vooruitsigte vir bemande verkennings na ander planete? Daar moet rekening gehou word met twee faktore—die menslike en die Goddelike. Die Bybel sê trouens Jehovah is “die Maker van hemel en aarde. Wat die hemel betref, dit behoort aan Jehovah, maar die aarde het hy aan die menseseuns gegee.”—Psalm 115:15, 16, NW; Genesis 1:1.
Ons het reeds gesien dat baie wetenskaplikes optimisties is oor die mens se vermoë om Mars te bereik en te bewoon. Die mens se nuuskierigheid en ’n hunkering na kennis sal ongetwyfeld voortgaan om mans en vroue aan te dryf om al hoe verder die ruimte in te gaan met hul verkenningstogte. Volgens ’n NASA-feiteblad is een rede vir die Hubble-ruimteteleskoop om “ander wêrelde, ander sterrestelsels en die presiese oorsprong van die heelal self te soek”. NASA sê ook: “Die vooruitsigte vir ruimtebedrywighede in die 21ste eeu is opwindend en uitdagend. Ons kan belangrike prestasies soos industrieë in die ruimte, maanbasisse en bemande ekspedisies na Mars in die vooruitsig stel. Noudat ons die ruimtegrens oorgesteek het, kan ons nie terugdraai nie.”
Wat sê die Bybel hieroor? God het wel vir die mens gesê om ‘te vermeerder en die aarde te vul’ (Genesis 1:28). Die mens het terselfdertyd intelligensie en ’n onversadigbare begeerte gekry om meer omtrent sy omgewing, waaronder die biosfeer, die stratosfeer en alles daarbuite, te wete te kom. Daardie omgewing sluit ons klein sonnestelsel en die sterre in. Koning Dawid het gevolglik ongeveer drieduisend jaar gelede onder inspirasie geskryf: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het—wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?”—Psalm 8:4, 5.
Die Hubble-teleskoop het onlangs ’n beeld van die reusesterrestelsel M87 teruggesein. Dit is beskryf as ’n ligkol wat uit tweebiljoen sterre bestaan! Kan jy jou daardie syfer voorstel? Hoe ver weg is M87? Twee-en-vyftigmiljoen ligjare van die aarde af—“betreklik naby op die intergalaktiese afstandskaal”! Ja, hoe oneindig gering is die mens en die aarde tog wanneer hulle met die ondenkbare uitgestrektheid van die kosmiese ruimte vergelyk word! Wat Jehovah in al daardie eindelose ruimte doen en gaan doen, kan ons nie nou begryp nie. Ongeag die mens se ideale in verband met die buitenste ruimte, daar het ’n geskil op ons planeet ontstaan, en God gaan eers ingryp om dit te besleg.—Openbaring 16:14-16.
’n Geskil wat besleg moet word
Die geskil is die keuse tussen heerskappy deur God en heerskappy deur Satan. Daarom verkondig Jehovah se Getuies in alle wêrelddele dat God binnekort gaan ingryp om die aarde van goddeloosheid, verdorwenheid, moord, geweld en oorlog te reinig.—Markus 13:10; 2 Korinthiërs 4:4.
Ruimtevaarders wat van honderde kilometers die ruimte in op ons aarde neergekyk het, was verstom oor die prag van hierdie planetêre juweel. Wanneer daar van hoog in die lug na die aarde gekyk word, kan geen politieke grense gesien word wat mense verdeel en skei nie. Dit is net ’n pragtige tuiste vir die mensegesin. Maar hier het ons ’n wêreld vol hebsug, afguns, leuens, uitbuiting, onregverdigheid, verskrikking, vrees, misdaad en geweld. Wat het die mens nodig om hom te laat besin?
Die Bybel toon dat Jehovah God, die aarde se Maker en Eienaar, binnekort teen hierdie planeet se bandelose en onregeerbare bewoners gaan optree. Slegs dié wat waarlik ootmoedig is, sal oorbly om die aarde te besit. Dan eers sal ons uitvind watter verdere voornemens God vir ’n gehoorsame mensegesin in gedagte het.—Psalm 37:11, 29; Openbaring 11:18; 16:14-16.
[Venster op bladsy 14]
Satellietredding
NASA het in Mei vanjaar ’n groot deurbraak gemaak toe drie ruimtevaarders van die pendeltuig Endeavor tydens ’n ruimtewandeling gewerk het aan ’n kommunikasiesatelliet van 4080 kilogram wat van koers af geraak het. Hulle het dit na die laairuimte gebring, waar ’n nuwe aanjaerpyl aangesit is. Daarna is die satelliet na ’n hoë wentelbaan afgeskiet voordat hy afgebring is na sy werksposisie van 35 900 kilometer bo die aarde.
[Prente op bladsy 15]
1. ’n Kunstenaarsvoorstelling van die voorgenome “Freedom”-ruimtestasie;
2. Gewigloosheid is ’n probleem vir interplanetêre reisigers;
3. Die aarde soos dit van die maan af gesien word;
4. Venus;
5. Mars
[Erkenning]
Photos 1-4, NASA photo; 5 Photo NASA/JPL