Mars van naderby beskou
IN Augustus 2003 was Mars minder as 56 miljoen kilometer van ons planeet af—die naaste in byna 60 000 jaar. In astronomiese terme was die rooi planeet so te sê in ons agterplaas, tot groot opgewondenheid van sterrekykers.
Vroeg in 2004 het ’n aantal ruimtetuie by Mars aangekom. Party het die planeet vanaf sy oppervlak bestudeer, en ander vanuit ’n wentelbaan. Wat het ons uit hierdie sendings omtrent ons buurplaneet geleer?
Die rooi planeet word waargeneem
Die wenteltuig Mars Global Surveyor het in 1997 by Mars aangekom. Dit het ontdek dat Mars eens op ’n tyd ’n sterk magneetveld gehad het. Die wenteltuig het ook die topografie van Mars akkuraat gekarteer en onder andere aan die lig gebring dat die verskil tussen die laagste punt op die oppervlak van die planeet en die hoogste punt meer as 29 kilometer is, in vergelyking met net meer as 19 kilometer op die aarde.a
Die laagste punt op Mars is in die ontsaglike Hellas-bekken, wat blykbaar deur die impak van ’n reuse-asteroïed gevorm is. Die hoogste punt is die spits van die kolossale, 21 kilometer hoë vulkaan Olympus Mons. ’n Kamera aan boord van die Surveyor het ook rotse waargeneem wat lyk of dit meer as 18 meter in deursnee is, sowel as groot, bewegende duinevelde en slote wat onlangs uitgekalwe is. ’n Ander instrument het vasgestel dat die meeste rotse op die oppervlak van vulkaniese oorsprong is.
Hoewel kommunikasie met die Mars Global Surveyor in November 2006 verloor is, het drie wenteltuie—die 2001 Mars Odyssey, die Mars Express en die Mars Reconnaissance Orbiter—hulle waarneming van die rooi planeet voortgesit.b Met behulp van sensitiewer kameras en detektors het hulle die atmosfeer en ruimte rondom Mars ondersoek en selfs ’n groot hoeveelheid ys by die planeet se noordpool ontdek en gekarteer.
Hierdie ys word deur die Phoenix Mars Lander bestudeer, wat op 25 Mei 2008 foutloos op die rooi planeet geland het. Die Lander is toegerus met hoogs gevorderde instrumente om die atmosfeer sowel as die ysgrond by die poolstreek te ontleed. Wetenskaplikes wil graag uitvind of die ysgrond ooit mikrobiese lewe onderhou het. Die soeke na lewe—of ten minste toestande wat gunstig is vir lewe—het egter vroeër begin.
Die verkenningstuie Spirit en Opportunity
In Januarie 2004 het twee Marsverkenningstuie, Spirit en Opportunity, by Mars aangekom en geland op plekke wat gekies is op grond van data wat uit vorige sendings verkry is. Die tuie—elk omtrent so groot soos ’n gholfkarretjie—het hulle valsnelheid deur die atmosfeer van Mars verminder deur hitteskerms, valskerms en vuurpyle te gebruik. Hulle was omhul deur ’n kokon van lugkussings en het met die landing ’n paar keer op die oppervlak gehop, amper net soos hulle kleiner voorloper, die Mars Pathfinder, in 1997 op Mars geland het.c
Die oppervlak van Mars is omtrent so groot soos dié van die droë grond op die aarde, en daarom is daar baie gebied wat deur ’n robot verken kan word. Die terrein wat vir Opportunity gekies is, is die Meridiani Planum, ’n plato van oeroue rotslae wat die ysterryke mineraal hematiet bevat. Spirit het aan die ander kant van Mars geland sodat dit die dieptes van die reusagtige Gusev-krater kon verken, wat volgens navorsers baie lank gelede moontlik ’n meer bevat het. Volgens ’n NASA-feiteblad was die doel van die tweeledige sending “om uit te vind wat die omgewingstoestande in die verlede was op terreine waar daar eens op ’n tyd dalk water was en wat moontlik gunstig vir lewe was”.
“Geoloë” op Mars
Toe Spirit op 4 Januarie 2004 sy bestemming bereik het, was dit ’n dorre, klipperige landskap vol vlak, ronde holtes. Die robot het die landskap bestudeer amper net soos ’n geoloog dit sou doen, deur verskeie soorte grond, rotse en terreinvorms te bestudeer. Wetenskaplikes wat Spirit beheer het, het vasgestel dat die landingsterrein met vulkaniese rotse bestrooi is en dat dit vol holtes is wat deur meteoriete veroorsaak is. Spirit het toe 2,6 kilometer gery om ’n groep klein heuwels te gaan ondersoek. Daar het dit ongewone rotsformasies en sagte rotslae ontdek wat moontlik ’n vulkaniese oorsprong het.
In die tussentyd het Opportunity op 25 Januarie 2004, nadat dit 456 miljoen kilometer ver gereis het, skaars 25 kilometer van die middelpunt van die teikengebied af geland. Die robot, wat in lugkussings omhul was, het ’n paar keer op die plat oppervlak van die Meridiani gehop en toe reguit in ’n klein krater ingerol. ’n Wetenskaplike het die landing met ’n gholfhou vergelyk en dit ’n “interplanetêre kolhou” genoem!
Opportunity het ’n aantal kraters verken waarin daar rotslae was wat klein, hematietryke bolletjies bevat wat “bloubessies” genoem word. Hoewel hulle nie werklik blou is nie, vorm hulle grys kleur ’n kontras met die agtergrond van rooierige sand en rots. Daar is golwings en patrone in sekere rotslae wat kenmerkend is van sandafsettings in vloeiende water. Party wetenskaplikes meen dat hierdie patrone, tesame met die chloor en broom wat in die rotse gevind word, ’n aanduiding is dat daar op ’n stadium soutwater teenwoordig was.
Die Phoenix Mars Lander-sending van 2008 het meer data oor die oppervlak van Mars voorsien, veral oor die ysstreek. ’n Arm het onder die oppervlak tot by die ys gegrawe en het grond- en ysmonsters geneem wat in die twee “laboratoriums” aan boord van die Phoenix ontleed is. Die sending sou egter redelik kort wees omdat die winter op Mars, volgens die tydskrif Science, die Phoenix “met ’n dik, ysige koolstofdioksiedkombers sou bedek” net maande nadat die landingstuig se werk voltooi is.
Die feit dat wetenskaplikes ander planete kan verken wat honderdmiljoene kilometer ver is, toon wat vermag kan word wanneer mense saamwerk om dieselfde doelwit te bereik. Hierdie prestasies getuig ook van die mens se vindingrykheid. Natuurlik is ruimteverkenning—trouens, die hele wetenskap—slegs moontlik danksy die konsekwente en absoluut betroubare fisiese wette wat die heelal beheer. Hierdie wette het nie vanself ontstaan nie, maar is ingestel deur die Grootse Argitek van die heelal, Jehovah God.
[Voetnote]
a Negentien kilometer is die hoogteverskil tussen die bodem van die Mariane-trog in die Stille Oseaan en die piek van die berg Everest.
b Die 2001 Mars Odyssey en die Mars Reconnaissance Orbiter is deur die Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie (NASA) gelanseer, en die Mars Express deur die Europese Ruimteagentskap.
c Sien die artikel “’n Robot verken Mars”, in die Ontwaak! van 22 Junie 1998.
[Venster/Prent op bladsy 16]
IS DAAR LEWE OP MARS?
Sir William Herschel en Percival Lowell, sterrekundiges van die 18de en 19de eeu, het aan die hand gedoen dat die rooi planeet wemel van intelligente lewe, en Darwin se evolusieteorie het blykbaar hierdie idee ondersteun. Maar al daardie beskouings is verkeerd bewys. Satellietwaarnemings het getoon dat dit ’n dorre landskap en ’n dun atmosfeer het wat meestal uit koolstofdioksied bestaan. In 1976 het eksperimente wat deur die landingstuig van die Viking 1 uitgevoer is, geen lewe op die oppervlak van Mars ontdek nie.d
Tog hou wetenskaplikes aan om na tekens van lewe te soek, en die Phoenix Mars Lander is hulle jongste poging. Omdat party mikrobes in uiterste toestande op die aarde aan die lewe kan bly, meen wetenskaplikes dat soortgelyke organismes dalk op sekere plekke op Mars kan bestaan. Die landingstuig Beagle 2, wat aan die Mars Express gekoppel was, was toegerus om na organiese stowwe in die grond van Mars te soek, maar laat in 2003 het die sending misluk. Die daaropvolgende jaar het wetenskaplikes klein hoeveelhede metaan in die atmosfeer van Mars gevind, wat hulle laat wonder het of die gas van biologiese of vulkaniese oorsprong is.
Kan lewe op enige plek in die heelal vanself ontstaan? Die Bybel gee die antwoord en sê: “By [God] is die bron van die lewe” (Psalm 36:9). Ja, lewe kan slegs uit lewe ontstaan, en die oorspronklike Lewegewer is die Skepper, Jehovah God.—Handelinge 17:25.
[Voetnoot]
[Erkenning]
NASA/JPL/Cornell
[Prent op bladsy 15]
Die robotarm van die Phoenix Mars Lander—toegerus met skep- en ondersoekgereedskap, sowel as ’n kamera
[Prent op bladsy 15]
Foto van die “bloubessies”, waarvan die kleur aangepas is
[Prent op bladsy 15]
Die uitgedoofde vulkaan Olympus Mons, wat 21 kilometer hoog is
[Prent op bladsy 15]
Die robot Spirit het in hierdie rots ingeboor en ook die oppervlak daarvan geskuur
[Foto-erkennings op bladsy 15]
Links bo: NASA/JPL-Caltech/University of Arizona/Texas A&M University; regs bo: NASA/JPL/Malin Space Science Systems; links en regs onder: NASA/JPL/Cornell