Die kapibara—Skeppingsfout of skeppingswonder?
HOE sal jy voel as iemand jou vreemd of onnosel noem? Dalk beledig? Wel, dit is wat evolusionis Charles Darwin en ander my al genoem het. Verbeel jou net: iemand het selfs gesê dat ek “’n skeppingsfout” is! Al is ek van nature vreedsaam, ontstel dit my werklik. Daarom wil ek my naam in ere herstel. Ek sal julle vertel van my voorkoms, my voorkeure en my vrese—my goeie en my slegte eienskappe. Dan kan julle besluit of ek ’n skeppingsfout of ’n skeppingswonder is.
Die grootste ter wêreld
Verskoon my. Ek is so ontsteld dat ek vergeet het om my voor te stel. My naam is mnr. Kapibara, van tropiese Suid-Amerika.a Mense wat Spaans praat, noem my carpincho of chigüiro. Dit is net 2 van die 190 name wat al vir my gegee is. Ek staan egter beter bekend as die “grootste knaagdier ter wêreld”.
Dit klink na ’n gespog, maar eintlik is dit nie. Jy sien, ek is omtrent so groot soos ’n skaap. As jy my op die skaal sit, swaai die naald tot op 45 kilogram. My tweelingsuster weeg 60 kilogram of meer. Maar sy is slank in vergelyking met ’n kapibarawyfie in Brasilië wat die rekord hou—’n stewige 90 kilogram.
“Meester van die weiveld”
Al daardie gewig kom nie van gemorskos verslind nie, want ons is heeltemal vegetaries en eet hoofsaaklik gras. Somtyds wei ons selfs saam met beeste. Eertydse Amerindiane het ons hoogagtend “meester van die weiveld” genoem. Dit is beslis ’n redeliker beskrywing as “vreemd”.
Ons eet ook waterplante, en terwyl jy slaap kan ons dit nie weerstaan om ons beitelvormige snytande in ’n sappige waatlemoen, ’n soet stuk suikerriet of ’n jong rysplantjie vas te slaan nie.
Trouens, wanneer jy ons ook al sien, knabbel ons—nie omdat ons vrate is nie, maar omdat ons knaagdiere is. Ons maaltande hou nooit op groei nie, en die enigste manier om hulle af te slyt, is om te kou en te knaag totdat ons doodgaan.
Tog weet ons wat om te eet, soos bioloë al opgeteken het. Ons kies net “plante met die hoogste proteïengehalte”, en, sê hulle, ons “kan gras meer doeltreffend in proteïene omsit as skape of hase”. Wie het gesê ons is onnosel?
’n Vark met paddavoete?
Ek erken dat my voorkoms, kom ons sê, karakteriserend is. Peuloë; klein, ronde oortjies; saamtrekbare neusgate—almal hoog boontoe op my groot kop, sodat daar ’n permanente uitdrukking van verbasing op my gesig is. Party mense sê ek lyk soos ’n “kolossale marmot met ’n tikkie seekoei daarby”. Dit kan ek verdra. Maar ek stem nie saam met die skrywer wat gesê het dat my vierkantige snoet lyk asof dit “deur ’n amateur uit ’n skuins boomstomp gekerf is”, nie. Ek self verkies: “’n Komiese gesig [met] skrander varkogies.”
Ek is natuurlik nie familie van die varke nie, maar met my kort bene en massiewe vaatjielyf lyk dit so. Buitendien het die Sweedse botanis Carolus Linnaeus my 200 jaar gelede per abuis as ’n vark geklassifiseer. Maar het jy al ooit ’n vark met paddavoete gesien? Nog nooit! Tog is dit presies wat die Skepper my gegee het, en glo my, hierdie swempote kom handig te pas, want ek is dol oor water. Trouens, ek het my bynaam watervark te danke aan my varkagtige lyf en my liefde vir water.
’n Vetgeheim
Gebiede naby dammetjies, mere, riviere en moerasse—verkieslik omring deur woude met digte struikgewasse—is net die tuiste vir my. Ek is nie net dol oor water nie, maar ek het dit ook vir oorlewing nodig.
Maar omtrent driehonderd jaar gelede het ons liefde vir water vir ons probleme veroorsaak in Venezuela. Rooms-Katolieke in daardie land is verbied om tydens die Vaste vleis te eet. Vis was egter geoorloofde kos. Daarom het die Katolieke Kerk geriefshalwe verklaar dat my voorouers visse was! Tot vandag toe eet gelowiges in Venezuela ons tydens Vaste sonder gewetensbesware.
Gelukkig kon party van my voorouers vlug. Hoe? Nie deur soos ander knaagdiere gate te grawe om in weg te kruip nie. Wanneer ons gevaar bemerk, vat ons eerder koers water toe, en dan duik ons in en swem ons maklik weg. Al is my liggaam nie so stroombelynd soos ander waterbewoners s’n nie, is ek ’n uitstekende swemmer. Waarom? Hier’s my geheim.
Vanweë my vetlae is ek volumegewys net effens swaarder as water. Stel jou net voor: een navorser het geskryf dat ek die grasie van ’n balletdanser het wanneer ek in die water is, en hy het gesê dat my bewegings hom aan poësie laat dink! Dit is darem baie anders as “’n skeppingsfout”.
Wanneer ek in gevaar verkeer, dryf my swempote my vinnig voort—weg van my vyande af. Ek swem ’n hele ent onderwater en bly etlike minute onder. Dan kom ek versigtig op maar bly laag in die water, met net my neusgate, oë en ore wat uitsteek—net soos die seekoei. Vyande, soos wilde honde, jaguars, kaaimans, anakondas en mense, sukkel om my neusgate tussen die waterplante raak te sien. Maar met my goed ontwikkelde reuksin vertel my neus my gou as daar roofdiere is.
Aangesien voortdurende blootstelling aan die warm son my vel gou laat kraak en sere laat vorm, voorkom dit ook sonbrand as ek in die water is. Omdat my rooibruin tot gryserige hare yl versprei is, is my vel sigbaar. Om my liggaamstemperatuur te reguleer, bly ek gevolglik eenvoudig onder die water of rol ek in die modder rond om my liggaam met ’n laag klei te bedek.
“’n Soogkoalisie”
Is ons ooit op land? Ma móét daar wees om geboorte te gee. Na ’n dratyd van omtrent vier maande word van twee tot agt kleintjies gebore, en elk weeg meer as ’n kilogram. Hulle “ligter bruin, gladder pels”, sê een waarnemer, laat hulle “meer uitgevat” as die ouers lyk. ’n Kapibarawyfie begin op 15 maande teel. Sy kan tot tien jaar oud word en in haar leeftyd ten minste 36 kleintjies hê.
Binne ’n paar uur loop die kleintjies agter ma aan. Om te swem, is egter moeiliker omdat die kleintjie eers huiwerig is om in die water in te gaan. Na ’n gedwonge tewaterlating sal die kleintjie skop so al wat hy kan om ma, of ’n ander wyfie, te probeer inhaal en sal dan op haar rug klim. Ma dien dan gewillig as ’n reddingsboei. Maar hoe groter die kleintjie word, hoe moeiliker word dit vir hom om sy balans te hou. Kort voor lank rol hy van ma se rug af en swem hy op sy eie.
Volwasse wyfies werk ook saam om die kleintjies te soog. Ma’s laat nie net hulle eie kleintjies drink nie, maar ook die dorstige spruite van ander wyfies. Waarom? “’n Soogkoalisie”, verduidelik Adrian Warren, ’n produksieleier van natuurrolprente, “kan [die kleintjies] se kans op oorlewing vergroot.”
Die laaste woord
Omdat ons van nature sagaardig is, is dit maklik om ons as troeteldiere mak te maak. ’n Blinde boer in Suriname het ’n kapibara selfs as ’n “gidshond” gebruik. Maar ons word meestal aangehou vir ons vleis, wat party sê lekker smaak. Venezuela het byvoorbeeld groot boerderye waar duisende van ons vir voedsel geteel word—’n twyfelagtige eer. Ek hoop in elk geval dat julle teen die tyd nie net van my hou omdat ek lekker smaak nie, maar ook omdat ek is wat ek is.
Wel, wat dink julle? Is ek ’n skeppingsfout of ’n skeppingswonder? Stem julle saam met Darwin of saam met my? Ek wil julle natuurlik nie voorsê nie, maar onthou net: Darwin was al verkeerd!
[Voetnoot]
a Die dier wat hier beskryf word, staan bekend as Hydrochoerus hydrochaeris. ’n Kleiner spesie word in Panama aangetref.
[Prent op bladsy 23]
Vreemd? Onnosel? Komaan! Lyk ons twee nie mooi nie?
[Prent op bladsy 24]
Duisende van ons word vir voedsel geteel—’n twyfelagtige eer