’n Brief aan Ma en Pa
HOE belangrik is goeie ouers? Die volgende brief van ’n volwasse seun aan sy moeder en vader toon hoe kosbaar hulle is:
“Liewe Ma en Pa
“Omdat ek die huis al meer as 16 jaar gelede verlaat het, vind julle dit moontlik ’n bietjie vreemd om nou hierdie soort brief van my af te kry. Maar ná baie oorweging het ek gemeen ek moet dit skryf. Jare gelede, toe ek die huis verlaat het, het ek ’n aantal dinge geneem waarvoor ek nie julle toestemming gevra het nie. Julle het moontlik nie eers agtergekom dit is weg nie. Ek het dit eintlik so stilletjies geneem dat ek eers etlike jare later besef het dat ek dit het. Hier is ’n gespesifiseerde lys daarvan:
“Liefde vir wat reg is: O, hoe het dit my tog beskerm!
“Liefde vir mense: Grootte, fatsoen en kleur is onbelangrik. Net wat binne-in is, maak saak.
“Eerlikheid: Wat myne is, is myne, en dit is goed om dit met ander te deel. Los uit wat aan iemand anders behoort.
“Vasberadenheid: Dit het my deur my moeilikste tye gehelp.
“Geduld: Julle het soveel vriendelikheid, liefde en geduld teenoor my betoon. Julle het nooit moed opgegee met my nie.
“Dissipline: Julle was nooit te streng of te toegeeflik nie. Maar ek het dit nie toe geweet nie. Sal julle my vergewe?
“Vryheid: Vryheid van die pyn waarmee soveel ander kinders grootgeword het—pyn weens ouers wat hulle fisies, verstandelik en emosioneel mishandel het. Julle het altyd my belange op die hart gedra en my teen die kwaad beskerm. Ek sal nooit vergeet wat julle vir my gedoen het nie.
“Liefde vir die eenvoudige dinge: Berge, riviere, blou lug, stap, kampering. Julle het die lewe so prettig gemaak. Daar is nie nog twee ouers wat ooit meer sou kon doen nie. En dit was nooit te veel moeite nie.
“Versigtigheid: Moenie alles wat jy hoor sommer glo nie. Maar wanneer jy dit wel glo, moet jy daarby bly, wat ook al gebeur.
“Die Waarheid uit God se Woord: Die heel belangrikste. Dis my erfenis. Geen geld, bote, huise of besittings kan daarmee vergelyk word nie. Dit sal my die heel belangrikste—die ewige lewe—gee.
“Dit is moeilik om die waarde van die dinge hierbo te bepaal. Dit is van onskatbare waarde. Ek het dit so baie gebruik. En ek wil dit aanhou gebruik as ek dit nie hoef terug te gee nie. Ek het gehoop dat ek, as julle nie omgee nie, kan aanhou om dit aan my jong seuns te gee. Ek weet dat hulle net soveel baat daarby sal vind as ek. En ek sal altyd vir hulle sê waar ek dit gekry het—by Ouma en Oupa.
“Julle seun”
(Die naam word op versoek nie gemeld nie.)