Bloedlose behandeling red my van ’n gewisse dood
Soos vertel deur ’n personeellid by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies
DIT was werklik ironies. Ek het in Februarie 1991 na Buenos Aires, Argentinië, gegaan om seminare te hou oor die gebruik van alternatiewe behandelings vir bloedoortappings. En nou was ek op die randjie van die dood weens ernstige inwendige bloeding.
Die probleem het die week tevore begin toe ek in Mexiko was. Ek het ’n bietjie maagpyn gehad maar het nie gedink dat dit iets ernstigs is nie. ’n Plaaslike dokter het gesê dat Amerikaners gewoonlik maagprobleme ondervind wanneer hulle die gebied besoek. Hy het vir my medisyne gegee om die pyn te verlig.
Terwyl ek die volgende dag na Buenos Aires gevlieg het, het die pyn vererger. Ek het ’n brandende gevoel op my maag gehad, en twee dae later was dit soos ’n gloeiende vuur. Ek het ’n inspuiting ontvang om die pyn te verlig. Dus kon ek my lesings in die seminaar afhandel. Daarna is ek van die takkantoor van Jehovah se Getuies, waar ek en my vrou gebly het, na ’n plaaslike hospitaal geneem. Daar was die diagnose dat ek ’n maagsweer het wat blykbaar kort tevore opgehou bloei het.
Die diagnose het my ietwat dronkgeslaan omdat ek nog nooit ’n maagsweer of selfs die simptome van een gehad het nie. Daar is in elk geval gehoop dat rus, teensuurmiddels en ’n dieet wat uit sagte kos bestaan my sou help om te herstel. Ongelukkig het die bloeding weer begin nadat ek na die takkantoor se siekeboeg teruggekeer het.
My stoelgang was swart, deurweek met bloed, en ek was so wit soos ’n lyk. Ek het later flou geword en die binneaarbuis is per ongeluk uit my arm geruk. My vrou het in die gang afgehardloop en die verpleegster geroep.
’n Operasie of nie?
Twee dokters was gou by my bed. Deur middel van ’n tolk het hulle vir my gesê dat my hemoglobien tot 6,8 gram per desiliter gedaal het (die normale telling is ongeveer 15). Hulle het gesê dat hulle telefonies die raad van ’n spesialis op die gebied van bloedlose chirurgie ingewin het. Hy het aangeraai dat ek ’n noodoperasie ondergaan. Ek het gevra watter ander keuses ek, benewens ’n operasie, gehad het.
’n Gastro-enteroloog is ingeroep. Hy het gesê dat dit moontlik was om ’n mikroskoop in my keel af te stuur na die gaatjie in die duodenum, die eerste deel van die dunderm. Wanneer hulle eers geweet het waar die bloeding plaasvind, kon ’n chemiese hemostaat op die wond gedrup word om die bloeding te probeer stuit.
“Wat is die kanse op sukses?” het ek gevra.
“Omtrent 50-50”, het hy geantwoord. Maar die chirurg het gesê dat dit byna onmoontlik sou wees om te opereer as die hemostaat nie slaag nie omdat dit ’n vertraging en ’n verlies aan bloed sou meebring. Dit het gelyk asof die operasie my enigste keuse was.
Dit was ’n emosionele oomblik. Ek en my vrou het omhels. Voordat ek in die ambulans na die hospitaal geneem is, is ’n testament vir my opgestel en het ek dit onderteken. Ons vriende het gedink dat ek waarskynlik nie die operasie sou oorleef nie.
Die operasie
In die operasiesaal is ek op wat na ’n groot glastafel gelyk het, geplaas. Daar was ligte bo en onder my. Ek het nog banger gevoel en dit moes ooglopend gewees het, want een van die chirurge het met my kom praat. “Moenie jou bekommer nie. Alles sal goed afloop”, het hy gesê. Sy hartlike besorgdheid was bemoedigend. Die narkose is deur middel van inhalasie toegedien en ek het binne wat vir my na ’n sekonde gevoel het van ’n toestand van bedwelming na een van gevoelloosheid en uiteindelik bewusteloosheid gegaan.
Ek het wakker geword toe hulle my van ’n trollie na ’n gewone hospitaalbed oorgetel het. Ek het paniekbevange geword toe ek die verskriklike pyn van die sny asook die pype in my neus en keel gevoel het. My vrou, en ’n vriendin, het my bemoedig. Hulle het water oor my lippe gevee om my vreeslike dors te verminder. Ek was so bly om te leef.
Hoewel hulle my verseker het dat die operasie ’n sukses was, het my bloedtelling steeds gedaal. Wat kon verkeerd wees? ’n Ondersoek van my stoelgang het getoon dat ek nog bloei. Die chirurge was seker daarvan dat dit nie van die plek afkomstig was wat hulle pas herstel het nie—maar waarvandaan dan?
Die dokters was van mening dat ek iets giftigs moes gedrink het wat miskien in die dikderm ’n gaatjie gevorm het. Hulle het gesê dat ek te swak was om weer geopereer te word.
Druk om bloed te aanvaar
Namate my bloedtelling gedaal het, het die druk om ’n bloedoortapping te aanvaar, toegeneem. Die verpleegster wat na my omgesien het, het gesê dat as sy ’n dokter was sy net sou voortgaan en vir my bloed sou gee sonder om eers te vra. Ongeveer drie-uur die oggend het ’n dokter na my toe gekom en gesê: “Jy moet bloed neem as jy wil bly leef.”
Ek het aan hom verduidelik dat ek een van Jehovah se Getuies is en dat ek weens godsdienstige en mediese redes nie ’n bloedoortapping sal aanvaar nie (Levitikus 17:10-14; Handelinge 15:28, 29). Dit was duidelik dat hy ontsteld was, maar ek het sy gesindheid toegeskryf aan die feit dat hy nie my ferm standpunt verstaan en gerespekteer het nie.
Weens toenemende druk sowel as ander toestande in die hospitaal het ek gevra om ontslaan te word. Ek is spoedig met die ambulans teruggeneem na die takkantoor se siekeboeg.
Doeltreffende lewensreddende behandeling
Ek het die dokter daar, wat een van Jehovah se Getuies is, gevra of hy wel EPO (eritropoïetien), ’n sintetiese hormoon wat die beenmurg stimuleer om rooi bloedselle teen ’n verhoogde tempo te vervaardig, aan my toegedien het. Hy het ja gesê. Die liggaam het natuurlik steeds die gewone basiese boustene nodig om gesonde rooi bloedselle te vervaardig. Hierdie boustene is foliensuur, vitamien B en veral yster. Ysterdekstran (Imferon) wat binneaars toegedien word, is die vinnigste manier om die nodige yster te voorsien en ek het daarvoor gevra.a
Maar Imferon was nie in Argentinië beskikbaar nie. Dit was selfs moeilik om dit in die Verenigde State te bekom aangesien die meeste daarvan na die Midde-Ooste verskeep is weens die oorlog in die Persiese Golf. Maar ’n bietjie is uiteindelik opgespoor en onmiddellik aan een van Jehovah se Getuies toevertrou wat op pad was na Argentinië.
Teen hierdie tyd was my hemoglobientelling net 4. Omdat ek geweet het dat te veel bloedmonsters tot bloedarmoede kan bydra, het ek vir die mediese tegnikus wat na die tak toe gekom het, gesê dat ek hom nie gaan toelaat om nog bloedmonsters te neem nie. Hy het nie saamgestem nie: “Ons moet dit neem as ons wil weet wat aangaan.”
“Julle weet wat aangaan”, het ek geantwoord. “Ek bloei, en wat is die kosbaarste vloeistof in my liggaam?”
“Bloed”, het hy erken.
“En ek het besluit dat ek vir eers nie meer van myne gaan gee nie”, het ek geantwoord. Ons weet nie met hoeveel my bloedtelling nog gedaal het nie.
Daardie aand het ek vurig tot Jehovah gebid, sy hulp gevra en my hoop uitgespreek om die volgende oggend wakker te word. Ek het, maar ek het gevoel dat my lewenskrag my verlaat. Dit het gelyk asof ek sou sterf. My hemoglobientelling is normaalweg omtrent 17,2 gram per desiliter, wat nogal hoog is binne die aanvaarbare grense, en ek het dus meer as 75 persent van my bloed verloor. Nog iets sou gedoen moes word.
Daardie oggend het ek gevra dat die dokters wat na my omgesien het my behandeling met my moet bespreek. Vitamien K, wat belangrik is vir bloedstolling, is nie aan my toegedien nie, maar hulle het nou onmiddellik ingestem om dit te begin toedien. My volgende vraag was: “Kan enige van die geneesmiddels wat julle vir my gee die oorsaak van die bloeding wees of daartoe bydra?”
“Nee”, het hulle geantwoord.
“Is julle seker daarvan?” het ek steeds gevra.
Vroeg die volgende oggend het een van die chirurge na my toe gekom en gesê dat hulle na verdere ondersoek gevind het dat een van die geneesmiddels heel waarskynlik tot die bloeding kon bydra. Die gebruik daarvan is onmiddellik gestaak. Die dokters se gewilligheid om goed na my as ’n pasiënt te luister en om my behandeling noukeurig te ondersoek, het my respek vir hulle laat toeneem.
Op my versoek is mediese lektuur na my gebring en ek en my vrou het dit noukeurig deurgelees. Een artikel was oor ’n chemiese hemostaat, ’n medisyne wat bloeding stuit. Ons het net op die artikel afgekom toe dr. Marcelo Calderón Blanco, ’n mede-Getuie, instap en vir ons sê dat hy ’n soortgelyke produk wil gebruik! Die preparaat is aan my toegedien op dieselfde wyse as ’n enema. Die Imferon wat van die Verenigde State afkomstig was, is ongeveer dieselfde tyd afgelewer en binneaars aan my toegedien.
Nou kon ons net wag. Ek het binne ’n dag sterker begin voel. Drie dae later het ek hulle toegelaat om ’n bloedmonster te neem. Verbasend genoeg het my hemoglobientelling tot 6 gestyg! Tog, toe dit vyf dae vroeër geneem is, was dit 4 en besig om te daal! Die dokters was skepties. Hulle het nog ’n toets aangevra. Dit het die uitslag van die eerste een bevestig. Die EPO en Imferon het gewerk!
Die tegnikus by die kliniek wat my bloed getoets het, het my gebel en gesê dat die dokter seker ’n bloedoortapping toegedien het. “Niemand se bloedtelling kan so vinnig sonder ’n bloedoortapping styg nie”, het hy gesê. Die dokter het hom verseker dat geen bloed gegee is nie. “Watter prosedure gebruik julle wat die bloedvlak so vinnig laat styg?”, wou hy weet. Daar is vir hom gesê dat EPO en Imferon gebruik is.
Dr. Amilcar Fernández Llerena, een van my dokters wat nie ’n Getuie is nie, het my besoek op die dag toe ek die bloedtoets se uitslag ontvang het. Nadat hy my ondersoek het, het hy verbaas gesê: “Ek gee jou ’n nuwe naam—Lasarus.” (Vergelyk Johannes 11:38-44.) Ek het my trane met moeite bedwing.
Dr. Llerena het gesê: “Jy kan jou God, Jehovah, dank dat jy nog lewe.” Ek het hom gevra wat hy bedoel. “As jy gerook, dwelms misbruik of swaar gedrink het”, het hy geantwoord, “sou jy nie die operasie oorleef het nie. Maar omdat jou liggaam skoon en sterk is weens jou gehoorsaamheid aan God se wet het jy dit oorleef.”
Die inligting wat ek in my geval gebruik het, was meestal wat ons vir die Hospitaalskakelkomitees tydens seminare in Noord-Amerika, Europa en Latyns-Amerika geleer het. Die klem van die program was op suksesvolle alternatiewe middels wat gebruik kan word in bloedlose mediese behandeling. Gelukkig is inligting oor hierdie alternatiewe behandelings beskikbaar aan dokters deur middel van ’n Hospitaalskakelkomitee, waarvan daar nou meer as 800 oor die hele wêreld bestaan.
Ek hoop dat my ondervinding ander Getuies sal help wat bloedlose behandeling wil hê. Die hospitaal waar ek my operasie gehad het, het later in aanraking gekom met die Argentynse takkantoor van Jehovah se Getuies en gesê dat hulle nou besef dat ons ’n suksesvolle prosedure het om pasiënte met bloedlose produkte te behandel en dat hulle bly sal wees om in die toekoms met ons saam te werk.
[Voetnoot]
a Vir ’n hele lys van alternatiewe behandelings kan jy die Ontwaak! van 22 November 1991, bladsy 10, raadpleeg.
[Prent op bladsy 13]
Ek verlaat die hospitaal na my operasie