Dokters het geleer uit my noue ontkoming
IN DIE middel van Mei 1991 het ons uitgevind dat ons ons vierde kind verwag. Ons jongste, Mikael, was nege, en ons tweelingdogters, Maria en Sara, was 13. Hoewel die nuwe baba nie beplan was nie, het ons gou gewoond geraak aan die idee van nog ’n baba.
Een aand gedurende die derde maand van my swangerskap het ek ’n skielike pyn in my long gevoel. Die volgende dag kon ek skaars loop. Die dokter het gesê dat ek longontsteking het, en sy het vir my penisillien gegee. Ná ’n paar dae het ek beter begin voel, maar ek was taamlik swak. Toe het ek skielik pyne in my ander long ondervind en dieselfde prosedure is herhaal.
Gedurende die daaropvolgende dae kon ek nie lê nie omdat ek gesukkel het om asem te haal. ’n Bietjie meer as ’n week ná die eerste pynaanval het een van my bene blou en opgehewe geraak. Hierdie keer is ek in die hospitaal opgeneem. Die dokter het vir my gesê dat die pyn in my longe nie weens longontsteking was nie, maar weens bloedklonte. Sy het ook gesê dat ek ’n bloedklont in my lies het. Ek het uitgevind dat bloedklonte een van die algemeenste doodsoorsake onder swanger vroue in Swede is. ’n Paar dae later is ek oorgeplaas na die Karolinska Sjukhuset-hospitaal in Stockholm, wat ’n spesiale kraamkliniek vir gekompliseerde swangerskappe het.
Die dokters het besluit om die bloedverdunningsmiddel heparien toe te dien. Hulle het my verseker dat die gevaar van bloeding weens die gebruik van heparien klein was vergeleke met die gevaar van nog ’n bloedklont in die longe. Ná ’n paar weke was ek gesond genoeg om terug te gaan huis toe. Ek het die warm, gloeiende geluk ervaar om te leef met die lewendige kleintjie wat binne-in my groei.
Tyd vir die bevalling
Daar is besluit om die bevalling aan te bring, maar voordat stappe gedoen kon word om die prosedure te begin, het ek kwaai pyn in my onderbuik ondervind. Hulle het dus met my na die hospitaal gejaag. Die dokters kon egter geen fout vind nie.
Die volgende aand was my buik baie opgeswel, en die pyn het nog nie verminder nie. In die middel van die nag het ’n dokter my ondersoek en gevind dat ek in kraam is. Die volgende oggend was my buik selfs meer opgeswel, en die pyn was ondraaglik. Die dokter het bekommerd gelyk en gevra wanneer ek laas die kind se bewegings gevoel het. Ek het skielik besef dat ek lank niks gevoel het nie.
Hulle het onmiddellik met my na die kraamkamer gehaas. Ek kon die personeel in die verte hoor praat. “Sy weier om ’n bloedoortapping te neem”, het iemand gesê. Toe het ’n verpleegster oor my gebuk en met ’n harde stem gesê: “Jy weet dat jou kind dood is, nè?” Dit het gevoel asof iemand ’n dolk in my hart gesteek het.—Spreuke 12:18.
Besliste weiering om bloed te aanvaar
Skielik het my dokter opgedaag en vir my gesê dat my toestand uiters ernstig is. Hy het gevra of ek nog by my besluit wou hou om nie ’n bloedoortapping te aanvaar nie. Ek het nadruklik gesê dat ek nog so voel, maar ná dit onthou ek nie veel nie. Ek het dit egter baie duidelik aan my dokter gestel dat Christene die opdrag het om hulle van bloed te onthou en dat ek aan God se wet gehoorsaam wou wees.—Handelinge 15:28, 29; 21:25.
Intussen het hulle ’n ander dokter, Barbro Larson, ’n ervare chirurg, laat haal. Sy was gou daar en het onmiddellik geopereer. Toe hulle my buik oopmaak, het hulle gevind dat ek drie liter bloed deur inwendige bloeding verloor het. Maar dr. Larson het my besluit aangaande ’n bloedoortapping gerespekteer.
’n Ander dokter het agterna gesê dat dit net ’n kwessie van minute was voordat ek sou sterf. “Ek weet nie of sy op hierdie oomblik nog lewe nie”, het hy na bewering gesê. Dit het later duidelik geword dat die dokters nie die oorsprong van die bloeding kon vind nie, en daarom het hulle ’n klemverband in my buik geplaas. Die dokters en verpleegsters het geen hoop gehad dat ek sou lewe nie.
Toe my kinders by die hospitaal aankom en van my toestand uitvind, het een van hulle gesê dat Armageddon binnekort sou kom en dat hulle my daarna in die opstanding sou terugkry. Wat ’n wonderlike en regverdige reëling is die opstanding tog!—Johannes 5:28, 29; 11:17-44; Handelinge 24:15; Openbaring 21:3, 4.
My lewe hang aan ’n draadjie
My hemoglobien het tot 4 gram per desiliter gedaal, maar die bloeding het blykbaar opgehou. Ek het vroeër ’n eksemplaar van die Ontwaak! van 22 November 1991 in my siekteverslag gesit. Dr. Larson het dit gevind en die opskrif “Voorkoming en beheer van bloeding sonder bloedoortappings” opgemerk. Sy het dit gretiglik bestudeer om te sien of daar iets was wat sy kon gebruik om my te help. Sy het die woord “eritropoïetien” gesien, wat ’n middel is wat die liggaam stimuleer om rooi bloedselle te produseer. Sy het dit dadelik toegedien. Maar die medikasie neem tyd om resultate te lewer. Die vraag was dus: Sou die eritropoïetien betyds werk?
Die volgende dag het my hemoglobienvlak tot 2,9 gedaal. Toe ek wakker word en my hele gesin om my bed sien staan, het ek gewonder wat gebeur het. Weens die respirator kon ek nie praat nie. Ek was byna histeries van smart, maar ek kon nie eens huil nie. Almal het vir my gesê dat ek my kragte moes spaar sodat ek kon bly leef.
Die volgende dag het ek koors gehad weens ontsteking wat veroorsaak is deur die klemverband wat in my buik gelaat is. My hemoglobien het tot 2,7 gedaal. Al is dit baie gevaarlik om iemand in daardie toestand onder narkose te plaas, het dr. Larson verduidelik dat hulle ten spyte van die risiko weer móés opereer om die klemverband te verwyder.
Voor die operasie is die kinders toegelaat om in te kom en my te sien. Almal het gedink dit is ’n afskeid. Verskeie lede van die mediese personeel het gehuil. Hulle het nie geglo dat ek dit sou oorleef nie. Ons kinders was baie dapper, en dit het my kalm gehou en moed gegee.
Omdat die narkose minimaal was, kon ek by tye hoor wat die dokters en verpleegsters vir mekaar sê. Van hulle het van my gepraat asof ek reeds dood was. Later, toe ek vertel het wat ek gedurende die operasie gehoor het, het een verpleegster gesê sy is jammer. Maar sy het gesê dat sy oortuig was dat ek gaan sterf en nog steeds nie verstaan hoe ek dit oorleef het nie.
Die volgende dag het ek ’n bietjie beter gevoel. My hemoglobien was 2,9 en my hematokrit was 9. My Christenbroers en -susters het besoek afgelê en kos en koffie vir my gesin gebring. Ons was dankbaar vir hulle liefde en toegeneentheid. Teen die aand was my toestand steeds kritiek maar stabiel, en ek is na ’n ander saal verskuif.
Die dokters leer
Baie lede van die mediese personeel was nuuskierig oor my en die meeste van hulle was baie vriendelik. Een verpleegster het gesê: “Jou God moes jou gered het.” ’n Dokter van ’n ander saal het verbygekom en gesê: “Ek wil net sien hoe ’n persoon met so ’n lae hemoglobienvlak lyk. Ek kan nie verstaan hoe jy so wakker kan wees nie.”
Al was dit haar vry dag, het my dokter my die volgende dag kom sien. Sy het vir my gesê dat sy ’n nederigheid voel oor wat gebeur het. Indien ek volkome herstel, het sy gesê, gaan hulle nuwe navorsing doen oor alternatiewe vir bloedoortappings in die behandeling van pasiënte.
My herstel was merkwaardig. Twee en ’n half weke ná my tragiese bevalling het my hemoglobienvlak tot ’n bietjie meer as 8 gestyg. Ek is dus uit die hospitaal ontslaan. Drie dae later het ons ons jaarlikse kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies gehad, en ek was daar. Hoe bemoedigend was dit tog om weer ons Christenbroers en -susters te sien wat so aanmoedigend was gedurende ons beproewing!—Spreuke 17:17.
Soos dr. Larson belowe het, is ’n verslag oor my geval, getiteld “Eritropoïetien vervang bloedoortapping”, later in die Sweedse mediese tydskrif Läkartidningen gepubliseer. Dit het gesê: “’n Vyf-en-dertigjarige vrou, een van Jehovah se Getuies, het akute, hewige obstetriese bloeding ondervind. Sy het ’n bloedoortapping geweier maar het behandeling met eritropoïetien aanvaar. Ná nege dae se na-operatiewe behandeling met groot dosisse eritropoïetien het die hemoglobien van 2,9 tot 8,2 gram per desiliter gestyg, sonder enige newe-effekte.”
Die artikel het afgesluit: “Aanvanklik was die pasiënt baie swak, maar sy het verbasend vinnig herstel. Wat meer is, die na-operatiewe kursus was heeltemal sonder komplikasies. Die pasiënt kon ná twee weke uit die hospitaal ontslaan word.”
Al was hierdie ondervinding ’n harde slag vir ons, is ons bly dat party dokters, as gevolg daarvan, meer oor alternatiewe vir bloedoortappings geleer het. Hopelik sal hulle bereid wees om die behandelings wat suksesvol bewys is te probeer.—Soos vertel deur Ann Yipsiotis.
[Prent op bladsy 26]
Saam met my hulpvaardige chirurg