Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 10/22 bl. 25-27
  • Hoe reuse langs die kus gekweek word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe reuse langs die kus gekweek word
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom word bome gekweek?
  • Hoe dit gedoen word
  • Daar bestaan gevare
  • Boomkwekery in die toekoms
  • “Die bome van Jehovah word versadig”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • ’n Boom “waarvan die blare nie verwelk nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die vergroening van die Amasonewoud
    Ontwaak!—2000
  • Bome wat die toets van die tyd deurstaan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Ontwaak!—1992
g92 10/22 bl. 25-27

Hoe reuse langs die kus gekweek word

Deur Ontwaak!-medewerker in Kanada

’NWANDELING in ’n woud met baie hoë bome is ongetwyfeld een van die aangrypendste, selfs ontsagwekkendste, ervarings wat ’n mens kan hê. Dit het ’n waarlik stimulerende uitwerking op jou as jy sien hoe die lig en kleure deur die bome stroom, as jy die koel, vars lug inasem en die stilte en vrede waarneem.

Noord-Amerika se Pasifiese Noordwestelike Streek is welbekend vir sy reusewoude. Die beroemde reuse wat langs die kus groei—keëldraende sagtehoutbome—groei in oorvloed op die berge en in die valleie en fjords. Hier groei die Kanadese spar-, balsem-, denne-, seder- en sparbome almal baie hoog. Die bekende Douglas-spar kan tot ’n hoogte van byna 90 meter groei!

Maar daar steek meer in hierdie bome as net hulle grootsheid. Houtkappers, vragmotorbestuurders, padbouers, saagmeulwerkers, vragbootwerkers en ander maak almal ’n bestaan uit hierdie bome. En die bome lewer die grondstof waaruit duisende fabrieksware vervaardig word om in verbruikers se behoeftes te voorsien. Bome is so belangrik dat wetenskaplikes en bosbestuurders maniere probeer vind waarop hulle hulle groei kan bespoedig en die woud se opbrengs kan verbeter. Ten einde dit te doen, het hulle hulle tot die wetenskap en die kuns van boomkwekery gewend.

Waarom word bome gekweek?

Elke boom in ’n woud is uniek—net soos ’n klomp gesigte in ’n skare ook almal verskillend is. Elkeen se hoogte, blare en takke is effens anders as dié van die ander bome. En daar kan ook ander verskille wees wat jy nie kan sien nie.

Party bome groei vinniger as ander. Party lewer hout wat sterker, digter en suiwerder (sonder knoetse) as ander is. En party is beter bestand teen plae en siektes. Vir die bosboubedryf is al hierdie dinge baie belangrik.

Bosbestuurders wil natuurlik bome hê wat vinnig groei, teen siektes bestand is en hout van ’n hoë gehalte lewer. En hulle verkies bome wat min of meer dieselfde grootte is omdat hulle makliker afgekap, vervoer en gesaag kan word. Maar bome wat aan dié doel beantwoord—die ou bome wat vroeër hier gestaan het toe die eerste houtkappers in die middel van die 19de eeu hier aangekom het—is reeds afgekap. Die bome wat vandag afgekap word, en wat uit die afgekapte stompe van die ou bome gegroei het, is kleiner, groei stadiger, het minder hout en verskil in gehalte. Dit is die boomkweker se taak om bome te kweek wat die gewenste eienskappe het. Dit het die boomveredelingsprogramme tot gevolg gehad wat nou in die Pasifiese Noordwestelike Streek in werking is.

Hoe dit gedoen word

Boomkwekery begin met keuring. In die gebied waar herbebossing beplan word, fynkam ’n span tegnici ’n groep bome op soek na plus-bome—bome wat lyk of hulle die grootste genetiese potensiaal vir boomkweking bied.

Maar moenie dink dat hulle net vir ’n aangename rit deur die woude gaan nie. Dit behels ’n sorgvuldige soektog. Elke moontlike plus-boom moet aan ’n lys vereistes voldoen—dit moet ’n goeie keëlopbrengs hê, vinnig groei, ’n reguit stam hê, geen siektes hê nie, ensovoorts. Maar in hierdie werk kan voorkoms misleidend wees. Daardie pragtige, gesonde, 40 meter hoë denneboom is dalk hoër, maar het dit vinniger gegroei of is dit eenvoudig ouer? Het dit toevallig ’n beter ligging of beter dreinering, of is die grootte werklik te danke aan voortreflike oorgeërfde eienskappe?

Sodra ’n bevredigende eksemplaar gevind word, word ’n etiket daaraan gebind en word dit genommer. Maar hoe kan dit nou gekweek word om ander bome van hoë gehalte voort te bring? Niks sal bereik word deur dit te ontwortel en elders oor te plant nie. Dit sal ook nutteloos wees om bloot die saad te neem en dit te plant, want daar is geen manier waarop ’n mens kan bepaal watter een van die omliggende bome die saad bestuif en hulle gevolglik geneties besmet het nie. Daar moet ’n steggie van die boom geneem word. Maar hoe kan dit gekry word?

Die laagste tak is hoog bo die grond. ’n Skerpskutter lig dus sy geweer en vuur. Die punt van ’n gesonde tak sweef na onder. Hierdie steggie, wat ’n entloot genoem word, word dan geneem en op die wortelstok van ’n jong boom in ’n saadkwekery geënt. Daar sal die geënte entloot tot ’n genetiese replika van die moederboom—’n kloon—groei.

Die saadkwekery se ligging word sorgvuldig gekies sodat die geënte klone nie deur ander bome in die omgewing bestuif sal word nie. Later word die volwasse klone se voortplantingsbloeisels, wat met behulp van papieromhulsels beskerm word teen stuifmeel wat in die lug is, kunsmatig met ’n spuitnaald bestuif. Die saad wat dan daaruit voortkom, sal ’n nuwe geslag saailinge, of jong plantjies, voortbring. Alle gegewens in verband met elke stap in die proses, en elke saailing, moet noukeurig aangeteken word sodat die plus-boom se oorsprong, die stuifmeel se oorsprong en ’n klomp ander inligting nagegaan kan word.

Die saailinge word dan na ’n terrein naby die plus-boom geneem en daar geplant om uit te vind hoe hulle gaan vaar. Net soos kinders kan die bome hulle ouers se goeie of slegte eienskappe weerspieël. As hulle goed vaar, kan hulle entlote die grondslag van ’n tweede geslag saadkwekery vorm. Hierdie entlote se saad kan vir tot R1,60 per gram verkoop word. Maar as hulle swak vaar, word hulle ouers, die klone, wat in die kwekery is waarskynlik ontwortel, en die plus-bome waarvandaan die oorspronklike entlote gekom het van die program geskrap. Nuwe plus-bome moet gevind word, en die sorgvuldige proses begin weer van voor af.

Dit alles vereis baie tyd. ’n Boomkweker verwag nie eers om een volgroeide generasie te sien wat die resultaat van sy werk is nie. Dit neem tot tien jaar voordat ’n saadkwekery sade in bruikbare hoeveelhede voortbring. Dit neem nóg tien jaar om die saailinge van die kwekery se bome te toets. Uiteindelik neem dit nóg 50 tot 60 jaar voordat die bome hoog genoeg is om afgekap te word.

Daar bestaan gevare

Soos ons reeds gesê het, kan jare se werk verlore gaan as die geënte entlote swak vaar. Die versoeking is dus groot om net by ’n paar van die beste en bewese plus-bome te hou. Maar daar is gevare hieraan verbonde. Watter gevare?

Elke boom is, soos elke mens (behalwe ’n identiese tweeling of drieling), geneties uniek—’n genotipe. Hoe minder genotipes daar in ’n boomkweker se genebank is, hoe minder verskillende genes is daar in daardie bank en hoe groter is die gevaar dat die een of ander siekte of plaag ’n hele geslag bome, selfs ’n hele woud, sal uitwis.

Daarom is dit verstandig om ’n groter genebank te hê, selfs al groei party plus-bome wat gebruik word nie so vinnig of so reguit nie. As ’n hele paar plus-bome gebruik word, verminder dit die gevaar van ’n grootskaalse uitwissing.

Boomkwekery in die toekoms

Hoewel dit nóg 50 jaar kan duur voordat die boomkwekery wat nou gedoen word resultate sal lewer, is daar die bykomstige voordeel dat woude wat met verbeterde saad aangeplant word, in 10 tot 20 persent minder tyd bemarkbaar sal wees as dié wat uit gewone saad voortgebring is. En party deskundiges voorspel dat boomkwekery die hoeveelheid afgekapte hout met tot 25 persent op ’n gegewe stuk grond kan vermeerder. Hierdie voordeel, sowel as die beter weerstand teen siektes en plae, sterker en suiwerder hout en beter saadopbrengste, dra daartoe by dat boomkwekery ’n belangrike deel uitmaak van bosbestuur in die Pasifiese Noordwestelike Streek.

Tyd bly die boomkweker se vyand. Dit neem te lank om resultate te sien, om besluite te neem en om na die volgende stap oor te gaan. Bome, en veral die naaldbome, het ons nog altyd oorleef. Maar die Bybel praat van ’n tyd in die toekoms wanneer dit nie meer die geval sal wees nie. Dit belowe: “Die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome.” Om die waarheid te sê, God belowe dat sy volk vir ewig sal lewe (Jesaja 65:22; Openbaring 21:3, 4). Dan sal mense tyd hê om die fassinerende genetiese potensiaal te ondersoek wat steeds in plante en diere versteek lê.

[Prente op bladsy 26]

’n Steggie word van ’n boom afgeskiet

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel