Ons beskou die wêreld
’n Keerpunt vir die VN?
“Die Verenigde Nasies sal dalk nooit weer dieselfde wees na die Aardeberaad nie”, het Charles Petit, ’n wetenskapskrywer vir die San Francisco Chronicle, gesê. Hy het bygevoeg: “Dit lyk asof die Verenigde Nasies uiteindelik die aansien win wat dit 47 jaar gelede moes gehad het toe die handves in San Francisco onderteken is.” Die VN-geborgde Aardeberaad, wat in Junie 1992 in Rio de Janeiro, Brasilië, gehou is, het probeer om party van die omgewingsprobleme waarmee die wêreld nou te kampe het, aan te pak; dit is duidelik dat baie van hierdie probleme net te groot is om deur individuele nasies opgelos te word. Hilary French van die Worldwatch Institute het opgemerk: “Nasies staan in werklikheid dele van hulle heerskappy aan die internasionale gemeenskap af en begin om ’n nuwe stelsel van internasionale omgewingsbestuur te skep.”
Vroue in die werkplek
Volgens Finance & Development, ’n tydskrif wat deur die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds uitgegee word, raak al hoe meer vroue oor die hele wêreld “ekonomies aktief”, of doen sekulêre werk, maar hulle het steeds met geweldige struikelblokke te kampe. Volgens die tydskrif se skatting is daar wêreldwyd ongeveer 830 miljoen vroue wat ekonomies aktief is en 70 persent van hulle woon in ontwikkelende lande. In Afrika en dele van Asië is daar veel minder meisies as seuns wat hoërskool toe gaan, en dit is dus nie verbasend nie dat ongeveer 75 persent van die vroue wat 25 jaar en ouer is, ongeletterd is en dat dit dikwels vir hulle moeiliker is om ordentlike werk te kry nie. Hoewel veel minder vroue as mans ekonomies aktief is, is dit geensins ’n aanduiding van hoeveel vroue werk nie, aangesien die syfers net vroue insluit wat formele werk doen en nie diegene wat in huise of in familie-ondernemings werk nie. Studies het getoon dat die gewone vrou in Asië, Afrika en die Pasifiese streek weekliks ongeveer 12 of 13 uur langer as die gewone man werk.
“Die hel bestaan”?
“Die hel bestaan; dit is ewig.” Dít is wat die Italiaanse Jesuïete gesê het in hulle tydskrif La Civiltà Cattolica wat die Vatikaan se goedkeuring geniet. Hulle is klaarblyklik bekommerd oor ’n neiging in die Katolieke Kerk om die veronderstelde werklikheid van die helse vuur en sy pynigings af te water. Hulle kritiseer byvoorbeeld ’n kategismus vir jongmense wat nie eers een bladsy “aan die verborgenheid van die vergelding vir sonde” wy nie. Die Jesuïete dring daarop aan dat die “vuur” van die helse vuur nie net “uitsluiting uit die teenwoordigheid van God of die berou van die veroordeeldes” is nie, maar dat dit pyn insluit wat as ’n straf vir aardse sondes dien. Hulle spoor teoloë, priesters en kategiste aan om, veral met jongmense, oor die hel te praat. Tog leer die Bybel nie so ’n leerstelling nie, dit sê dat die dooies “glad niks weet nie”.—Prediker 9:5.
Prentverhale word verkwalik vir seksuele aanrandings
In Tokio, Japan, het die polisie onlangs ’n 16-jarige hoërskoolleerling aangekla weens 25 gevalle van seksuele aanranding. Die jeugdige het obsene prentverhale die skuld gegee. In een voorval het hy glo ’n seksueel eksplisiete prentverhaal by ’n kafee gekry waarna hy ’n tienjarige meisie na ’n ruskamer toe geneem en haar gedwing het om saam met hom die dinge te doen wat in een van die boek se onsedelike prente uitgebeeld word. Hy het teenoor die polisie erken dat hy aan 24 soortgelyke aanrandings skuldig was en dat die meeste van hulle ook aan obsene prentverhale te wyte was. The Daily Yomiuri sê: “Verlede jaar is 86 seksuele misdade in Tokio aangemeld waarby minderjariges betrokke was wat vermoedelik aan obsene prentverhale te wyte was.”
Die oudste bakkery?
Volgens ’n verslag van die Associated Press het argeoloë wat naby Egipte se piramides gewerk het ’n bakkery opgegrawe wat heel moontlik die oudste ter wêreld is. Die bakkery is klaarblyklik gebruik om brood te voorsien aan die werkers wat die piramides gebou het. Mark Lehner, ’n Egiptoloog en een van die leiers van die opgrawing, het gesê: “Hiermee bedoel ons dat daar op ontsaglike skaal gebak is, genoeg om daagliks maklik 30 000 mense van kos te voorsien.” Volgens Mark Lehner moes die werkstoestande in die bakkery ’n nagmerrie gewees het, met intense hitte en dik, swart rook. “Hierdie vertrekke moes soos die naglug gewees het wanneer dit reën”, sê hy. “Ons het deur ’n laag opgehoopte as van [45 cm] gegrawe wat so swart soos fluweel is.” Die bakkery dateer vermoedelik uit die tyd toe die piramides gebou is.
Suurreën in Japan
The Daily Yomiuri berig dat suurreën in Japan vlakke bereik het wat gelyk is aan dié wat in Europa en die Verenigde State aangetref word. Die koerant sê dat wanneer die pH-vlak (’n sekere mate van suurheid en alkaliniteit) van reënwater onder 5,6 daal, die reën as suur beskou kan word. ’n Studiekomitee wat deur Japan se Omgewingsinstansie aangestel is, het gedurende onlangse jare die gemiddelde suurheid van reën gemeet en vlakke van so laag as 4,3 gevind, wat heel laag op die suurheidskaal is. Hoewel dit nog nie bekend is of suurreën wel die oorsaak is nie, het die komitee in hulle verslag gesê dat ’n aantal seder- en dennewoude in Japan besig is om agteruit te gaan.
Woude en atmosfeerbeheer
Ammoniak maak ’n belangrike deel van die aarde se atmosfeer uit. Aangesien dit ’n alkaliese chemikalie is, kan dit die suurheid in suurreën verminder. Maar te veel daarvan dra by tot die onooglike bruin wolke rookmis wat oor baie stede hang. Nuwe studies gee te kenne dat woude die atmosfeer help om die regte ammoniakbalans te behou. The Denver Post het berig dat wetenskaplikes die hoeveelhede ammoniak gemeet het in winde wat oor woude in Colorado, VSA, gewaai het. Wanneer die wind minder ammoniak bevat het as die natuurlike vlak wat in blaarselle aangetref word, het die plante in die woud die chemikalie in die lug afgeskei. Maar wanneer die wind reeds hoë vlakke ammoniak bevat het, het die woudplantegroei die ammoniak geabsorbeer pleks van dit af te skei. Andrew Langford, een van die wetenskaplikes wat die eksperimente uitgevoer het, het gesê: “Die woud is heeltemal daartoe in staat om die atmosfeer te beheer solank daar nie te veel (kunsmatige) bronne is wat hierdie proses teëwerk nie.”
Is Kajafas se graf ontdek?
The Star, ’n Johannesburgse koerant, berig dat dit lyk asof Kajafas, die Joodse hoëpriester wat ’n aandeel aan Jesus Christus se dood gehad het, se graf en oorskot in Jerusalem ontdek is. ’n Ossuarium, of houer vir bene, met die inskripsie “Yehosef bar Caiapha” is ontdek. Kajafas het in ongeveer 18 G.J. hoëpriester geword en het nie net vir Christus vervolg nie, maar ook Christus se volgelinge. Hy is in ongeveer 36 G.J. van sy amp onthef. Die Joodse geskiedskrywer Josephus het ook van Kajafas melding gemaak, en hy is een van die min eertydse figure wie se oorskot gedokumenteer is. The Star haal een argeoloog aan wat gesê het: “Uit meer as duisend ossuariums wat in Jerusalem ontdek is, kon ons die name van omtrent vyf herken.”
Alkohol en vet?
Ons weet almal dat mense wat te veel sterk drank drink geneig is om vet te word. Maar waarom? ’n Onlangse studie wat aan die Universiteit van Zürich, Switserland, gedoen is, het met ’n interessante moontlikheid vorendag gekom. Dit is blykbaar nie net die kilojoules in alkohol wat veroorsaak dat ’n mens vet word nie; dit is ook die wyse waarop alkohol die liggaam se vermoë om vet te verbrand aantas. Voedingkundiges weet lankal dat die liggaam ietwat traag is wat die verbranding van vet betref, dat dit geneig is om vet op te berg, terwyl suikers en koolhidrate vinniger verbrand word. Maar alkohol veroorsaak dat die liggaam selfs langer neem om vet te verbrand. In ’n proefneming is mans op ’n dieet geplaas wat daagliks 90 milliliter suiwer alkohol ingesluit het—dit is gelyk aan ongeveer ses biere. Op hierdie dieet het die mans ongeveer ’n derde minder vet as gewoonlik verbrand. Hoe meer vet daar natuurlik in jou dieet is, hoe groter is hierdie uitwerking.
“’n Treurige verslag”
Die Franse dagblad Le Figaro berig dat 1991 die jaar was waarin die meeste misdade in Frankryk se geskiedenis gepleeg is. Franse wetstoepassingsinstansies het die jongste misdaadsyfers bekend gemaak, wat toon dat meer as 3,7 miljoen misdade verlede jaar in Frankryk aangemeld is—’n vermeerdering van meer as 7 persent bo dié van 1990. Meer as ’n kwart van al hierdie misdade het in die omgewing van Parys plaasgevind. Die koerant sê dat daar “’n opvallende toename in feitlik elke soort misdaad” was, van “ongekende geweld in die voorstede” tot “misdaad onder amptenare, veral onder die politici”. Hierdie jongste syfers toon dat Frankryk se misdaadsyfer nou sewe keer hoër is as 40 jaar gelede. “Dit is ’n droewe stand van sake”, sluit Le Figaro af.
Hofsaak oor passiewe rokery
Die streekhof in Nieu-Suid-Wallis, Australië, het onlangs groot skadevergoeding aan ’n 64-jarige vrou toegeken wat haar vorige werkgewers gedagvaar het weens ernstige gesondheidsprobleme wat sy na bewering opgedoen het nadat sy ongeveer 12 jaar lank in ’n rookgevulde omgewing gewerk het. Voorheen is sulke sake buite die hof geskik, maar in hierdie epogmakende besluit het die hof R170 000 aan die eiseres toegeken. Die koerant The Australian het berig dat dit die eerste keer is dat ’n jurie beslis het dat ’n roker die gesondheid kan benadeel van nie-rokers wat die rookgevulde lug inasem. Party meen dat hierdie beslissing verreikende gevolge kan hê op restaurante, hotelle, nagklubs en ander sakeondernemings waar nie-rokende werknemers groot skadevergoeding kan eis as daar nie voorsiening gemaak word vir rookvrye werkplekke nie.
Vroeë seks en sielkundige verwarring
Geslagsomgang kan talle probleme buiten geslagsiekte vir kinders inhou. Volgens die Italiaanse koerant, La Stampa, is een risiko waarmee daar nie altyd rekenskap gehou word nie die feit dat vroeë seks aanleiding kan gee tot “sielsiektes wat verwarring in hierdie kinders se gemoed en in hulle persoonlike verhoudings skep, en wat uiteindelik afwykende gedragspatrone, alkoholisme, dwelmverslawing en misdaad tot gevolg kan hê”. Tydens ’n kongres wat in Rome gehou is en deur die Sentrum vir Sielkundige en Sosiale Studies en die Italiaanse Departement van Justisie gereël is, is daar bevestig dat jongmense op ’n al hoe vroeër ouderdom begin om geslagsomgang te hê. Volgens een raadgewer is 17 die gemiddelde ouderdom.