Die voordele van die reënwoude
IN 1844 het die Grekis Konstantin von Tischendorf in ’n klooster op 129 bladsye van ’n antieke manuskrip in ’n vullisblik afgekom. Tischendorf het die kosbare bladsye met hom saamgeneem, en dit maak nou deel uit van die Codex Sinaiticus—een van die beroemdste Bybelmanuskripte ter wêreld.
Daardie skat is betyds gered. Die reënwoude—waarvan die werklike waarde ook dikwels geïgnoreer word—is selde so gelukkig. Elke jaar gedurende die droë seisoen word die tropiese hemelruim verlig deur duisende brande wat beesboere en rondtrekkende boere stig. Al Gore, die huidige Amerikaanse visepresident, wat so ’n verwoestende brand in die Amasone aanskou het, het gesê: “Die verwoesting is eenvoudig ongelooflik. Dit is een van die groot tragedies van die ganse geskiedenis.”
Ons verbrand selde iets as ons weet dat dit waardevol is. Die tragiese verhaal van die reënwoude is dat dit vernietig word voordat ons die waarde daarvan begryp, voordat ons verstaan hoe dit werk en selfs voordat ons weet wat daarin voorkom. Om ’n reënwoud aan die brand te steek, is soos om ’n biblioteek te verbrand ten einde ’n huis te verwarm—sonder om die inhoud van die boeke na te gaan.
In die laaste jare het wetenskaplikes ’n studie begin maak van hierdie “boeke”, die geweldige voorraad inligting wat in die reënwoude opgesluit is. Dit is voorwaar boeiende “leesstof”.
’n Unieke woud
“Dit is eenvoudig onverklaarbaar dat daar so baie bome op hierdie Wes-Indiese Eilande kan wees”, het die Spaanse kroniekskrywer Gonzalo Fernández de Oviedo in 1526 uitgeroep. Vyf eeue later is sy woorde nog steeds waar. “Die reënwoud”, skryf Cynthia Russ Ramsay, is “die uiteenlopendste, die ingewikkeldste en die mees misverstane ekosisteem op aarde”.
Tropiese bioloog Seymour Sohmer sê: “Ons moet nooit die feit uit die oog verloor dat ons min of niks weet van die manier waarop die meeste vogtige tropiese woude saamgestel is en hoe hulle werk nie, om nie eens te praat van die afsonderlike spesies nie.” Die uiters groot aantal spesies en die ingewikkeldheid van hulle onderlinge wisselwerking maak die navorsers se taak vreeslik moeilik.
In ’n gematigde woud kom daar miskien net ’n handjie vol boomsoorte per hektaar voor. Aan die ander kant kan daar meer as 80 verskillende soorte op ’n halwe hektaar grond in die reënwoud groei, selfs al is die totale aantal bome per hektaar maar gemiddeld ongeveer 700. Aangesien die klassifikasie van so ’n verskeidenheid ’n uitputtende en presiese taak is, is net ’n paar gebiede groter as een hektaar al ooit in reënwoude ontleed. Maar dié wat wel ontleed is, het verrassende resultate opgelewer.
Die ontsaglike verskeidenheid bome voorsien baie blyplek vir ’n groot aantal woudbewoners—baie meer as wat enigiemand ooit kon droom. Die Amerikaanse Nasionale Akademie vir Wetenskappe sê dat ’n tipiese oppervlakte van tien vierkante kilometer ongerepte reënwoud tot 125 verskillende soorte soogdiere, 100 soorte reptiele, 400 soorte voëls en 150 soorte skoenlappers kan huisves. In vergelyking hiermee sien ons dat daar in die hele Noord-Amerika minder as 1000 voëlsoorte voorkom, en dit sluit die trekvoëls in.
Alhoewel sommige van die tallose plant- en diersoorte oor ’n groot gebied van die reënwoud versprei is, kom ander net in een bergreeks voor. Dít is wat hulle so kwesbaar maak. Toe houtkappers ’n paar jaar gelede uiteindelik al die bome op ’n bergrug in Ecuador afgekap het, is 90 van die inheemse plantsoorte uitgeroei.
Weens sulke tragedies het die Verenigde State se Interagentskaplike Taakmag vir Tropiese Woude gewaarsku: “Die gemeenskap van nasies moet sonder versuim die probleem op ’n progressiewe en gekoördineerde wyse aanpak as ons hierdie hulpbronne, wat grootliks geringgeskat word en waarskynlik onvervangbaar is, wil beskerm teen feitlike vernietiging teen die vroeë deel van die volgende eeu.”
Maar die volgende vrae kan ontstaan: Is hierdie natuurlike hulpbronne werklik so waardevol? Sal die verlies van die reënwoud ’n ingrypende uitwerking op ons lewe hê?
Voedsel, vars lug en medisyne
Begin jy die dag met ’n bord graanvlokkies, miskien met ’n gekookte eier en ’n koppie warm koffie? As jy dit doen, vind jy indirek baat by die oorvloed van die tropiese woude. Die graan, die koffiebone, die hen wat die eier gelê het en selfs die koei wat die melk gelewer het—dit alles het hulle ontstaan te danke aan die fauna en flora van die tropiese woud. Graan kom van Suid-Amerika, koffie kom van Etiopië, hoenderhenne is van Asiatiese boshoenders geteel en melkbeeste stam van die bedreigde banteng van Suidoos-Asië af. “’n Volle 80 persent van dit wat ons eet, is afkomstig uit die trope”, verduidelik die boek Tropical Rainforest.
Die mens kan dit nie bekostig om die bron van sy voedselvoorraad te ignoreer nie. Gewasse sowel as vee kan verswak deur te veel inteling. Die reënwoud, met sy ontsaglike versameling van spesies, kan die genetiese verskeidenheid voorsien wat nodig is om hierdie plante of diere te versterk. Die Mexikaanse plantkundige Rafael Guzmán het byvoorbeeld ’n nuwe grassoort ontdek wat aan hedendaagse graan verwant is. Sy ontdekking het boere gaande gemaak omdat hierdie gras (Zea diploperennis) bestand is teen vyf van die sewe vernaamste siektes wat graanoeste verwoes. Wetenskaplikes hoop dat hulle die nuwe spesie kan gebruik om ’n siektebestande graansoort te kweek.
In 1987 het die Mexikaanse regering die bergreeks waar hierdie wilde graan voorkom onder beskerming geplaas. Maar met soveel van die woud wat vernietig word, gaan kosbare spesies soos hierdie een ongetwyfeld verlore selfs voordat dit ontdek word. In die woude van Suidoos-Asië is daar etlike soorte wilde beeste wat die rasse van mak beeste kan versterk. Maar al hierdie spesies is op die randjie van uitwissing omdat hulle habitat vernietig word.
Vars lug is net so belangrik soos die kos wat ons eet. Soos enigeen wat ’n verfrissende wandeling in die woud geniet al opgemerk het, verrig die bome ’n taak van onskatbare waarde deur die suurstof in die atmosfeer aan te vul. Maar wanneer hulle afgebrand word, word koolstof in die vorm van koolstofdioksied en koolstofmonoksied vrygestel. Albei gasse veroorsaak probleme.
Sommige raam dat die mens se bedrywighede alreeds die hoeveelheid koolstofdioksied in die aarde se atmosfeer verdubbel het. Hoewel nywerheidsbesoedeling waarskynlik die belangrikste oorsaak is, is die verbranding van die woude blykbaar vir meer as 35 persent van alle vrylating van koolstofdioksied verantwoordelik. As dit eers in die atmosfeer is, veroorsaak dit die so genoemde kweekhuiseffek, wat volgens baie wetenskaplikes tot ernstige aardverwarming sal lei.
Koolstofmonoksied is selfs erger. Dit is veral ’n dodelike bestanddeel van die rookmis wat in voorstede probleme veroorsaak. Maar die navorser James Greenberg was verbaas om “net soveel koolstofmonoksied oor die Amasonewoude as oor die Amerikaanse voorstede” te vind. Die onbesonne verbranding van die Amasonewoude het juis die atmosfeer besoedel wat die bome veronderstel is om te reinig!
Behalwe dat die reënwoud ’n bron van voedsel en skoon lug is, kan dit ook ’n ware medisynekas wees. ’n Kwart van al die medisyne wat dokters voorskryf, is afkomstig van plante wat in tropiese woude groei. Uit die wolkwoude van die Andes kom kinien om malaria te beveg; uit die Amasonegebied kom kurare, wat gebruik word as ’n spierverslapper tydens operasies, en uit Madagaskar kom die rooskleurige maagdeblom met alkaloïde wat die oorlewingsyfer van leukemiepasiënte opvallend vermeerder het. Ten spyte van sulke indrukwekkende resultate, is nog net ongeveer 7 persent van alle tropiese plante ontleed vir moontlike medisinale eienskappe. En die tyd word min. Die Amerikaanse Kankerinstituut waarsku dat “die algemene uitdunning van die klam tropiese woude ’n ernstige terugslag vir die antikankerveldtog sal wees”.
Reënwoude vervul ook ander noodsaaklike funksies—hoewel die belangrikheid daarvan selde waardeer word totdat die woude nie meer daar is nie. Dit sluit reënval- en temperatuurregulering in sowel as die voorkoming van gronderosie. “Die oorvloed van die wêreld se tropiese woude gaan ons huidige begrip daarvan ver te bowe”, berig die boek The Emerald Realm: Earth’s Precious Rain Forests. “Maar ons besef selfs nou dat die waarde daarvan onberekenbaar is.”
‘Ons sal net dit bewaar wat ons liefhet’
Die vernietiging van die hulpbronne wat so oorvloedig vir ons kan sorg, is beslis die toppunt van dwaasheid. Meer as 3000 jaar gelede het God die Israeliete opdrag gegee om die vrugtebome te bewaar wanneer hulle teen ’n vyandige stad oorlog voer. Die rede wat hy daarvoor gegee het, was eenvoudig: “Dit voorsien julle van voedsel.” Daarbenewens “is die bome van die veld nie mense dat julle hulle moet beleër nie” (Deuteronomium 20:19, 20, The New English Bible). Dieselfde is waar van die aanval op die reënwoud.
Reënwoude is, net soos vrugtebome, ongetwyfeld baie meer werd terwyl dit nog bestaan as wanneer dit afgekap is. Maar in hierdie moderne wêreld word korttermynvoordele dikwels belangriker geag as die langtermynwaarde. Opvoeding kan gesindhede egter verander. Die Senegalese ekoloog Baba Dioum sê: “Op die ou end sal ons net dit bewaar wat ons liefhet; ons sal net dit liefhê wat ons verstaan en ons sal net dit verstaan wat ons geleer word.”
Tischendorf het daardie antieke bladsye in die woestyn Sinai gesteel omdat hy lief was vir antieke manuskripte en dit wou bewaar. Sal genoeg mense die reënwoude betyds leer liefkry sodat dit gered kan word?
[Lokteks op bladsy 11]
Om ’n reënwoud aan die brand te steek, is soos om ’n biblioteek te verbrand ten einde ’n huis te verwarm—sonder om die inhoud van die boeke na te gaan
[Venster/Prente op bladsy 8, 9]
Bewaar die diere van die woude
JESÚS ELÁ het ongeveer 15 jaar lank gorillas en ander diere van die reënwoude in Afrika gejag. Maar hy jag nie meer nie. Hy het ’n parkgids geword in ’n natuurreservaat wat opsy gesit is vir die beskerming van 750 gorillas in die laagliggende dele van Ekwatoriaal-Guinee.
“Ek geniet die reënwoud meer wanneer ek nie jag nie”, verduidelik Jesús. “Vir my is die woud soos my dorpie omdat ek hier tuis voel en dit my van alles voorsien wat ek nodig het. Ons moet alles in ons vermoë doen om hierdie woude vir ons kinders te bewaar.”
Jesús, wat gretig aan ander van sy liefde vir die woud vertel, is gelukkig. Hy verdien nou meer geld deur gorillas te beskerm as toe hy hulle gejag het. Aangesien toeriste graag vir die voorreg betaal om sulke diere in die natuur te sien, kan parke die plaaslike mense van ’n inkomste voorsien en kan besoekers ’n onvergeetlike geleentheid kry om ’n oorvloed van diere te sien. Maar die bewaring van hierdie fassinerende “web van lewe”, verduidelik die boek Tropical Rainforest, vereis “uitgebreide wildparke, wat eintlik hele stroomgebiede moet insluit”.a
Waarom moet parke so groot wees om voldoende beskerming te bied? John Terborgh bereken in sy boek Diversity and the Tropical Rain Forest dat ’n lewensvatbare jaguarbevolking (ongeveer 300 geslagsryp diere) omtrent 7500 vierkante kilometer nodig het. “Volgens hierdie maatstaf is daar net ’n paar parke op aarde wat groot genoeg vir jaguars is”, is die gevolgtrekking wat hy maak. Tiers het moontlik selfs meer ruimte nodig. ’n Teelbevolking van tiers (400 diere) kan ’n gebied van tot 40 000 vierkante kilometer nodig hê.
As sulke groot reservate vir roofdiere soos dié opsy gesit word, kan hele reënwoudstreke terselfdertyd bewaar word. As ’n bykomende voordeel speel hierdie diere ook ’n noodsaaklike rol in die handhawing van die algemene gesondheid van die dieregemeenskap.
[Voetnoot]
a *In ’n stroomgebied dreineer die water na ’n rivier, ’n rivierstelsel of ’n ander watermassa.
[Venster/Prente op bladsy 8, 9]
’n Verskeidenheid plant- en diersoorte
1. Baie sprinkane van die reënwoud is in opsigtelike kleure getooi. Ander insekte is so goed gekamoefleer dat dit moeilik is om hulle raak te sien
2. Skoenlappers is die opvallendste en delikaatste van die lewende wesens in die reënwoud
3. ’n Groep ape wat holderstebolder van tak tot tak swaai, is een van die amusantste besienswaardighede in die woud
4. Hoewel die jaguar die onbetwiste koning van die Amerikaanse reënwoude is, sien baie min natuurkenners ooit een in die natuur
5. Delikate orgideë versier die klam wolkwoude wat die tropiese berge bedek
6. Daar is minder as 5000 tiers in die natuur oor
7. Die renosterkewer van tropiese Amerika, met sy gepaste naam, het skrikwekkende horings, maar is eintlik heeltemal onskadelik
8. Hoewel gorillas ’n beskermde spesie is, kan hulle vleis nog steeds op Afrikamarkte gekoop word. Hierdie saggeaarde reus is ’n vegetariër en trek in die woud rond in gesinsgroepe
9. Oselotte het byna uitgesterf omdat hulle vir hulle pragtige pels gejag is
10. Papegaaie is onder die raserigste en sosiaalste voëls van die woud
11. Soos die oorapie se groot oë te kenne gee, soek hy snags kos
[Erkenning]
Foto: Zoo de Baños
Foto: Zoo de la Casa de Campo, Madrid
[Erkenning]
Foto: Zoo de Baños
[Prente op bladsy 7]
Reënwoude lewer (1) kakao, (2) rooskleurige maagdeblomme, wat nuttig is vir die behandeling van leukemie, en (3) palmolie. (4) Ontbossing lei tot verwoestende grondstortings