‘‘Die Nazi’s kon ons nie keer nie!”
DIT was ’n wildvreemde se huis. Ek het aan die deur geklop en doodbenoud daar gestaan en gehoop dat niemand tuis is nie. Ek was jonk—net 21 jaar oud—en dit was die eerste keer dat ek die predikingswerk van Jehovah se Getuies van huis tot huis gedoen het. Dit was November 1934, en hier in Duitsland het Hitler hierdie soort prediking heeltemal verbied. Toe die bedienaar wat die leiding tydens ons groepie se vergaderinge geneem het, gesê het ons moet die evangelie gaan verkondig, het ek gedink: “Hy praat tog seker nie van my nie!” Ek was op stuk van sake nog nie eers gedoop nie en ek het net een teks geken. Maar ek was verkeerd—hy het van my gepraat, en hier was ek nou.
Niemand tuis nie! Ek het verlig gevoel. By die volgende huis het daar weer niemand deur toe gekom nie, maar ek kon geluide binne hoor en het die deur oopgemaak. ’n Vrou was besig om ’n paar potte te was en dit het gelyk of ek haar laat skrik het. Ek het senuweeagtig my een teks, Mattheüs 24:14, begin verduidelik. Sy het net na my gestaar. (Ek het later uitgevind dat sy doof was.) Skielik was daar ’n man langs my. Ek het aangeneem dat dit haar man was en het aanhou getuig, maar hy het ’n pistool teen my ribbes gedruk. Hy was ’n Nazi-leier! My metgesel wat oorkant die straat gepreek het, het aan hierdie man se deur geklop en is daaroor die trap afgesmyt. Die Nazi het gedink hy het ’n einde gemaak aan daardie broer se getuieniswerk vir die dag en het my toe raakgesien en my in hegtenis kom neem. Hoewel my metgesel hom eenvoudig afgestof en verder gaan preek het, was ek op die ou end vier maande lank in die tronk. Dit is hoe my predikingsloopbaan begin het!
Na die konsentrasiekamp!
Ná my vrylating het die broers my vertrou om met die ondergrondse getuieniswerk te help. Maar die Nazi’s het my baie fyn dopgehou en ek is kort voor lank weer in hegtenis geneem. Die plaaslike polisie het my na die Gestapo toe geneem en ek was baie benoud toe ek die uitspraak hoor: “Na die konsentrasiekamp!” Ek moes na Esterwegen toe gaan. Ons was ongeveer 120 Getuies (Bibelforscher) daar, en die SS-wagte was vasbeslote om ons ons onkreukbaarheid te laat prysgee.
Daar was een sersant, vir wie ons die bynaam “Yster-Gustav” gegee het, wat vasbeslote was om ons ’n kompromis te laat aangaan. Ons almal moes eendag—heeldag lank, sonder onderbreking—in die warm Augustusson veeleisende fisiese oefeninge doen. Teen die einde van die dag het die helfte van die broers reeds inmekaargesak of was hulle baie siek in die siekeboeg. Ongelukkig het die opsiener van een gemeente geswig en die “kompromisdokument” geteken, en 12 ander van sy gemeente het dit ook geteken.
“Yster-Gustav” was baie bly dat sy foltering blykbaar gewerk het en het toe belowe: “Môre sal elkeen van julle graag hierdie brief wil teken, en geen Jehovah sal julle help nie.” Wel, jy kan jou voorstel dat ons daardie nag ernstig gebid het. Die volgende oggend het ons vir “Yster-Gustav” gewag. En ons het gewag. Eindelik is ons beveel om na ons barakke toe terug te gaan. Steeds geen Gustav nie! Ons het later uitgevind wat gebeur het. “Yster-Gustav” het daardie oggend toe hy in die kamp in ry deur bittere ondervinding geleer dat hy nie van yster gemaak is nie. Hy het met sy motorfiets reg in een van die steenpilare vasgery wat aan weerskante van die kamphek was—’n ingang wat heelwat wyer as nege meter was! Hy is met ’n oopgekloofde voorkop en ’n gebreekte arm hospitaal toe geneem. Toe ons hom uiteindelik na twee maande weer sien, het hy vir ons geskreeu: “Julle Jehovah het dit aan my gedoen!” Nie een van ons het ’n oomblik daaraan getwyfel nie.
Na Holland toe
Ek is in Desember 1935 vrygelaat en beveel om by die Duitse weermag aan te sluit. In plaas daarvan het ek besluit om via Holland na Spanje toe te gaan en my getuieniswerk daar voort te sit. Nadat ek Holland bereik het, het ek die Getuies opgespoor, en hulle het my aangespoor om in Holland te bly. Wat ’n genot was dit tog om weer vryelik te preek en Christelike vergaderinge saam met my broers en susters by te woon! Ons het met fietse deur die Hollandse platteland gery en het bedags gepreek en snags in tente geslaap. Ons het gemiddeld tussen 200 en 220 uur per maand gepreek.
Ons het min geld vir kos en ander uitgawes gehad. Ek onthou een boer duidelik wat ons vir aandete genooi het nadat hy gesien het hoe ons saans ons karige maaltye voorberei het. Daar het ’n tafel met die heerlikste kos op ons gewag! Van toe af het hierdie liefdevolle gesin in ons basiese behoeftes aan botter, eiers, kaas en brood voorsien en ons selfs met ons wasgoed gehelp. Die hele gesin het Getuies geword. Hulle was ’n noodsaaklike skakel gedurende die werk wat voorgelê het.
In 1936 is daar ’n byeenkoms in Bern, Switserland, gehou. Joseph F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, het ons daar toegespreek. Toe, na al die tyd wat ek as ’n voltydse evangelis gedien het, is ek uiteindelik gedoop!
Den Haag
Ek het ’n toewysing in die omgewing van Den Haag ontvang. Baie gesinne het die waarheid van God se Woord daar aangeneem. Ek het vandag nog met party van hulle kontak. In 1939 het die Hollandse polisie my in hegtenis geneem—en dit nogal as ’n Nazi-spioen! Ek het my predikingswerk na die beste van my vermoë voortgesit deur in die tronk briewe te skryf, terwyl ek goed daarvan bewus was dat die regter al my uitgaande pos gelees het. Ná vyf maande, waarvan ek die laaste twee in eensame opsluiting deurgebring het, is ek vrygelaat. Slegs ’n paar dae nadat ek na my huis in Den Haag teruggekeer het, het die Duitse Luftwaffe die gebied begin bombardeer! Ek het geweet dat die Gestapo nie ver agter die invallende soldate sou wees nie. Dit was tyd dat ek weer ondergronds moes werk.
Maar hoe sou ek kon rondgaan sonder om raakgesien te word? ’n Broer wat ’n fietswinkel gehad het, het ’n fiets spesiaal vir my verander. Dit het net soos dié gelyk wat die geheime polisie gebruik het—dieselfde spesiale kleur, met ’n hoë stuur en knippe wat ’n sabel kon hou. Die geheime polisie het my selfs gegroet omdat hulle gedink het ek is een van hulle! Maar terwyl ek eendag met ’n fietspaadjie langs gery het wat deur ’n heining van die pad geskei was, het twee polisiemanne wat met hulle fietse aan die oorkant van die pad gery het my deur ’n gat in die heining gesien en my as ’n vlugteling herken. Ek het nog nooit in my lewe so vinnig getrap nie! Hulle moes eers by ’n oorbrug kom voor hulle kon omdraai en my kon agtervolg, en hoewel hulle hard probeer het om my in te haal, het ek hulle eindelik afgeskud.
Talle noue ontkomings
Die polisie het nou geweet dat ek in Den Haag is. Ek het veiligheidshalwe in verskillende huise begin slaap. By een geleentheid het ek in die huis van ’n gesin met drie kinders geslaap. Soos gewoonlik het ek my klere reggesit sodat ek vinnig kon aantrek ingeval ’n klopjag uitgevoer sou word. Ek het ook twee van die kinders saam laat slaap sodat ek een van hulle in my leë bed kon sit as ek moes vertrek. Sodoende sou die Nazi’s nie ’n warm, leë bed aantref nie.
Teen vyfuur daardie oggend het hierdie maatreëls goed te pas gekom. Daar was ’n harde, aanhoudende gehamer teen die deur. Ek het skaars tyd gehad om die negejarige seun in my bed te sit, my klere in my aktetas te stop, my hoed en jas aan te trek en kaalvoet by die agterste venster uit in die sneeu in te spring. Gelukkig het hulle nie daaraan gedink om ’n wag in die agterplaas te laat staan nie. Ek het na die huis van ’n gesin gehardloop met wie ek die Bybel gestudeer het. Hoewel dit 5:30 vm. en die middel van die winter was, het hierdie man my sonder ’n woord ingelaat en versteek. Al drie in sy gesin het later Getuies geword.
Toe die Gestapo die gesin ondervra het by wie ek kort tevore weg is, het hulle hulle op die seuntjie toegespits. Hulle het selfs aangebied om hom te betaal as hy hulle sou vertel of ’n “oom” onlangs daar besoek afgelê het. Hy het vir hulle gesê: “Ja, lank gelede.” Hoe lank? Hy het nie geweet nie. Hulle het gefrustreerd vertrek. Later het die seun se ma hom gevra waarom hy so geantwoord het, aangesien hy geweet het dat “oom Tom” (my ondergrondse naam) pas die nag daar deurgebring het. Hy het geantwoord: “Vier-en-twintig uur is ’n lang tyd, met baie minute.” En dit is waar!
Die volgende toewysing wat ek ontvang het, was in Groningen. Vrees het party Getuies in daardie stad oormeester en die predikingswerk het feitlik opgehou. Maar die broers was gou weer vol moed en het die wrede Hollandse Gestapo getrotseer. Een nag in 1942 het ons selfs aan ’n “inval” deelgeneem en gedurende ’n voorafbepaalde tydperk van tien minute duisende Bybeltraktate deur die hele stad versprei. Al die koerante het berig dat die Britse Koninklike Lugmag miljoene pamflette vir Jehovah se Getuies versprei het! Ons het die Gestapo laat besef dat ons springlewendig was. Die Nazi’s kon ons nie keer nie—nooit nie!
Die oorlog het voortgeduur en dit het al hoe gevaarliker geword om op straat te wees. Nadat ek en ’n broer een nag ’n geheime vergadering in Hilversum verlaat het, het iemand van agter af in my vasgery, en iets het kletterend voor my voete op die grond geval. Ek het dit opgetel en met ’n skok gesien dat dit ’n Duitse soldaat se helm was! Die eienaar daarvan het by sy fiets gestaan en sy flitslig op my laat skyn. Ek het na hom toe gestap; hy het die helm uit my hand geruk, sy pistool uitgepluk en geskreeu: “Jy is in arres!”
Ek het gebewe. As hy my in hegtenis sou neem, sou dit waarskynlik my dood beteken. Ek het tot God gebid om hulp. Mense het die petalje gehoor en saamgedrom. Toe ek sien dat die soldaat effens slinger, het ek besef dat hy dronk was. Toe het ek onthou dat Duitse militêre reëls offisiere toegelaat het om gewone klere te dra. Ek het dus voor die soldaat gaan staan en geskree met al die gesag wat ek kon: “Weet jy nie wie ek is nie?” Die soldaat was sprakeloos. Hy het sy helm vinnig opgesit en my gesalueer! Hy was oortuig dat hy ’n offisier te na gekom het en het verleë weggesluip die donkerte in. Die omstanders het uiteengespat. Ek kon Jehovah net dank vir nog ’n noue ontkoming!
Die ondergrondse lewe in België
My volgende toewysing was in ’n ander land: België. Ek het die presiderende bedienaar in Antwerpen geword. Weens die verbod het ek elke week talle vergaderinge met klein groepies in verskillende huise gehou. Ek was ook ’n koerier, nog ’n skakel in die wonderlike ketting waardeur die geestelike voedsel voortdurend tydens daardie moeilike jare voorsien is.
Ons bymekaarkomplek om lektuur uit Holland oor die grens te smokkel, was ’n restaurant. Die gebou self was in België, maar die tuin was in Holland, en dit was dus die ideale plek om my kontakpersoon te ontmoet en met hom aktetasse te ruil. Die eienaar het aangeneem dat ons agente vir die Britse Inligtingsdiens is en het ons sy samewerking gegee. Hy het selfs die bevelvoerende polisieoffisier beveel om ons met rus te laat. Maar eendag was daar ’n nuwe konstabel op diens, ’n Nazi-gesinde Belg wat niks van my geweet het nie. Toe hy my met ’n groot leertas sien, het hy daarop aangedring dat ek dit vir hom oopmaak. Ek het geweier; daar was immers drie- of vierhonderd eksemplare van Die Wagtoring daarin. Hy het my toe in hegtenis geneem en na die polisiestasie toe geneem. Die bevelvoerende offisier het die konstabel beveel om te gaan aangesien hy na my sou omsien. Toe het hy saggies vir my gesê: “Ek wil nie sien wat in die tas is nie. Kom asseblief net volgende keer met kleiner tasse.” Ek kon Jehovah weer net dank!
Nadat D-dag (6 Junie 1944) aangebreek het en Geallieerde magte met hulle inval in België begin het, het daar selfs in Antwerpen gevegte uitgebreek. Dit was nou werklik ’n uitdaging om te getuig en vergaderinge by te woon terwyl geweer- en kanonvuur van albei kante af vinnig in die stad toegeneem het. Toe die oorlog amper verby was, het die takkneg verkeerdelik gedink dat ek nie meer ondergronds hoef te bly nie. Ek het na hom geluister, hoewel ’n vriendelike polisiekaptein gesê het dat dit nog te gou was vir my om openlik te verskyn. Elf maande later was die aakligste ondervinding van my lewe agter die rug. Die owerheid wou nie my verhaal glo nie. Hulle was oortuig dat ek ’n Gestapo-agent was en het my opgesluit onder die onmenslikste toestande wat ek nog gesien het. Baie mans wat jonger as ek was, het gedurende daardie maande siek geword en gesterf. Nadat ek uiteindelik ontslaan is, het ek ’n algehele fisiese ineenstorting ondervind.
Getroue diens duur voort
Ná nog jammerlike vertragings, ondervragings en opsluitings kon ek eindelik na Duitsland terugkeer—presies tien jaar nadat ek daar weg is! Ek is met my moeder, ’n getroue Getuie, herenig en ons het baie ondervindinge gehad wat ons vir mekaar kon vertel. Aangesien ek geleidelik weer gesond geword het, het ek weer voltyds begin getuig, nou in Schweinfurt. En watter vreugde was dit tog om te help met die voorbereidsels vir ons eerste naoorlogse byeenkoms wat ons in Neurenberg gehou het op die plek waar Hitler met trots sy troepe laat paradeer het! Ek was later baie bly dat ek aanvaar is om na die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die Verenigde State te gaan waar ek as sendeling opgelei sou word.
By ’n geselligheid kort voor ek na Gilead vertrek het, het ek Lillian Gobitas ontmoet, wat ’n belangrike rol gespeel het in die stryd om godsdiensvryheid ten opsigte van die vlagsalueergeskil in die Verenigde State. Sy het vir my gesê dat sy die solo’s geniet het wat ek by die geselligheid gesing het, en ek het net geglimlag omdat ek haar nie kon verstaan nie. Ek het aanhou glimlag en sy het aanhou gesels. Ons is op die ou end getroud! Dit was natuurlik nadat ons al twee aan Gilead gegradueer en terwyl ons as sendelinge in Oostenryk gewerk het.
Mettertyd het my gesondheidsprobleme ons verplig om na die Verenigde State terug te keer. Sedertdien het ons twee pragtige kinders, ’n seun en ’n dogter, gehad. Ons het die vreugde gehad om te sien hoe hulle al twee die waarheid aanneem. Aangesien my gesondheid verbeter het, het ek gemeentes in die Verenigde State en Kanada bygestaan. Die werk hou nooit op nie en ons probeer daarmee tred hou. Ek dink steeds met teerheid terug aan daardie jare van ondergrondse werk. Die Nazi’s kon ons nie keer nie, want Jehovah was met ons. Hy seën ongetwyfeld steeds die werk en niks sal dit keer totdat hy tevrede is dat dit volbring is nie!—Soos
[Prent op bladsy 18]
Erwin Klose