Jehovah het my ondersteun
SOOS VERTEL DEUR MAX HENNING
Dit was 1933, en Adolf Hitler het kort tevore in Duitsland aan die bewind gekom. Maar die sowat 500 Getuies van Jehovah in die Berlyn-gebied het nie gewankel nie. Talle jongmense het pioniers, oftewel voltydse bedienaars, geword, en party het selfs toewysings na ander Europese lande aanvaar. Ek en my vriend Werner Flatten het mekaar dikwels gevra: “Waarom staan ons net rond en verkwis tyd? Waarom word ons nie pioniers nie?”
AGT dae ná my geboorte in 1909 het ek onder die sorg van liefdevolle pleegouers gekom. In 1918 is ons gesin verpletter toe my klein pleegsussie skielik gesterf het. Kort daarna het die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het, ons huis besoek, en my pleegouers se harte het wyd oopgegaan om Bybelwaarheid aan te neem. Hulle het my ook geleer om geestelike dinge te waardeer.
Ek het hard gewerk op skool en ’n loodgieter geword. Maar wat van groter belang is, is dat ek geestelik my standpunt ingeneem het. Ek en Werner het op 5 Mei 1933 as pioniers begin dien. Ons het met ons fietse na ’n dorpie ongeveer 100 kilometer buite Berlyn gery, waar ons twee weke gebly en gepreek het. Daarna het ons na Berlyn teruggekeer om na nodige sake om te sien. Later het ons vir nog twee weke na ons velddiensgebied teruggegaan.
Ons het aansoek gedoen om in ’n ander land te dien, en in Desember 1933 is ons na die destydse Joego-Slawië toegewys. Maar voordat ons kon vertrek, is ons toewysing na Utrecht in Nederland verander. Kort daarna is ek gedoop. In daardie dae is minder klem gelê op doop; die bediening was die groot ding. Van toe af het vertroue op Jehovah ’n voortdurende deel van my lewe geword. Die woorde van die Bybelpsalmis het my baie bemoedig: “Kyk, God is my helper. Dit is die Here wat my siel ondersteun.”—Psalm 54:6.
Pionierdiens in Nederland
Nie lank nadat ons in Nederland aangekom het nie, is ons na Rotterdam toegewys. Die vader en ’n seun van die gesin by wie ons gebly het, was ook pioniers. ’n Paar maande later is ’n groot huis in Leersum, ’n dorpie naby Utrecht, as ’n verblyfplek vir pioniers gekoop, en ek en Werner het soontoe getrek.
Terwyl ons in daardie pionierhuis gewoon het, het ons per fiets na nabygeleë gebiede gereis en ’n motor met sitplek vir sewe gebruik om na gebiede te reis wat verder weg was. Destyds was daar slegs honderd Getuies in die hele Nederland. Vandag, 60 jaar later, het die gebied wat ons van daardie pionierhuis af gewerk het meer as 4 000 verkondigers in ongeveer 50 gemeentes!
Ons het hard gewerk, tot 14 uur in die bediening elke dag, en dit het ons gelukkig gehou. ’n Belangrike doelwit was om soveel lektuur moontlik by mense te laat. Ons het dikwels meer as honderd boekies per dag by belangstellendes gelaat. Dit was toe nog nie deel van ons gewone bedrywighede om herbesoeke te doen en Bybelstudies te hou nie.
Eendag het ek en my maat in die dorp Vreeswijk gewerk. Terwyl hy vir ’n man by die hek van ’n militêre fort getuig het, het ek die tyd gebruik om my Bybel te lees. Dit was oral in rooi en blou onderstreep. Later het ’n timmerman wat daar naby op ’n dak gewerk het die man by die hek gewaarsku dat ek waarskynlik die een of ander soort spioen is. Ek is gevolglik daardie selfde dag in hegtenis geneem terwyl ek vir ’n winkelier getuig het, en daar is op my Bybel beslag gelê.
Ek is voor die hof gebring. Daar is ek daarvan beskuldig dat die strepe in my Bybel ’n poging was om ’n tekening van die fort te maak. Ek is skuldig bevind, en die regter het my tot twee jaar tronkstraf gevonnis. Daar is egter appèl aangeteken teen die vonnis, en ek is vrygespreek. Hoe bly was ek tog om vry te wees, maar ek was selfs meer in my skik toe my Bybel met al die aantekeninge daarin aan my terugbesorg is!
Gedurende die somer van 1936 het ek en Richard Brauning, een van die pioniers in die huis, in die noorde van die land predikingswerk gedoen. Ons het gedurende die eerste maand 240 uur in die bediening deurgebring en baie lektuur versprei. Ons het in ’n tent gewoon en self na al ons behoeftes omgesien deur ons eie wasgoed te was, kos te kook, ensovoorts.
Later is ek na die boot met die naam Lightbearer oorgeplaas, wat welbekend geraak het in die noorde van Nederland. Vyf pioniers het op die boot gewoon, en met behulp daarvan kon ons baie afgesonderde gebiede bereik.
Bykomende voorregte
In 1938 het ek ’n sonekneg geword, soos kringopsieners van Jehovah se Getuies destyds genoem is. Ek het die Lightbearer dus verlaat en gemeentes en afgesonderde Getuies in drie suidelike provinsies begin besoek.
Fietse was ons enigste vervoermiddel. Dit het dikwels ’n hele dag geneem om van een gemeente of groep belangstellendes na die volgende te reis. Van die stede wat ek besoek het, was Breda, waar ek nou woon. Breda het destyds geen gemeente gehad nie en net een bejaarde Getuie-egpaar.
Terwyl ek die broers in Limburg besoek het, is ek gevra om ’n mynwerker met die naam Johan Pieper se talle vrae te beantwoord. Hy het ’n ferm standpunt vir Bybelwaarheid ingeneem en het ’n moedige verkondiger geword. Vier jaar later het hy in ’n konsentrasiekamp beland, waar hy drie en ’n half jaar deurgebring het. Ná sy vrylating het hy die predikingswerk weer ywerig begin doen, en vandag is hy nog steeds ’n getroue ouer man. Daardie gemeentetjie van 12 Getuies in Limburg het nou tot 17 gemeentes met ongeveer 1 550 verkondigers gegroei!
Onder die Nazi-hiel
In Mei 1940 het die Nazi’s Nederland binnegeval. Ek is na die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Amsterdam gestuur. Ons moes ons werk baie versigtig doen, wat ons die Bybelspreuk laat waardeer het: “’n Ware metgesel . . . is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17, NW). Die aangename band van eenheid wat gedurende hierdie spanningsvolle tyd geheers het, het ’n diepgaande uitwerking op my geestelike ontwikkeling gehad, en dit het my voorberei op die selfs moeiliker dae wat voorgelê het.
My toewysing was om toesig te hou oor die aflewering van lektuur aan die gemeentes, wat gewoonlik deur koeriers gedoen is. Die Gestapo was maar altyd op die uitkyk na jong mans om as dwangarbeiders in Duitsland te werk, en daarom het ons Christensusters as koeriers gebruik. Mettertyd is Wilhelmina Bakker, wat altyd as Nonnie bekend gestaan het, van Den Haag af na ons gestuur, en ek het haar geneem na waar ons takopsiener, Arthur Winkler, geskuil het. Om so onopsigtelik moontlik te wees, het ek soos ’n Nederlandse boer aangetrek, klompe en al, en Nonnie per trem vergesel. Ek het later uitgevind dat sy skaars haar lag kon hou, aangesien sy gedink het dat ek alles behalwe onopsigtelik was.
Op 21 Oktober 1941 het iemand vir die vyand gesê waar die lektuur- en papierbergplek in Amsterdam is. Tydens die Gestapo-klopjag is broer Winkler en Nonnie in hegtenis geneem. Toe hulle aan die gevangenis oorgelewer is, het hulle twee Gestapo-agente hoor praat oor hoe hulle “’n klein donkerkop-outjie” agtervolg het wat hulle in die woelige strate verloor het. Dit was duidelik dat hulle oor my gepraat het, daarom het broer Winkler ’n boodskap aan die broers gestuur. Ek is onmiddellik na Den Haag verskuif.
Intussen is Nonnie uit die gevangenis vrygelaat, en sy het na Den Haag teruggekeer om as ’n pionier te dien. Daar het ek haar weer raak geloop. Maar toe die gemeentekneg in Rotterdam in hegtenis geneem is, is ek daarheen gestuur om sy plek in te neem. Later is die gemeentekneg in die Gouda-gemeente in hegtenis geneem, en ek is daarheen gestuur om hom te vervang. Ek is uiteindelik op 29 Maart 1943 gevang. Terwyl ek ons voorraad Bybellektuur nagegaan het, is ek deur ’n Gestapo-klopjag verras.
Benewens die Bybellektuur wat op ’n tafel uitgesprei was, was daar ook ’n lys met name van Christenbroers en -susters, hoewel dit in kode was. In my benoudheid het ek gebid dat Jehovah ’n manier sou voorsien waarop ek diegene kon beskerm wat nog vry was om te preek. Sonder dat hulle dit agtergekom het, het ek dit reggekry om my oop hand bo-op die lys met name neer te sit en dit in my palm op te frommel. Daarna het ek toestemming gevra om toilet toe te gaan, waar ek die lys opgeskeur en weggespoel het.
Onder sulke moeilike omstandighede het ek geleer om krag te put uit Jehovah se handelinge met sy volk in die verlede en uit sy beloftes van bevryding. ’n Geïnspireerde versekering wat ’n blywende indruk op my verstand gemaak het, is: “As die HERE nie vir ons was toe die mense teen ons opgestaan het nie, dan het hulle ons lewendig verslind.”—Psalm 124:2, 3.
Gevangenisse en konsentrasiekampe
Ek is na die Rotterdam-gevangenis geneem, waar ek dankbaar was om my Bybel by my te hê. Ek het ook die boek Redding, dele van die boek Kinders en baie tyd gehad om al hierdie lektuur te lees. Ná ses maande het ek baie siek geword en moes ek hospitaal toe gaan. Voordat ek die gevangenis verlaat het, het ek die lektuur onder my matras weggesteek. Later het ek uitgevind dat ’n ander Getuie, Piet Broertjes, na my sel verskuif is en dit gevind het. Gevolglik is die lektuur gebruik om ander in die geloof te versterk.
Toe ek herstel het, is ek na ’n gevangenis in Den Haag verskuif. Terwyl ek daar was, het ek Leo C. van der Tas ontmoet, ’n regstudent wat in die gevangenis was omdat hy die Nazi-besetting teëgestaan het. Hy het nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor nie, en ek het die geleentheid gehad om vir hom te getuig. Soms het hy my in die middel van die nag wakker gemaak en my vrae gevra. Hy kon nie sy bewondering vir die Getuies wegsteek nie, veral nadat hy uitgevind het dat ons vrygelaat kon word deur eenvoudig ’n dokument te teken waarin ons ons geloof verloën. Ná die oorlog het Leo ’n regsgeleerde geword en tientalle hofsake in verband met godsdiensvryheid vir die Wagtoringgenootskap behartig.
Op 29 April 1944 is ek op ’n trein gesit om ’n folterende reis van 18 dae na Duitsland af te lê. Op 18 Mei het die hekke van die Buchenwald-konsentrasiekamp agter my toegegaan. Totdat ons byna ’n jaar later deur die Geallieerde magte bevry is, was die lewe onbeskryflik moeilik. Duisende het gesterf, talle voor ons oë. Aangesien ek geweier het om in ’n nabygeleë fabriek te werk wat oorlogstuig vervaardig het, moes ek aan ’n rioolstelsel werk.
Eendag is die fabriek gebombardeer. Baie het vir veiligheid in die barak ingestorm, terwyl ander in die woud ingehardloop het. Verdwaalde bomme het die barak getref, en brandbomme het die woud aan die brand laat raak. Dit was ’n verskriklike gesig! Baie is lewendig verbrand! Ek het ’n veilige wegkruipplek gevind, en toe die vuur bedaar het, het ek verby die tallose lyke terug kamp toe geloop.
Die meeste mense is vandag bewus van die afgryslikhede van die Nazi-Slagting. Ek is dankbaar teenoor Jehovah dat hy my denkvermoë versterk het sodat die afgryslikhede wat ek ervaar het nie my gedagtes deur die jare heen oorheers het nie. Wanneer ek aan my tyd in die gevangenis dink, ervaar ek bowenal vreugde omdat ek my onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf het tot die eer van sy naam.—Psalm 124:6-8.
Naoorlogse bedrywighede
Nadat ek bevry is en na Amsterdam teruggekeer het, het ek onmiddellik by die takkantoor vir ’n toewysing aangemeld. Ek was gretig om te hoor wat tydens my afwesigheid plaasgevind het. Nonnie het reeds daar gewerk. Gedurende die laaste jaar van die oorlog het sy as ’n koerier gedien en Bybellektuur aan die gemeentes afgelewer. Sy is nie weer in hegtenis geneem nie, hoewel sy baie kere ternouernood ontkom het.
Ek het ’n rukkie in Haarlem as ’n pionier gedien, maar in 1946 is ek gevra om na die takkantoor in Amsterdam te gaan om in die Versendingsafdeling te werk. Kort voor die einde van 1948 het ek en Nonnie getrou, en ons het die takkantoor verlaat om saam as pioniers te dien. Ons pioniertoewysing was in Assen. Twaalf jaar vantevore het ek en Richard Brauning die somer daar deurgebring en in ’n tent gewoon terwyl ons aan die predikingswerk deelgeneem het. Ek het gehoor dat Richard onderweg na ’n konsentrasiekamp doodgeskiet is.
Die tyd wat ek in die gevangenis was, het my gesondheid klaarblyklik aangetas. Ses jaar nadat ek uit Buchenwald vrygelaat is, was ek vier maande in die bed as gevolg van siekte. Jare later, in 1957, is ek ’n hele jaar lank deur tering platgetrek. Ek het nie meer krag in my liggaam gehad nie, maar my pioniergees was nog sterk. Terwyl ek siek was, het ek van elke geleentheid gebruik gemaak om te getuig. Ek dink dat hierdie pioniergees my baie gehelp het om nie toe te laat dat my swak gesondheid my in ’n ledige sieke verander het nie. Ek en Nonnie is vasbeslote om in die voltydse diens te bly solank as wat ons gesondheid ons toelaat.
Ná my herstel is ons na die stad Breda gestuur. Dit was 21 jaar nadat ek die stad vir die eerste keer as ’n sonekneg besoek het. Toe ons in 1959 daar aangekom het, was daar ’n gemeentetjie van 34 Getuies. Vandag, 37 jaar later, het dit gegroei tot ses gemeentes met meer as 500 Getuies wat in drie Koninkryksale vergader! By ons plaaslike vergaderinge en by byeenkomste sien ons talle wat Bybelwaarheid geleer het as gevolg van die werk wat ons gedoen het. Ons voel dikwels soos die apostel Johannes toe hy geskryf het: “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel.”—3 Johannes 4.
Ons het nou oud geword. Ek is 86 en Nonnie is 78, maar ek moet sê dat die pionierdiens ’n gesonde werk is. Vandat ek in Breda is, het ek die meeste van die gesondheidsprobleme oorkom wat ek tydens my gevangenskap opgedoen het. Ek het ook talle produktiewe jare in Jehovah se diens geniet.
Dit is ’n bron van vreugde vir ons albei wanneer ons terugkyk oor baie jare van vrugbare diens. Ons bid elke dag dat Jehovah ons die gees en die krag sal gee om in sy diens voort te gaan solank as wat ons nog lewe. Ons sê met vertroue soos die psalmis gesê het: “Kyk, God is my helper. Dit is die Here wat my siel ondersteun.”—Psalm 54:6.
[Prent op bladsy 23]
Ons staan langs die tent wat ons gebruik het terwyl ons in die dertigerjare pioniers was
[Prent op bladsy 23]
Die boot waarmee ons afgesonderde gebiede bereik het
[Prent op bladsy 23]
’n Onderhoud word tydens ’n streekbyeenkoms in 1957 met my gevoer
[Prent op bladsy 24]
Vandag saam met my vrou