Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 11/22 bl. 22-24
  • Die slagting by Luby se kafeteria

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die slagting by Luby se kafeteria
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons verwerk die gevolge
  • Klaskamerslagting—Vertroosting in die nadraai
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die massamoord by Port Arthur—Waarom het dit gebeur?
    Ontwaak!—1996
  • Hulle het hulle lewe verryk—Kan jy dit ook doen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Die Koninkrykshoop is nie net ’n droom nie
    2015 Jaarboek van Jehovah se Getuies
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 11/22 bl. 22-24

Die slagting by Luby se kafeteria

WOENSDAG, 16 Oktober 1991, het soos enige ander dag vir my en my vrou, Paula, begin. Nou dink ons daaraan terug as ’n dag wat heeltemal anders was as enige dag wat ons nog ooit beleef het.

Daardie middag was ons in Luby se kafeteria in Killeen, Texas, toe ’n rasende man in sy bakkie deur die glasvenster gebars en begin skiet het. Hy het 22 mense doodgeskiet en meer as 20 ander gewond en het homself eindelik in die kop geskiet. Dit was die dodelikste, grusaamste skietvoorval in die Amerikaanse geskiedenis.

Ek en Paula is voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies en ons het na Luby’s toe gegaan nadat ons die oggend in die bediening deurgebring het. Ongeveer 50 van ons het vroeër by ons plek van aanbidding, die Koninkryksaal, bymekaargekom en die oggend se bediening bespreek voordat ons uitgegaan het. ’n Hele paar het voorgestel dat ons by Luby’s moet bymekaarkom vir middagete, maar almal behalwe Maria, ek en Paula het van plan verander.

Ons het om 12:25 nm. by Luby’s aangekom en in die bedieningsry gaan staan. Aangesien dit stadig beweeg het, het Maria, wat om eenuur ’n Bybelstudie moes hou, besluit om te gaan. Paula het na die ruskamer gegaan. Sy het gelukkig gou teruggekom—’n paar sekondes later het die bakkie deur die venster gebars waar sy ’n oomblik tevore verbygeloop het.

Dit het geklink asof tonne skottelgoed laat val is. ’n Mens het net glas, tafels en stoele gesien. Toe was daar ’n plofgeluid. Ek het gedink dat dit die bakkie is wat terugplof. Party het gedink dat die bestuurder probleme met sy voertuig het en het gegaan om hom te help. Maar hy het hulle geskiet. Iemand het verstom uitgeroep: “Hy skiet op mense!” Hy het begin skiet selfs voordat hy uit die bakkie geklim het.

Die bedieningsry was U-vormig. Ons het reg in die kromming van die U gestaan. Die bakkie het by die begin van die U tot stilstand gekom waar die kasregister gestaan het. Paula het my hand gegryp en gesê: “Laat ons hier uitkom.” Maar ek het haar vloer toe getrek. Die gewapende man was besig om langs die bedieningsry af te stap en het geskiet soos hy nader gekom het. Die hele tyd het hy dinge geskree soos: “Was dit die moeite werd, Bell County? Was dit die moeite werd, Belton?” Tussendeur het hy vreeslik gevloek.

Hy het amper tot by ons gekom terwyl hy aanhoudend geskiet het. Ons het nooit sy gesig gesien nie, maar hy was só naby dat ons gevoel het hoe die vloer vibreer wanneer die koeëls dit getref het. Ek en Paula het albei stilswyend tot Jehovah gebid. Ons het doodstil gelê; diegene wat beweeg het, is geskiet. Ek het my vrou se enkels met my hande vasgehou en nie geweet of sy lewend of dood was nie.

Toe het hy agteruit gestap terwyl hy die hele tyd geskiet het. Hy het aan die ander kant van die U-vormige bedieningsry afgekom en het naby my voete gaan staan. Hy het ’n skoot afgevuur na die vrou wat agter my was. “Hier is een vir jou”, het hy gesê toe hy haar skiet. Net voordat hy geskiet het, het sy gesê: “Hy kom in ons rigting.” Sy het moontlik haar kop gelig.

Die skoot was so hard dat ek gedink het ek is raak geskiet. Toe het ek die gewapende man hoor omdraai, en gehoor hoe hy die eetvertrek binnegaan, wat 15 of 20 meter daarvandaan was. Ek het geweet dat daar ’n muur in daardie vertrek was wat dit vir hom moeilik sou maak om ons te sien. Ek het dus eindelik my kop gelig om te sien of Paula iets makeer en sy het dieselfde gedoen en gesê: “Kom ons gaan!”

Ons het vinnig by die voordeur uitgegaan en ongeveer agt of tien ander het dieselfde gedoen. ’n Bejaarde vrou wat nie vinnig kon loop nie, was voor ons. Ons het onsself gedwing om geduldig te wees ten spyte van ons angs. Ons het oor ’n oop stuk grond gehardloop wat ongeveer die grootte van ’n voetbalveld is en in ’n nabygeleë woonstelgebou gaan skuil. Ons het ’n vriendin gebel en vir haar gevra om ons onder in die straat te kry.

Toe ons uit die gebou kom, het ons die polisie uit die ander rigting sien kom. Helikopters het reeds opgedaag om die gewondes weg te neem. Ons was steeds senuweeagtig omdat ons nie geweet het waar die gewapende man was nie. Toe ons vriendin daar aankom, was sy in trane. Sy het die nuus oor die radio gehoor.

Ons verwerk die gevolge

Ons het teruggegaan huis toe en baie van ons vriende het ons kom besoek. Wat ’n vertroosting was hulle teenwoordigheid tog nie! Die volgende oggend het ons soos gewoonlik in ons openbare bediening uitgegaan. Op pad het ek ’n koerant gekoop, en die berigte het ons die hele voorval weer duidelik laat herleef. Ons het besef dat ons nie emosioneel gereed was om met die publiek in aanraking te kom nie en ons het dus teruggegaan huis toe.

Weke daarna was ons steeds senuweeagtig wanneer ons openbare plekke moes binnegaan. Ons het eenkeer by ’n eetplek ingegaan wat hamburgers verkoop, en iemand het ’n ballon laat bars. Dít het ons werklik groot laat skrik! Traumaspesialiste sê die beste terapie vir mense wat die soort tragedie deurmaak wat ons beleef het, is om openlik daaroor te praat. Hoe dankbaar was ons tog vir vriende wat ons gedurende die daaropvolgende dae besoek het, wat dit vir ons moontlik gemaak het om dit te kon doen!

Een van ons vriende het vir Paula gesê: “Die bediening sal jou genees.” Sy was reg. Hoewel Paula huiwerig was om tydens daardie eerste week aan ons openbare bediening deel te neem, het sy gou daarna weer aan die huis-tot-huis-bediening begin deelneem en Bybelstudies gehou.

Die Bybel is ongetwyfeld reg wanneer dit waarsku dat iemand wat hom afsonder vir hom probleme op die hals haal (Spreuke 18:1). Ons het verneem dat party, waaronder mense wat nie eers daardie dag by die kafeteria was nie, hulle afgesonder het. Gevolglik was hulle, selfs maande ná die bloedbad, steeds bang om in die openbaar uit te gaan.

Iets wat ons veral gehelp het om hierdie ervaring te verwerk, is ’n begrip van Bybelprofesieë. God se Woord sê dat ons tyd ‘die laaste dae is waarin daar swaar tye sal kom’ (2 Timotheüs 3:1). Tragedies soos die bloedbad by Luby se kafeteria kan dus ongelukkig verwag word. Trouens, ’n alombekende deskundige, dr. James A. Fox, het gesê dat agt uit die tien grootste massamoorde in die Amerikaanse geskiedenis sedert 1980 voorgekom het.

Jack Levin, ’n professor in die sosiologie en medeskrywer van die boek Mass Murder, het gesê dat hierdie massamoorde ’n ineenstorting in die gemeenskap en die ekonomie weerspieël. “Baie meer middeljarige mans meen dat die jare by hulle verbygegaan het”, het hy gesê. “Hulle het hulle werk verloor of is geskei. Die ondersteuningstelsels wat vroeër daar was, soos die gesin en die kerk, is besig om te verbrokkel.” Dit was blykbaar die geval met die moordenaar, 35-jarige George J. Hennard, wat uit ’n gebroke gesin gekom het en wie se seevaartdokumente onlangs ingetrek is omdat hy van dwelmmisbruik verdink is.

Ja, mense het die Bybelse hoop nodig van die regverdige nuwe wêreld wat God belowe (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). Ons vertroue dat al die hedendaagse tragedies binnekort slegs ’n vae herinnering sal wees, het my en Paula gedurende hierdie moeilike tyd gehelp. God het ons waarlik vertroos, soos sy Woord beloof dat hy sal doen (2 Korinthiërs 1:3, 4).—Soos vertel deur Sully Powers.

[Prent op bladsy 23]

Die polisie ondersoek die binnekant van Luby se kafeteria waar ’n gewapende man in ’n bakkie deur die voorste venster gebars het

[Erkenning]

Courtesy of Killeen Daily Herald

[Prent op bladsy 24]

Onbekende vroue buite die kafeteria waar ’n gewapende man homself en 22 mense doodgemaak het

[Erkenning]

Courtesy of Killeen Daily Herald

Met my vrou, Paula

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel