Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w09 12/1 bl. 9-12
  • Klaskamerslagting—Vertroosting in die nadraai

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Klaskamerslagting—Vertroosting in die nadraai
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onmiddellike reaksies
  • Die traumatiese nadraai
  • Hoe party gehelp is om dit te verwerk
  • Binnekort geen lyding meer nie
  • Die massamoord by Port Arthur—Waarom het dit gebeur?
    Ontwaak!—1996
  • Die slagting by Luby se kafeteria
    Ontwaak!—1992
  • Vuurwapens—’n weg van die dood
    Ontwaak!—1990
  • Vertroos dié wat treur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
w09 12/1 bl. 9-12

Klaskamerslagting—Vertroosting in die nadraai

DIE voorblad van die koerant was heeltemal swart. Net een woord het daarop verskyn: “Waarom?” Dit was die vraag wat keer op keer gevra is ná ’n skietvoorval in Winnenden in Suid-Duitsland toe ’n 17-jarige seun 15 mense en toe homself doodgeskiet het. Regoor Duitsland het vlae halfstok gehang, en die nuus van hierdie tragiese gebeurtenis het vinnig oor die wêreld versprei.

Winnenden is ’n welvarende en idilliese dorp wat deur wingerde en boorde omring word. Die 11de Maart 2009 het as ’n doodgewone oggend by die Albertville-hoërskool begin. Skielik, teen halftien die oggend, het geweld en chaos uitgebreek.

’n Jong man het by sy ou skool ingestorm met ’n geweer wat hy uit sy ouers se slaapkamer geneem het. In ’n kort tydjie het hy nege leerders en drie onderwysers in drie klaskamers en in die gang doodgeskiet en baie ander gewond. Die polisie het binne minute opgedaag. Die moordenaar het na die terrein van ’n nabygeleë psigiatriese kliniek gevlug. Daar het hy ’n instandhoudingswerker doodgeskiet. Toe het hy ’n motor gekaap terwyl hy sy vuurwapen op die bestuurder gerig gehou het. Ongeveer 40 kilometer daarvandaan het die bestuurder daarin geslaag om weg te kom. By ’n motorhandelaar het die gewapende jong man ’n verkoopsman en ’n klant doodgeskiet en twee van die polisiemanne wat hom agternagesit het, ernstig gewond. Toe die polisie hom uiteindelik inhaal, het hy homself in die kop geskiet.

Volgens diegene wat die skieter geken het, was hy ’n doodgewone tiener wat aanvaar wou word en vriende wou hê. Wat het verkeerd geloop? Hy het dalk aan depressie gely, en hy het met windbukse en party gewilde gewelddadige rekenaarspeletjies gespeel. Maar duisende ander jongmense doen dieselfde, sê party. En die slagoffers? Het hy sekere persone uitgekies, of is hulle net na willekeur geskiet? Mense het gewonder waarom hy agt meisies en net een seun geskiet het. Niemand kon met ’n goeie verduideliking vorendag kom nie.

Onmiddellike reaksies

“Toe ons seun bel en my van die skietery by die skool vertel, kon ek my ore nie glo nie”, sê Heike. “Maar toe ek al hoe meer polisievoertuie en ambulanse hoor verbyjaag, het ek benoud geword.” Die vinnige optrede van die polisie het waarskynlik voorkom dat die skieter nog meer mense by die skool doodmaak. Nadat die skool ontruim is, het paramedici, beraders en kapelane gekom en die leerders gehelp totdat hulle heeltemal uitgeput was.

Verslaggewers het spoedig op die skool toegesak en onderhoude probeer voer met die leerders, waarvan baie nog in skok was. Een leerder het 28 televisievoertuie van 26 stasies getel wat voor die skool geparkeer was. Daar was groot kompetisie onder die media, wat aanleiding gegee het tot berigte met onbevestigde besonderhede. Een verslaggewer het op die dag van die slagting die gesin van een van die vermoorde meisies gebel om foto’s te vra, en ander het leerders betaal om vir foto’s te poseer. Meegesleur deur die histerie van die oomblik, was dit blykbaar vir party verslaggewers moeilik om ’n balans te handhaaf tussen gretigheid om nuuswaardige stories voor ander verslaggewers in die hande te kry en bedagsaamheid en respek teenoor die slagoffers.

Soos dikwels in sulke tye die geval is, het mense hulle tot godsdiens gewend om vertroosting en verduidelikings te kry. Op die dag van die slagting is ’n gesamentlike kerkdiens gehou. Baie het die ondersteuning waardeer. Maar diegene wat na vertroosting uit God se Woord of na antwoorde op hulle verontrustende vrae gesoek het, is ongelukkig teleurgestel. Een gesin het die begrafnis van hulle seun se klasmaat bygewoon. Die ma het gesê: “’n Biskop het oor die lyding van Job gepraat. Ek het gewag dat hy verduidelik watter les ons hieruit kan leer of dat hy vertroosting sal gee—maar niks nie. Nie ’n woord is gesê oor die redes hiervoor of oor die finale afloop nie.”

Een man was baie ontsteld oor die leë woorde wat hy gehoor het. Die man het omtrent 30 jaar tevore die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer, maar het opgehou. Nou het hy weer hulle vergaderinge begin bywoon.

Valisa, ’n 14-jarige meisie wat ’n gereelde Bybelstudie met die Getuies het, was in ’n klaskamer naby die bloedbad. Toe sy die geweerskote hoor, het sy tot Jehovah begin bid. Toe sy later gevra is hoe sy die situasie verwerk, het sy gesê dat die gebeure bevestig het wat sy uit die Bybel geleer het oor hierdie kritieke laaste dae (2 Timoteus 3:1-5). Twee Getuies het vertroostende gedagtes aan mense in die buurt oorgedra. ’n Bejaarde vrou het na hulle toe gekom en gesê: “Baie meer mense behoort te doen wat julle doen.” Hoewel hierdie slagting so ’n hartseer en skokkende gebeurtenis was, het dit party ten minste beweeg om te luister na die hoop en vertroosting uit God se Woord.

Die traumatiese nadraai

Natuurlik kan nie eers die opregste woorde van vertroosting al die skok en wanhoop van dié wat persoonlik geraak is, uit die weg ruim nie. Geen woorde kan die pyn heeltemal wegneem van ’n ouer wat ’n kind verloor het of die skok ten volle verlig van die polisieman wat hom na die skool gehaas het en daar gevind het dat sy vrou ook doodgeskiet is nie.

Leerders wat hierdie gebeurtenis oorleef het, sowel as hulle gesinne, is erg getraumatiseer, elkeen op sy eie manier. Vassilios het by ’n nooduitgang uitgespring toe die skieter begin losbrand het. “Toe ek by die venster uitspring”, sê hy, “het ek tot Jehovah gebid. Ek het gedink ek gaan sterf. Ek was seker dat dit my laaste gebed is.” In die daaropvolgende weke is hy deur nagmerries geteister en wou hy met niemand praat nie. Hy was veral kwaad om te sien hoe die slagting gekommersialiseer is, asook hoe ongevoelig dié was wat meer besonderhede probeer uitvind het. Hy het mettertyd daarin geslaag om die werklikheid te aanvaar.

Jonas was in dieselfde klaskamer as Vassilios en het gesien hoe vyf van sy klasmaats doodgeskiet word. Hy het gesê: “Onmiddellik daarna was dit nie vir my moeilik om te beskryf wat gebeur het nie; dit was soos ’n gruwelrolprent. Maar om nou te praat oor hoe ek voel—dis moeilik. My buie wissel. Partykeer wil ek nie daaroor praat nie; ander kere praat ek baie daaroor.” Hy kry ook nagmerries en sukkel om te slaap.

Ná ’n paar dae het die leerders hulle persoonlike besittings wat in die klaskamers was, teruggekry. Traumatoloë het gewaarsku dat hierdie items herinneringe van die tragedie kan terugbring. Eers wou Jonas nie aan sy baadjie, sy skooltas en motorfietsvalhelm raak nie. Hy was ook vreesbevange elke keer wanneer hy iemand gesien het wat soos die skieter lyk of wat ’n rugsak soos dié van die skieter dra. Toe sy ouers ’n rolprent gekyk het en ’n skoot afgegaan het, was sy senuwees op hol. Terapeute het slagoffers probeer help om los te breek van sulke verstandelike skakels met die traumatiese gebeurtenis.

Jürgen, Jonas se pa, werk in die kliniek waar een werker doodgeskiet is. Hy het genoem dat baie ouers en kollegas hulle gepynig het met vrae soos waarom? en sê nou maar? ’n Werker by die kliniek wat op ’n balkon was en die skieter sien verbystap het, is byvoorbeeld só ontstel deur die gedagte dat hy haar ook kon geskiet het, dat sy sielkundige behandeling moes ontvang.

Hoe party gehelp is om dit te verwerk

Wat het party gehelp om hierdie aaklige ondervinding te verwerk? Jürgen sê: “Hoewel dit soms moeilik is, is dit goed om saam met ander te wees. Dit help baie om te weet dat ander omgee en dat jy nie alleen is nie.”

Ook Jonas waardeer die feit dat ander omgee: “Baie stuur kaartjies en boodskappe. Party haal Bybeltekste aan, wat ek dan lees. Ek waardeer dit.” Wat anders help hom? “Wanneer ek in die aand wakker word en voel dat ek nie meer kan aangaan nie, bid ek. Partykeer luister ek na musiek of na opnames van die Ontwaak!”a Hy voeg by dat die Bybel vir ons sê waarom dit gebeur het: Satan heers oor die wêreld, en ons lewe in die tyd van die einde. Sy pa sê dat hierdie wete hulle help om die situasie te verwerk.

Binnekort geen lyding meer nie

Binne ’n paar dae was daar hope kerse, blomme en briewe voor die skool. Kerstin het opgemerk dat baie mense briefies geskryf het waarin hulle gevra het waarom dit gebeur het en waarom God dit toegelaat het. Sy en twee ander Getuies het gevoel dat hierdie vrae ’n antwoord verdien en het ’n brief geskryf en dit tussen al die ander gesit.

By die amptelike gedenkdiens het ’n televisiestasie haar brief gewys en die eerste reëls aangehaal: “Waarom? Oor die afgelope paar dae is hierdie vraag al hoe meer gevra, en veral ook die vrae: Waar was God? En waarom het hy dit toegelaat?” Ongelukkig het die aanhaling daar opgehou.

Waarom ongelukkig? Omdat die brief voortgegaan en verduidelik het wat die oorsprong van alle lyding is en gesê het dat God “sal toesien dat al die leed wat mense veroorsaak het, ongedaan gemaak sal word”. Dan sê dit verder: “In die laaste boek van die Bybel sê God dat hy elke traan van mense se oë sal afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.” Jehovah God sal selfs die dooies opwek. Onder sy Koninkryk, wat binnekort gaan kom, sal daar nie meer tragedies, slagtings of lyding wees nie. God het belowe: “Kyk! Ek maak alles nuut.”—Openbaring 21:4, 5.

[Voetnoot]

a Die Ontwaak! in gedrukte en oudioformaat word uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 12]

Jonas het ’n kaartjie ontvang wat sê: “Ons dink aan jou”

[Foto-erkenning op bladsy 9]

Focus Agency/WPN

[Foto-erkenning op bladsy 9]

© imagebroker/Alamy

[Foto-erkenning op bladsy 10]

Foto: picture alliance

[Foto-erkenning op bladsy 11]

Foto: picture alliance

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel