Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 1/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Alkoholsterftes in Japan
  • Onverdraagsame bure
  • Aantal tiers aan die afneem
  • Rokery en gebreekte bene
  • Chagas-siekte versprei
  • Bedreigde voëls
  • Voordele van babamassering
  • ’n Smorende meer
  • Breinoefening
  • Minder verskeidenheid
  • Die dodelikste verslawingsmiddel
  • Waarom moet ek ophou rook?
    Ontwaak!—2000
  • Sigarette—Wys jy dit van die hand?
    Ontwaak!—1996
  • Is rook werklik so sleg?
    Ontwaak!—1991
  • Miljoene lewens gaan in rook op
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 1/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Alkoholsterftes in Japan

The Daily Yomiuri berig dat daar tans ’n opvallende toename in gevalle van akute alkoholvergiftiging in Japan is. Een faktor wat daartoe bydra, is die herlewing van ikkinomi—om sterk drank in een teug te drink. Dit gebeur dikwels onder druk of selfs dwang van ’n groep toeskouers wat die drinker aanpor en toejuig. Hierdie gier het effens afgeneem, net om verlede jaar te herlewe. Mijako Omoto, ’n assistentprofessor by die mediese skool aan die Toho-universiteit, sê om iemand te dwing om sterk drank in een teug te drink, is gelykstaande aan ’n poging tot moord. Sy het gesê: “Ikkinomi is gevaarlik omdat ’n mens meer alkohol inneem as wat jou liggaam kan verwerk voordat jou liggaam ’n waarskuwingsein begin uitstuur.” Tokio se brandweerafdeling sê dat 9 122 mense in 1991 hospitaal toe geneem moes word omdat hulle akute alkoholvergiftiging opgedoen het—’n toename van 8 persent oor die vorige jaar. Ses van hulle het gesterf.

Onverdraagsame bure

Wie sal jy glad nie as bure wil hê nie? Dit is die vraag wat die Europese Waardestelselstudiegroep aan 20 000 mense in 14 lande gevra het in ’n poging om algemene vrese en vooroordele te wete te kom. “Denemarke is verreweg die inskiklikste nasie”, sê The European, terwyl Portugal volgens berig die onverdraagsaamste is. Oor bure wat vigs het, het mense in lande wat grotendeels Katoliek is, soos Italië, Spanje en Ierland, die meeste vyandigheid getoon, terwyl die Belge meer onverdraagsaamheid teenoor ander rasse en godsdiensgroepe aan die dag gelê het. Die Duitsers was ongeneë om politieke ekstremiste as bure te hê. Die onverdraagsaamheid wat mans aan die dag lê, het nie veel verskil van dié van vroue nie. Maar dit het gelyk asof een faktor met betrekking tot onverdraagsaamheid in alle lande dieselfde was—ouderdom. Ouer mense was oor die algemeen kieskeuriger oor wie hulle as bure wou hê.

Aantal tiers aan die afneem

Een van Indië se beste natuurreservate is besig om sy seldsame Bengaalse tiers te verloor, sê die tydskrif New Scientist. Tydens ’n onlangse sensus in die Ranthambhor-reservaat is net 15 tiers gevind—heelwat minder as die 44 van net drie jaar gelede. Dit is nie verbasend dat wilddiefstal vir die probleem verantwoordelik is nie. Maar deesdae is wilddiewe nie net agter die pragtige velle aan nie. Die tier se bene word gebruik om “tierbeenwyn” mee te maak, wat as ’n tonikum in party Asiatiese lande gewild is. Wilddiewe maak die tiers gewoonlik met vergiftigde lokaas dood, wat soms die tierwelpies sowel as die ma se dood veroorsaak. Dit is ironies dat die Ranthambhor-reservaat oorspronklik die trots van die Tierprojek was—’n bewaringspoging wat daarop gemik was om die Bengaalse tier van uitwissing te red. Volgens skatting is daar slegs 6000 tot 9000 van hierdie pragtige diere in die wêreld oor.

Rokery en gebreekte bene

“Die dag het aangebreek dat selfs ortopediste hulle pasiënte sal aansê om op te hou rook”, berig die Brasiliaanse koerant Folha de S. Paulo. ’n Studie van 29 mense met beenbreuke het getoon dat die nikotien van tabakrook chroniese rokers se bloedvate meer onelasties maak. Daarenteen kon nie-rokers en diegene wat minder as twee jaar lank gerook het se bloedvate beter saamtrek en uitsit, wat breuke vinniger help genees. Nie-rokers se breuke het gemiddeld 28 persent vinniger genees as dié van rokers wat al lank rook. Wanneer koolstofmonoksied tydens rokery ingeasem word, verminder dit ook die vloei van suurstof sodat die gebreekte been minder voedingstowwe ontvang.

Chagas-siekte versprei

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is ongeveer 18 miljoen mense in Latyns-Amerika met die parasiet besmet wat Chagas-siekte veroorsaak, wat tot ernstige hartkwale en selfs die dood kan lei. Volgens die Boliviaanse koerant El Diario loop altesaam 90 miljoen mense—25 persent van die bevolking—in 17 Latyns-Amerikaanse lande gevaar om die siekte op te doen. ’n Insek wat oor die algemeen die roofwants genoem word, versprei dikwels die siekte. Notícias Bolivianas beveel aan dat alle mure afgewit word, alle diere in buitenste hokke pleks van in die huis gehou word en daar goed skoongemaak moet word om van siektedraende insekte in die huis ontslae te raak. Wat bloedoortappings betref, sê dieselfde tydskrif dat 47,6 persent die risiko inhou om Chagas-siekte oor te dra. Dit sluit af: “Die onthouding van bloed word in ooreenstemming met die Bybelse gebod aanbeveel.”

Bedreigde voëls

Volgens die Duitse Bewaringsvereniging word 166 van die 273 voëlspesies bedreig wat in Duitsland broei. Die oorsaak hiervan is glo dat al die beskikbare land vir paaie, nywerhede, intensiewe boerdery en toerisme gebruik word. Die koerant Frankfurter Allgemeine Zeitung berig dat selfs al is talle mere, rivierlope en moerasse in Duitsland as beskermde gebiede verklaar, is hierdie maatreëls ontoereikend om spesies soos die swartsterretjie, die woudapie en die witstertseearend te help. Die bewaring van teelgrond help nie veel tensy die voëls se winterskuilgebiede, soos dié in Afrika, ook beskerm word nie. Die koerant sê gevolglik: “Bewaring kan in baie gevalle slegs vrugte afwerp as daar op internasionale gebied samewerking is.”

Voordele van babamassering

“Intuïsie en persoonlike ondervinding sê vir ons dat dit gesond is as mense aan mekaar raak”, merk die Stress & Health Report op. Hierdie beginsel is op die versorging van ’n groep vroeggebore babas toegepas en die nuusbrief, wat deur die Enloe-hospitaal in Kalifornië uitgegee is, bevat ’n wetenskaplike studie van 40 van die babas. Twintig van hulle is drie keer per dag 15 minute lank saggies gemasseer. Twintig ander vroeggebore babas het normale versorging ontvang. Die 20 wat gemasseer is, het in verskeie opsigte beter as die ander 20 gevaar. Hulle daaglikse gewigstoename was gemiddeld 47 persent meer, hulle puntetelling op gedragstoetse was hoër en dit het gelyk asof hulle lewendiger en wakkerder was. Die Stress & Health Report sluit af: “Wat vir klein babatjies goed is, is waarskynlik goed vir ons almal.”

’n Smorende meer

Party wetenskaplikes is van mening dat Afrika se pragtige Victoria-meer, die tweede grootste varswatermeer in die wêreld, ’n somber dood in die gesig staar as gevolg van versmoring. Dit lyk asof alge op die meerbodem floreer en al die water se suurstof gebruik. Die oorsaak? Kortom, die mens, weens ontbossing, boerdery en oorbevolking. Hoë vlakke voedingstowwe wat van grond wat in die meer afloop, van rioolwater en van houtrook afkomstig is, voed die alge. Visserybeamptes het ook ongeveer 30 jaar gelede besluit om die visbedryf aan te help deur die Nyl-baars in te voer. Hierdie nuwelinge het gefloreer en die visbedryf het volgens plan skerp toegeneem. Die Nyl-baars het egter die klein vissies opgevreet wat lank die balans behou het deur van die alge te lewe. Meer as die helfte van hierdie vissoorte het verdwyn. Nou word die baars, weens oorbevissing en suurstofuitputting, dalk ook bedreig. Ongeveer 30 miljoen mense is van die Victoria-meer se visbedryf afhanklik.

Breinoefening

“Gesonde breine.” Dit is die naam van ’n Finse kampanje wat dit benadruk dat die brein gebruik moet word. Die uitgangspunt is eenvoudig. Hoe meer ons ons brein gebruik—deur dinge te bepeins, te ontwerp en nuwe dinge te leer—hoe beter funksioneer dit. “Die brein het ’n eindelose potensiaal om probleme op te los, maar ongelukkig gebruik die mens gemiddeld net ’n tiende van die brein se vermoë”, benadruk Juhani Juntunen, ’n breinnavorser en hospitaaladministrateur wat ’n projekbestuurder vir die kampanje is. “Ontwikkel jou brein, leer nuwe dinge en jy sal jou brein se vermoë vergroot”, spoor hy aan. Hy vererg hom vir so baie mense wat jonkheid verafgood en ouer mense se breinvermoë onderskat, want hy glo dat ouer mense se breine in sekere opsigte selfs beter as jonger mense s’n funksioneer. “Dit is geen toeval dat ouer werknemers hoë ampte beklee nie”, sê Juhani Juntunen. “Die brein is miskien ’n instrument wat agteruitgaan, maar ouer mense gebruik dit beter as jong mense.”

Minder verskeidenheid

Volgens die Brasiliaanse tydskrif Superinteressante is verskeie soorte meloene in Spanje en verskeie soorte uie in Sentraal-Asië besig om uit te sterf, en in Brasilië is daar suikerriet- en graansoorte wat reeds uitgesterf het. “Dit is die nywerhede en die verbruikers se skuld, wat altyd dieselfde produkte verkies”, het Edouard Saouma, direkteur-generaal van die VN se Voedsel- en Landbou-Organisasie, gesê. Die tydskrif sê voorts: “Aangesien boere die mark probeer bevredig, raak die afname van spesies elke dag ernstiger.” Edouard Saouma waarsku dat die mensdom weens sulke standaardisering in die komende dekades 40 000 groentesoorte kan verloor. Wetenskaplikes vrees dat gewasse sonder biologiese verskeidenheid vatbaarder vir pessiektes sal raak.

Die dodelikste verslawingsmiddel

Sigarette is nie alleen een van die sterkste verslawingsmiddels wat misbruik word nie, maar is “verreweg die dodelikste”, sê die voormalige direkteur van die Instituut vir die Studie van Rookgedrag en -beleid, Thomas C. Schelling. Hy sê in die tydskrif Science van 24 Januarie 1992 dat dit moeilik is om rook op te gee. Van dié wat probeer het, het 1 uit 5 dit reggekry om rook twee jaar of langer op te gee. Waarom is dit so moeilik om dit op te gee? Thomas Schelling noem die volgende redes: Sigarette is goedkoop, vryelik beskikbaar, kan saam met jou rondgedra word en kan geberg word; hulle tas geensins jou sinne aan nie; en ’n mens het geen toestelle nodig om te kan rook nie. “Dit duur lank voor enige tekens van skade merkbaar word”, sê hy. “Die mense wat kanker en long- en hartsiekte van rook opdoen, rook oor die algemeen drie dekades of langer voordat simptome verskyn.” Hoewel nikotien die vernaamste middel in sigaretrook is wat verslawing veroorsaak, vermoed Thomas Schelling dat die smaak van tabakrook en die uitwerking wat rook op die gemoedstemming het ook tot die verslawing kan bydra. Waarom begin mense weer so maklik rook? “Die meeste mense wat rook opgegee het, is selde verder as 5 minute van die naaste sigaret af, en dit verg slegs die geringste verlies aan selfbeheersing om daardie sterk begeerte om te rook weer aan te wakker”, sê hy.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel