Die Olimpiese Spele in Barcelona—Roem teen watter prys?
Deur Ontwaak!-medewerker uit Spanje
OP 25 Julie 1992 het ’n eensame boogskutter, afgeëts deur die helder glans van ’n kollig, sy boog gespan. Sy pyl met ’n brandende punt het reguit en sekuur deur die naghemel getrek. Toe die pyl begin daal, het dit rakelings oor ’n yslike fakkel getrek wat oor die groot stadion getroon het. Die Olimpiese vlam het begin brand. Die Olimpiese Spele in Barcelona het begin.
Elfduisend atlete uit 172 lande het om 1691 Olimpiese medaljes kom meeding. In ooreenstemming met die Olimpiese leuse het die deelnemers daarna gestreef om “vinniger, hoër, sterker” as ooit tevore te wees—en sommige het dit reggekry. Volgens skatting het 3500 000 000 televisiekykers in die oorwinnings en teleurstellings gedeel.
Hoewel die atlete net ’n rukkie in die kollig is, kan ’n Olimpiese oorwinning roem en rykdom beteken. Die Olimpiese Spele in Barcelona was nie ’n uitsondering nie. Party beroemde deelnemers het reeds miljoene rande verdien deur sportdrag, hardloopskoene, sonbrille en selfs elektroniese toerusting te adverteer.
Toewyding—die sleutel tot Olimpiese roem
Hoewel baie atlete—veral gimnaste en duikers—oënskynlik hulle bewegings sonder inspanning uitvoer, verg sulke vernuf jare van strawwe oefening. Sommige oefen al sedert hulle vyf jaar oud is. En sport moet absolute voorkeur geniet as ’n atleet welslae wil behaal.
Die Spaanse swemmer Martín López Zubero, wat die 200-meter-rugslag gewen het, het gesê—moontlik met ’n bietjie oordrywing: “Ek bring ’n derde van my lewe in die water deur.” Sy oefenprogram begin om vyfuur in die oggend en hy skat dat hy binne net meer as ’n jaar al 8000 kilometer geswem het.
Oefening beteken lyding, nie net onthouding nie. Jackie Joyner-Kersee, wat in Seoel en in Barcelona ’n goue medalje in die sewekamp gewen het, verduidelik: “Mededinging is opwindend. Oefening is nie. . . . Jy kan enige atleet vra: ons almal het te alle tye pyn. Ek verwag dat my liggaam sewe verskillende take moet verrig. Om te verwag dat dit nie sal pyn nie, is te veel gevra.” Veral gimnaste moet uithouvermoë hê. Hulle moet by hulle oefenprogram van twee maal per dag bly ondanks die pyn van verstuite gewrigte of enkels, verrekte spiere, geskeurde ligamente en selfs bene wat gekraak het omdat herhaalde druk daarop uitgeoefen is. Maar daardie soort toewyding bring uiteindelik die wenners en die skouspel voort.
Olimpiese glans en goud
Dit ly geen twyfel nie, die Olimpiese skouspel kan indrukwekkend wees. Dit sorg vir opwindende oomblikke vir die skare en is ’n plek waar daar met uitsonderlike atletiese prestasies gespog kan word. Barcelona was geen uitsondering nie.
Vitali Stsjerbo, ’n gimnas uit Wit-Rusland, het ’n rekordgetal goue medaljes, ses uit ’n moontlike agt, in die mansgimnastiek gewen. Die Chinese gimnas Xiaosahuang Li het tydens die vloeroefening ’n ongelooflike driedubbele bollemakiesie uitgevoer. Carl Lewis het Olimpiese geskiedenis gemaak deur die verspring vir die derde opeenvolgende keer te wen. Die Japannese wenner van die silwer medalje in die vrouemarathon, Joeko Arimori, is daarenteen vir haar hoflikheid toegejuig. Ondanks haar uitputting het sy om die baan gehardloop en op die Japannese manier vir die skare en toe vir die wenner gebuig.
Die handelsmoontlikhede van die Olimpiese Spele word nie deur multinasionale maatskappye oor die hoof gesien nie. Hulle betaal ontsaglike bedrae om Olimpiese roem te geniet deur die spele self of nasionale Olimpiese spanne te borg.
Die farmaseutiese sleutel tot roem
Strawwe oefening en natuurlike aanleg—hoe belangrik dit ook al is—is nie die enigste sleutel tot Olimpiese welslae nie. Baie atlete maak op farmaseutiese middels staat om hulle ’n mededingende voorsprong te gee. Hierdie middels is moontlik anaboliese steroïede of menslike groeihormone om spiere te bou (wat veral vir gewigoptel en veldnommers gewild is); betablokkers om die hartklop te vertraag (wat resultate in boog- en teikenskiet verbeter); of eritropoïetien om die produksie van rooibloedselle te stimuleer (wat vir fietsry en langafstandwedlope nuttig is).
Hoewel atlete van die gevare bewus is, is daar geweldig druk om verbode middels te gebruik. Die Duitse atleet Gaby Bussmann, ’n spanmaat van Birgit Dressel wat in 1987 gesterf het omdat sy 20 verskillende middels gebruik het, verduidelik: “Daar is party sportsoorte waarin dit moeilik is om sonder sulke middels vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.”
Die atlete se afrigters dra gewoonlik tot die gebruik van hierdie middels by; dit is moontlik selfs húlle wat dit aanbeveel. Die voormalige Oos-Duitse afrigter, Winfried Heinicke, erken: “Ek het vir hulle gesê as hulle na die Olimpiese Spele toe wil gaan, sal hulle dit móét doen [sulke middels moet gebruik].” Oorwinning is klaarblyklik vir baie deelnemers belangriker as eerlikheid—selfs belangriker as hulle gesondheid. ’n Onlangse opname onder topatlete het onthul dat 52 persent van hulle ’n hipotetiese wondermiddel sal gebruik wat waarborg om wenners van hulle te maak selfs al laat dit hulle ná vyf roemryke jare as kampioen sterf.
Die Britse naelloper Jason Livingston is tot sy skande van Barcelona af huis toe gestuur nadat hy positief vir ’n anaboliese steroïed getoets het. Die wêreldrekordhouer in die 400-meter-naelloop, Harry Reynolds van die Verenigde State, het glad nie tydens die spele gehardloop nie. ’n Toets wat in 1990 vasgestel het dat hy verbode middels gebruik het, het tot ’n twee jaar lange skorsing gelei wat hom nie net ’n moontlike Olimpiese medalje gekos het nie, maar ook driemiljoen rand in verlore borggeleenthede.
Die meeste gebruikers van verbode middels word egter nie gevang nie. Ondanks die byna 2000 toetse vir verbode middels wat gedurende die spele in Barcelona gedoen is, kon oneerlike atlete steeds verhoed dat hulle betrap word deur oor te slaan na middels wat nie deur urinetoetse opgespoor kan word nie. “Die hebsug na oorwinning en geld het ’n smerige wêreld ontbloot waar dit moeilik word om etiek van oneerlikheid te onderskei”, het die Spaanse koerant El País gesê.
Baie medaljewenners het natuurlik welslae behaal, nie met behulp van verbode middels nie, maar bloot weens jare van selfopoffering. Is die opofferings die moeite werd?
Blywende roem
Gail Devers, die onverwagte wenner van die 100-meter-naelloop vir vroue, was uitgelate ná haar oorwinning. “As enigiemand glo dat drome bewaarheid word, is dit ek”, het sy gesê. Minder as twee jaar tevore kon sy skaars loop, en daar was sprake dat al twee haar voete afgesit sou word weens komplikasies wat ingetree het terwyl sy vir Graves se siekte behandel is. Pablo Morales, wat slegs ’n jaar tevore weer tot die swemsport toegetree het en ’n goue medalje in die 100-meter-vlinderslag gewen het, het saamgestem. “Dit was eindelik my beurt, ’n droom wat bewaarheid is”, het hy gesê.
Dit is vanselfsprekend dat die meeste atlete nooit kampioene sal word nie. Sommige meen weliswaar dat “die belangrike saak tydens die Olimpiese Spele nie oorwinning is nie, maar deelname”. Maar ander atlete, wat daarop staatgemaak het om kampioene te word, het met hulle drome aan skerwe teruggekeer huis toe. Die gewigopteller Ibragim Samadof het sy hart op ’n goue medalje gesit—maar hy was maar derde in sy nommer. “Met ’n goue medalje sou ek koers aan my lewe kon gee, vir ’n loopbaan kon studeer, my gesin kon help. Nou weet ek nie wat om te doen nie”, het hy gesug. En daar wag selfs op wenners ’n traumatiese tyd wanneer hulle nie meer so goed kan presteer nie.
Die voormalige Sowjettennisspeler Anna Dmitriewa het gesê: “Die [Sowjet]sportliggaam het nie vir mense omgegee nie. Hulle het net gedink: ‘Jy gaan weg en ons sal 10 ander soos jy vind.’” Henry Carr, wat in 1964 in Tokio twee goue medaljes gewen het, het eweneens erken: “Selfs wanneer jy die uitblinker word, is dit ’n illusie. Waarom? Omdat dit nie blywend is of werklik tevredenheid verskaf nie. Sterre word gou vervang en gewoonlik vergeet.”
Vlietende Olimpiese roem kan nie vergelyk word met die beloning van die ewige lewe wat God belowe vir die wat hom dien nie. Hierdie beloning vereis geestelike opleiding pleks van liggaamlike oefening. Paulus het dus aan Timotheüs geskryf: “Die liggaamlike oefening [letterlik “om as gimnas te oefen”] is tot weinig nut, maar godvrugtige toegewydheid is nuttig vir alle dinge, omdat dit ’n belofte inhou vir die teenwoordige en die toekomende lewe.”—1 Timotheüs 4:8, NW.
Die Olimpiese Spele staan die voordele van liggaamlike oefening voor—wat hoogstens tydelik is. Hulle toon aan die wêreld wat atlete deur toewyding en selfverloëning kan verrig. Hierdie eienskappe is ook nodig om die Christelike wedloop te wen. Hierdie wedloop sal, anders as enige Olimpiese nommer, blywende voordele bring vir almal wat dit voltooi. Dit is dus goed dat Christene nie die atlete nie, maar Jesus Christus navolg deur hulle ‘opleiding te voltooi’ en ‘met volharding die wedloop te loop’.—1 Petrus 5:10, NW; Hebreërs 12:1.
[Prente op bladsy 23]
Duikers neem aan die Olimpiese Spele deel. Barcelona op die agtergrond
[Erkenning]
Photos: Sipa Sport
[Prent op bladsy 24]
Op die brug
[Erkenning]
Photo: Sipa Sport
[Prent op bladsy 25]
In die 100-meter-finale het die hardloper heel regs die goue medalje gewen
[Erkenning]
Photo: Sipa Sport