Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 11/8 bl. 24-27
  • Noorweë se Olimpiese Spele—Was die ideale voldoende?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Noorweë se Olimpiese Spele—Was die ideale voldoende?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Olimpiese Spele en die sakewêreld
  • Citius, altius, fortius
  • Omgewingsbewaring, noodlenigingswerk en vredespogings
  • Ideale wat verwesenlik gaan word
  • Olimpiese ideale in ’n krisis
    Ontwaak!—2000
  • Die Olimpiese Spele keer terug na sy geboorteplek
    Ontwaak!—2004
  • Van Olimpië na Sydney
    Ontwaak!—2000
  • Die Olimpiese Spele in Barcelona—Roem teen watter prys?
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 11/8 bl. 24-27

Noorweë se Olimpiese Spele—Was die ideale voldoende?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NOORWEË

TOE die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) honderd jaar gelede gestig is, het dit hoë verwagtinge gekoester. Die doel was om broederskap en vrede te bevorder deur jongmense van oor die hele wêreld al om die vier jaar sonder winsoogmerk op die sportterrein byeen te bring. Daar is gehoop dat ’n regverdige wedstryd eenheid en versoening onder volke teweeg sou bring. Op grond hiervan is die Olimpiese Spele van die ou tyd weer in hedendaagse tye in die lewe geroep.

Die Somerspele het sedert ’n beskeie begin in 1896 in Athene, Griekeland, tot die grootste sportfees ter wêreld ontwikkel, met ’n hoogtepunt van 11 000 deelnemers uit meer as 170 lande. Die eerste Winterspele is in 1924 in Chamonix, Frankryk, gehou en dit was nog altyd die “kleinboet” van die Somerspele. Tog het sowat 2000 atlete uit bykans 70 nasies van 12-27 Februarie 1994 vir die Winterspele in Lillehammer, Noorweë, byeengekom.a

Dit lyk of die gedagte van broederskap en vriendskap, waarvan die beroemde Olimpiese ringe ’n simbool is, en van “’n gesonde verstand in ’n gesonde liggaam” nou nodiger as ooit tevore is. Watter rol het hierdie ideale by die Olimpiese Spele in Lillehammer gespeel?

Die Olimpiese Spele en die sakewêreld

Die volledige nuusdekking het groot openbare belangstelling in die Olimpiese Spele gewek. Daar was vier keer soveel mediaverteenwoordigers as atlete in Lillehammer, en ’n rekordgetal van nagenoeg tweemiljard mense het na die Winterspele op TV gekyk. Die Olimpiese Spele het dus ’n winsgewende bedryf vir groeiende handelsbelange geword, en TV-netwerke en borge ding mee om spesiale voorregte en kontrakte te kry.

Verteenwoordigers van die handel en die nywerheid van oor die hele wêreld het die Spele in Lillehammer bygewoon, en baie van hulle het hierdie internasionale massasaamtrek as ’n geleentheid beskou om handelsbetrekkinge aan te knoop en seminare en konferensies te reël. Die tallose verskillende Olimpiese produkte wat verkoop is—enigiets van kentekens en poskaarte tot kombuisware en klere—het van klein sowel as groot ondernemings se skynbaar onbeperkte vindingrykheid getuig.

Tydens die Spele is die plaaslike mense se lewe natuurlik heeltemal ontwrig. Die bevolking van Lillehammer, wat gewoonlik ver oor die 20 000 tel, het verdubbel weens die groot instroming van Olimpiese werkers, deelnemers en leiers. Boonop was daar ’n daaglikse “inval” van 100 000 toeskouers. Sommige van die plaaslike inwoners het besluit om met vakansie te gaan om van die drukte af weg te kom en is skertsend “sportvlugtelinge” genoem.

Wat van die Spele se sportaspek en die Olimpiese ideale?

Citius, altius, fortius

In ooreenstemming met die Olimpiese leuse—Citius, altius, fortius (Vinniger, hoër, sterker)—probeer ’n Olimpiese deelnemer rekords verbeter en sy mededingers oortref. As Olimpiese deelnemers vandag hierin wil slaag, kan hulle gewoonlik nie net in hulle vrye tyd sport beoefen nie. Dit is vir die meeste Olimpiese deelnemers ’n voltydse werk en ’n bestaansmiddel, aangesien hulle inkomste uit advertensiekontrakte in ’n groot mate afhang van die resultate wat hulle behaal. Die oorspronklike ideaal van amateurisme moes vir geld en professionalisme plek maak.

In ruil daarvoor kry die publiek al die drama en vermaak wat hulle wil hê. Verskeie rekords wat tydens onlangse Olimpiese Spele opgestel is, getuig van prestasies wat ’n paar dekades gelede ondenkbaar was. Dit is nie net aan meer oefening en groter spesialisering te danke nie, maar ook aan verbeterde toerusting en beter fasiliteite. By die Spele in Lillehammer is daar byvoorbeeld tydens die vyf snelskaatsnommers vir mans vier wêreldrekords en vyf Olimpiese rekords opgestel. Van die eer hiervoor is aan die nuwe skaatsbaan gegee, waar wetenskaplike metodes gebruik is om die ys ideaal vir beroepskaats te maak.

Ongelukkig trek sommige atlete die aandag omdat hulle nie meeding “in die ware gees van sport, ter verheerliking van sport”, soos hulle in die Olimpiese eed belowe nie. By vanjaar se Winterspele was daar atlete wat dit nie kon verdra om te verloor nie, en ’n paar atlete het hulle mededeelnemers se pogings in die wiele probeer ry. In onlangse jare moes ’n stryd teen dwelms en steroïede gevoer word. In Lillehammer is een deelnemer die eerste dag weens dwelmgebruik huis toe gestuur. Maar tydens die Spele het nie een van die atlete positief daarvoor getoets nie.

Daar was ’n paar nuwe benaderings van die Olimpiese ideale met betrekking tot die Spele in Lillehammer.

Omgewingsbewaring, noodlenigingswerk en vredespogings

’n Reuseonderneming so groot soos die Olimpiese Spele, wat omvattende ontwikkelings en ’n grootskaalse produksie van afval behels, “spaar nie hulpbronne nie en is ook nie omgewingsvriendelik nie” (Miljøspesial, omgewingsbulletin vir die Olimpiese Spele in Lillehammer). Baie mense het gemeen dit was in stryd met die Olimpiese gees en het voorgestel dat die Winterspele van 1994 ’n omgewingspronkstuk gemaak word. Hierdie idee het byval gevind en die Spele in Lillehammer het internasionaal aandag begin trek as die “eerste Olimpiese Spele met ’n ‘groen’ aspek”. Wat het dit beteken?

Die ligging, vorming en langtermynwerking van die nuwe sportterreine is in ag geneem om die skade aan die omgewing tot ’n minimum te beperk. Op alle gebiede is omgewingsvriendelike en herwinbare materiaal, soos hout, klip en karton, op groot skaal gebruik, en hoë omgewingstandaarde is vir alle borge en leweransiers gestel. Rook was in al die geboue verbode.

’n Studie van die Olimpiese doelwitte het ook tot die stigting van ’n noodlenigingsfonds, die Lillehammer- Olimpiese hulpfonds, gelei. Dit het begin as ’n insameling om kinders in die eertydse Olimpiese stad Sarajevo in Bosnië en Herzegowina te help en is later uitgebrei om jong oorlogslagoffers oor die hele wêreld te help. Die fonds het ’n groot hupstoot gekry nadat een van die wenners van ’n goue medalje al sy oorwinningsbonusgeld vir een van die nommers (sowat R109 000) ten bate daarvan geskenk het. Die stigters hoop dat die Olimpiese hulpfonds tydens toekomstige Spele sal voortbestaan.

Die gebruiklike loslating van duiwe tydens die Olimpiese Spele se openingsplegtigheid het ’n onuitgesproke vredesboodskap aan die wêreld oorgedra. Die vredesideaal is verder met betrekking tot die Winterspele van 1994 beklemtoon, aangesien die president van die IOK, die Kataloniër Juan Antonio Samaranch, herhaaldelik oor vrede vir almal op die aarde gepraat het.

Ideale wat verwesenlik gaan word

Die Olimpiese ideale weerspieël ’n diepgewortelde begeerte van alle mense—die begeerte na broederskap, vrede, regverdigheid en vreugde, sowel as fisiese en geestelike gesondheid. Vanjaar se Winterspele het groot lof ontvang omdat dit die aandag weer op die oorspronklike doelwitte van die Olimpiese Spele gevestig het en is as “die beste Olimpiese Winterspele tot nog toe” bestempel. Die Olimpiese beweging het nietemin weer eens nie sy ideale verwesenlik nie.

Aansien en kommersialisme was geneig om oor die basiese sportideale te seëvier. Die wedstryd het dikwels in verbete mededinging ontaard wat egotisme en nasionalisme pleks van broederskap en versoening teweeggebring het.

Is daar ’n manier waarop die Olimpiese strewes verwesenlik kan word? Die Bybel toon dat mensepogings nie ’n ideale wêreld tot stand sal bring nie. God se Koninkryk gaan egter binnekort ingryp en volmaakte paradystoestande op die aarde teweegbring (Jeremia 10:23; 2 Petrus 3:13). So ’n wêreld is nie op atletiese ontwikkeling of op getrouheid aan Olimpiese beginsels en tradisies gegrond nie, maar op ware toegewydheid aan die Skepper. Die apostel Paulus het gesê: “Liggaamlike oefening het min voordeel; maar godvrugtige toegewydheid is voordelig vir alles, aangesien dit belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe.” Vir diegene wat hulle vandag “met godvrugtige toegewydheid as [hulle] doel” oefen, sal die resultaat dus werklik ’n gesonde verstand in ’n gesonde liggaam wees.—1 Timotheüs 4:7, 8, NW.

[Voetnoot]

a Daar is in 1992 ook Olimpiese Spele gereël, maar dit was die laaste keer dat die Somer- en Winterspele dieselfde jaar gehou is. Van nou af word daar gereël dat hulle mekaar al om die twee jaar afwissel.

[Venster op bladsy 26]

Die Olimpiese godsdiensvermenging

Die Olimpiese Spele spruit voort uit die Griekse godsdiens. Dit het begin as ’n godsdiensfees ter ere van Zeus, die vernaamste van die Griekse gode. Daar is iets godsdienstigs omtrent verskeie aspekte van die hedendaagse Spele: plegtige rituele vir die Olimpiese vlag, die “heilige” vlam en die Olimpiese eed. Die byna 100-jarige Griekse gesang wat aan die begin van die Spele gesing word, is vir die openingsplegtigheid in Lillehammer in Noors vertaal. Hierdie Olimpiese gesang het ’n sterk godsdienstige inslag. Dit is vermoedelik ’n gesang ter ere van Zeus. Die lied bevat onder andere hierdie woorde: “Onverganklike gees van die ou tyd,/Vader van wat waar, pragtig en goed is,/Daal neer, verskyn, laat u lig oor ons skyn/ . . . Gee lewe en asem aan daardie voortreflike spele!/ . . . Al die nasies verdring mekaar om u te vereer,/O, onverganklike gees van die ou tyd!”

Die Noorweegse Lutherse Kerk het deur sy eie Olimpiese Komitee ’n volledige musiek- en godsdiensprogram gereël. Al die vernaamste kerke is in ’n groot, interkerklike projek verteenwoordig. Die amptelike Olimpiese kapelaan en ’n internasionale en ekumeniese span geestelikes was in die Olimpiese Dorp in Lillehammer beskikbaar.

[Prente op bladsy 24, 25]

Bo: ’n Snelskaatser skaats vir ’n goue medalje in die 10 000-meterwedloop

Middel: Vrysprong was ’n nuwe Olimpiese nommer

Onder: ’n Wedloop op ’n afdraand—teen snelhede van meer as 120 kilometer per uur

[Erkenning]

Photos: NTB

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel