Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 2/22 bl. 21
  • Antieke tegnologie—moderne wonder

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Antieke tegnologie—moderne wonder
  • Ontwaak!—1993
  • Soortgelyke materiaal
  • Op soek na die water van die lewe
    Ontwaak!—2001
  • “Dit reën nooit in Lima nie?”
    Ontwaak!—2003
  • Raak die wêreld se water op?
    Ontwaak!—2001
  • ’n Wilde juweel
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 2/22 bl. 21

Antieke tegnologie—moderne wonder

“DIE stad [Toerfan], op een van die warmste, onherbergsaamste plekke op aarde, is danksy ’n 2000 jaar oue tegnologie nog ’n grasgroen oase”, het The Globe and Mail van Toronto, Kanada, berig.

Toerfan staan nie net bekend as die warmste stad in China nie, maar ook as een van die warmste en droogste plekke op aarde. Sy bevolking van omtrent 180 000 woon aan die noordelike kant van die Toerfan-bekken, ’n verlenging van die Takla Makan-woestyn. Reënval is feitlik onbekend, en vanweë die geweldige hitte verdamp die bietjie reën wat wel val voordat dit die grond bereik. Tydens die somermaande styg die temperatuur gewoonlik tot 54 grade Celsius in die koelte.

Tog omring bome en struike Toerfan, en hulle beslaan ’n oppervlak van sowat 3200 hektaar. Hulle beskerm die inwoners teen die loeiende sandstorms wat gereeld om sy buitegrense woed. Die storms ontstaan in die Takla Makan-woestyn en beweeg soveel sand dat dit geboue heeltemal kan bedek en vrugbare landerye kan begrawe. Die bome en struike beskerm die stadsoase gevolglik teen die verwoestende woestynkragte.

Ondanks hierdie barre omgewing van hewige sandstorms en skroeiende temperature floreer Toerfan as ’n landbousentrum. Toerfan is ’n regte supermark van ongewone kossoorte en lewer woestyndadels, druiwe, granate, perskes, appelkose, appels, eierplante, uie en koring en ander graangewasse, afgesien van die beste langveselkatoen wat in China verbou word. Toerfan is sedert menseheugenis al bekend vir die kwaliteit en verskeidenheid van sy landbouprodukte. Dit is al duisende jare lank ’n florerende gemeenskap in ’n vrugbare oase.

Wat is die 2000 jaar oue tegnologie wat so ’n verbasende suksesverhaal tot gevolg het? The Globe and Mail beweer dat die stad sy sukses te danke het aan “’n antieke besproeiingstelsel wat een van die mens se vindingrykste en blywendste ingenieurswerke is”. Die koerant sê voorts: “Die geheim van [Toerfan] se voortbestaan is ’n ongelooflike doolhof van besproeiingstonnels en putte—wat in die plaaslike Oeigoerse dialek as karez bekend staan—wat die afloopwater van die sneeubedekte Tien Sjan-berge, 80 kilometer [50 myl] noordwes daarvan, opvang.” Die water sal waarskynlik verdamp voordat dit die stadskanale bereik as dit nie ondergronds voorsien word deur middel van die honderde tonnels waaruit die uitgebreide besproeiingstelsel bestaan nie.

Lank voordat die Oeigoers hulle besproeiingstelsel ontwikkel het, het die eertydse Perse ’n soortgelyke netwerk van besproeiingstonnels gebruik. Die Encyclopædia Britannica sê: “Die Perse het ondergrondse waterbronne ontwikkel deur tonnels, of kanats, in die heuwels te grawe, dikwels etlike honderde voete onder die oppervlak en tot 12 myl (19 kilometer) lank.” Hierdie antieke besproeiingstegnologie is inderdaad selfs in ons tyd ’n wonder, want dit hou ’n oase op een van die warmste, droogste plekke op aarde in stand.

Hoewel ou en nuwe tegnologie woestyne in pragtige tuine omskep, sal Jehovah in die nabye toekoms, deur middel van sy Koninkryksregering, al die woestyne van die aarde tot die mense se genot laat bloei. Jehovah se profeet sê: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing; dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Libanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God.”—Jesaja 35:1, 2.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel