“Dit reën nooit in Lima nie?”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN PERU
As jy Peru besoek, sal jy waarskynlik iemand hoor sê: “Dit reën nooit in Lima nie”—die land se hoofstad. Terwyl jy in die koue, klam lug bibber, wonder jy dalk of dit waar kan wees.
LIMA is geleë in die groot woestyn wat langs die Pasifiese kus van Suid-Amerika loop—’n streek met een van die wêreld se ongewoonste klimate. Hierdie dor strook land strek van die Sechura-woestyn in Peru se verre noorde tot by die Atacama-woestyn van noordelike Chili.
Die kuswoestyn lê tussen die ruwe Andes en die helder blou waters van die Stille Oseaan. Van ver af lyk dit of die kuslandskap net uit kaal, ruwe heuwels van klip en sand bestaan wat in elke moontlike skakering van beige en bruin gekleur is. Erosie het baie van die heuwelhange met ’n kleed van bruin rotse bedek. Hierdie rotse beweeg geleidelik teen die helling na die see toe af en word soms aangehelp deur die talle aardskuddings wat hier voorkom.
Wanneer die rotse die strand bereik, maal die brekende branders van die Stille Oseaan dit stadigaan tot sand, wat die wind in halfmaanvormige duine omskep. In dele van hierdie uitgestrekte woestyn is geen reënval in 20 jaar opgeteken nie, wat dit een van die droogste plekke op aarde maak. Maar waarom is hierdie gebied so droog?
Die reënskadu van die Andes
Die antwoord het met die passaatwinde te doen, wat van oos na wes waai. Wanneer die winde teen die hoë, getande bergrûens van die Andesgebergte aanwaai, word dit boontoe gedwing. Wanneer die winde styg om oor die Andes te kom, koel dit af, en dit laat die vog daarin kondenseer en as reën en sneeu val, meestal aan die oostekant van die bergreeks. Die gebergte gooi dus ’n reënlose skadu oor die westelike helling.
Daarbenewens kry die gebied min vog van die koue Peru-seestroom, of Humboldt-seestroom, wat van Antarktika af noordwaarts vloei, of van die wind wat van die Stille Suidsee af inwaai. Al hierdie faktore saam maak die woestyn baie droog, maar nie besonder warm nie. Snaaks genoeg, hoewel reën skaars is, is die lugvoggehalte baie hoog, veral gedurende die Peruaanse winter, van Mei tot November. Waar kom hierdie vogtigheid vandaan?
Die garúa
In die winter hang daar ’n kombers lae wolke oor die kus, en ’n digte mis, wat die Peruane garúa noem, kom van die Stille Oseaan af in. Gedurende hierdie seisoen kan maande verbygaan sonder dat die son gesien word, wat die streek ’n koue—volgens party ’n triestige—klimaat gee. Al lê die gebied in die trope, bly die gemiddelde wintertemperatuur in Lima tussen 16 en 18 grade Celsius. In die winter kan die lugvoggehalte tot 95 persent wees sonder dat dit reën, en die Limeños, die inwoners van Lima, berei hulle vir die klam, deurdringende koue voor deur warm aan te trek.a
Die ligte wintermotreën is genoeg om die strate van Lima nat te maak en ook om die rustende woestynplante op die hoë kusheuwels nuwe lewe te gee. Dit gee groot troppe bokke, skape en beeste weer groen velde om op te wei. En sedert die vroeë 1990’s gebruik party dorpe in die woestyn misopvangers—groot polipropileennette waarop die mis kondenseer—om water uit die lae miswolke te oes wat gebruik kan word as drinkwater en om tuine mee nat te lei.
Maar vog uit die mis en wolke is nie genoeg om die veldplante heeljaar te laat floreer nie. Die totale neerslag in Lima, wat hoofsaaklik uit gekondenseerde water van die garúa bestaan, is selde meer as 50 millimeter per jaar. Daarom is die enigste groen plante wat in die kuswoestyn floreer, dié wat hulle water kry van lewegewende riviertjies wat van hoog in die sneeubedekte Andes vloei. Uit die lug gesien, lyk die riviervalleitjies soos groen linte wat oor die woestyn lê.
Die lewe sonder reën
Peru se eertydse kuskulture—soos die Chimu en die Mochica—het gesofistikeerde besproeiingstelsels aangelê om in so ’n droë klimaat te kan lewe. Soos in die geval van eertydse Egipte het hierdie uitgebreide landbouprojekte hoogs georganiseerde beskawings onderhou. Die eertydse Peruane het roustene gebruik en groot stede gebou, wat piramidetempels, hoë mure en opgaardamme ingesluit het. Omdat reën so skaars is, is hierdie ruïnes goed bewaar, wat argeoloë ’n goeie idee gee van die pre-Columbiaanse lewe in Peru. Vandag is baie kusdorpies nog steeds aangewese op herstelde waterleidings en kanale wat duisende jare gelede gebou is.
Soos die vroeë woestynbewoners uitgevind het, is die woestyngrond baie vrugbaar waar daar water is. Peru se hedendaagse kusbesproeiingsprojekte voorsien die nodige water om ’n verskeidenheid gewasse te kweek, onder meer katoen, rys, mielies, suikerriet, druiwe, olywe en aspersies sowel as ander groentes en vrugte. Tans woon meer as die helfte van Peru se bevolking van ongeveer 27 miljoen in die smal kusstrook.
Wanneer dit wel reën
Maar soms reën dit wel in dele van die woestyn, insluitende Lima. Elke paar jaar wyk die koue Peru-seestroom voor die warmer waters wat van die westelike Stille Oseaan af invloei. Hierdie verskynsel, wat as El Niño bekend staan, is ’n teken dat dit binnekort gaan reën. Besonder sterk El Niño’s het in 1925, 1983 en 1997/98 voorgekom. Dit is te verstane dat die stortreëns en die vloede wat dit veroorsaak die woestynbewoners onverhoeds betrap, aangesien hulle daaraan gewoond is om feitlik geen reën te kry nie.
In 1998 is Ica, Peru, deur so ’n vloed getref. Die Ica-rivier het groot gebiede van die stad oorstroom, en die rousteenhuise het eenvoudig verdwyn. Ander dele van die woestyn het die reën verwelkom en in welige weivelde verander. Die jongste El Niño het groot dele van die Sechura-woestyn in ’n groen tuin met pragtige blomme omskep, wat ons herinner aan God se belofte vir die toekoms dat ‘die woestynvlakte sal bloei soos die saffraan’ (Jesaja 35:1). Die swaar reëns het ook ’n yslike meer in die woestyn gevorm—na skatting sowat 300 kilometer lank en 40 kilometer breed—wat koerante La Niña genoem het.
Peru se groot kuswoestyn is beslis nog een van die verskeie natuurwonders van ons planeet. Hoewel dit selde hier reën, het hierdie dor land ’n aangename tuiste vir miljoene geword, danksy besproeiing en die behoorlike gebruik van kosbare water.
[Voetnoot]
a Wanneer temperature in die somer tot 20 of 27 grade Celsius styg, trek die inwoners van Lima hulle warm klere uit en geniet hulle die talle mooi strande aan die kus.
[Venster/Prent op bladsy 27]
Inkomste van uitwerpsels
Die koue, voedingryke seë naby die weskus van Peru is al duisende jare lank vir miljoene seevoëls ’n bron van voedsel—hoofsaaklik sardientjies en ansjovis. Omdat daar min reën in die gebied val, het ontsaglike hoeveelhede voëlmis deur die jare heen op die kuseilande opgehoop—soms meer as 30 meter hoog! Voordat die Spanjaarde opgedaag het, is daar uitgevind dat hierdie mis, wat ghwano genoem word na aanleiding van die Quechua-Indianenaam daarvoor, ’n uitstekende bemestingstof is. In die laaste helfte van die 19de eeu het ghwano ’n baie suksesvolle uitvoerproduk vir Peru geword, totdat chemiese bemestingstowwe dit op die wêreldmark vervang het. Teen daardie tyd was baie van die opgehoopte mis al opgebruik. Vandag word die voorraad meestal beperk tot wat die voëls oplewer.
[Kaart op bladsy 24]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Lima
[Prent op bladsy 25]
Die Pasifiese kuslyn suid van Lima
[Erkenning]
© Yann Arthus-Bertrand/CORBIS
[Prent op bladsy 25]
Die Sechura-woestyn aan die Peruaanse kus
[Prente op bladsy 26]
Panele om mis op te vang, Mejía, Peru
Oorspronklike Inka-kanale word nog steeds gebruik in Ollantaytambo, Peru
[Erkenning]
© Jeremy Horner/CORBIS; insetsel: Courtesy of the charity FogQuest; www.fogquest.org
[Prent op bladsy 26]
Stortreëns, wat aan die El Niño-weerverskynsel toegeskryf is, het op 30 Januarie 1998 tot groot vloede in Ica, Peru, gelei
[Erkenning]
AP Photo/Martin Mejia