Skaapboerdery is ons bedryf
HET jy al ooit ’n wolkledingstuk gedra of ’n string wol gekoop? Het jy al ooit stilgestaan om te dink waar die wol vandaan kom? Of wat betrokke is by die teling van die skape wat jou wol verskaf? Miskien kan ons jou help. Waarom? Omdat ek en my vrou, Barbara, ’n skaapplaas daar ver onder op die Suideiland van Nieu-Seeland bestuur.
Skape is interessante diere—hulle is gewillig, skamerig en dikwels eenvoudig onnosel. En tog onthou ek ’n ooi wat beter beheer uitgeoefen het oor haar lammers as enige ander moeder in die trop. Ander het nie geweet waar hulle kleintjies is nie, maar nie hierdie ooi nie. Wat was spesiaal omtrent haar? Sy was blind. Maar haar skerp reuksin en goeie gehoor het vir haar blindheid vergoed. Sy het presies geweet waar om haar lammers op te spoor. Dit was ’n plesier om te sien hoe hulle aan hulle ma drink terwyl hulle stertjies swaai asof hulle gaan afval!
Ek het die grootste deel van my lewe hier op Suideiland met skape te doen gehad. My pa is al 60 jaar lank ’n skaapboer. Nou waarom sê ek “skaapboer” en nie “herder” nie? Die algemene idee is dat ’n herder iemand is wat ’n nomadiese trop skape oppas. In ons geval het ons skaapplase. Ons skape word op ’n bepaalde stuk grond opgepas en net van een weiveld, of kamp, na ’n ander verskuif. Pleks van tientalle of honderde skape het ons duisende. En tog is ons plaas volgens Nieu-Seeland se standaarde klein. Ons werk word nietemin op ’n industriële skaal gedoen. Wat is dus daarby betrokke om met soveel skape te boer?
Teel aan en word baie
Hoewel party skaapboere skape net vir die vleis teel, teel ons hulle vir die wol sowel as die vleis. Besoekers is dikwels verbaas om uit te vind dat daar sowat 70 miljoen skape, hoofsaaklik uit 19 verskillende rasse, in Nieu-Seeland is. Skape is nie inheems in ons land nie, maar is uit ander lande ingevoer. Die groot merinoskaap wat oorspronklik uit Extremadura, Spanje, kom en die Romney, Leicester en ander Engelse rasse is meestal via Australië ingebring.
Ons skape is van die Romney-ras wat geneig is om groot en swaar te wees en goeie wol te lewer. Maar dit verg ’n groot hoeveelheid harde werk en beplanning om by daardie finale produk uit te kom. In die eerste plek moet ons ’n produktiewe kudde teel, en dit beteken goeie aanteelvee. Ek koop jaarliks uitsoekramme aan sodat ek altesaam omtrent 35 het, en in April word hulle uitgestuur om die ooie te bevrug of, soos ons sê, te dek. Gedurende ’n tydperk van drie weke sal elke ram tussen 60 en 80 ooie dek. Lamtyd is in September en dit is die tyd wat ek en Barbara die meeste geniet. Maar hoe bly ons tot September toe besig?
Wintervoeding
Hier in die Suidelike Halfrond het ons van Mei af winter. Dan is daar nie goeie weiding nie en moet ons dus vir die kudde voer neem. En ek sê “ons”, want Barbara help my daarmee. Ons verdeel ons weivelde, of kampe, met elektriese draad in afdelings van ongeveer ’n halfhektaar elk. Net om die elektriese drade te span, is op sigself ’n groot werk. Maar waarom moet ons dit doen? Omdat die skape elke dag van een weiveld na ’n ander verskuif sal moet word, en ons moet die hooi en ander voer na hulle toe aanry. Die “ander voer” kan gars en neute wees, veral kort voor lamtyd wanneer die ooie ekstra voeding nodig het. Ons voer die wissellammers, of jaaroudskape, ook koolrape. En waar kry ons die koolrape? Ons moet hulle kweek, wat beteken dat ons ook landbougewasse plant en nie net met skape boer nie. Maar kom ons keer terug na die vreugdevolle werk, die lamtyd.
Ons dien as vroedvroue
Wanneer Septembermaand aanbreek, ry ek en Barbara met ons motorfietse in die weivelde rond. Nee, dit is nie ’n wedren nie. Dit is ons vervoermiddel om by al die ooie te kom wat lam. Ons probeer vier of vyf keer per dag by die ooie kom wat op die punt staan om geboorte te gee sodat ons enige ooi kan help wat probleme het. Die meeste van hulle gee sonder enige komplikasies geboorte, maar ons moet nogtans die tweelinglammers merk sodat ons hulle weer bymekaar kan bring as hulle van mekaar geskei word.
Party ooie gee moeilik geboorte, en dit is waar die motorfietse help sodat ons gou hulp kan verleen wanneer dit nodig is. As ’n lam byvoorbeeld met sy kop eerste uitkom sonder dat die voete uitsteek, kan hy verwurg. Dan neem ons as vroedvroue oor en help ons die natuur om sy behoorlike gang te gaan. Vir enigeen wat nie daaraan gewoond is nie, kan dit na ’n morsige besigheid lyk, maar vir ons is dit ’n jaarlikse wonderwerk om te sien hoe nuwe lewe voortgebring word.
Die meeste ooie gee aan ’n tweeling geboorte. Later sit ons ’n gekleurde oorplaatjie aan ongeveer 500 lammerooie wat vir teeldoeleindes gehou word. Dit dui hulle ouderdom aan. Ná drie of vier maande word die ramme en die oorblywende ooie na die slagpale toe gestuur om geslag te word. Terloops, ons het spesiale terminologie om hulle ouderdomme te onderskei. ’n Jaaroudskaap word ’n wissellam genoem en een wat twee jaar oud is ’n tweetandskaap. Jy sien, skape kry net agt tande, twee per jaar. Wanneer ’n ooi ’n tweetandskaap is, kan ons haar vir teeldoeleindes begin gebruik.
Ons moenie vergeet wat die hoofrede is waarom al hierdie skape geteel word nie—vir hulle waardevolle pels, hulle wol—en dit bring ons by ’n druk tydperk van baie harde werk.
Hulp met die skeerwerk
’n Goeie skeerder kan sowat 300 tot 400 skape per dag skeer, maar ek kan dit nie ewenaar nie. My gemiddeld is sowat 150 skape per dag. Die meeste van die skape word een keer per jaar geskeer, maar party twee keer per jaar, as wissellammers in Oktober en as tweetandskape in Maart. Om die skeerwerk later ’n bietjie makliker te maak, sny ons die lammers se sterte af en dit help dat hulle agterkant skoon bly.
In die ou dae is die skeerwerk met lemme of skaapskêre gedoen. Vandag het ons elektriese skêre, maar dit is nogtans ’n veeleisende werk wat gespesialiseerde vaardighede vereis. Na gelang van hoe jy die skaap vashou, kan jou werk makliker of moeiliker wees. Ek huur skeerders wat betaal word volgens die aantal skape wat hulle per dag skeer. Ons kry gewoonlik tussen 4,5 en 5,5 kilogram wol van elke ooi.
Die volgende werk is om die wol voor te berei vir versending na die wolhandelaars. Ons moet dit styf verpak in bale wat ongeveer 180 kilogram elk weeg. Maar hoe waarborg ons ’n goeie kwaliteit wol? Daar is nog ’n fase van ons werk wat noodsaaklik is om goeie wol te verkry.
Die dip
Skape dra bosluise en luise van die een na die ander oor en hierdie parasiete laat hulle jeuk. As jy jou weer kom kry, bestee die skape al hulle tyd daaraan om teen drade te skuur pleks van te eet. Hulle verloor dus gewig en bederf hulle wol. Hoe werk ons dit teë? Ons dip hulle een keer per jaar in ’n chemiese bad. Dit is ook ’n tyd wanneer ons baie hard werk, soos ’n buitelandse besoeker aan my plaas opgemerk het. Dit is hoe hy dit beskryf het.
’n Stadsmens se beskouing
“Toe ek daar aankom, was die dipwerk al ure lank aan die gang. Dit het eers vir my ongeoefende oë na ’n toneel van pandemonium gelyk. Mans het geskreeu; honde het geblaf. Party skape het geproes; ander het na hulle asem gesnak. Honde het letterlik oor die verskrikte skape gehardloop sodat hulle aan die voorkant van die groep kon kom om die opeengehoopte skape uiteen te jaag. Ek het gou die logika agter dit alles gesien.
“Honderde skape was in vangkampe en het hulle beurt afgewag om, sowat twaalf op ’n slag, in ’n nou gangetjie ingejaag te word. Daar het een van die skaapboere langs ’n bad vol chemiese mengsel gewag wat met los sakke toegemaak was sodat die skape dit nie kon sien nie. Sodra elke dier by die wagtende man kom, stoot hy die skaap sonder meer met sy knieë deur die sakke en die dier beland met ’n plons in die donker vloeistof. Die dier se eerste reaksie was om te probeer uitkom en hy het in die rigting van die smal uitgang begin swem. Maar aan weerskante het ander plaaswerkers met lang pale gewag om die skaap onder die dip in te stoot en sodoende seker te maak dat al die wol, van kop tot toon, deurweek is. Wanneer die diere uit die nare mengsel geklim het, het hulle gehoes en geproes en hulle so kwaai geskud dat ’n mens net water sien spat het. Toe party gereed was om uit die uitgangskraal vrygelaat te word, kon hulle na die weiveld terugkeer, iets wat die meeste van hulle met skynbare verligting en entoesiasme gedoen het!”
Die stryd teen bosluise en wurms
Dit is vir my interessant om te hoor hoe ’n buitestander beskryf wat ons doen. Jy wonder moontlik watter chemiese oplossing ons in die dip gebruik. Dit word Grenade genoem, en die aktiewe bestanddeel daarin is Pyrethroid, met 5 persent Cyhalothrin, wat die bosluise of luise doodmaak. Hierdie parasiete is nie die enigste natuurlike vyand wat skape het nie. Hulle kry ook ingewands- en longwurms, wat beteken dat ons die skape gereeld ’n middel moet ingee. Dit behels dat ons die skape huis toe bring na die krale toe. Ons jaag hulle in ’n smal, omheinde gang wat ongeveer 1,2 meter breed is en waarin daar sowat 50 skape kan kom. Hulle word dan ’n middel ingegee deur ’n chemiese mengsel wat die wurms doodmaak in hulle keel af te spuit. Ons dra die spuittoestel met die vloeistof in op ons rug en gebruik ’n buis en spuitkop om dit in hulle keel af te spuit. Soms moet ons ook penisillien toedien om bloedvergiftiging teë te werk.
Kry ons skape ooit bek-en-klouseer? Nee, danksy die streng beheer wat die immigrasie- en landbou-owerheid by Nieu-Seeland se hawens en lughawens uitoefen. Baie buitelanders is onthuts wanneer hulle op ons lughawens aankom en vind dat die vliegtuigkajuit bespuit moet word voordat hulle kan afklim. Maar dit is een rede waarom party van die siektes wat diere in ander lande aantas nie hier voorkom nie.
Die onontbeerlike honde
My verhaal sal onvolledig wees as ek niks oor ons skaaphonde sê nie. Ons het ses op ons plaas en gebruik twee hondsoorte van ’n gekruisde ras wat kollie in hulle het. Ons het die sogenaamde blaffende hond. Hulle sal blaf en die skape aanjaag deur oor hulle rûe te hardloop om in ’n strategiese posisie te kom. Die ander soort noem ons ’n ooghond. Hy sal tot reg by die skaap kom en hom in die oë kyk, want hy intimideer die skaap deur vir hom te kyk pleks van te blaf. Ons sou beslis nie ons werk sonder hierdie getroue diere kon verrig nie. Hulle sal werk totdat hulle van uitputting neerslaan.
Dit is kortliks ’n samevatting van ons lewe hier in Mossburn, Nieu-Seeland, waar ons skape versorg. Wanneer jy weer ’n mooi wolkledingstuk koop, kan jy dus gerus aan die skaapboere oor die hele wêreld dink wat die diere wat daardie wol voorsien het, so goed versorg het.—Soos vertel deur Bruce Cournane.
[Prent op bladsy 16]
Negentien verskillende rasse word by Agrodome, Rotorua, vertoon
[Erkenning]
Agrodome Rams on Stage
[Prente op bladsy 18]
Bo: Skape gaan in die dip in
Regs onder: Om skape te skeer, is ’n uitputtende werk