Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/11 bl. 12-14
  • ’n Jaar in die lewe van Walliese herders

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Jaar in die lewe van Walliese herders
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Lentelammers
  • Skeertyd in die somer
  • Take in die herfs
  • Voeding in die winter
  • Skaapboerdery is ons bedryf
    Ontwaak!—1993
  • Die lewe in Bybeltye—Die herder
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • ‘Herders na my hart’
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • Hulle hou met medelye oor die skape toesig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 7/11 bl. 12-14

’n Jaar in die lewe van Walliese herders

REGOOR die wêreld sorg herders vir meer as ’n miljard skape. Elke seisoen bring unieke uitdagings mee. Gerwyn, Ioan en Rhian beskryf ’n herder se werk in die berge van Wallis, waar skape mense byna 3 tot 1 in getal oortref.

Lentelammers

Wanneer die lente aanbreek, werk herders dag en nag om die ooie wat lam, te help.

Gerwyn: “Hoewel lamtyd die uitputtendste tyd van die jaar is, is dit ongetwyfeld die lonendste tyd, en ’n goed opgeleide hond is van onskatbare waarde. As ’n ooi sukkel om te lam, vang my hond die ooi sagkens en druk hy haar teen die grond vas sodat ek haar kan help.”

Ioan: “Ongeag hoeveel keer ek ooie help om te lam, dit is altyd iets spesiaals om pasgebore lammetjies te sien!”

Skeertyd in die somer

Die herder se somertaak is om die skape se wol te skeer, wat tot tien kilogram kan weeg, afhangende van die ras. ’n Herder kan tot 250 skape per dag skeer.

Rhian: “Eers verwyder ek enige vuil wol wat om die skaap se stert is sodat die skaap geskeer kan word. Vaardige skeerders kan met behulp van ’n elektriese skeerder ’n hele wolvlies binne twee minute afskeer. Ek help ook om die wol skoon te maak, waarna ek dit mooi oprol en in sakke sit om verkoop te word.”

In die laagliggende dele hoop herders dat hulle twee weke se droë weer sal hê om die weivelde te sny en goeie gehalte hooi te maak. Hierdie voer word deur die winter vir die kudde gebruik. Familie en vriende help om die vragte aan te ry.

Ioan: “Een van die dinge wat ek die meeste geniet, is om deur ’n weiveld te loop die oggend nadat die hele oes ingesamel is.”

Take in die herfs

Die kuddes word van die berge af gebring sodat die herders die ooie van hulle gespeende lammers kan skei.

Ioan: “Al is daar geen heinings of klipmure op party van die berge nie, gebeur dit selde dat die skape verlore raak of op ’n buurman se grond gaan wei. Op ons plaas ken die ooie die plaasgrense. Ooie leer dit by hulle moeders of by die herder en dra dit weer oor aan die ooilammers. Maar soms soek ons ure—of selfs dae—lank na die paar wat afgedwaal het.”

Herders sal ook ramme ondersoek, koop en voorberei vir die ooie. Een ram is nodig vir elke 25 tot 50 ooie. Ramme word beskou as ’n belegging in die toekoms van die kudde.

Tien tot twaalf weke nadat die ramme die ooie gedek het, gebruik die herder ’n ultraklankskandeerder om te bepaal watter ooie dragtig is en hoeveel lammers elkeen in die lente sal hê. Onvrugbare ooie word verkoop. Dié wat dragtig is met een lam, word saamgegroepeer, terwyl dié met ’n twee- of drieling spesiale aandag en ekstra voeding ontvang.

Voeding in die winter

Gedurende die kort dagligure van die winter neem die voeding van die dragtige ooie ’n groot deel van die herder se tyd in beslag. Ongeag die weerstoestande, die herder is altyd naby aan die skape en verseker dat hulle genoeg kos het wanneer daar swaar ryp is.

Gerwyn: “Sulke tye het die skape hulle herder nodig en maak hulle op hom staat om hulle te voed en te beskerm.”

Rhian: “Dit is wonderlik om tydens al die seisoene buite te wees en die veranderinge in die diere- en planteryk te sien—’n ryk beloning terwyl ek die werk doen waarvoor ek so lief is, naamlik om na my kudde om te sien.”

[Kaart op bladsy 12]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

NOORD-IERLAND

IERLAND

SKOTLAND

WALLIS

ENGELAND

[Prent op bladsy 14]

Ioan ondersoek ’n ram

[Prent op bladsy 14]

Gerwyn en ’n goed opgeleide skaaphond

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel