Nie sneeu of reën of groot hoeveelhede bring die pos tot stilstand nie
“Solank daar posbodes is, sal daar vreugde in die lewe wees.”—William James, Amerikaanse filosoof (1842-1910)
AMPER almal het ’n verhaal te vertel oor hoe hulle hulle al vir die posdiens vervies het. Die brief wat hulle gepos het, het weke of selfs maande later as wat verwag is daar aangekom, postariewe styg te vinnig of die lang ry by die poskantoor is genoeg om ’n mens om te krap. In Oktober 1966 het ’n posstelsel op ’n ramp afgestuur. ’n Woordvoerder vir die Amerikaanse Posdiens het aan Ontwaak! gesê dat “die destydse grootste Amerikaanse posfasiliteit, in Chicago, feitlik gesluit moes word toe dit só oorlaai is dat dit nie die pos kon hanteer nie”.
Wat is intussen gedoen om te verseker dat die posvloei nie tot stilstand kom nie en dat jou brief sy bestemming sal bereik? Is daar enigiets wat jy kan doen om die diens wat jy ontvang te verbeter? Het briefafleweringsmetodes en betroubaarheid deur die eeue heen aansienlik verander?
Die antieke posdiens
Die vroegste georganiseerde posdienste was uitsluitlik vir die regering se gebruik. Sulke stelsels het in eertydse China, Egipte, Assirië, Persië en Griekeland bestaan. Die Romeinse posstelsel is cursus publicus genoem, wat letterlik “openbare weg” beteken; dit was egter hoofsaaklik die regering se eksklusiewe posdiens. Dit is interessant dat briewe deur die Bybelskrywer Paulus aan die gemeentes in Efese en Kolosse en aan Filemon volgens private reëlings gestuur is en nie met die Romeinse regering se posdiens nie.—Efesiërs 6:21, 22; Kolossense 4:7-9; Filemon 21, 22.
Hoewel die vervoer en aflewering van korrespondensie tot en met die 19de eeu baie min verander het, het planne vir toesig oor of uitskakeling van private posdienste vroeër begin ontvou. Waarom? Omdat owerhede gedink het dat daar ’n behoefte aan regsmag oor private kommunikasie was. In sy boek The Universal Postal Union gee George A. Codding jr. twee belangrike redes waarom ’n regeringsmonopolie oor posdienste in die lewe geroep is. Die inkomste was eerstens “’n uitstekende manier om die amptelike diens te subsidieer”. Tweedens het die sekuriteit wat voorsien is, gehelp om beheer uit te oefen oor kommunikasie tussen die Staat se vyande.
Die Franse Koninklike Posdiens het gevolglik in 1464 van die publiek se pos begin hanteer. In 1635 het Charles I van Engeland die Koninklike Posdiens vir die publiek oopgestel. Ander regerings het dieselfde gedoen en die posdiens sodoende gemonopoliseer deur beheer uit te oefen oor hierdie gedagtewisseling tussen mense.
Brittanje het die vroeë Amerikaanse stelsel gekontroleer, net soos die Romeinse Ryk sy posnetwerk na Brittanje uitgebrei het. Die Romeinse stelsel was baie soos dié van Persië, wat ’n posstelsel van berede koeriers was wat aflosgewyse gewerk het en in die sesde eeu v.G.J. ingestel is. Die kenmerke van baie posdienste is gevolglik van Persië afkomstig.
In 1639 het die koloniale Amerikaanse posstelsel amptelik buitelandse pos begin hanteer en in 1673 binnelandse pos tussen Boston en die stad New York. Daardie kortstondige posroete is Boston-Posweg genoem, wat nou ’n deel is van die Amerikaanse Hoofweg-1. Teen die middel van die 19de eeu is pos per poskoets, stoomboot en spoor vervoer. Die aflewering van pos vanaf die stad New York tot by San Francisco, Kalifornië, het ongeveer ’n maand of langer per skip geneem en veel langer per poskoets.
Die ponie-ekspres
Iets anders as ’n poskoets of skip was nodig om die transkontinentale aflewering in die Verenigde State te bespoedig. Wat sou die probleem oplos? Die eeue oue metode van posruiter en perd is gebruik. History of the U.S. Postal Service 1775-1984 haal koerantadvertensies van Maart 1860 aan:
“Gevra: Jong, maer, taai kêrels, nie ouer as 18 nie. Moet bedrewe ruiters wees wat bereid is om daagliks die dood te trotseer. Verkieslik weeskinders.”
Dié wat in diens geneem is, “moes op ’n Bybel sweer dat hulle nie sou vloek, baklei, hulle diere mishandel of oneerlik sou wees nie”. Dit was die beroemde ponie-ekspres, wat die afleweringstyd op die 3200 kilometer lange roete tussen St. Joseph, Missouri, en die weskus van die Verenigde State tot tien dae verminder het. Daardie jong ruiters het op hulle vinnigste 15 tot 25 kilometer ver gejaag en sonder versuim perde omgeruil. Hulle het dit oor berge en vlaktes en deur riviere in alle soorte weer gedoen. Gedurende die hele tyd wat die ponie-ekspres bestaan het, is dié waaghalsige koeriers, omdat hulle die vinnigste perde gehad het, nooit deur Indiane en struikrowers ingehaal nie; een ruiter het nietemin omgekom.
Legendes het hierdie onverskrokke posdiens opgehemel, wat net van 3 April 1860 tot 26 Oktober 1861 bestaan het. Dit het met die begin van die transkontinentale telegraafdiens tot ’n einde gekom, en sodoende een van die kleurrykste hoofstukke in die geskiedenis van die Amerikaanse posdiens afgesluit.
Moderne metodes
Kom ons pos vandag ’n brief en kyk hoe dit hanteer word. Die afleweringstyd kan verskil na gelang van die manier waarop jy van die diens gebruik maak.
Terwyl jy jou werksaamhede vir die dag afhandel, word die opgehoopte korrespondensie gepos. Aangesien die meeste van ons hierdie roetine volg, vloei ’n stroom pos die posstelsel gedurende die laaste deel van die dag binne. As jy jou posstukke gevolglik vroeër in die dag pos, gee dit jou ’n voorsprong van ’n paar uur en is jou pos vóór die daaglikse stroom. In 1991 is daar daagliks gemiddeld 454 miljoen posstukke in die Verenigde State hanteer, met 13,3 miljoen vir die stad New York; 71 miljoen posstukke in Frankryk, met 5,5 miljoen vir Parys; 62,5 miljoen in Japan, met 17 miljoen vir Tokio en 60 miljoen in Brittanje.
Briewe wat by ’n posbus op straat of in ’n klein poskantoortjie gepos word, word na ’n groter poskantoor geneem. As jy jou briewe pos net voordat die posbus leeggemaak word en, indien moontlik, naby een van die groter poskantore, bespoedig dit die aflewering.
By die plaaslike poskantoor word jou brief in ’n sak gegooi en dan per vragmotor na ’n posfasiliteit geneem wat ’n sentrale middelpunt genoem word en waar outomatiese possorteringstoerusting gebruik word. Hier word briewe met behulp van vernuftig ontwerpte masjiene gewip en outomaties gedraai terwyl hulle op vervoerbande deur die verskillende stappe gaan waar hulle geskei, gerangskik, gerojeer, gesorteer en gestapel word. Een so ’n toestel, wat ’n rangskikker-rojeerdermasjien genoem word, flits deur 27 000 briewe per uur vir rojering en posmerkwerk.
Deur die loop van die middag tot die aand toe word die uitgaande pos gesorteer. Briewe met maklik leesbare adresse—wat getik, gedruk of met die hand geskryf is—kan deur ’n masjien gesorteer word. Nuwer masjiene ontsyfer twee reëls wat die ZIP-kode of die poskode; die stad, staat of provinsie en straatadres bevat.
Sulke masjiene en verwante toerusting kan adresse outomaties “lees” en druk spesiale poskodes op duisende briewe per uur. Eersteklasbriewe wat nie met masjiene verwerk kan word nie, moet teen ’n gemiddelde spoed van 800 posstukke per uur met die hand gesorteer word. As jou brief ’n maklik leesbare adres met ’n ZIP-kode in die Verenigde State (’n poskode in baie ander lande) het, kan dit volgens die vinniger, doeltreffender metodes verwerk word.
Uitgaande pos word per lug- of padvervoer versend. In die Verenigde State word eersteklaspos gewoonlik oornag afgelewer by aangewese stede en sentrale middelpunte, binne twee dae by plaaslik aangewese state en binne drie dae by enige ander plek in die Verenigde State. In Brittanje behoort 90 persent van die eersteklaspos die volgende werkdag afgelewer te word en 97,4 persent van die tweedeklaspos teen die derde dag. Franse posopnames wat in Mei 1992 gepubliseer is, toon dat 81 persent van die binnelandse briewe oornag afgelewer is en 96,3 persent van die posstukke binne twee dae, wat Sondae en vakansiedae uitsluit. Hierdie uitgaande pos word dus laat in die nag by streekposverwerkingsfasiliteite en daarna by die bestemmingsposkantoor afgelewer. Inkomende pos word die hele nag lank tot in die vroeë oggendure vir aflewering gesorteer.
Groter posklante, soos die Wagtoringgenootskap, kry self hulle pos gereed vir versending sodat die poskantoor dit per sleepwavrag by die afsender se werkplaas kan afhaal. Die poskantoor vervoer hierdie pos direk oor land tot by posafleweringspersoneel. Posdienste maak nou meer gebruik van mededingende kommunikasiemiddele, soos elektroniese pos (E-pos; inligting wat per rekenaar oor telekommunikasielyne gestuur word). Die Franse stelsel het verlede jaar tienmiljoen sulke stukke per E-pos gestuur.
Hoewel posprosedures van land tot land verskil, word die meeste van die wêreld se pos op ’n soortgelyke manier verwerk as dié van die Amerikaanse Posdiens wat ons hier beskryf het en wat 40 persent van die wêreld se pos hanteer.
Ander posdienste
Posstelsels lewer meer dienste as om net pos te verwerk. ’n Amerikaanse poskantoor sal jou help om ’n paspoort te kry. Jy kan jou geld bank by ’n Japannese poskantoor of by die Britse Giro-bank (wat vroeër aan die Britse posdiens behoort het). Handelsware wat gepos word, kan ook verseker of geregistreer word om die koste te dek as dit wegraak of beskadig word. As ’n posstuk net ’n bewys van versending of aflewering nodig het, kan dit goedkoper wees om dit as gesertifiseerde pos te stuur as om dit te registreer. ’n Mens kan lewensversekering by die Japannese posdiens uitneem.
Party posdienste, soos dié van die Verenigde State, sal op aanvraag beskikbare adresveranderingsinligting aan jou verstrek. Skryf “Adresverandering verlang” of “Moenie aanstuur nie” voor op die koevert net onder die afsendersadres. Eersteklaspos sal sonder enige bykomende koste saam met die nuwe adres (as dit minder as ’n jaar oud is) of ’n ander rede vir nie-aflewering aan jou teruggestuur word.
Die wêreld is baie afhanklik van die posstelsel vir hierdie en ander dienste. Die verslag Evaluation of the United States Postal Service sê: “Die Posdiens lewer goeie werk in die hantering van ’n ontsaglike hoeveelheid pos, maar die foute wat nie uitgeskakel kan word nie, moet steeds erken word sodat die publiek weet wat realisties is om van die posdiens te verwag.” As net 5 persent van die bykans 250 000 000 eersteklasposstukke vertraag word wat elke dag in die Verenigde State hanteer word, kom dit neer op meer as 12 000 000 posstukke per dag. Dit het talle klagtes oor laat aflewering tot gevolg.
Moeilike ekonomiese tye het ’n uitwerking op posstelsels. Stygende tariewe, beskadigde artikels, vertraagde pos en moderne tegnologie het groter mededinging met staatsbeheerde dienste aangemoedig. Hoewel nuwe hanteringsmetodes posverwerking verbeter het, veroorsaak die druk op alle instansies moeilike tye vir die posstelsels. Die Amerikaanse Posdiens het in 1991 ’n inkomstetekort van ongeveer R4425 000 000 gehad. Drastiese maatreëls, soos groot vermeerderings in postariewe en ’n vermindering van personeel, sal moontlik nodig wees om die huidige diens te laat voortduur.
Van ’n straaltjie in eertydse tye tot ’n sterk stroom vandag, hou die pos ondanks probleme aan met vloei en bevredig sodoende ’n ingebore behoefte aan kommunikasie.—Bygedra deur ’n poswerker.
[Venster/Prent op bladsy 18]
Posaflewering op die Persiese manier
Die agtergrond is die eertydse Persiese Ryk. Geskrewe dokumente is sorgvuldig voorberei, amptelik verseël en met die regering se posdiens versend. Talle lewens sou verloor word as die bevele nie dadelik afgelewer en onmiddellik gehoorsaam is nie. Maar hoe sou die pos afgelewer word? Die “briewe is met berede koeriers gestuur wat perde van die koninklike stalle gebruik het. . . . Die koeriers is toe met groot haas op die dringende bevel van die koning op hulle koninklike perde uitgestuur”, sê The New English Bible in Ester 8:10, 14.
Daardie betroubare aflosruiters, met perde wat ongeveer 23 kilometer uitmekaar gestasioneer is, was die aangewese persone om koning Ahasveros se teenbevel af te lewer wat die Jode gedurende die vyfde eeu v.G.J. van volksmoord sou red. Die geskiedskrywer Herodotus het gesê dat hierdie briewedraers nie “deur sneeu óf reën óf hitte óf die donkerte van die nag verhinder is om die afstand wat hulle moes aflê so vinnig moontlik af te lê nie”. Dít was die regering se alledaagse kommunikasiestelsel wat oor die hele Persiese Ryk in gebruik was.
[Prent op bladsy 17]
Masjiene lees en sorteer outomaties duisende briewe per uur
[Erkenning]
USPS Photo