Vraebus
◼ Waarom moet ons goeie oordeel aan die dag lê wanneer ons deur middel van briewe getuig?
Om deur middel van briewe te getuig, is ’n beproefde manier waarop ons die goeie nuus kan verkondig. Maar onlangse verwikkelinge in die wêreld het mense lugtig gemaak om briewe oop te maak as hulle nie weet waar dit vandaan kom nie. Mense is dikwels agterdogtig oor koeverte van onbekende afsenders of sonder ’n afsendersadres, veral as dit met die hand geskryf en dik is. Huisbewoners sal dalk sulke briewe weggooi sonder om dit eers oop te maak. Hoe kan ons keer dat dit gebeur?
Indien moontlik moet die brief sowel as die koevert getik word. Die huisbewoner se naam moet op die koevert verskyn. Moet dit nie aan “Die Huisbewoner” adresseer nie. Gee ook altyd ’n afsendersadres. As dit nie raadsaam is om jou eie adres te gee nie, gee jou naam en die Koninkryksaal se adres. Moenie anonieme briewe stuur nie. Moet nooit die takkantoor se adres gebruik nie.—Sien die Vraebus in Ons Koninkryksbediening vir November 1996.
Verdere wenke en ’n voorbeeld van ’n brief kan in Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool, bladsye 71-3, gevind word. Hierdie riglyne sal ons help om briewe goed te gebruik om ander met die goeie nuus te bereik.